Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Deuteronomium
DIT is die jaar 1473 v.G.J. Veertig jaar het verloop sedert Jehovah die kinders van Israel uit slawerny in Egipte verlos het. Nadat hulle hierdie jare in die wildernis deurgebring het, is die Israeliete nog steeds ’n nasie sonder ’n land. Maar uiteindelik staan hulle op die drumpel van die Beloofde Land. Wat wag op hulle wanneer hulle dit in besit neem? Voor watter probleme sal hulle te staan kom, en hoe moet hulle dit te bowe kom?
Voordat Israel die Jordaanrivier oorsteek na die land Kanaän, berei Moses die vergadering voor vir die groot taak wat op hulle wag. Hoe? Deur ’n reeks toesprake wat hulle bemoedig en vermaan, aanspoor en waarsku. Hy herinner die Israeliete daaraan dat Jehovah God uitsluitlike toegewydheid verdien en dat hulle nie die weë van die omliggende nasies moet volg nie. Die Bybelboek Deuteronomium bestaan hoofsaaklik uit hierdie toesprake. En die raad daarin is presies wat ons vandag nodig het, want ons lewe ook in ’n wêreld waarin dit ’n uitdaging is om Jehovah ons uitsluitlike toegewydheid te gee.—Hebreërs 4:12.
Afgesien van die laaste hoofstuk is die hele boek Deuteronomium deur Moses geskryf, en dit dek ’n tydperk van net meer as twee maande (Deuteronomium 1:3; Josua 4:19).* Kom ons kyk hoe dit wat daarin geskryf staan, ons kan help om Jehovah God met ons hele hart lief te hê en hom getrou te dien.
‘MOENIE DIE DINGE VERGEET WAT JULLE OË GESIEN HET NIE’
In die eerste toespraak praat Moses oor party van die ondervindinge in die wildernis—veral dié wat die Israeliete sal help noudat hulle hulle voorberei om die Beloofde Land in besit te neem. Die verslag van die aanstelling van regters het hulle ongetwyfeld daaraan herinner dat Jehovah sy volk organiseer op ’n manier wat hulle van liefdevolle sorg verseker. Moses vertel ook dat die slegte berig van die tien verkenners daartoe gelei het dat die vorige geslag nie die Beloofde Land binnegegaan het nie. Dink aan die kragtige uitwerking wat hierdie waarskuwende voorbeeld op Moses se toehoorders gehad het, met die land wat uitgestrek voor hulle gelê het.
Herinneringe aan die oorwinnings wat Jehovah die kinders van Israel gegee het voordat hulle die Jordaan oorgesteek het, het hulle sekerlik met moed besiel terwyl hulle gereed gestaan het om met hulle verowering aan die ander kant van die rivier te begin. Die land wat hulle kort daarna sou inneem, was deurtrek van afgodediens. Hoe gepas was dit tog dat Moses ’n ernstige waarskuwing teen afgodediens gee!
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:4-6, 9, 19, 24, 31-35; 3:1-6—Waarom het die Israeliete party van die volke wat oos van die Jordaan gewoon het, uitgewis, maar ander nie? Jehovah het Israel beveel om nie met die kinders van Esau in ’n stryd gewikkel te raak nie. Waarom nie? Omdat hulle die nageslag van Jakob se broer was. Die Israeliete moes nie die Moabiete en die Ammoniete lastig val of teen hulle oorlog voer nie, want hulle was nakomelinge van Abraham se broerskind Lot. Maar die Amoritiese konings Sihon en Og kon geensins ’n soortgelyke aanspraak maak op die land onder hulle beheer nie. Toe Sihon dus geweier het om die Israeliete te laat deurtrek en Og teen hulle opgetrek het, het Jehovah die Israeliete beveel om hulle stede te verwoes en geen oorlewendes te laat nie.
4:15-20, 23, 24—Beteken die verbod op die maak van gesnede beelde dat dit verkeerd is om afbeeldings van voorwerpe te maak vir kunsdoeleindes? Nee. Wat hier verbied is, was om beelde vir aanbidding te maak—om ‘voor afgode neer te buig en hulle te dien’. Die Skrif verbied ons nie om beeldhouwerk te doen of skilderye van voorwerpe te maak vir kunsdoeleindes nie.—1 Konings 7:18, 25.
Lesse vir ons:
1:2, 19. Die kinders van Israel het sowat 38 jaar in die wildernis rondgetrek, al was Kades-Barnea net “elf dae van Horeb af [die bergstreek rondom die berg Sinai waar die Tien Gebooie gegee is] met die pad van die berg Seïr”. Hoe duur moes hulle tog betaal vir hulle ongehoorsaamheid aan Jehovah God!—Numeri 14:26-34.
