Vrae van lesers
Het Jesus, toe hy sy volgelinge beveel het “om sonder rente te leen, sonder om te hoop om iets terug te kry”, bedoel dat hulle nie eens die oorspronklike bedrag moet terugvra nie?
Jesus se woorde in Lukas 6:35 kan die beste verstaan word as ’n mens die Mosaïese Wet in ag neem. Daarin het God die Israeliete beveel om rentevrye lenings te maak aan mede-Israeliete wat behoeftig geword en hulp nodig gehad het (Eksodus 22:25; Levitikus 25:35-37; Matteus 5:42). Hierdie lenings was nie vir kommersiële doeleindes, vir ’n saketransaksie nie. Sulke rentevrye lenings moes eerder gemaak word om armoede of teëspoed te verlig. Dit sou immers baie liefdeloos gewees het as iemand wins sou maak uit die finansiële terugslag van sy medemens. Nogtans was die een wat die lening gemaak het, daarop geregtig om die oorspronklike bedrag terug te kry, en daarom is ’n pand (sekuriteit op die lening) soms geneem.—Deuteronomium 15:7, 8.
Hoewel Jesus die Wet onderhou het, het hy dit selfs ’n breër toepassing gegee deur te sê dat die een wat die hulp verleen, nie moet hoop om “iets terug te kry” nie. Soos die Israeliete, ondervind Christene soms finansiële terugslae of is daar ander omstandighede wat hulle behoeftig, of selfs brandarm, laat. Sou dit nie goedhartig wees om hulp te verleen aan ’n Christenbroer wat in so ’n benarde situasie verkeer en finansiële hulp vra nie? Ja, opregte liefde sal ’n mede-Christen beweeg om ’n broer te help wat weens onvoorsiene omstandighede ernstige finansiële probleme ondervind (Spreuke 3:27). Miskien kan ’n mens ’n geskenk aan so ’n behoeftige broer gee, al is die bedrag dalk minder as wat jy aan hom sou leen.—Psalm 37:21.
In die eerste eeu G.J. is die apostel Paulus en Barnabas gestuur om bydraes van die Christene in Klein-Asië na hulle broers in Judea te neem, waar daar ’n hongersnood was (Handelinge 11:28-30). Vandag stuur Christene eweneens geskenke aan hulle behoeftige broers wanneer rampspoed hulle tref. Sodoende gee hulle ook ’n goeie getuienis aan ander (Matteus 5:16). Die gesindheid en omstandighede van die een wat hulp vra, moet natuurlik ook in ag geneem word. Waarom het hy hulp nodig? Paulus se woorde is opmerkenswaardig: “As iemand nie wil werk nie, laat hom dan ook nie eet nie.”—2 Tessalonisense 3:10.
As ’n broer wat ’n lening vra, nie in ’n uiters benarde situasie verkeer nie, maar net tydelike bystand wil hê sodat hy ná ’n finansiële terugslag weer op die been kan kom, sal dit dalk gepas wees om hom ’n rentevrye lening te gee. Onder sulke omstandighede sal dit nie in stryd met Jesus se woorde in Lukas 6:35 wees om die lening te maak en te verwag dat die volle bedrag terugbetaal moet word nie. ’n Ooreenkoms moet op skrif gestel word, en die een wat die lening ontvang, moet alles in sy vermoë doen om dit terug te betaal volgens die voorwaardes waaroor daar ooreengekom is. Ja, Christelike liefde moet die lener aanspoor om die lening terug te betaal, net soos dit die uitlener beweeg het om die lening te maak.
Die een wat dit oorweeg om ’n lening (of ’n geskenk) te gee, moet ook na sy eie gesinsituasie kyk. Sal hy byvoorbeeld nog in staat wees om in die behoeftes van sy eie gesinslede te voorsien, wat ’n skriftuurlike vereiste is? (2 Korintiërs 8:12; 1 Timoteus 5:8). Christene moet nietemin op die uitkyk wees na geleenthede om liefde aan mekaar te betoon en moet daardie liefde op praktiese maniere bewys, in ooreenstemming met Bybelbeginsels.—Jakobus 1:27; 1 Johannes 3:18; 4:7-11.