“Trek deur die land”
“Trek deur die land in sy lengte en in sy breedte.”—Genesis 13:17.
1. Watter interessante opdrag het God aan Abraham gegee?
HOU jy daarvan om tyd op die platteland deur te bring, dalk om oor ’n naweek met jou motor daar rond te ry? Ander verkies om met hulle fietse rond te ry sodat hulle oefening kan kry en alles rustiger kan bekyk. Nog ander hou daarvan om te stap sodat hulle ’n gebied kan leer ken en die natuurskoon kan indrink. Sulke uitstappies kom gewoonlik gou tot ’n einde. Maar stel jou voor hoe Abraham gevoel het nadat God vir hom gesê het: “Staan op, trek deur die land in sy lengte en in sy breedte, want ek gaan dit aan jou gee”!—Genesis 13:17.
2. Waarheen het Abraham gegaan nadat hy Egipte verlaat het?
2 Dink aan die konteks van hierdie woorde. Abraham het saam met sy vrou en ander ’n ruk lank in Egipte gebly. Genesis hoofstuk 13 sê vir ons dat hulle Egipte verlaat het en met hulle kuddes na “die Negeb” getrek het. Daarna het Abraham “van kampplek tot kampplek uit die Negeb en na Bet-El getrek”. Toe ’n probleem tussen sy veewagters en dié van sy broerskind Lot ontstaan het en dit duidelik geword het dat hulle aparte weivelde sou moes vind, het Abraham goedgunstiglik vir Lot die eerste keuse gegee. Lot het die “Jordaandistrik” gekies, ’n vrugbare vallei “soos die tuin van Jehovah”, en het later in Sodom gaan woon. God het vir Abraham gesê: “Slaan asseblief jou oë op en kyk van die plek waar jy is noordwaarts en suidwaarts en ooswaarts en weswaarts.” Abraham kon waarskynlik vanaf ’n hoër ligging by Bet-El ander dele van die land sien. Maar daar was nog meer. God het hom genooi om ‘deur die land te trek’ en vertroud te raak met die natuur en die streke van die land.
3. Waarom is dit dalk moeilik om ’n beeld van Abraham se reise te vorm?
3 Ongeag tot watter mate Abraham dit gedoen het voordat hy Hebron bereik het, hy het die Beloofde Land beslis beter geken as die meeste van ons. Dink aan die plekke wat in hierdie verslag genoem word—die Negeb, Bet-El, die Jordaandistrik, Sodom en Hebron. Sukkel jy om ’n beeld te vorm van waar hierdie gebiede was? Baie vind dit moeilik omdat daar maar min onder Jehovah se volk is wat die plekke besoek het waarvan hulle in die Bybel lees en wat die land in sy lengte en breedte deurgereis het. Ons het egter alle rede om opreg belang te stel in die plekke wat in die Bybel genoem word. Waarom?
4, 5. (a) Hoe hou Spreuke 18:15 verband met kennis en begrip van Bybellande? (b) Wat lig Sefanja hoofstuk 2 toe?
4 God se Woord sê: “Die hart van iemand met begrip verwerf kennis, en die oor van die wyses probeer kennis vind” (Spreuke 18:15). Daar is baie onderwerpe waaroor ’n mens kennis kan inneem, maar juiste kennis aangaande Jehovah God en sy handelinge is van die allergrootste belang. Wat ons in die Bybel lees, hou ongetwyfeld ten nouste hiermee verband (2 Timoteus 3:16). Let egter daarop dat begrip hierby betrokke is. Begrip is die vermoë om insig in ’n saak te hê, om die verband tussen die dele en die geheel te onderskei of te verstaan. Dit geld vir feite oor plekke wat in die Bybel genoem word. Byvoorbeeld, die meeste van ons weet waar Egipte is. Maar hoe goed verstaan ons die kommentaar dat Abraham uit Egipte gegaan het “na die Negeb”, later na Bet-El, daarna na Hebron? Weet jy waar daardie plekke in verhouding tot mekaar was?
