Gered, nie deur werke alleen nie, maar deur onverdiende goedhartigheid
“Julle [is] deur middel van geloof gered . . . Dit is nie aan werke te danke nie, sodat geen mens rede sou hê om te roem nie.”—EFESIËRS 2:8, 9.
1. Hoe verskil Christene van mense oor die algemeen wanneer dit by persoonlike prestasies kom, en waarom?
MENSE is vandag baie trots op persoonlike prestasies, en hulle spog dikwels gou daaroor. Christene is anders. Hulle lê nie te veel klem op hulle eie prestasies nie, selfs nie op dié wat met ware aanbidding verband hou nie. Hoewel hulle hulle verheug in wat Jehovah se volk as ’n geheel doen, vestig hulle nie die aandag op hulle eie bydrae nie. Hulle besef dat die regte beweegredes in Jehovah se diens belangriker is as persoonlike prestasies. Enigiemand aan wie die ewige lewe uiteindelik gegee word, sal dit nie deur persoonlike prestasies verkry het nie, maar deur middel van geloof en deur God se onverdiende goedhartigheid.—Lukas 17:10; Johannes 3:16.
2, 3. Waaroor het Paulus geroem, oftewel gespog, en waarom?
2 Die apostel Paulus was deeglik bewus van hierdie feit. Nadat hy drie keer vir verligting van “’n doring in die vlees” gebid het, het hy Jehovah se antwoord ontvang: “My onverdiende goedhartigheid is vir jou voldoende; want my krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring.” Paulus het Jehovah se besluit nederig aanvaar en gesê: “Met die grootste genoeë sal ek dus liewer in verband met my swakhede roem, sodat die krag van die Christus soos ’n tent oor my kan bly.” Ons moet Paulus se nederige gesindheid navolg.—2 Korintiërs 12:7-9.
3 Hoewel Paulus uitsonderlik was wat sy Christelike werke betref, het hy besef dat wat hy gedoen het, nie te danke was aan enige besondere vermoëns wat hý gehad het nie. Met beskeidenheid het hy gesê: “Aan my, iemand wat geringer is as die geringste van alle heiliges, is hierdie onverdiende goedhartigheid gegee, sodat ek die goeie nuus oor die onpeilbare rykdom van die Christus aan die nasies bekend sou maak” (Efesiërs 3:8). Hier is geen spoor van grootpraterigheid of van meerderwaardige hoogmoed nie. “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (Jakobus 4:6; 1 Petrus 5:5). Volg ons Paulus se voorbeeld na deur onsself as geringer as die geringste van ons broers te beskou?
‘Ag ander hoër as jouself’
4. Waarom vind ons dit dalk soms moeilik om ander hoër as onsself te ag?
4 Die apostel Paulus het Christene gemaan: “[Julle moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag” (Filippense 2:3). Dit kan ’n uitdaging wees, veral as ons ’n verantwoordelike posisie beklee. Die probleem ontstaan dalk omdat ons in sekere mate beïnvloed is deur die gees van wedywering wat vandag so algemeen in die wêreld is. Ons is moontlik as kinders geleer om met ander te wedywer, hetsy met ons broers en susters by die huis of met klasmaats by die skool. Ons is miskien voortdurend aangespoor om die eer na te streef om die skool se steratleet of topleerling te wees. Dit is natuurlik prysenswaardig dat ons ons bes doen op enige gepaste gebied. Christene doen dit egter nie om onnodig aandag op hulleself te vestig nie, maar om ten volle by die bedrywigheid baat te vind en miskien ook ander tot voordeel te strek. Maar om altyd daarna te streef om as die beste geprys te word, kan gevaarlik wees. Hoe so?
