Neem kennis in—Nou en vir ewig
DIE Duitse geneesheer Ulrich Strunz het ’n reeks boeke geskryf met die titel Forever Young. Hierin het hy aangevoer dat oefening, voeding en ’n gesonde lewenstyl beter gesondheid tot gevolg kan hê en moontlik tot ’n langer lewe kan lei. Maar hy belowe nie dat sy lesers letterlik vir ewig sal kan lewe as hulle sy raad volg nie.
Daar is egter een soort kennis wat wel die belofte inhou van die ewige lewe. En as jy vir ewig lewe, kan jy vir ewig nuttige kennis inneem. In gebed het Jesus vir God gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Kom ons omskryf eers die term “ewige lewe” en stel dan vas wat hierdie kennis behels en hoe jy dit kan opdoen.
Volgens die Bybel gaan die Skepper die aarde binnekort in ’n letterlike paradys omskep, waar toestande ideaal sal wees vir ’n lang lewe. Om hierdie Paradys tot stand te bring, sal drastiese optrede verg, soortgelyk aan dié van die Vloed van Noag se dag. Matteus hoofstuk 24, verse 37 tot 39, toon dat Jesus ons tyd vergelyk het met “die dae van Noag”, toe mense ‘geen ag geslaan’ het op hulle kritieke situasie nie. Hulle het hulle ook nie gesteur aan die boodskap wat Noag verkondig het nie. Toe het “die dag [aangebreek] dat Noag in die ark ingegaan het”, en die Vloed het almal vernietig wat daardie kennis verwerp het. Noag en diegene wat saam met hom in die ark was, het bly lewe.
Jesus het getoon dat ’n soortgelyke “dag” in ons tyd sal kom. Diegene wat ag slaan op die kennis wat met hierdie gebeurtenis verband hou, sal nie net die vooruitsig hê om dit te oorleef nie, maar ook om vir ewig te lewe. Daarbenewens sal die dooies wat in God se geheue is, opgewek word met die vooruitsig om nooit weer te sterf nie (Johannes 5:28, 29). Let op hoe Jesus hierdie twee gedagtes uitgedruk het. Toe hy met Marta oor die opstanding van die dooies gepraat het, het hy gesê: “Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy; en elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nóóit sterf nie.” Al die getuienis dui daarop dat hierdie “dag” baie naby is, wat beteken dat jy dalk ‘nóóit sal sterf nie’.—Johannes 11:25-27.
Jesus het toe vir Marta gevra: “Glo jy dit?” Sy het geantwoord: “Ja, Here.” Hoe sal jy antwoord as Jesus jou vandag dieselfde vraag vra? Miskien sal jy dit moeilik vind om te glo dat die moontlikheid bestaan om nooit te sterf nie. Maar al is dit jou reaksie, sal jy dit ongetwyfeld graag wil glo. Dink net hoeveel jy sal kan leer as jy “nóóit sterf nie”! Stel jou voor dat jy al die dinge sal geniet wat jy nou wens jy kan leer en doen, maar waarvoor daar nooit tyd is nie. En dink net daaraan dat jy herenig sal word met jou geliefdes wat jy aan die dood afgestaan het! Watter kennis sal hierdie dinge moontlik maak, en hoe kan jy dit verkry?
Lewegewende kennis—binne ons bereik
Is dit buite ons vermoë om kennis van God en Christus in te neem? Nee. Kennis van die Skepper se werke is weliswaar eindeloos. Maar Jesus het nie na die sterrekunde of een van die ander wetenskappe verwys toe hy “kennis” en “ewige lewe” met mekaar verbind het nie. Spreuke hoofstuk 2, verse 1 en 5, toon dat die “woorde” en “gebooie” wat in die Bybel gevind word, die grondslag is van “die kennis van God”. En aangaande Jesus, toon Johannes 20:30, 31 dat die dinge wat neergeskryf is, voldoende is sodat ons “die lewe kan hê”.
Die kennis van Jehovah en Jesus Christus soos dit in die Bybel gevind word, is dus voldoende om vir jou te toon hoe jy die ewige lewe kan verkry. Die Bybel is ’n unieke boek. Die Skepper het dit uit liefde op so ’n manier geïnspireer dat selfs ongeletterde mense met beperkte geleenthede genoeg kennis kan inneem om die ewige lewe te verkry. Ook sal iemand wat vlug van verstand is en baie tyd en middele tot sy beskikking het, altyd iets nuuts uit die geïnspireerde Skrif kan leer. Die feit dat jy hierdie artikel kan lees, bewys dat jy die vermoë het om te leer, maar hoe moet jy hierdie vermoë gebruik?
Regoor die wêreld het ondervinding getoon dat ’n persoonlike Bybelstudie wat gehou word deur iemand wat reeds die materiaal begryp, die doeltreffendste manier is om hierdie kennis op te doen. Net soos Noag kennis aan sy tydgenote probeer oordra het, is Jehovah se Getuies bereid om na jou huis toe te kom om die Bybel met jou te bespreek. Hulle sal moontlik gebruik maak van die brosjure Wat vereis God van ons? of die handleiding met die gepaste titel Kennis wat tot die ewige lewe lei.a Selfs as dit vir jou moeilik is om te glo dat getroues ‘nóóit sal sterf’ in die aardse Paradys nie, kan jy deur middel van hierdie Bybelbesprekings leer om jou vertroue in dié belofte te stel. Wat moet jy dus doen as jy graag vir ewig wil lewe of net wil sien of dit redelik is om te glo dat jy kan? Benut hierdie geleentheid om die Bybel te bestudeer.
