Jehovah bewaar diegene wat op hom hoop
“Laat u liefderyke goedhartigheid en u waaragtigheid my voortdurend bewaar.”—PSALM 40:11.
1. Wat het koning Dawid vir Jehovah gevra, en hoe word daardie versoek tans toegestaan?
KONING DAWID van eertydse Israel “het vurig gehoop op Jehovah” en is beweeg om te sê dat Jehovah ‘sy oor tot hom geneig het en sy hulpgeroep gehoor het’ (Psalm 40:1). Hy het herhaaldelik self gesien hoe Jehovah diegene bewaar wat Hom liefhet. Daarom kon Dawid vra om voortdurend bewaar te word deur Jehovah (Psalm 40:11). Dawid, wat gereken word onder die getroue manne en vroue wat “’n beter opstanding” belowe is, is tans veilig in Jehovah se geheue as iemand wat daardie beloning sal ontvang (Hebreërs 11:32-35). Sy toekoms is dus op die bes moontlike manier verseker. Sy naam is in Jehovah se “gedenkboek” opgeteken.—Maleagi 3:16.
2. Hoe help die Skrif ons om te verstaan wat dit beteken om deur Jehovah bewaar te word?
2 Hoewel die getroues wat in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld word, gelewe het voordat Jesus Christus op die aarde was, het hulle nietemin gelewe in ooreenstemming met wat Jesus geleer het toe hy gesê het: “Hy wat lief is vir sy siel, vernietig dit, maar hy wat sy siel in hierdie wêreld haat, sal dit vir die ewige lewe beveilig” (Johannes 12:25). Om deur Jehovah bewaar te word, beteken dus beslis nie dat ’n mens immuun teen lyding of vervolging is nie. Dit beteken wel dat jy geestelik beskerm word sodat jy ’n goeie posisie voor God kan behou.
3. Watter bewys het ons dat Christus Jesus deur Jehovah bewaar is, en wat was die gevolg?
3 Jesus self was die voorwerp van wrede vervolging en smaad, en sy vyande het uiteindelik daarin geslaag om hom op ’n uiters vernederende en pynlike manier om die lewe te bring. Maar dit beteken geensins dat God nie sy belofte nagekom het om die Messias te bewaar nie (Jesaja 42:1-6). Jesus se opstanding op die derde dag ná sy smadelike dood bewys dat Jehovah sy hulpgeroep gehoor het—net soos Jehovah Dawid s’n gehoor het. In antwoord hierop het Jehovah Jesus die krag gegee om sy onkreukbaarheid te handhaaf (Matteus 26:39). Omdat Jesus op hierdie manier bewaar is, het hy onsterflikheid in die hemel verkry, en miljoene mense wat geloof in die losprys beoefen het, het die hoop op die ewige lewe.
4. Watter versekering word aan gesalfde Christene en aan die “ander skape” gegee?
4 Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah net so gewillig en in staat is om sy knegte nou te bewaar as wat hy in die dae van Dawid en van Jesus was (Jakobus 1:17). Die betreklik min oorblywende gesalfde broers van Jesus wat nog op die aarde is, kan staatmaak op Jehovah se belofte: “’n Onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis . . . word in die hemele bewaar vir julle, wat deur God se krag deur middel van geloof beveilig word vir ’n redding wat gereed is om in die laaste tyd geopenbaar te word” (1 Petrus 1:4, 5). Die “ander skape”, dié met ’n aardse hoop, kan eweneens hulle vertroue stel in God en die belofte wat hy deur die psalmis gemaak het: “Julle moet Jehovah liefhê, al sy lojales. Jehovah bewaar die getroues.”—Johannes 10:16; Psalm 31:23.
Geestelik bewaar
5, 6. (a) Hoe word God se volk in hedendaagse tye bewaar? (b) Watter verhouding het die gesalfdes met Jehovah, en wat van dié met ’n aardse hoop?
5 In hedendaagse tye het Jehovah voorsienings gemaak om sy volk geestelik te bewaar. Hoewel hy hulle nie beskerm teen vervolging of teen probleme en tragedies wat deel is van die lewe nie, gee hy hulle lojaal die nodige hulp en aansporing om hulle intieme verhouding met hom te bewaar. Die grondslag waarop hulle hierdie verhouding gebou het, is hulle geloof in God se liefdevolle losprysvoorsiening. Party van hierdie getroue Christene is deur God se gees gesalf om medeheersers saam met Christus in die hemel te word. Hulle is regverdig verklaar as geestelike kinders van God, en hierdie woorde is op hulle van toepassing: “Hy het ons verlos van die gesag van die duisternis en ons oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde, deur middel van wie ons ons bevryding deur ’n losprys het, die vergifnis van ons sondes.”—Kolossense 1:13, 14.