5 Of jy het dalk tydens jou Bybelleesprogram Sefanja hoofstuk 2 gelees. Daar het jy die name van stede, volke en lande gelees. Gasa, Askelon, Asdod, Ekron, Sodom en Nineve, sowel as Kanaän, Moab, Ammon en Assirië word almal in daardie een hoofstuk genoem. Kon jy jou hierdie plekke voorstel waar werklike mense gewoon het, mense wat deel was van die vervulling van goddelike profesieë?
6. Waarom vind party Christene dit nuttig om kaarte te gebruik? (Sien venster.)
6 Talle studente van God se Woord vind dit baie nuttig om kaarte van Bybellande te raadpleeg. Hulle doen dit nie bloot omdat hulle dit geniet om kaarte te bestudeer nie, maar omdat hulle besef dat die gebruik van kaarte hulle kennis van God se Woord kan verbreed. Kaarte kan hulle ook help om ’n beter begrip te verkry en te sien hoe feite wat hulle reeds ken, verband hou met ander inligting. Terwyl ons na ’n paar voorbeelde kyk, sal dit moontlik ook jou waardering vir Jehovah vergroot en jou help om dieper insig te kry in verslae wat in sy Woord opgeteken is.—Sien venster op bladsy 14.
Afstand maak ’n verskil
7, 8. (a) Watter uitsonderlike daad het Simson verrig terwyl hy by Gasa was? (b) Watter inligting kan groter betekenis gee aan wat Simson gedoen het? (c) Hoe kan kennis en begrip van hierdie verslag oor Simson ons help?
7 In Rigters 16:2 kan jy lees van die tyd toe rigter Simson in Gasa was. Die naam Gasa kom deesdae dikwels voor in nuusberigte; gevolglik het jy dalk min of meer ’n idee waar Simson was, in Filistynse gebied naby die kus van die Middellandse See. [gl 11] Let nou op wat Rigters 16:3 sê: “Simson het . . . tot middernag bly lê en toe om middernag opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee syposte gegryp en hulle saam met die grendel uitgeruk en hulle op sy skouers gesit en hulle opgedra na die top van die berg wat teenoor Hebron lê.”
8 Die houtdeure en syposte van ’n vesting soos Gasa was ongetwyfeld groot en swaar. Kan jy jou indink dat iemand dit sou probeer dra! Simson het dit gedoen. Maar waarheen het hy dit gedra en oor watter soort terrein? Wel, Gasa lê aan die kus, feitlik by seespieël. [gl 15] Hebron lê egter oos daarvan, op ’n hoogte van ongeveer 900 meter—’n hele ent se klim! Ons weet nie wat die presiese ligging is van “die berg wat teenoor Hebron lê” nie, maar die stad is omtrent 60 kilometer van Gasa af, en dit boonop nog opdraand! Noudat ons weet watter afstand hierby betrokke was, neem Simson se uitsonderlike daad nuwe betekenis aan, nie waar nie? En dink aan wat Simson in staat gestel het om hierdie dinge te doen—“Jehovah se gees het oor hom werksaam geword” (Rigters 14:6, 19; 15:14). Vandag verwag ons as Christene nie dat God se gees vir ons buitengewone fisiese krag moet gee nie. Tog kan dieselfde kragtige gees ons begrip van diep geestelike dinge vergroot en ons sterk maak volgens die mens wat ons innerlik is (1 Korintiërs 2:10-16; 13:8; Efesiërs 3:16; Kolossense 1:9, 10). Ja, ’n beter begrip van die verslag oor Simson oortuig ons van die feit dat God se gees ons kan help.
9, 10. (a) Wat het Gideon se oorwinning oor die Midianiete ingesluit? (b) Hoe kan kennis van die geografie help om hierdie verslag betekenisvoller vir ons te maak?
