Hoe moet Jesus Christus onthou word?
Jesus Christus “was beslis een van die invloedrykste mense wat nog ooit gelewe het”.—“The World Book Encyclopedia.”
VERNAME mense word gewoonlik onthou vir wat hulle gedoen het. Waarom onthou baie mense Jesus dan vir sy geboorte eerder as vir sy dade? Die meeste mense in die Christendom kan vertel wat voor en ná sy geboorte plaasgevind het. Hoeveel onthou egter sy voortreflike leringe in die Bergpredikasie en probeer dit toepas?
Jesus se geboorte was weliswaar merkwaardig, maar sy vroeë dissipels het die dinge wat hy gedoen en geleer het, as baie belangriker beskou. God het sekerlik nooit bedoel dat Christus se geboorte sy lewe as ’n volwasse man moes oorskadu nie. Tog het Kersfees die ware identiteit van Christus begrawe onder ’n mengelmoes van legendes en volksoorleweringe aangaande sy geboorte.
Nog ’n verontrustende vraag ontstaan in verband met die aard van Kersvierings. Wat sal Jesus, as hy vandag sou terugkom aarde toe, dink van die openlike kommersialisering van Kersfees? Tweeduisend jaar gelede het Jesus die tempel in Jerusalem besoek. Hy was hoogs verontwaardig teenoor die geldwisselaars en handelaars wat ’n Joodse godsdiensfees misbruik het om geld te maak. “Neem hierdie goed hier weg!” het hy gesê. “Hou op om die huis van my Vader ’n handelshuis te maak!” (Johannes 2:13-16). Dit is duidelik dat Jesus nie die vermenging van kommersialisme en godsdiens goedgekeur het nie.
Talle opregte Spaanse Katolieke spreek besorgdheid uit oor die toenemende kommersiële aard van Kersfees. Maar so ’n neiging tot kommersialisme is waarskynlik onvermydelik in die lig van die oorsprong van baie Kersgebruike. Die joernalis Juan Arias sê: “Diegene in die Christelike godsdiens wat die manier kritiseer waarop Kersfees ‘verheidens’ het en meer met feestelikheid en koorsagtige kopery as met godsdiens te doen het, is gewoonlik onbewus van die feit dat Kersfees reeds uit die staanspoor . . . baie van die kenmerke van die Romeinse heidense [son]fees oorgeneem het.”—El País, 24 Desember 2001.
In onlangse jare het baie Spaanse joernaliste en ensiklopedieë kommentaar gelewer oor die heidense oorsprong van tradisionele Kersvierings, asook die kommersiële aspekte daarvan. Die Enciclopedia de la Religión Católica sê reguit oor die datum van Kersvierings: “Die rede waarom die Roomse Kerk besluit het om hierdie datum vir die fees vas te stel, is blykbaar sy neiging om heidense feeste met Christelike feeste te vervang. . . . Ons weet dat die heidene in Rome destyds 25 Desember gewy het aan die viering van natalis invicti, die geboorte van die ‘onoorwinlike son’.”
Die Enciclopedia Hispánica sê eweneens: “Die datum 25 Desember vir die viering van Kersfees is nie die gevolg van ’n streng chronologiese herdenking nie, maar eerder van die verchristeliking van die feeste van die wintersonstilstand wat in Rome gevier is.” Hoe het die Romeine die opkoms van die son in die winterhemel gevier? Deur feesviering, oormatige etery en drinkery en die gee van geskenke. Aangesien kerkowerhede onwillig was om so ’n gewilde fees af te skaf, het hulle dit “verchristelik” deur dit die geboorte van Jesus eerder as die geboorte van die son te noem.
Sonaanbidding en die gepaardgaande gebruike het aanvanklik, in die vierde en vyfde eeu, moeilik uitgesterf. Die Katolieke “sint” Augustinus (354-430 G.J.) het verplig gevoel om medegelowiges te maan om nie 25 Desember soos die heidene ter ere van die son te vier nie. Die ou Romeinse feestelikhede het blykbaar selfs vandag nog die oorhand.
Die ideale fees vir jolyt en kommersialisme
Deur die eeue heen het verskeie faktore ’n beslissende rol daarin gespeel om Kersfees die gewildste internasionale fees vir jolyt en kommersialisme te maak. Die gebruike van ander winterfeeste, veral dié wat in Noord-Europa gevier word, is ook geleidelik in die Romeinse model opgeneem.a En in die 20ste eeu het verkoopsmanne en bemarkingsdeskundiges enige gebruik wat groot winste kon lewer, geesdriftig bevorder.
Wat was die gevolg? Die viering van Christus se geboorte eerder as die betekenis daarvan het die belangrikste geword. In baie gevalle het selfs die vermelding van Christus feitlik uit die tradisionele Kersfees verdwyn. “[Kersfees] is ’n wêreldfees, ’n familiefees, en almal vier wat hy of sy daarin sien”, sê die Spaanse koerant El País.