1:16, 17. God se standaard met betrekking tot regspraak is vandag dieselfde. Diegene wat die verantwoordelikheid het om op ’n regterlike komitee te dien, moenie toelaat dat partydigheid of mensevrees hulle oordeel belemmer nie.
4:9. Israel se sukses het daarvan afgehang dat hulle ‘nie die dinge vergeet wat hulle oë gesien het nie’. Namate die beloofde nuwe wêreld nader kom, is dit noodsaaklik dat ons ook Jehovah se wonderlike dade voor oë hou deur ywerige studente van sy Woord te wees.
LIEFDE VIR JEHOVAH EN GEHOORSAAMHEID AAN SY GEBOOIE
In sy tweede toespraak herinner Moses die volk aan die tyd toe die Wet by die berg Sinai gegee is, en hy herhaal die Tien Gebooie. Sewe nasies wat vir algehele vernietiging bestem is, word gemeld. Die kinders van Israel word herinner aan ’n belangrike les wat hulle in die wildernis geleer het, naamlik “dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens van elke uiting uit Jehovah se mond lewe”. In hulle nuwe situasie moet hulle “die hele gebod onderhou”.—Deuteronomium 8:3; 11:8.
Wanneer hulle hulle in die Beloofde Land vestig, sal die Israeliete nie net wette aangaande aanbidding nodig hê nie, maar ook aangaande regspraak, regeringsake, oorlog en alledaagse sake met betrekking tot sosiale en private lewe. Moses hersien hierdie wette en beklemtoon die belangrikheid van liefde vir Jehovah en gehoorsaamheid aan sy gebooie.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
8:3, 4—In watter opsig het die Israeliete se klere nie verslyt en hulle voete nie geswel terwyl hulle in die wildernis rondgetrek het nie? Dit was ’n wonderdadige voorsiening, net soos die gereelde voorsiening van manna. Die Israeliete het dieselfde klere en skoene gedra wat hulle oorspronklik gehad het en het dit waarskynlik van een na die ander oorgedra namate kinders grootgeword en volwassenes gesterf het. Aangesien die twee sensusse aan die begin en aan die einde van hulle tog deur die wildernis aan die lig gebring het dat die Israeliete nie in getal toegeneem het nie, was die oorspronklike hoeveelheid items sekerlik voldoende.—Numeri 2:32; 26:51.
14:21—Waarom kon die Israeliete ’n dooie dier waarvan die bloed nie uitgeloop het nie, vir ’n inwonende vreemdeling gee of dit aan ’n uitlander verkoop, hoewel hulle dit self nie kon eet nie? In die Bybel kan die uitdrukking “inwonende vreemdeling” verwys na ’n nie-Israeliet wat ’n proseliet geword het of na ’n bywoner wat die basiese wette van die land onderhou het, maar nie ’n aanbidder van Jehovah geword het nie. ’n Uitlander en ’n inwonende vreemdeling wat nie ’n proseliet geword het nie, was nie onder die Wet nie en kon op verskillende maniere gebruik maak van dooie diere waarvan die bloed nie uitgeloop het nie. Die Israeliete is toegelaat om sulke diere aan hulle te gee of te verkoop. Die proseliet daarenteen was onder die Wetsverbond. Soos in Levitikus 17:10 getoon word, is so ’n persoon verbied om die bloed van ’n dier te eet.
24:6—Waarom was dit asof “’n siel” as pand geneem is wanneer “’n handmeul of die boonste maalklip daarvan as pand” geneem is? ’n Handmeul en sy boonste maalklip het ’n persoon se “siel”, of lewensmiddele, verteenwoordig. As enige hiervan as pand geneem is, sou dit die hele gesin van hulle daaglikse brood ontneem.
25:9—Wat was die betekenis daarvan om ’n man wat geweier het om ’n swaershuwelik te sluit, se sandaal uit te trek en in sy gesig te spoeg? Volgens ‘die gebruik in vroeër tye in Israel met betrekking tot die terugkoopreg moes ’n man sy sandaal uittrek en dit vir sy naaste gee’ (Rut 4:7). Wanneer ’n man wat geweier het om ’n swaershuwelik te sluit, se sandaal van sy voet afgetrek is, het dit dus bevestig dat hy afsien van sy posisie en reg om ’n erfgenaam vir sy afgestorwe broer te verwek. Dit was ’n skande (Deuteronomium 25:10). Daar is in sy gesig gespoeg om hom te verneder.—Numeri 12:14.
Lesse vir ons:
6:6-9. Soos die Israeliete met betrekking tot die Wet beveel is, moet ons ook God se bevele goed ken, dit te alle tye voor oë hou en dit by ons kinders inskerp. Ons moet dit ‘as ’n teken op ons hand bind’ in die sin dat ons dade—soos deur ons hande verteenwoordig—moet toon dat ons gehoorsaam is aan Jehovah. En soos ‘’n voorhoofsband tussen die oë’ moet ons gehoorsaamheid vir almal duidelik sigbaar wees.