5. Waartoe kan ’n gees van wedywering lei as dit nie beheers word nie?
5 As ’n gees van wedywering of egotisme nie beheers word nie, kan dit ’n persoon oneerbiedig en verwaand laat word. Hy kan afgunstig word op die vermoëns en voorregte van ander. Spreuke 28:22 sê: “’n Man met ’n afgunstige oog jaag waardevolle dinge na, maar hy weet nie dat gebrek oor hom sal kom nie.” Hy probeer dalk selfs op vermetele wyse posisies verkry waarop hy nie geregtig is nie. Om sy optrede te regverdig, begin hy moontlik om teen ander te murmureer en hulle te kritiseer—neigings wat Christene moet vermy (Jakobus 3:14-16). Hoe dit ook al sy, hy loop gevaar om ’n “ek eerste”-gesindheid te ontwikkel.
6. Hoe waarsku die Bybel teen ’n gees van wedywering?
6 Die Bybel spoor Christene derhalwe aan: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie” (Galasiërs 5:26). Die apostel Johannes het van ’n mede-Christen gepraat wat blykbaar hierdie soort gees ontwikkel het. “Ek het iets aan die gemeente geskryf”, het Johannes gesê, “maar Diotrefes, wat daarvan hou om die eerste plek onder hulle te beklee, ontvang niks van ons met respek nie. Daarom sal ek, as ek kom, sy werke in herinnering bring wat hy bly doen deur met goddelose woorde oor ons te klets.” Wat ’n tragiese situasie tog vir ’n Christen om in te beland!—3 Johannes 9, 10.
7. Wat moet ’n Christen in vandag se mededingende werksplek vermy?
7 Dit is natuurlik onrealisties om te dink dat ’n Christen alle mededingende strewes heeltemal kan vermy. Byvoorbeeld, sy sekulêre werk vereis moontlik ekonomiese wedywering met ander persone of ondernemings wat soortgelyke produkte vervaardig of soortgelyke dienste aanbied. Maar selfs in sulke gevalle moet ’n Christen sake doen in ’n gees van respek, liefde en bedagsaamheid. Hy sal onwettige of onchristelike gebruike verwerp en moet voorkom dat hy hoofsaaklik bekend word vir ’n mededingende, genadelose gesindheid. Hy sal nie voel dat die allerbelangrikste ding in die lewe is om die beste te wees nie—in watter veld ook al. As dit die geval is met sekulêre strewes, hoeveel te meer is dit dan die geval wanneer dit by sake van aanbidding kom!
“Nie in vergelyking met die ander persoon nie”
8, 9. (a) Waarom het Christen- ouer manne geen rede om met mekaar te wedywer nie? (b) Waarom is 1 Petrus 4:10 op al God se knegte van toepassing?
8 Die gesindheid wat Christene in hulle aanbidding moet hê, word in hierdie geïnspireerde woorde uiteengesit: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie” (Galasiërs 6:4). Omdat ouer manne in die gemeente weet dat hulle nie in mededinging met mekaar is nie, werk hulle as ’n liggaam ten nouste in eenheid saam. Hulle verheug hulle in die bydrae wat elkeen tot die algemene welsyn van die gemeente kan maak. Sodoende vermy hulle ontwrigtende wedywering en stel hulle ’n goeie voorbeeld van eenheid vir die res van die gemeente.
9 Party ouer manne is dalk as gevolg van ouderdom, ondervinding of natuurlike vermoëns bekwamer as ander, of hulle het miskien groter insig. Gevolglik het ouer manne verskillende verantwoordelikhede in Jehovah se organisasie. Hulle tref nie vergelykings nie, maar hou eerder die raad in gedagte: “Na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien as goeie bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid waaraan daar op verskillende maniere uiting gegee word” (1 Petrus 4:10). Hierdie teks is in werklikheid op al Jehovah se knegte van toepassing, want in sekere mate het almal juiste kennis as gawe ontvang en geniet almal die voorreg om aan die Christelike bediening deel te neem.