9 Gideon se oorwinning oor die Midianiete is nog ’n verslag waarin afstande belangrik is. Die meeste lesers van die Bybel weet dat rigter Gideon en sy 300 manskappe 135 000 invallers verslaan het—’n gesamentlike leër van Midianiete, Amalekiete en ander wat op die vlakte van Jisreël, naby die heuwel More, kamp opgeslaan het. [gl 18] Gideon se manskappe het op hulle horings geblaas, hulle waterkruike stukkend geslaan sodat hulle fakkels gesien kon word, en uitgeroep: “Jehovah se swaard en Gideon s’n!” Dit het die vyand verwar en vreesbevange gemaak, sodat hulle teen mekaar begin veg het (Rigters 6:33; 7:1-22). Is dit ál wat gebeur het—’n vinnige aanval in die donkerte van die nag? Lees gerus verder in Rigters hoofstukke 7 en 8. Jy sal sien dat Gideon die aanval verder gevoer het. Van die talle plekke wat genoem word, is daar sommige wat vandag nie met sekerheid geïdentifiseer kan word nie, en daarom verskyn hulle nie op Bybelkaarte nie. Nietemin is genoeg geïdentifiseer sodat ons Gideon se aanval kan volg.
10 Gideon het die oorblywendes van die gesamentlike leër agternagesit tot verby Bet-Sitta en daarna suidwaarts na Abel-Mehola, naby die Jordaan (Rigters 7:22-25). Die verslag sê: “Gideon [het] by die Jordaan gekom, en hy en die driehonderd man wat saam met hom was, het deurgetrek, moeg maar steeds besig met die agtervolging.” Nadat hulle deurgetrek het, het die Israeliete die vyand in ’n suidelike rigting agtervolg na Sukkot en Pnuel toe, naby die Jabbok, en daarna oor die heuwels na Jogbeha (naby hedendaagse Amman, Jordanië). Dit was ongeveer 80 kilometer van agtervolging en gevegte. Gideon het twee Midianitiese konings gevange geneem en doodgemaak; daarna het hy teruggekeer na sy stad Ofra, naby die plek waar die geveg begin het (Rigters 8:4-12, 21-27). Dit is duidelik dat Gideon se daad meer behels het as net die paar minute waartydens hulle die horings geblaas, fakkels geswaai en uitgeroep het. En dink net hoe dit groter trefkrag gee aan hierdie kommentaar oor manne van geloof: “Die tyd sal my ontbreek as ek nog sou vertel van Gideon [en ander wat] uit ’n swak toestand kragtig gemaak is [en] dapper geword het in oorlog” (Hebreërs 11:32-34). Christene kan ook fisies moeg word, maar is dit nie van die allergrootste belang dat ons aanhou om God se wil te doen nie?—2 Korintiërs 4:1, 16; Galasiërs 6:9.
Hoe dink en reageer mense?
11. Watter reise is voor en ná die Israeliete se aankoms by Kades afgelê?
11 Party gebruik Bybelkaarte dalk om te sien waar plekke geleë is. Maar dink jy kaarte kan ons insig gee in mense se denke? Neem die voorbeeld van die Israeliete wat van die berg Sinai af na die Beloofde Land getrek het. Nadat hulle by ’n paar plekke langs die pad kamp opgeslaan het, het hulle uiteindelik by Kades (of Kades-Barnea) aangekom. [gl 9] Deuteronomium 1:2 toon dat dit ’n tog van 11 dae was, ’n afstand van omtrent 270 kilometer. Van daar af het Moses 12 verkenners in die Beloofde Land ingestuur (Numeri 10:12, 33; 11:34, 35; 12:16; 13:1-3, 25, 26). Die verkenners het noordwaarts deur die Negeb gegaan, waarskynlik verby Berseba, toe verby Hebron en het eindelik die noordelike grense van die Beloofde Land bereik (Numeri 13:21-24). Omdat die Israeliete die negatiewe berig van tien verkenners geglo het, moes hulle 40 jaar lank in die wildernis rondtrek (Numeri 14:1-34). Wat openbaar dit oor hulle geloof en bereidwilligheid om op Jehovah te vertrou?—Deuteronomium 1:19-33; Psalm 78:22, 32-43; Judas 5.