Hoe lank sal dit neem? Die brosjure met 32 bladsye wat hierbo genoem word, en in honderde tale beskikbaar is, bevat net 16 kort lesse. Of as jy sowat ’n uur per week opsy kan sit, sal jy net ’n paar maande nodig hê om belangrike Bybelonderwerpe te bestudeer met behulp van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Hierdie publikasies het talle mense al gehelp om baie kennis op te doen en om ’n innige liefde vir God aan te kweek. Die Skepper sal diegene beloon wat hom waarlik liefhet en dit vir hulle moontlik maak om vir ewig te lewe.
Ja, lewegewende kennis is binne ons bereik, en dit is geredelik beskikbaar. Die Bybel is al, in sy geheel of gedeeltelik, in meer as 2 000 tale vertaal. Jehovah se Getuies in 235 lande sal jou met graagte persoonlik help en van Bybelpublikasies voorsien sodat jy nog meer kennis kan inneem.
Persoonlike studie
Jou verhouding met God is ’n persoonlike saak tussen jou en die Skepper. Net jy kan dit opbou en versterk, en net hy kan jou die ewige lewe gee. Daarom moet jy aanhou om ’n persoonlike studie van sy geskrewe Woord te maak. As iemand gereeld na jou huis toe kom, sal dit dalk vir jou makliker wees om tyd vir studie opsy te sit.
Aangesien die Bybel en Bybelstudiehulpe “die kennis van God” bevat, is dit net reg dat ’n mens hulle goed oppas (Spreuke 2:5). Sodoende sal jy dit jare lank kan gebruik. As jy in ’n ontwikkelende land woon, het jy dalk nie baie handboeke op skool gebruik nie omdat jy hoofsaaklik geleer het deur te luister en aandag te skenk. In Benin word daar byvoorbeeld meer as 50 tale gepraat. Dit is nie ongewoon dat mense vier of vyf tale vlot kan praat nie, hoewel hulle nog nooit ’n handboek oor daardie tale in hulle hande gehad het nie. Jou vermoë om te leer deur te luister, aandag te skenk en te konsentreer, is ’n seën. Nietemin sal jy vind dat boeke jou grootliks met jou studie kan help.
Selfs as dit beknop is waar jy woon, moet jy jou Bybel en verwante publikasies op ’n geskikte plek probeer bêre. Hou dit waar jy dit maklik kan kry en waar dit nie beskadig sal word nie.
Gesinstudie
As jy ’n ouer is, moet jy daarin belangstel om jou kinders te help om dieselfde kennis in te neem as wat jy inneem. In ontwikkelende lande is ouers dikwels gewoond daaraan om hulle kinders baie van die noodsaaklike lewensvaardighede te leer. Dit sluit miskien in om kos te kook, hout bymekaar te maak, water te gaan haal, te boer, vis te vang en produkte op die mark te verruil. Dit is waarlik opvoeding wat hulle in die lewe sal help. Maar baie ouers sluit nie die kennis wat tot die ewige lewe kan lei, by hierdie opvoeding in nie.
Wat jou situasie ook al is, jy voel waarskynlik dat jy nie baie tyd tot jou beskikking het nie. Die Skepper besef dit ook. Let op wat hy lank gelede gesê het oor hoe om kinders sy weë te leer: “Jy moet dit by jou kinders inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan” (Deuteronomium 6:7). Op grond van hierdie gedagtes kan jy gerus jou eie onderrigprogram probeer uitwerk, soos:
1. “Wanneer jy in jou huis sit”: Probeer om gereelde besprekings met jou kinders by die huis te hou, dalk elke week, net soos iemand moontlik al besprekings met jou gehou het. Jehovah se Getuies voorsien Bybelpublikasies wat geskik is om kinders van alle ouderdomme te leer.
2. “Wanneer jy op die pad loop”: Maak gebruik van informele geleenthede om met jou kinders oor Jehovah te praat, net soos jy vir hulle op ’n informele manier ander belangrike dinge in die lewe leer of riglyne gee.
3. “Wanneer jy gaan lê”: Bid elke aand saam met jou kinders.
4. “Wanneer jy opstaan”: Baie gesinne vind dit lonend om elke oggend ’n Bybelteks te bespreek. Jehovah se Getuies gebruik die boekie Ondersoek die Skrif elke dagb as ’n grondslag hiervoor.
In ontwikkelende lande doen baie ouers alles in hulle vermoë om seker te maak dat een van hulle kinders ’n goeie sekulêre opvoeding kry. Gevolglik sal die kind na die ouers kan omsien wanneer hulle ouer word. Maar as jy die Bybel bestudeer en al jou kinders help om dit ook te doen, sal jy die kennis verkry wat dit vir jou en jou hele gesin moontlik sal maak om vir ewig te lewe.
Sal die dag ooit aanbreek dat ons alles weet? Nee. Terwyl ons aarde sy reis deur die eindelose heelal voortsit, sal ons aanhou om kennis in te neem. Ja, Prediker 3:11 sê: “Alles het [God] mooi gemaak op die tyd daarvoor. Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie.” Die genot wat dit ons verskaf om kennis in te neem, sal nooit ophou nie.
[Voetnote]
a Albei word deur Jehovah se Getuies uitgegee.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 5]
“Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem . . . ”
[Prente op bladsy 7]
Help jou gesin om nou en vir ewig kennis in te neem