6 Miljoene ander getroue Christene is daarvan verseker dat hulle ook by God se voorsiening van die losprys kan baat vind. Ons lees: “Die Seun van die mens het gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Markus 10:45). Hierdie Christene sien daarna uit om op die bestemde tyd “die glorieryke vryheid van die kinders van God” te geniet (Romeine 8:21). Intussen beskou hulle hulle persoonlike vriendskap met God as baie kosbaar en streef hulle opreg daarna om hierdie verhouding te versterk.
7. Hoe bewaar Jehovah vandag die geestelike welsyn van sy volk?
7 Een manier waarop Jehovah die geestelike welsyn van sy volk bewaar, is deur ’n program van progressiewe opleiding te voorsien. Dit help hulle om ’n al hoe akkurater kennis van die waarheid te verkry. Jehovah voorsien ook voortdurend riglyne deur sy Woord, sy organisasie en sy heilige gees. Onder leiding van “die getroue en verstandige slaaf” is God se volk regoor die wêreld soos ’n internasionale gesin. Die slaafklas sien om na die geestelike behoeftes en, wanneer nodig, selfs die fisiese behoeftes van Jehovah se knegte as ’n gesin—ongeag hulle nasionaliteit of sosiale stand.—Matteus 24:45.
8. Watter vertroue stel Jehovah in sy lojales, en waarvan verseker dit hulle?
8 Net soos Jehovah Jesus nie fisies teen die aanvalle van sy vyande beskerm het nie, beskerm Hy Christene vandag ook nie op daardie manier nie. Maar dit is nie ’n aanduiding van God se misnoeë nie. Inteendeel, dit beklemtoon sy vertroue dat hulle sy kant van die groot universele geskil sal ondersteun (Job 1:8-12; Spreuke 27:11). Jehovah sal nooit diegene verlaat wat lojaal is aan hom nie, “want Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojales nie verlaat nie. Tot onbepaalde tyd sal hulle beslis bewaar word.”—Psalm 37:28.
Bewaar deur liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid
9, 10. (a) Hoe bewaar Jehovah se waaragtigheid sy volk? (b) Hoe toon die Bybel dat Jehovah sy lojales deur middel van sy liefderyke goedhartigheid bewaar?
9 In sy gebed wat in Psalm 40 opgeteken is, het Dawid gevra dat Jehovah se liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid hom moet bewaar. Jehovah se waaragtigheid en sy liefde vir regverdigheid vereis dat hy sy standaarde duidelik uiteensit. Diegene wat volgens hierdie standaarde lewe, word in groot mate bewaar van die verdriet, vrese en probleme wat diegene ondervind wat dit ignoreer. Ons kan onsself en ons geliefdes byvoorbeeld teen talle hartverskeurende probleme beskerm as ons dwelm- en drankmisbruik, seksuele promiskuïteit en ’n gewelddadige lewenswyse vermy. En selfs diegene wat van Jehovah se weg van waaragtigheid afdwaal—soos Dawid soms gedoen het—het die versekering dat God nog steeds “’n skuilplek” vir berouvolle oortreders is. Hulle kan met vreugde uitroep: “U sal my bewaar van benoudheid” (Psalm 32:7). Wat ’n blyk van God se liefderyke goedhartigheid is dit tog!
10 Nog ’n voorbeeld van goddelike liefderyke goedhartigheid is dat God sy knegte waarsku om afgeskeie te bly van die goddelose wêreld, wat hy binnekort sal vernietig. Ons lees: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie; want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.” Deur op hierdie waarskuwing ag te slaan en dienooreenkomstig op te tree, kan ons letterlik ons lewe tot in alle ewigheid bewaar, want die teks sê verder: “Wat meer is, die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:15-17.
Bewaar deur denkvermoë, onderskeidingsvermoë en wysheid
11, 12. Verduidelik hoe denkvermoë, onderskeidingsvermoë en wysheid ons bewaar.
