Die lewe—Kosbaar of goedkoop?
“Aangesien die mens na die beeld van God geskep is, word die kosbaarste en heiligste ding in die wêreld vernietig wanneer ’n mens se lewe geneem word.”—The Plain Man’s Guide to Ethics deur William Barclay.
‘DIE kosbaarste ding in die wêreld.’ Is dit ook jou beskouing van die lewe? Te oordeel aan die manier waarop mense optree, is dit duidelik dat baie nie met hierdie skrywer saamstem nie. Miljoene lewens is al gevoelloos uitgewis deur gewelddadige mense wat selfsugtige doelwitte nagestreef het sonder om die welsyn van hulle medemens enigsins in ag te neem.—Prediker 8:9.
Lewens wat maklik opgeoffer word
Die Eerste Wêreldoorlog is ’n tipiese voorbeeld. Keer op keer gedurende daardie verskriklike oorlog “is mense tevergeefs opgeoffer”, sê die geskiedkundige A.J.P. Taylor. In hulle strewe na roem en aansien het militêre leiers soldate gebruik asof hulle lewe niks beteken nie en maklik opgeoffer kan word. In die slag van Verdun in Frankryk het meer as ’n halfmiljoen gesneuwel. “Daar was niks [van strategiese waarde] om te wen of te verloor nie”, skryf Taylor, “net mense om dood te maak en roem om te verwerf.”—The First World War.
Sulke minagting vir die waarde van die lewe is nog steeds algemeen. Die geleerde Kevin Bales sê dat ’n “bevolkingsontploffing [in onlangse tye] die wêreld se arbeidsmarkte met miljoene arm en kwesbare mense oorlaai” het. Hulle voer ’n lewenslange stryd om bloot te oorleef in ’n onderdrukkende kommersiële stelsel waarin “die lewe goedkoop word”. Diegene wat hulle uitbuit, sê Bales, behandel hulle soos slawe—“werktuie wat maklik opgeoffer word om geld te maak”.—Disposable People.
“’n Gejaag na wind”
Daar is baie ander redes waarom miljoene mense heeltemal waardeloos en desperaat voel—asof niemand werklik omgee of hulle lewe of sterwe nie. Die hele mensdom word nie net deur oorlog en ongeregtigheid geteister nie, maar ook deur droogte, hongersnood, siekte, die dood en talle ander dinge, en dit laat mense wonder of die lewe hoegenaamd die moeite werd is.—Prediker 1:8, 14.
Nie almal lei natuurlik ’n lewe van uiterste armoede en ellende nie. Maar selfs diegene wat die ergste onderdrukking vryspring, het al dikwels die woorde beaam van koning Salomo van eertydse Israel, wat gevra het: “Wat kry ’n mens vir al sy harde werk en vir die strewe van sy hart waarmee hy hard werk onder die son?” Wanneer hulle daaroor nadink, kom talle mense tot die besef dat baie van wat hulle gedoen het, op die ou end “nietigheid en ’n gejaag na wind” was.—Prediker 2:22, 26.
“Is dit al wat daar is?” vra baie wanneer hulle terugkyk op hulle lewe. Ja, hoeveel mense voel aan die einde van hulle lewe waarlik ‘versadig van dae’, soos die aartsvader Abraham gevoel het? (Genesis 25:8, voetnoot in NW). Die meeste het ’n knaende gevoel dat die lewe geen sin het nie. Maar die lewe hoef nie sinloos te wees nie. God beskou elke menselewe as kosbaar en wil hê dat elkeen van ons ’n waarlik vol, vervullende lewe moet lei. Hoe sal dit gebeur? Kyk wat die volgende artikel oor hierdie onderwerp sê.