Koninkryksverkondigers Berig
’n Brief van Alejandra
BRIEWE word al ’n geruime tyd met sukses gebruik om ’n getuienis te gee. Hoewel ’n mens nie altyd seker is watter resultate dit sal oplewer nie, word diegene wat daarmee volhou, ryklik geseën. Hulle onthou die Bybel se wyse raad: “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie; want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie, hetsy hier of daar, en of hulle al twee ewe goed sal wees nie.”—Prediker 11:6.
Alejandra, ’n jong Getuie wat sowat tien jaar lank by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko gedien het, het chemoterapie vir kanker ontvang. Haar toestand het versleg, en sy het te swak geword om met haar daaglikse roetine vol te hou. Maar omdat sy nie haar bediening wou afskeep nie, het Alejandra besluit om briewe te skryf. Sy het oor die gratis tuisbybelstudiereëling geskryf en haar ma se telefoonnommer ingesluit. Daarna het sy die briewe vir haar ma gegee sodat sy dit in haar huis-tot-huis-bediening by wonings kon laat waar niemand tuis was nie.
Intussen het Diojany, ’n jong meisie van Guatemala, as ’n huishulp in Cancún, Mexiko, gaan werk. Terwyl sy daar was, het sy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en dit geniet om Bybelbesprekings met hulle te hê. Later het haar werkgewers besluit om na Mexikostad te verhuis, en hulle wou hê dat sy moes saamkom. Diojany was huiwerig om te verhuis omdat sy dan kontak met die Getuies sou verloor.
“Moenie bekommerd wees nie”, het haar werkgewers haar verseker, “daar is oral Getuies. Ons sal na hulle soek sodra ons daar aankom.” Met daardie blye vooruitsig het Diojany ingestem om saam met hulle te gaan. Nadat hulle in Mexikostad gekom het, het Diojany se werkgewers na die Getuies begin soek. Om die een of ander rede kon hulle hulle nie vind nie, al was daar meer as 41 000 Getuies en 730 gemeentes in daardie stad.
Kort voor lank het Diojany ontmoedig begin raak omdat sy nie die Getuies kon vind en haar Bybelbesprekings kon voortsit nie. Op ’n dag het haar werkgeefster na haar toe gekom, en gesê: “Ek het ’n verrassing vir jou! Jou God het jou gebede verhoor.” Sy het vir haar ’n brief gegee, en gesê: “Die Getuies het hierdie brief vir jou gelaat.” Dit was een van Alejandra se briewe.
Diojany het met Alejandra se ma en suster, Blanca, in aanraking gekom en ’n Bybelstudie aanvaar. Ná ’n paar weke het sy Alejandra ontmoet en ’n bemoedigende besoek geniet. Alejandra het haar aangemoedig om aan te hou om haar toe te lê op haar Bybelstudie sodat sy geestelike vooruitgang kon maak.
’n Paar maande later, in Julie 2003, is Alejandra oorlede. Sy het ’n goeie voorbeeld van geloof en moed vir haar medegelowiges nagelaat. By die begrafnis is talle diep geraak toe hulle Diojany ontmoet en haar hoor sê het: “Alejandra en haar gesin het vir my ’n wonderlike voorbeeld gestel. Ek is vasbeslote om Jehovah te dien en binnekort gedoop te word. Ek sien werklik uit daarna om Alejandra weer in die komende Paradys te sien!”
Ja, ’n brief is dalk iets kleins. Maar watter goeie en blywende resultate kan dit tog hê!