11 Vir diegene wat hoop om God se goedkeuring te verkry, is Dawid se seun Salomo geïnspireer om te skryf: “Denkvermoë [sal] oor jou wag hou, . . . onderskeidingsvermoë [sal] jou beveilig.” Hy het ook gemaan: “Verwerf wysheid . . . Moet dit nie verlaat nie, en dit sal jou bewaar. Wees lief daarvoor, en dit sal jou beveilig.”—Spreuke 2:11; 4:5, 6.
12 Ons gebruik ons denkvermoë as ons peins oor wat ons uit God se Woord leer. Dit help ons om groter onderskeidingsvermoë te ontwikkel sodat ons die regte prioriteite kan vasstel. Dit is noodsaaklik, aangesien die meeste van ons weet—moontlik uit persoonlike ondervinding—dat probleme ontstaan wanneer mense doelbewus of onopsetlik onverstandige prioriteite vasstel. Satan se wêreld stel materiële rykdom, aansien en mag voor ons as doelwitte, terwyl Jehovah die belangriker geestelike waardes beklemtoon. ’n Versuim om laasgenoemde bo eersgenoemde te stel, kan gesinne en vriendskappe laat verbrokkel en geestelike doelwitte laat vervaag. Gevolglik kan ’n mens op die ou end sit met niks anders nie as die droewige werklikheid waarna Jesus se woorde verwys het: “Van watter nut is dit tog vir ’n mens om die hele wêreld te wen en om sy siel in te boet?” (Markus 8:36). Wysheid vereis dat ons ag slaan op Jesus se raad: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:33.
Die gevaar om egosentries te word
13, 14. Wat beteken dit om egosentries te wees, en waarom is dit nie wys om so te word nie?
13 Mense stel van nature in hulleself belang. Maar wanneer persoonlike begeertes en belange bo alle ander dinge in die lewe gestel word, lei dit tot probleme. Jehovah beveel ons dus om nie egosentries te word as ons ons vriendskap met hom wil bewaar nie. Hierdie woord beteken om “net besorg te wees oor ’n mens se eie begeertes, behoeftes of belange”. Is dit nie ’n akkurate beskrywing van baie mense van vandag nie? Dit is betekenisvol dat die Bybel voorspel dat mense “in die laaste dae” van Satan se goddelose stelsel “liefhebbers van hulleself”, of egosentries, sal wees.—2 Timoteus 3:1, 2.
14 Christene besef dat dit wys is om die Bybel se bevel te gehoorsaam om belangstelling in ander te toon en hulle soos hulleself lief te hê (Lukas 10:27; Filippense 2:4). Mense beskou dit oor die algemeen miskien as onprakties, maar dit is noodsaaklik as ons ’n suksesvolle huwelik, gelukkige gesinsverhoudinge en vervullende vriendskappe wil geniet. ’n Ware kneg van Jehovah moet dus nooit toelaat dat sy natuurlike belangstelling in homself sy lewe in so ’n mate oorheers dat dit belangriker sake verdring nie. Met ander woorde, die belange van Jehovah, die God wat hy aanbid, moet die eerste plek in sy lewe beklee.
15, 16. (a) Waartoe kan ’n egosentriese gesindheid lei, soos toegelig word deur wie? (b) Wat doen iemand in werklikheid wanneer hy gou is om ander te oordeel?
15 ’n Egosentriese gesindheid kan ’n persoon eiegeregtig maak, wat hom dan weer bekrompe en verwaand kan laat word. Die Bybel sê gepas: “Jy [is] onverskoonbaar, o mens, wie jy ook al is, as jy oordeel; want in die aangeleentheid waarin jy ’n ander oordeel, veroordeel jy jouself, aangesien jy wat oordeel, dieselfde dinge beoefen” (Romeine 2:1; 14:4, 10). Die godsdiensleiers in Jesus se dag het so oortuig geword van hulle eie regverdigheid dat hulle gemeen het dat hulle bevoeg is om Jesus en sy volgelinge te kritiseer. Deur dit te doen, het hulle hulleself regters gemaak. Omdat hulle nie hulle eie tekortkominge raakgesien het nie, het hulle in werklikheid veroordeling oor hulleself gebring.