10. Slegs op watter manier sal ons heilige diens vir Jehovah aanneemlik wees?
10 Ons heilige diens behaag Jehovah slegs wanneer dit verrig word uit liefde en toegewydheid, nie om onsself bo ander te verhef nie. Dit is derhalwe noodsaaklik dat ons ’n gebalanseerde beskouing van ons bedrywighede ter ondersteuning van ware aanbidding het. Terwyl niemand ’n ander se beweegredes akkuraat kan oordeel nie, ‘toets Jehovah die harte’ (Spreuke 24:12; 1 Samuel 16:7). Dit sal dus goed wees as ons ons van tyd tot tyd afvra: ‘Wat is die beweegrede agter my werke van geloof?’—Psalm 24:3, 4; Matteus 5:8.
Die gepaste beskouing van ons werk
11. Watter vrae oor ons werk in die bediening kan redelikerwys oorweeg word?
11 Hoe besorg moet ons wees oor ons werke van geloof as dit ons beweegrede is wat van die allergrootste belang is om Jehovah se goedkeuring te verkry? Is dit werklik nodig om ’n verslag te hou van wat of hoeveel ons doen as ons ons bediening met die regte beweegrede uitvoer? Dit is redelike vrae, aangesien ons nie syfers belangriker as dade van geloof wil maak of wil toelaat dat ’n goeie rapport van te groot belang in ons Christelike bedrywigheid word nie.
12, 13. (a) Wat is ’n paar redes waarom ons ’n verslag van ons velddiens hou? (b) Watter redes vir vreugde het ons wanneer ons na die gesamentlike rapport van ons predikingswerk kyk?
12 Let op wat die boek Georganiseer om Jehovah se wil te doen sê: “Vroeë volgelinge van Jesus Christus het belanggestel in verslae oor die vooruitgang van die predikingswerk (Mark. 6:30). Die Bybelboek Handelinge deel ons mee dat daar omtrent 120 persone aanwesig was toe die heilige gees op Pinkster op die dissipels uitgestort is. Die aantal dissipels het gou toegeneem tot 3 000 en toe tot 5 000. . . . (Hand. 1:15; 2:5-11, 41, 47; 4:4; 6:7). Watter wonderlike aanmoediging moes die nuus van hierdie vermeerderings tog vir die dissipels gewees het!” Om dieselfde rede probeer Jehovah se Getuies vandag om akkurate verslae te hou van wat wêreldwyd gedoen word ter vervulling van Jesus se woorde: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Sulke rapporte gee ’n realistiese beeld van wat in die wêreldveld gedoen word. Dit toon waar hulp nodig is sowel as watter soort lektuur en hoeveel daarvan nodig is om die predikingswerk te bevorder.
13 Die feit dat ons ons predikingswerk rapporteer, stel ons dus in staat om ons opdrag om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, doeltreffender uit te voer. Wat meer is, is dit nie vir ons aanmoedigend wanneer ons hoor van die werk wat ons broers in ander wêrelddele doen nie? Nuus van groei en uitbreiding regoor die aarde vervul ons met vreugde, beweeg ons om meer te doen en verseker ons van Jehovah se seën. En hoe bevredigend is dit tog om te weet dat ons persoonlike rapport by daardie wêreldwye rapport ingesluit is! Ons rapport is klein in vergelyking met die groottotaal, maar Jehovah sien dit raak (Markus 12:42, 43). Onthou, sonder jou rapport sal die gesamentlike rapport onvolledig wees.
14. Wat benewens die predikings- en onderrigtingswerk maak deel uit van ons aanbidding van Jehovah?
14 ’n Groot deel van wat elke Getuie in die nakoming van sy verantwoordelikheid as ’n toegewyde kneg van Jehovah doen, verskyn natuurlik nie op sy rapport nie. Die rapport sluit byvoorbeeld nie gereelde persoonlike Bybelstudie, die bywoning van en deelname aan Christelike vergaderinge, gemeentelike pligte, hulp aan medegelowiges wanneer hulle dit nodig het, finansiële ondersteuning van die wêreldwye Koninkrykswerk, ensovoorts in nie. Terwyl ons velddiensrapport dus belangrik is, aangesien dit ons help om ons ywer in die predikingswerk te behou en nie traag te word nie, moet ons die regte beskouing daarvan behou. Dit moenie beskou word as ’n geestelike lisensie of paspoort wat ons geskiktheid vir die ewige lewe bepaal nie.
