Waarom baie twyfel of godsdiens die mensdom kan verenig
“JY MOET jou naaste liefhê” (Matteus 22:39). Hierdie basiese gedragsreël word deur baie godsdienste voorgestaan. As hierdie godsdienste daarin geslaag het om hulle lidmate te leer om hulle naaste lief te hê, sou hulle kuddes nader aan mekaar en verenig gewees het. Is dit egter wat jy in die wêreld sien? Bevorder godsdienste eenheid? In ’n onlangse opname in Duitsland is die vraag gevra: “Verenig godsdienste mense, of verdeel hulle mense eerder?” Van die respondente het 22 persent gemeen dat godsdienste mense verenig, terwyl 52 persent gemeen het dat dit mense verdeel. Moontlik voel mense in jou land ook so.
Waarom het baie mense min vertroue dat godsdiens die mensdom kan verenig? Dalk as gevolg van wat hulle van die geskiedenis weet. In plaas van mense nader aan mekaar te bring, het godsdiens hulle dikwels uitmekaargedryf. In sommige gevalle was godsdiens die dekmantel waaronder die afgryslikste gruweldade gepleeg is. Beskou ’n paar voorbeelde uit net die afgelope 100 jaar.
Beïnvloed deur godsdiens
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Rooms-Katolieke Kroate en Ortodokse Serwiërs in die Balkan met mekaar slaags geraak. Albei groepe het beweer dat hulle Jesus navolg, wat sy volgelinge geleer het om hulle naaste lief te hê. Maar hulle konflik het tot “een van die verskriklikste slagtings van burgerlikes in die geskiedenis” gelei, soos een navorser dit gestel het. Die sterftesyfer van meer as 500 000 mans, vroue en kinders het die wêreld met afgryse vervul.
In 1947 het die Indiese subkontinent ’n bevolking van ongeveer 400 miljoen mense gehad—omtrent ’n vyfde van die mensdom—hoofsaaklik Hindoes, Moslems en Sikhs. Toe Indië verdeel is, is die Islamitiese nasie van Pakistan gevorm. Gedurende hierdie tyd is honderdduisende vlugtelinge van albei lande in die een godsdiensslagting na die ander verbrand, geslaan, gemartel en geskiet.
Asof die voorgaande voorbeelde nie ontstellend genoeg was nie, het die bedreiging van terrorisme boonop by die eeuwisseling kop uitgesteek. Vandag is die hele wêreld op hulle hoede as gevolg van terrorisme, en baie terroristegroepe beweer dat hulle godsdiensbande het. Godsdiens word nie beskou as ’n krag wat eenheid bevorder nie. Dit word dikwels eerder met geweld en verdeeldheid geassosieer. Dit is dus geen wonder dat die Duitse nuustydskrif FOCUS die wêreld se vernaamste godsdienste—Boeddhisme, Confucianisme, die Christendom, Hindoeïsme, Islam, Judaïsme en Taoïsme—met buskruit vergelyk het nie.
Interne twis
Terwyl sommige godsdienste teen mekaar oorlog voer, word ander deur interne twis geteister. Byvoorbeeld, in onlangse jare is die kerke van die Christendom verdeel deur voortgesette debatte oor leerstellige sake. Geestelikes en leke vra almal: Is geboortebeperking toelaatbaar? Wat van aborsie? Moet vroue as priesters georden word? Hoe moet die kerk homoseksualiteit beskou? Moet ’n godsdiens oorlog goedkeur? In die lig van hierdie verdeeldheid wonder baie: ‘Hoe kan ’n godsdiens die mensdom verenig as hy nie eers sy eie lidmate kan verenig nie?’
Dit is duidelik dat godsdiens oor die algemeen misluk het as ’n verenigende krag. Maar word alle godsdienste deur verdeeldheid gekenmerk? Is daar ’n godsdiens wat anders is—een wat die mensdom kan verenig?
[Prent op bladsy 3]
Polisiemanne wat gewond is gedurende ’n botsing tussen godsdiensgroepe in Indië in 1947
[Erkenning]
Photo by Keystone/Getty Images