Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 11/15 bl. 26-29
  • “Die tent van die regskapenes sal floreer”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die tent van die regskapenes sal floreer”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer wysheid ’n huis opbou
  • Wanneer lippe deur wysheid gerig word
  • Wanneer wysheid menslike pogings rig
  • Wanneer ’n getuie wys is
  • Wanneer ‘kennis iets makliks is’
  • Wanneer wysheid verhoudings rig
  • “Waardevolle dinge en rykdom is in sy huis”
  • ‘Deur wysheid sal ons dae baie word’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 11/15 bl. 26-29

“Die tent van die regskapenes sal floreer”

WANNEER die storm van Har–Magedon losbars en dit ’n einde aan Satan se goddelose stelsel van dinge maak, “[sal] die huis van die goddeloses . . . verdelg word”. Maar wat van “die tent van die regskapenes”? In die nuwe wêreld wat God tot stand sal bring, sal dit “floreer”.—Spreuke 14:11.

Totdat die tyd aanbreek wanneer ‘die goddeloses van die aarde af uitgeroei word en die verraderlikes daarvan weggeruk word’, moet die onberispelikes sy aan sy met hulle lewe (Spreuke 2:21, 22). Kan die regskapenes onder hierdie omstandighede floreer? Verse 1 tot 11 van hoofstuk 14 in die Bybelboek Spreuke toon dat ons nou reeds ’n mate van voorspoed en stabiliteit kan geniet as ons toelaat dat wysheid ons woorde en dade rig.

Wanneer wysheid ’n huis opbou

Koning Salomo van eertydse Israel lewer kommentaar oor die invloed wat ’n vrou op die welsyn van die gesin het en sê: “Die vrou wat waarlik wys is, het haar huis opgebou, maar die dwase breek dit met haar eie hande af” (Spreuke 14:1). Hoe kan ’n vrou wat wysheid besit, haar huis opbou? ’n Wyse vrou respekteer God se hoofskapreëling (1 Korintiërs 11:3). Sy word nie beïnvloed deur die gees van onafhanklikheid wat in Satan se wêreld heers nie (Efesiërs 2:2). Sy is onderdanig aan haar man en praat goed van hom, wat ander se respek vir hom laat toeneem. ’n Wyse vrou het ’n daadwerklike aandeel aan die geestelike en praktiese opvoeding van haar kinders. Sy werk hard ten behoewe van die huisgesin sodat die huis ’n aangename en gerieflike plek vir die gesin is. Sy behartig die huishouding op ’n verstandige en spaarsame wyse. ’n Vrou wat waarlik wys is, dra by tot die voorspoed en stabiliteit van haar huisgesin.

’n Dwase vrou het nie respek vir God se hoofskapreëling nie. Sy aarsel nie om sleg te praat van haar man nie. Sy is nie spaarsaam nie, maar verkwis die huisgesin se swaarverdiende middele. Sy mors ook tyd. Gevolglik is die huis nie skoon en netjies nie, en die kinders ly fisies en geestelik. Ja, die dwase vrou breek haar huis af.

Maar wat bepaal of ’n persoon wys of dwaas is? Spreuke 14:2 sê: “Wie in sy regskapenheid wandel, vrees Jehovah, maar wie verdorwe is in sy weë, verag Hom.” Die regskapene vrees die ware God, en “die vrees van Jehovah is die begin van wysheid” (Psalm 111:10). ’n Waarlik wyse persoon weet dat dit sy verpligting is om ‘die ware God te vrees en sy gebooie te onderhou’ (Prediker 12:13). Daarenteen volg die dwaas ’n weg wat nie in ooreenstemming is met God se standaarde van regskapenheid nie. Sy weë is krom. So ’n persoon verag God en sê in sy hart: “Daar is geen Jehovah nie.”—Psalm 14:1.

Wanneer lippe deur wysheid gerig word

Wat kan gesê word oor die spraak van iemand wat Jehovah vrees en van die een wat Hom verag? “Die roede van hoogmoed is in die mond van die dwaas”, sê die koning, “maar die lippe van die wyses sal hulle bewaak” (Spreuke 14:3). Omdat ’n dwase persoon nie die wysheid van bo het nie, is hy nie vredeliewend of verstandig nie. Die wysheid wat sy voetstappe rig, is aards, dierlik, demonies. Hy uiter woorde wat bewys lewer van twisgierigheid en verwaandheid. Die hoogmoedigheid in sy mond veroorsaak baie moeilikheid vir hom en vir ander.—Jakobus 3:13-18.

Die lippe van ’n wyse persoon bewaak, of beskerm, hom en gee hom ’n groter gevoel van genoegdoening. Hoe? Die Skrif sê: “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke, maar die tong van die wyses is genesing” (Spreuke 12:18). Die woorde van ’n wyse persoon is nie ondeurdag of venynig nie. Sy hart dink na sodat hy kan antwoord (Spreuke 15:28). Sy weldeurdagte woorde is genesend—dit moedig die terneergedruktes aan en verkwik die verdruktes. Sy lippe irriteer ander nie, maar bevorder eerder vrede en kalmte.