6:16. Mag ons Jehovah nooit op die proef stel soos die Israeliete op ontroue wyse by Massa gedoen het nie, waar hulle oor die gebrek aan water gemurmureer het.—Eksodus 17:1-7.
8:11-18. Materialisme kan ons van Jehovah laat vergeet.
9:4-6. Ons moet daarteen waak om regverdig in ons eie oë te wees.
13:6. Ons moenie toelaat dat enigiemand ons van Jehovah se aanbidding afkeer nie.
14:1. Selfverminking toon minagting vir die menseliggaam, kan met valse godsdiens verbind word en moet vermy word (1 Konings 18:25-28). Ons opstandingshoop maak dit onvanpas om op so ’n oordrewe wyse te treur oor iemand se dood.
20:5-7; 24:5. Bedagsaamheid moet teenoor diegene met spesiale omstandighede betoon word, selfs wanneer ’n belangrike taak verrig moet word.
22:23-27. Een van die doeltreffendste afskrikmiddels wat ’n vrou tot haar beskikking het wanneer sy met verkragting gedreig word, is om te skreeu.
“JY MOET DIE LEWE KIES”
In sy derde toespraak sê Moses dat die Israeliete, nadat hulle die Jordaan oorgesteek het, die Wet op groot klippe moet skryf en noem hy ook vloeke vir ongehoorsaamheid en seëninge vir gehoorsaamheid. Die vierde toespraak begin met die hernuwing van die verbond tussen Jehovah en Israel. Moses waarsku weer eens teen ongehoorsaamheid en spoor die volk aan om ‘die lewe te kies’.—Deuteronomium 30:19.
Benewens die vier toesprake wat Moses gehou het, bespreek hy ook die verandering in leierskap en leer hy die Israeliete ’n pragtige lied wat Jehovah loof en hulle waarsku teen die weë wat oor hulle sou kom as hulle ontrou is. Nadat hy die stamme geseën het, sterf Moses op die ouderdom van 120 en word hy begrawe. Die routyd duur 30 dae, wat byna die helfte van die tyd is wat deur Deuteronomium gedek word.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
32:13, 14—Aangesien die Israeliete verbied is om enige vet te eet, wat beteken dit dat hulle “die vet van ramme” geëet het? Die uitdrukking word hier figuurlik gebruik en dui op die beste van die kudde. Hierdie digterlike gebruik word aangedui deur die feit dat dieselfde vers van “die niervet van koring” en van “druiwebloed” praat.
33:1-29—Waarom is Simeon nie spesifiek genoem in die seën waarmee Moses die kinders van Israel geseën het nie? Dit is omdat Simeon sowel as Levi “hardvogtig” gehandel het en hulle toorn “wreed” was (Genesis 34:13-31; 49:5-7). Hulle erfenis was nie heeltemal dieselfde as dié van die ander stamme nie. Levi het 48 stede ontvang, en Simeon se deel was binne Juda se gebied (Josua 19:9; 21:41, 42). Gevolglik het Moses Simeon nie spesifiek geseën nie. Maar Simeon se seën was ingesluit in die algemene seën wat oor Israel uitgespreek is.
Lesse vir ons:
31:12. Kinders moet by gemeentelike vergaderinge saam met die volwassenes sit en daarna streef om te luister en te leer.
32:4. Al Jehovah se werke is volmaak in die sin dat hy sy eienskappe geregtigheid, wysheid, liefde en krag in volmaakte ewewig uitoefen.
Van groot waarde vir ons
Deuteronomium stel Jehovah voor as “een Jehovah” (Deuteronomium 6:4). Dit is ’n boek oor ’n volk in ’n unieke verhouding met God. Die boek Deuteronomium waarsku ook teen afgodediens en beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om die ware God uitsluitlike toegewydheid te gee.
Deuteronomium is ongetwyfeld vir ons van groot waarde! Hoewel ons nie onder die Wet is nie, kan ons baie daaruit leer wat ons sal help om ‘Jehovah ons God lief te hê met ons hele hart, siel en al ons lewenskrag’.—Deuteronomium 6:5.
[Voetnoot]
Die laaste hoofstuk, wat die verslag van Moses se dood bevat, is dalk deur Josua of die hoëpriester Eleasar bygevoeg.
[Kaart op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SEÏR
Kades-Barnea
Berg Sinai (Horeb)
Rooi See
[Erkenning]
Based on maps copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel
[Prent op bladsy 24]
Deuteronomium bestaan hoofsaaklik uit Moses se toesprake
[Prent op bladsy 26]
Watter les leer ons uit Jehovah se voorsiening van manna?
[Prent op bladsy 26]
Om ’n handmeul of sy boonste maalklip as pand te neem, is daarmee vergelyk om “’n siel” as pand te neem