16 Judas, Jesus se volgeling wat hom verraai het, het toegelaat dat hy ’n persoon word wat ander oordeel. By die geleentheid in Betanië toe Maria, Lasarus se suster, Jesus met welriekende olie gesalf het, het Judas sterk beswaar gemaak. Hy het sy verontwaardiging te kenne gegee deur te redeneer: “Waarom is hierdie welriekende olie nie vir driehonderd denarii verkoop en vir die armes gegee nie?” Maar die verslag gaan voort en verduidelik: “Hy het dit egter nie gesê omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ’n dief was en die geldkissie gehad het en die geld weggedra het wat daarin gesit is” (Johannes 12:1-6). Laat ons nooit soos Judas of die godsdiensleiers word, wat gou was om ander te oordeel en daardeur maar net hulleself veroordeel het nie.
17. Lig die gevaar toe wat inherent daaraan is om aanmatigend te wees of te selfversekerd te word.
17 Ongelukkig het party vroeë Christene, hoewel hulle nie diewe was soos Judas nie, wel geswig voor trots, wat hulle aanmatigend laat word het. Van hulle het Jakobus geskryf: “Julle [beroem] julle op julle aanmatigende grootpratery.” Toe het hy bygevoeg: “Al sulke geroem is goddeloos” (Jakobus 4:16). Grootpratery oor wat ons gedoen het of oor ons voorregte in Jehovah se diens, is selfverydelend (Spreuke 14:16). Ons onthou wat met die apostel Petrus gebeur het, wat in ’n oomblik van oordrewe selfversekerdheid gespog het: “Al struikel al die ander in verband met u, sal ek nooit struikel nie! . . . Selfs al moet ek saam met u sterf, sal ek u hoegenaamd nie verloën nie.” Ons het in werklikheid niks in onsself om oor te spog nie. Alles wat ons het, is net te danke aan Jehovah se liefderyke goedhartigheid. As ons dit onthou, sal dit verhoed dat ons aanmatigend word.—Matteus 26:33-35, 69-75.
18. Hoe voel Jehovah oor trots?
18 “Trots kom voor ’n ineenstorting en ’n hoogmoedige gees voor struikeling”, word daar vir ons gesê. Waarom? Jehovah antwoord: “Selfverheffing en trots . . . het ek gehaat” (Spreuke 8:13; 16:18). Geen wonder nie dat Jehovah woedend was oor “die vermetelheid van die hart van die koning van Assirië en [oor] die eiewaan van sy verwaande oë”! (Jesaja 10:12). Jehovah het van hom rekenskap geëis. Binnekort sal daar ook van Satan se hele wêreld, tesame met die trotse, verwaande leiers daarvan, sigbaar sowel as onsigbaar, rekenskap geëis word. Mag ons nooit die eiesinnige gesindheid van Jehovah se teenstanders weerspieël nie!
19. In watter opsig is God se volk trots en tog nederig?
19 Ware Christene het alle rede om daarop trots te wees dat hulle knegte van Jehovah is (Jeremia 9:24). Terselfdertyd het hulle alle rede om nederig te bly. Waarom? “Want almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Om ons posisie as Jehovah se knegte te bewaar, moet ons dus dieselfde gesindheid as die apostel Paulus hê, wat gesê het dat “Christus Jesus in die wêreld ingekom het om sondaars te red” en toe bygevoeg het: “Van hulle is ek die vernaamste.”—1 Timoteus 1:15.
20. Hoe bewaar Jehovah nou sy volk, en hoe sal hy hulle in die toekoms bewaar?
20 Aangesien Jehovah se volk hulleself met graagte tweede stel sodat hulle God se belange eerste kan stel, kan ons seker wees dat Jehovah sal voortgaan om hulle geestelik te bewaar. Ons kan ook seker wees dat Jehovah sy volk nie net geestelik nie maar ook fisies sal bewaar wanneer die groot verdrukking uitbreek. Wanneer hulle God se nuwe wêreld binnegaan, sal hulle kan uitroep: “Kyk! Dit is ons God. Ons het op hom gehoop, en hy sal ons red. Dit is Jehovah. Ons het op hom gehoop. Laat ons bly wees en ons verbly in die redding deur hom.”—Jesaja 25:9.
Onthou jy?
• Hoe is koning Dawid en Jesus Christus bewaar?
• Hoe word Jehovah se volk vandag bewaar?
• Waarom moet ons nie te veel aandag op onsself vestig nie?
• Waarom kan ons trots en tog nederig wees?
[Prente op bladsy 9]
Hoe het Jehovah Dawid en Jesus bewaar?
[Prente op bladsy 10, 11]
Hoe word God se volk vandag geestelik bewaar?
[Prente op bladsy 12]
Hoewel ons daarop trots is dat ons Jehovah dien, moet ons altyd nederig bly