Wanneer wysheid menslike pogings rig

Salomo noem volgende ’n interessante spreuk wat blykbaar handel oor die nodigheid om die voordele en die nadele te oorweeg om ’n sekere taak te onderneem. Hy sê: “Waar geen beeste is nie, is die krip skoon, maar die oes is oorvloedig weens die krag van ’n bul.”—Spreuke 14:4.

Een naslaanwerk lewer kommentaar oor die betekenis van hierdie spreuk en sê: “’n Leë krip dui aan dat daar geen osse [beeste] is om te voer nie, en gevolglik het ’n mens nie die moeite om skoon te maak en diere te versorg nie en sal uitgawes minder wees. Maar hierdie ‘voordeel’ word geneutraliseer deur v[ers] 4b: daar word geïmpliseer dat die oes nie groot sal wees as osse nie gebruik word nie.” Die boer moet wyslik kies.

Sal die beginsel van hierdie spreuk nie ook van toepassing wees wanneer ons dit oorweeg om van werk te verander, ’n sekere soort huis te kies, ’n motor te koop, ’n troeteldier aan te skaf en dies meer nie? ’n Wyse persoon sal die voordele en nadele oorweeg en bepaal of wat hy wil doen, werklik die inspanning en onkoste werd is.

Wanneer ’n getuie wys is

“’n Getroue getuie is iemand wat nie sal lieg nie”, gaan Salomo voort, “maar ’n valse getuie strooi net leuens uit” (Spreuke 14:5). Die leuens van ’n valse getuie kan beslis baie skade aanrig. Nabot, die Jisreëliet, is gestenig omdat twee deugniete valslik teen hom getuig het (1 Konings 21:7-13). En het valse getuies nie teen Jesus getuig, wat tot sy dood gelei het nie? (Matteus 26:59-61). Valse getuies het ook teen Stefanus getuig—die eerste dissipel van Jesus wat weens sy geloof doodgemaak is.—Handelinge 6:10, 11.

’n Man van leuens sal dalk vir eers nie aan die kaak gestel word nie, maar dink ’n bietjie aan sy toekoms. Jehovah haat “’n valse getuie wat leuens uitstrooi”, sê die Bybel. (Spreuke 6:16-19). So iemand se deel sal wees in die poel wat met vuur en swael brand—die tweede dood—saam met oortreders soos moordenaars, hoereerders en afgodedienaars.—Openbaring 21:8.

’n Getroue getuie maak hom nie skuldig aan meineed wanneer hy getuienis aflê nie. Sy getuienis is nie met leuens besmet nie. Maar dit beteken nie dat hy onder verpligting staan om volledige inligting te verstrek aan dié wat dalk Jehovah se volk op die een of ander manier skade wil berokken nie. Die aartsvaders Abraham en Isak het feite weerhou van sommige wat Jehovah nie aanbid het nie (Genesis 12:10-19; 20:1-18; 26:1-10). Ragab van Jerigo het vir die koning se manne verkeerde inligting gegee (Josua 2:1-7). Selfs Jesus Christus het nie al die inligting verstrek as dit onnodig skade sou berokken nie (Johannes 7:1-10). Hy het gesê: “Moenie wat heilig is, vir die honde gee nie.” Waarom nie? “Sodat hulle . . . nie miskien . . . omdraai en julle verskeur nie.”—Matteus 7:6.

Wanneer ‘kennis iets makliks is’

Is wysheid iets wat alle mense besit? Spreuke 14:6 sê: “Die spotter het wysheid probeer vind, en dit is nie daar nie; maar vir iemand met begrip is kennis iets makliks.” ’n Spotter sal dalk wysheid probeer vind, maar ware wysheid ontwyk hom. Aangesien ’n spotter verwaand die spot dryf met die dinge van God, verkry hy nie die basiese voorvereiste van wysheid—juiste kennis van die ware God—nie. Sy trots en verwaandheid verhinder hom om van God te leer en wysheid te verkry (Spreuke 11:2). Waarom doen hy nog die moeite om wysheid te soek? Die spreuk sê nie, maar miskien doen hy dit sodat ander moet dink dat hy wys is.

“Vir iemand met begrip is kennis iets makliks.” ’n Definisie van begrip is “om verstandelik te vat: om te verstaan”, “om die algemene verhouding tussen besonderhede in te sien”. Dit is die vermoë om verskillende aspekte van ’n onderwerp te verbind en om die hele aangeleentheid, nie net die geïsoleerde gedeeltes nie, te sien. Die spreuk sê dat kennis iets makliks is vir iemand wat hierdie vermoë het.