12. Tot watter slotsom kan ons kom oor die geloof van die Israeliete, en waarom is dit stof tot nadenke?
12 Dink vanuit ’n geografiese oogpunt hieroor na. Sou die Israeliete ver moes reis om die Beloofde Land te bereik as hulle geloof beoefen het en Josua en Kaleb se raad gevolg het? Kades was omtrent 16 kilometer van Beër-Lahai-Roï, waar Isak en Rebekka gewoon het. [gl 7] Dit was minder as 95 kilometer na Berseba, ’n suidelike grens van die Beloofde Land (Genesis 24:62; 25:11; 2 Samuel 3:10). Nadat hulle van Egipte na die berg Sinai en daarna 270 kilometer na Kades getrek het, was hulle as ’t ware op die drumpel van die Beloofde Land. Vandag staan ons op die drumpel van die beloofde aardse Paradys. Wat is die les vir ons? Die apostel Paulus het die Israeliete se situasie met hierdie raad verbind: “Laat ons dan ons uiterste bes doen om in daardie rus in te gaan, sodat niemand in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.”—Hebreërs 3:16–4:11.
13, 14. (a) In watter situasie het die Gibeoniete daadwerklik opgetree? (b) Wat toon die gesindheid van die Gibeoniete, en watter les kan ons hieruit leer?
13 ’n Ander gesindheid—een van vertroue dat God sy wil sal uitvoer—kan gesien word in die Bybelverhaal oor die Gibeoniete. Nadat Josua die Israeliete oor die Jordaanrivier gelei het tot in die land wat God aan Abraham se familie beloof het, het die tyd aangebreek om die Kanaäniete te verdryf (Deuteronomium 7:1-3). Dit het die Gibeoniete ingesluit. Die Israeliete het Jerigo en Ai verslaan en het daar naby, by Gilgal, kamp opgeslaan. Die Gibeoniete wou nie as vervloekte Kanaäniete sterf nie, en daarom het hulle verteenwoordigers na Josua by Gilgal gestuur. Hulle het voorgegee dat hulle van ’n land buite Kanaän se gebied was, sodat hulle ’n vriendskapsverbond met die Hebreërs kon sluit.
14 Daardie verteenwoordigers het gesê: “U knegte het uit ’n baie ver land gekom weens die naam van Jehovah u God” (Josua 9:3-9). Hulle klere en kos het blykbaar bevestig dat hulle van ver af gekom het, maar Gibeon was in werklikheid sowat 30 kilometer van Gilgal af. [gl 19] Josua en sy owerstes het hulle geglo en ’n vriendskapsverbond gesluit met Gibeon en nabygeleë stede wat aan Gibeon verbonde was. Was die Gibeoniete se slim plan net ’n manier om teregstelling te voorkom? Inteendeel, dit het ’n begeerte geopenbaar om die guns van Israel se God te verkry. Jehovah het dit goedgekeur dat die Gibeoniete “houtkappers en waterdraers gemaak [word] vir die vergadering en vir Jehovah se altaar”, om brandhout vir die offeraltaar te voorsien (Josua 9:11-27). Die Gibeoniete het voortgegaan om te toon dat hulle gewillig was om nederige take in Jehovah se diens te verrig. Van hulle was moontlik onder die Netinim wat uit Babilon teruggekeer en by die herboude tempel gedien het (Esra 2:1, 2, 43-54; 8:20). Ons kan hulle gesindheid navolg deur daarna te streef om vrede met God te handhaaf en bereid te wees om selfs nederige toewysings in sy diens uit te voer.
Doen meer moeite
15. Waarom is geografiese besonderhede van belang in die Christelike Griekse Geskrifte?
15 Die geografie van Bybellande speel ook ’n rol in verslae in die Christelike Griekse Geskrifte, soos die reise en bediening van Jesus en die apostel Paulus (Markus 1:38; 7:24, 31; 10:1; Lukas 8:1; 13:22; 2 Korintiërs 11:25, 26). Probeer jou die reise in die volgende verslae voorstel.