Hierdie kommentaar weerspieël ’n toenemende tendens in Spanje en baie ander lande regoor die wêreld. Terwyl Kersvierings al hoe oordadiger raak, neem kennis van Christus af. Kersvierings het in werklikheid grootliks teruggekeer tot wat dit oorspronklik in Romeinse tye was—feesviering, oormatige etery en drinkery en die gee van geskenke.
’n Kind is vir ons gebore
Hoe moet ware Christene die geboorte en lewe van Christus dan onthou, aangesien die tradisionele Kersfees min met Christus te doen het? Sewe eeue voor Jesus se geboorte het Jesaja oor hom geprofeteer: “’n Kind is vir ons gebore, ’n seun is vir ons gegee; en die vorstelike heerskappy sal op sy skouer wees” (Jesaja 9:6). Waarom het Jesaja aangedui dat Jesus se geboorte en latere rol so belangrik sou wees? Omdat Jesus ’n magtige heerser sou word. Hy sou Vredevors genoem word, en daar sou geen einde aan vrede of aan sy vorstelike heerskappy wees nie. Verder sou Jesus se heerskappy “deur middel van geregtigheid en deur middel van regverdigheid” in stand gehou word.—Jesaja 9:7.
Die engel Gabriël het Jesaja se verklaring bevestig toe hy vir Maria van Jesus se komende geboorte vertel het. “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word”, het hy voorspel. “En Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:32, 33). Dit is duidelik dat die belangrikheid van Jesus se geboorte hoofsaaklik verband gehou het met die werk wat Christus as die aangestelde Koning van God se Koninkryk sou verrig. Christus se heerskappy kan almal tot voordeel strek, ook vir jou en jou geliefdes. Trouens, die engele het aangedui dat sy geboorte “vrede op aarde” sou meebring “vir die mense in wie [God] ’n welbehae het”.—Lukas 2:14, Die Bybel, 1983.
Wie wil nie in ’n wêreld van vrede en geregtigheid lewe nie? Maar om die vrede te geniet wat Christus se heerskappy sal meebring, moet ons God behaag en ’n goeie verhouding met hom hê. Jesus het gesê dat ons eerstens van God en Christus moet leer as ons so ’n verhouding wil hê. “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Wanneer ons Jesus goed leer ken het, hoef ons nie meer te wonder hoe hy wil hê dat ons hom moet onthou nie. Sal dit wees deur te eet, te drink en geskenke te gee op dieselfde datum as ’n ou heidense fees? Dit klink onwaarskynlik. Die nag voor sy dood het Jesus vir sy dissipels gesê wat hy verkies. “Hy wat my gebooie het en hulle bewaar, dit is hy wat my liefhet. En hy wat my liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en ek sal hom liefhê.”—Johannes 14:21.
Jehovah se Getuies het ’n diepgaande studie van die Heilige Skrif gemaak, en dit het hulle help verstaan wat die gebooie van God en Jesus is. Hulle sal jou met graagte help om insig te verkry in hierdie lewensbelangrike gebooie sodat jy Jesus kan onthou soos hy onthou moet word.
[Voetnote]
a Die Kersboom en Sinterklaas is twee treffende voorbeelde.
[Venster/Prente op bladsy 6, 7]
Ontmoedig die Bybel feesviering en die gee van geskenke?
Die gee van geskenke
Die Bybel keur dit goed dat mense geskenke gee; Jehovah self word die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” genoem (Jakobus 1:17). Jesus het getoon dat goeie ouers vir hulle kinders geskenke sou gee (Lukas 11:11-13). Job se vriende en familielede het vir Job geskenke gegee toe hy sy gesondheid herwin het (Job 42:11). Maar in geeneen van hierdie gevalle is daar gegee omdat dit ’n spesifieke feesdag was nie. Dit het uit die hart gekom.—2 Korintiërs 9:7.
Familiegesellighede
Familiegesellighede kan baie daartoe bydra om famlilielede te verenig, veral as hulle almal nie meer in dieselfde huis woon nie. Jesus en sy dissipels het ’n huweliksfees in Kana bygewoon, wat ongetwyfeld ’n groot samekoms van familie en vriende was (Johannes 2:1-10). En in Jesus se illustrasie van die verlore seun het die vader sy seun se terugkoms met ’n familiefees gevier, wat musiek en dansery ingesluit het.—Lukas 15:21-25.
Lekker etes
Die Bybel maak dikwels melding daarvan dat God se knegte ’n lekker ete saam met familielede, vriende of medeaanbidders geniet het. Toe drie engele Abraham besoek het, het hy vir hulle ’n feesmaal voorberei wat beesvleis, melk, botter en ronde koeke ingesluit het (Genesis 18:6-8). Salomo het gesê dat dit ’n gawe van God is om ‘te eet, te drink en vrolik te wees’.—Prediker 3:13; 8:15.
Dit is duidelik dat God wil hê dat ons lekker kos in die geselskap van vriende en familielede moet geniet, en hy keur dit goed dat mense geskenke gee. Ons het voldoende geleentheid om dit enige tyd gedurende die jaar te doen.