“Ywerig vir goeie werke”
15. Waarom is werke nodig, hoewel dit alleen ons nie kan red nie?
15 Dit is duidelik dat werke nodig is, hoewel dit alleen ons nie kan red nie. Daarom word Christene “’n volk . . . wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke”, genoem en word hulle aangemoedig om “op mekaar ag [te] gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Titus 2:14; Hebreërs 10:24). ’n Ander Bybelskrywer, Jakobus, was meer spesifiek en het eenvoudig gesê: “Soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook geloof sonder werke dood.”—Jakobus 2:26.
16. Wat is selfs belangriker as werke, maar waarvoor moet ons oppas?
16 Hoewel die goeie werke belangrik is, is die beweegredes daaragter selfs belangriker. Dit is dus verstandig van ons om ons beweegredes van tyd tot tyd te ondersoek. Maar aangesien geen mens presies kan weet wat die beweegredes van ander is nie, moet ons oppas dat ons ander nie oordeel nie. “Wie is jy om ’n ander se huiskneg te oordeel?” word ons gevra, met die voor die hand liggende antwoord: “Hy staan of val ten opsigte van sy eie heer” (Romeine 14:4). Jehovah, die Heer van almal, en sy aangestelde Regter, Christus Jesus, sal ons oordeel, nie op grond van ons werke alleen nie, maar ook op grond van ons beweegredes, ons geleenthede, ons liefde en ons toegewydheid. Net Jehovah en Christus Jesus kan akkuraat oordeel of ons gedoen het wat die apostel Paulus Christene gemaan het om te doen: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.”—2 Timoteus 2:15; 2 Petrus 1:10; 3:14.
17. Waarom moet ons Jakobus 3:17 in gedagte hou terwyl ons daarna streef om ons bes te doen?
17 Jehovah is redelik in wat hy van ons verwag. Volgens Jakobus 3:17 is “die wysheid van bo” onder andere “redelik”. Sal dit nie verstandig sowel as ’n ware prestasie wees as ons Jehovah in hierdie opsig navolg nie? Ons moet dus probeer om nie onredelike of onbereikbare verwagtings van onsself of van ons broers te koester nie.
18. Waarna kan ons uitsien as ons ’n gebalanseerde beskouing van ons werke en Jehovah se onverdiende goedhartigheid het?
18 Solank ons ’n gebalanseerde beskouing van ons werke van geloof en Jehovah se onverdiende goedhartigheid handhaaf, sal ons die vreugde behou wat ’n kenmerk van ware knegte van Jehovah is (Jesaja 65:13, 14). Ons kan ons verheug in die seëninge wat Jehovah oor sy volk as ’n geheel uitstort, ongeag hoeveel ons persoonlik kan doen. Terwyl ons voortgaan met “gebed en smeking tesame met danksegging”, sal ons God versoek om ons te help om ons bes te doen. Dan sal “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, ongetwyfeld “[ons] harte en [ons] verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:4-7). Ja, ons kan vertroosting en aanmoediging put uit die wete dat ons gered kan word, nie deur werke alleen nie, maar deur Jehovah se onverdiende goedhartigheid!
Kan jy verduidelik waarom Christene
• nie oor persoonlike prestasies moet spog nie?
• nie ’n gees van wedywering moet toon nie?
• hulle Christelike bedrywigheid in die veldbediening moet rapporteer?
• nie mede-Christene moet oordeel nie?
[Prent op bladsy 15]
“My onverdiende goedhartigheid is vir jou voldoende”
[Prente op bladsy 16, 17]
Ouer manne verheug hulle in die bydrae wat elkeen tot die welsyn van die gemeente kan maak
[Prente op bladsy 18, 19]
Sonder jou rapport sal die gesamentlike rapport onvolledig wees