16. Hoe het Christene in Berea waardering vir Paulus getoon?
16 Op sy tweede sendingreis (pers lyn op die kaart) het Paulus in Filippi, tans in Griekeland, aangekom. [gl 33] Hy het daar getuig, is gevange geneem en toe vrygelaat en het daarna na Tessalonika gegaan (Handelinge 16:6–17:1). Toe Jode ’n oproer begin het, het die broers in Tessalonika Paulus aangespoor om na Berea, ongeveer 65 kilometer daarvandaan, te gaan. Paulus het ’n suksesvolle bediening in Berea gehad, maar Jode het gekom en die volksmassa opgehits. Gevolglik “het die broers Paulus onmiddellik weggestuur om tot by die see te gaan” en “dié wat Paulus begelei het, het hom . . . tot by Atene gebring” (Handelinge 17:5-15). Blykbaar was party van die nuwe bekeerlinge bereid om 40 kilometer ver na die Egeïese See te loop, te betaal om op ’n skip te klim en omtrent 500 kilometer ver te reis. So ’n reis kon gevaarlik wees, maar die broers was bereid om die risiko’s te aanvaar en sodoende meer tyd saam met hierdie reisende verteenwoordiger van God deur te bring.
17. Wat kan ons beter verstaan as ons weet wat die afstand tussen Milete en Efese was?
17 Op sy derde reis (groen lyn op die kaart) het Paulus by die hawe Milete aangekom. Hy het die ouer manne van die gemeente in Efese, ongeveer 50 kilometer daarvandaan, gevra om na hom toe te kom. Stel jou voor hoe daardie ouer manne dadelik alles laat staan het om na Paulus te gaan. Op pad daarheen het hulle waarskynlik opgewonde gesels oor wat hulle te wagte kon wees. Nadat hulle met Paulus vergader het en hom hoor bid het, het “ ’n groot gehuil onder hulle almal ontstaan, en hulle het Paulus om die hals geval en hom teer gesoen”. Toe “het hulle hom na die boot begelei” wat op pad was na Jerusalem (Handelinge 20:14-38). Daar sou baie dinge wees waaroor hulle kon nadink en gesels op pad terug na Efese. Is jy nie beïndruk deur die waardering wat hulle getoon het deur daardie hele ent te stap sodat hulle tyd kon deurbring saam met ’n reisende bedienaar wat hulle kon onderrig en aanmoedig nie? Kan jy hierin iets sien wat jy in jou lewe en denke kan toepas?
Neem kennis in van daardie land en van wat voorlê
18. Wat kan ons ons voorneem om te doen wat Bybellande betref?
18 Die voorgaande voorbeelde toon hoe nuttig dit is om vertroud te raak met die land wat God die Israeliete gegee het en wat ’n belangrike rol in baie Bybelverslae speel. (Ons kan ook kennis opdoen van omliggende lande wat in Bybelverslae genoem word.) Terwyl ons ons kennis en begrip van veral die Beloofde Land verbreed, kan ons in gedagte hou aan watter belangrike vereiste die Israeliete moes voldoen as hulle die land van “melk en heuning” wou binnegaan en geniet. Hulle moes Jehovah vrees en sy gebooie onderhou.—Deuteronomium 6:1, 2; 27:3.
19. Watter twee paradyse is vir ons van groot belang?
19 Vandag moet ons eweneens ons deel doen deur Jehovah te vrees en in sy weë te bly wandel. Sodoende sal ons help om die geestelike paradys wat nou in die wêreldwye Christengemeente bestaan, te bevorder en te versier. Ons kennis van die kenmerke en seëninge daarvan sal toeneem. En ons weet dat daar nog meer in die vooruitsig is. Josua het die Israeliete deur die Jordaan gelei tot in ’n vrugbare, pragtige land. Ons het dus goeie rede om met vertroue uit te sien na die letterlike Paradys, die goeie land wat op ons wag.
Onthou jy?
• Waarom moet dit ons begeerte wees om ons kennis en begrip van Bybellande te verbreed?
