Mari—eertydse koningin van die woestyn
“EK HET effens lighoofdig gevoel toe ek daardie nag in my kamer kom nadat ek en my metgeselle ons ontdekking gevier het”, het die Franse argeoloog André Parrot vertel. In Januarie 1934, by Tell Harriri, naby die dorpie Abu Kemal aan die Eufraat in Sirië, het Parrot en sy span ’n standbeeld opgegrawe waarop die inskripsie was: “Lamgi-Mari, koning van Mari, hoëpriester van Enlil.” Hulle was in ekstase oor die ontdekking.
Uiteindelik is die stad Mari gevind! Van watter belang is hierdie ontdekking vir studente van die Bybel?
Waarom van belang?
Hoewel antieke tekste gewys het dat Mari bestaan, het die presiese ligging daarvan lank ’n raaisel gebly. Volgens Sumeriese skrywers was Mari die setel van ’n dinastie wat moontlik ’n tyd lank oor die hele Mesopotamië geheers het. Mari was op die oewer van die Eufraat gebou en was strategies geleë by die kruising van handelsroetes wat die Persiese Golf met Assirië, Mesopotamië, Anatolië en die Mediterreense kus verbind het. Goedere, onder meer hout, metaal en klip—waaraan daar ’n groot tekort in Mesopotamië was—is deur die stad vervoer. Belasting op hierdie goedere het Mari grootliks verryk en die stad in staat gestel om sy gesag oor die gebied te laat geld. Hierdie oorheersing het egter tot ’n einde gekom toe Sirië deur Sargon van Akkad verower is.
Ná Sargon se verowering is Mari sowat 300 jaar lank deur die een militêre goewerneur na die ander regeer. Onder hulle het die stad weer ’n mate van voorspoed geniet. Maar teen die tyd van die laaste heerser, Zimri-Lim, het Mari begin agteruitgaan. Zimri-Lim het sy ryk deur ’n reeks militêre oorwinnings, verdrae en huweliksverbintenisse probeer versterk. Maar omstreeks 1760 v.G.J. het koning Hammoerabi van Babilon die stad verslaan en vernietig en sodoende ’n einde gemaak aan wat Parrot beskryf het as “’n beskawing wat een van die ligte van die eertydse wêreld was”.
Toe Hammoerabi se troepe Mari verwoes het, het hulle aan hedendaagse argeoloë en geskiedkundiges onbewustelik ’n groot guns bewys. Toe hulle die rousteenmure omgestoot het, het hulle sekere geboue op party plekke tot vyf meter diep begrawe en dit sodoende teen verwering beskerm. Argeoloë het die ruïnes van tempels en paleise opgegrawe, tesame met ’n klomp artefakte en duisende inskripsies wat lig gewerp het op die eertydse beskawing.
Waarom stel ons belang in die ruïnes van Mari? Dink aan die tyd toe die aartsvader Abraham op aarde was. Abraham is in die jaar 2018 v.G.J. gebore, 352 jaar ná die groot Vloed. Sy geslag was die tiende geslag van Noag af. Op God se bevel het Abraham sy geboortestad Ur verlaat en na Haran gegaan. In die jaar 1943 v.G.J., toe Abraham 75 jaar oud was, het hy uit Haran getrek na die land Kanaän. “Abraham se trek uit Ur na Jerusalem [in Kanaän] het gedurende die tyd van Mari plaasgevind”, sê die Italiaanse argeoloog Paolo Matthiae. Die ontdekking van Mari is derhalwe belangrik omdat dit ons kan help om ons voor te stel in watter wêreld God se getroue kneg Abraham geleef het.a—Genesis 11:10–12:4.
Wat bring die ruïnes aan die lig?
Godsdiens het in Mari gefloreer soos ook op ander plekke in Mesopotamië. Dit is as die mens se plig beskou om die gode te dien. Die gode is altyd geraadpleeg voordat enige belangrike besluit geneem is. Argeoloë het die oorblyfsels van ses tempels gevind. Onder hulle is die Tempel van Leeus (wat sommige meen ’n tempel is van Dagan, die Bybelse Dagon) en die heiligdomme van Isjtar, die vrugbaarheidsgodin, sowel as van die songod Sjamasj. Daar was oorspronklik in hierdie tempels ’n beeld van die god aan wie offerandes gebring en tot wie versoeke gerig is. Aanbidders het glimlaggende beelde van hulleself in ’n biddende houding op banke in die heiligdom gesit omdat hulle geglo het dat hulle beeld die aanbiddingsdaad verleng het. Parrot het gesê: “Die beeld was in werklikheid, net soos die kers in hedendaagse Katolieke aanbidding, maar selfs in ’n groter mate, ’n plaasvervanger vir die aanbidder.”
Die opsienbarendste ontdekking in die ruïnes van Tell Harriri was die oorblyfsels van ’n yslike paleiskompleks, wat vernoem is na die laaste inwoner daarvan, koning Zimri-Lim. Die Franse argeoloog Louis-Hugues Vincent het dit beskryf as “die juweel van ou Oosterse argitektuur”. Dit beslaan sowat 2,5 hektaar en het meer as 300 vertrekke en binnehowe gehad. Selfs in die ou tyd was hierdie paleis as een van die wonders van die wêreld beskou. “Dit was so beroemd”, sê Georges Roux in sy boek Ancient Iraq, “dat die koning van Ugarit, aan die Siriese kus, nie geaarsel het om sy seun 600 kilometer ver die binneland in te stuur met die uitsluitlike doel om ‘die huis van Zimri-Lim’ te besoek nie.”
