Die soeke na meer
“As ons begeertes onversadigbaar is, bestaan daar eenvoudig nie iets soos genoeg nie.”—’n Verslag deur die Worldwatch-instituut.
“WAT wil ons hê? Alles. Wanneer wil ons dit hê? Nou.” Hierdie slagspreuk was gedurende die 1960’s gewild onder party kollegestudente. Vandag word hierdie presiese woorde dalk nie gehoor nie, maar die basiese beginsel bestaan nog. Dit lyk inderdaad of die soeke na meer ’n kenmerk is van ons era.
Vir baie het die verkryging van rykdom en besittings ’n prioriteit geword. ’n Voormalige president van die Verenigde State, Jimmy Carter, het eenkeer gesê: “’n Mens se identiteit word nie meer bepaal deur wat jy doen nie, maar deur wat jy besit.” Is daar waardes wat belangriker is as besittings? Indien wel, wat is dit, en watter voordele sal dit meebring?