• Watter geografiese besonderhede in hierdie artikel was vir jou baie insiggewend?
• Watter les was vir jou treffend toe jy meer oor die geografiese besonderhede van ’n sekere gebeurtenis geleer het?
[Venster op bladsy 14]
‘Sien die goeie land’
Tydens die streekbyeenkomste in 2003 en 2004 was Jehovah se Getuies verheug om die brosjure ‘Sien die goeie land’ te ontvang. Hierdie nuwe publikasie, wat in ongeveer 80 tale beskikbaar is, bevat talle volkleurkaarte en tabelle wat verskillende gebiede van die wêreld in Bybeltye uitbeeld, veral die Beloofde Land gedurende verskillende tydperke.
Die bygaande artikel verwys na spesifieke kaarte deur bladsynommers in vet druk aan te gee, byvoorbeeld [15]. As jy hierdie nuwe brosjure het, kan jy gerus tyd neem om vertroud te raak met unieke kenmerke wat jou kan help om jou kennis en begrip van God se Woord te verbreed.
(1) Baie van die kaarte bevat ’n legende of venster wat aandui waarvoor spesiale simbole of tekens op die kaart staan [18]. (2) Die meeste kaarte het ’n skaal in myle en kilometers wat jou in staat sal stel om die grootte of afstande te begryp [26]. (3) Gewoonlik wys ’n pyltjie noord, sodat jy die rigting kan bepaal [19]. (4) Die kaarte het dikwels verskillende kleure om verskillende hoogtes aan te dui [12]. (5) Om die rande van party kaarte is daar letters/nommers sodat jy kan sien waar die denkbeeldige lyne kruis om stede of name te vind [23]. (6) Op die twee bladsy lange indeks van plekname [34-5] kan jy die bladsynommer in vet druk sien, wat dikwels gevolg word deur ’n letter en nommer, soos E2, wat aandui waar die plek op die kaart gevind kan word. Nadat jy hierdie kenmerke ’n paar keer gebruik het, sal jy moontlik verbaas wees om te sien hoe nuttig dit is om jou kennis en begrip van die Bybel te verbreed.
[Tabel/Kaart op bladsy 16, 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KAART VAN NATUURSTREKE
A. Kus van die Groot See
B. Vlaktes wes van die Jordaan
1. Vlakte van Aser
2. Kusstrook van Dor
3. Weivelde van Saron
4. Vlakte van Filistea
5. Sentrale oos-wes-vallei
a. Vlakte van Megiddo
b. Laagvlakte van Jisreël
C. Bergstreke wes van die Jordaan
1. Heuwels van Galilea
2. Heuwels van Karmel
3. Heuwels van Samaria
4. Sjefela (lae heuwels)
5. Heuwelland van Juda
6. Wildernis van Juda
7. Negeb
8. Wildernis Paran
D. Araba (Skeurvallei)
1. Hoele-bekken
2. Gebied van See van Galilea
3. Jordaanvallei
4. Soutsee (Dooie See)
5. Araba (suid van die Soutsee)
E. Berge/hoogvlaktes oos van die Jordaan
1. Basan
2. Gilead
3. Ammon en Moab
4. Bergplato van Edom
F. Libanongebergte
[Kaart]
Berg Hermon
More
Abel-Mehola
Sukkot
Jogbeha
Bet-El
Gilgal
Gibeon
Jerusalem
Hebron
Gasa
Berseba
Sodom?
Kades
[Kaart/Prent op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KANAÄN
Megiddo
GILEAD
Dotan
Sigem
Bet-El (Lus)
Ai
Jerusalem (Salem)
Betlehem (Efrat)
Mamre
Hebron (Magpela)
Gerar
Berseba
Sodom?
NEGEB
Rehobot?
[Mountains]
Moria
[Watermassas]
Sout-see
[Riviere]
Jordaan
[Prent]
Abraham het die land deurkruis
[Kaart op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Troas
SAMOTRAKE
Neapolis
Filippi
Amfipolis
Tessalonika
Berea
Atene
Korinte
Efese
Milete
RODOS