Voordat besoekers ’n ruim binnehof bereik het, het hulle die versterkte paleis binnegegaan deur ’n enkelingang met ’n toring aan weerskante. Op ’n troon wat op ’n verhoog gestaan het, het Mari se laaste koning, Zimri-Lim, militêre, handels- en diplomatieke aangeleenthede behartig, regspraak gelewer en besoekers en afvaardigings ontvang. Daar was verblyf vir gaste, wat gereeld deur die koning tydens deftige feesmale onthaal is. Disse het gebraaide, geroosterde of gekookte bees-, skaap- en wildsvleis sowel as vis en pluimvee ingesluit—wat alles met geurige knoffelsouse en ’n verskeidenheid groente en kase bedien is. Nagereg het bestaan uit vars, gedroogde of versuikerde vrugte en koeke wat in sierlike vorms gebak is. Om hulle dors te les, is gaste bier of wyn bedien.
Sanitasie het nie agterweë gebly in die paleis nie. Badkamers is ontdek met terracottabaddens en toilette sonder sitplekke. Die vloere en onderste helfte van die mure van hierdie vertrekke is met ’n laag bitumen beskerm. Uitvloeiwater is deur middel van steenvore weggevoer, en kleipype wat met bitumen waterdig gemaak is, is ná sowat 3 500 jaar nog steeds in ’n werkende toestand. Toe drie vrouens van die koninklike harem ’n dodelike siekte opgedoen het, was die instruksies streng. So ’n siek vrou moes afgesonder en onder kwarantyn geplaas word. “Niemand moet uit haar beker drink, aan haar tafel eet, op haar stoel sit nie.”
Wat leer ons uit die argief?
Parrot en sy span het omtrent 20 000 spykerskriftablette ontdek wat in Akkadies geskryf is. Die tablette was briewe en dokumente in verband met administrasie en die ekonomie. Nog net ’n derde van hierdie argief is al gepubliseer. Hoe dit ook al sy, dit bestaan uit 28 bundels. Van watter waarde is dit? “Voor die ontdekking van die Mari-argief”, sê Jean-Claude Margueron, direkteur van die Mari- Argeologiese Sending, “het ons byna niks geweet van die geskiedenis, instellings en daaglikse lewe in Mesopotamië en Sirië aan die begin van die tweede millennium nie. Danksy hierdie argief was dit moontlik om hele hoofstukke van die geskiedenis te skryf.” Soos Parrot gesê het, “bring [die argief] verbasende ooreenkomste aan die lig tussen die volke wat daarin genoem word en wat die Ou Testament ons van die tydperk van die Aartsvaders vertel”.
Die tablette wat in Mari gevind is, werp ook lig op sekere gedeeltes in die Bybel. Die tablette toon byvoorbeeld dat dit “in daardie tyd algemeen vir konings” was om ’n vyand se harem oor te neem. Die raad van die verraaier Agitofel aan koning Dawid se seun Absalom om met sy vader se byvrouens gemeenskap te hê, was beslis niks nuuts nie.—2 Samuel 16:21, 22.
Sedert 1933 was daar al 41 argeologiese ekspedisies na Tell Harriri. Tot dusver is egter nog net 8 van Mari se 110 hektaar ondersoek. Daar sal waarskynlik nog talle fassinerende ontdekkings gemaak word in Mari, die eertydse koningin van die woestyn.
[Voetnoot]
a Die Joodse ballinge wat ná die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. na Babilon geneem is, het ook heel waarskynlik naby die ruïnes van Mari verbygetrek.
[Kaart op bladsy 10]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Persiese Golf
Ur
MESOPOTAMIË
Eufraat
MARI
ASSIRIË
Haran
ANATOLIË
KANAÄN
Jerusalem
Middellandse See (Groot See)
[Prent op bladsy 11]
In hierdie dokument het koning Iahdun-Lim van Mari met sy bouwerk gespog
[Prent op bladsy 11]
Danksy die ontdekking van hierdie beeld van Lamgi-Mari is Mari met sekerheid geïdentifiseer
[Prent op bladsy 12]
Ebih-Il, die superintendent van Mari, besig om te bid
[Prent op bladsy 12]
Verhoog in die paleis, waar die beeld van ’n godin dalk gestaan het
[Prent op bladsy 12]
Ruïnes van Mari, wat bouwerk met rousteen toon
[Prent op bladsy 12]
’n Badkamer in die paleis
[Prent op bladsy 13]
Die oorwinningstele van Naram-Sin, veroweraar van Mari
[Prent op bladsy 13]
Omtrent 20 000 spykerskrif- tablette is in die ruïnes van die paleis gevind
[Foto-erkenning op bladsy 10]
© Mission archéologique française de Tell Hariri - Mari (Syrie)
[Foto-erkennings op bladsy 11]
Dokument: Musée du Louvre, Paris; beeld: © Mission archéologique française de Tell Hariri - Mari (Syrie)
[Foto-erkennings op bladsy 12]
Beeld: Musée du Louvre, Paris; verhoog en badkamer: © Mission archéologique française de Tell Hariri - Mari (Syrie)
[Foto-erkennings op bladsy 13]
Oorwinningstele: Musée du Louvre, Paris; ruïnes van die paleis: © Mission archéologique française de Tell Hariri - Mari (Syrie)