Dink in dié verband byvoorbeeld aan hoe jy self kennis van Bybelwaarhede opgedoen het. Toe jy die Bybel begin studeer het, was die basiese leringe oor God, sy voornemens en sy Seun heel waarskynlik van die eerste waarhede wat jy geleer het. Dit het ’n tyd lank afsonderlike besonderhede gebly. Maar terwyl jy aangehou studeer het, het die stukke bymekaar begin pas en kon jy duidelik sien hoe verskillende besonderhede met Jehovah se algehele voorneme vir die mens en die aarde verband hou. Die waarhede van die Bybel het logies geword en ’n geheel gevorm. Dit het toe makliker geword om nuwe besonderhede te leer en te onthou omdat jy kon sien hoe dit met die geheelbeeld verband hou.

Die wyse koning waarsku waar kennis nie gevind sal word nie. “Gaan weg voor die dwase man”, sê hy, “want jy sal beslis nie die lippe van kennis bemerk nie” (Spreuke 14:7). ’n Dwaas het ’n gebrek aan ware kennis. Hy het nie lippe wat kennis uitspreek nie. Die raad is om van so ’n man af weg te gaan, en dit is verstandig om van hom af weg te bly. Enigeen “wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan”.—Spreuke 13:20.

“Die wysheid van die skerpsinnige is om sy weg te verstaan,” gaan Salomo voort, “maar die dwaasheid van sotte is bedrog” (Spreuke 14:8). ’n Wyse persoon dink oor sy dade. Hy dink aan die verskillende opsies wat hy het en oorweeg wat die moontlike uitkoms van elkeen sal wees. Hy kies sy weg verstandig. Wat van ’n dwaas? Hy kies ’n dwase weg en is oortuig dat hy weet wat hy doen en dat hy die beste keuse maak. Sy dwaasheid bedrieg hom.

Wanneer wysheid verhoudings rig

Die een wat deur wysheid gerig word, het vreedsame verhoudings met ander. “Dwaas is dié wat van oortreding ’n bespotting maak,” sê die koning van Israel, “maar onder die regskapenes is daar eenstemmigheid” (Spreuke 14:9). ’n Skuldgevoel, of berou, is vir die dwaas iets lagwekkends. Sy verhoudings by die huis en elders ly skade omdat hy “te verwaand is om dinge reg te stel” en vrede te soek (The New English Bible). Die regskapene is bereid om toegewings te maak vir die tekortkominge van ander. Hy is gou om verskoning te vra en dinge reg te stel wanneer hy verkeerd is. Hy streef vrede na, en daarom geniet hy gelukkige en stabiele verhoudings met ander.—Hebreërs 12:14.

Salomo wys volgende op ’n beperkende faktor in menseverhoudings. Hy sê: “Die hart ken die bitterheid van ’n mens se siel, en met die blydskap daarvan sal geen vreemdeling inmeng nie” (Spreuke 14:10). Kan ons altyd ons diepste gevoelens—hetsy droefheid of vreugde—met ander bespreek en vir hulle vertel presies wat ons ondervind? En kan ’n mens te alle tye ten volle verstaan hoe iemand anders voel? Die antwoord op albei vrae is nee.

Beskou byvoorbeeld selfmoordgevoelens. Iemand wat hierdie gevoelens ervaar, kan dikwels nie vir ’n gesinslid of ’n vriend presies sê hoe hy voel nie. En ander kan nie altyd tekens van sulke gevoelens in hulle metgeselle herken nie. Ons hoef nie skuldig te voel as ons nie hierdie tekens raaksien nie en versuim om iets te doen om hulle te help nie. Hierdie spreuk leer ons ook dat dit weliswaar vertroostend kan wees om na ’n simpatieke vriend vir emosionele ondersteuning te gaan, maar dat mense beperk is in die vertroosting wat hulle kan bied. Ons kan alleenlik op Jehovah vertrou om ons te help om sekere moeilikhede te verduur.

“Waardevolle dinge en rykdom is in sy huis”

“Die huis van die goddeloses sal verdelg word,” sê die koning van Israel, “maar die tent van die regskapenes sal floreer” (Spreuke 14:11). ’n Goddelose persoon floreer dalk in hierdie stelsel van dinge en woon miskien in ’n mooi huis, maar van watter nut sal dit vir hom wees wanneer hy nie meer daar is nie? (Psalm 37:10). Daarenteen is die woning van ’n regskapene dalk taamlik eenvoudig. Maar “waardevolle dinge en rykdom is in sy huis”, sê Psalm 112:3. Wat is hierdie dinge?

Wanneer ons woorde en dade deur wysheid gerig word, het ons die “rykdom en heerlikheid” wat met wysheid gepaardgaan (Spreuke 8:18). Dít sluit ’n vreedsame verhouding met God en ons medemens in, ’n gevoel van genoegdoening en ’n mate van stabiliteit. Ja, “die tent van die regskapenes” kan nou reeds floreer.

[Prent op bladsy 27]

’n Wyse vrou bou haar huis op

[Prent op bladsy 28]

“Die tong van die wyses is genesing”

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel