Mennoniete soek na Bybelwaarheid
EEN oggend in November 2000 het ’n paar sendelinge van Jehovah se Getuies in Bolivia by die venster van hulle huisie uitgekyk en ’n groepie senuweeagtige, eenvoudig geklede mans en vroue by die hek sien staan. Toe die sendelinge die hek oopmaak, was die besoekers se eerste woorde: “Ons soek die waarheid wat op die Bybel gegrond is.” Die besoekers was Mennoniete. Die mans het oorpakke aangehad, die vroue donker voorskote, en hulle het in ’n Duitse dialek met mekaar gepraat. Daar was vrees in hulle oë. Hulle het bly kyk of hulle agtervolg is. Maar selfs terwyl hulle met die trap opgeloop het om in die huis in te gaan, het een van die jong mans gesê: “Ek wil die mense leer ken wat God se naam gebruik.”
In die huis het die besoekers begin ontspan toe hulle verversings bedien is. Hulle het van ’n afgeleë boeregemeenskap gekom. Daar het hulle Die Wagtoring al ses jaar lank per pos ontvang. “Ons het gelees dat daar ’n paradys op die aarde gaan wees. Is dit waar?” het hulle gevra. Die Getuies het vir hulle die Bybel se antwoord getoon (Jesaja 11:9; Lukas 23:43; 2 Petrus 3:7, 13; Openbaring 21:3, 4). “Sien julle!” het een boer vir die ander gesê. “Dit is waar. Daar gaan ’n paradys op die aarde wees.” Van die ander het bly sê: “Ek dink ons het die waarheid gevind.”
Wie is die Mennoniete? Wat glo hulle? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons teruggaan na die 16de eeu.
Wie is die Mennoniete?
In die 1500’s het die oplewing in die vertaling en druk van Bybels in die gewone tale van Europa hernieude belangstelling in Bybelstudie aangewakker. Martin Luther en ander Hervormers het baie leringe van die Katolieke Kerk verwerp. Tog het die pas gestigte Protestantse kerke talle onskriftuurlike gebruike behou. Die meeste het byvoorbeeld verwag dat elke pasgebore baba in die kerk gedoop moet word. Maar party wat na Bybelwaarheid gesoek het, het besef dat iemand net ’n lid van die Christengemeente word deur ’n ingeligte besluit te neem voordat hy gedoop word (Matteus 28:19, 20). Ywerige predikers wat hierdie opvatting gehuldig het, het deur stede en dorpe begin reis, terwyl hulle mense die Bybel geleer en volwassenes gedoop het. Hulle is dus Anabaptiste genoem, wat “wederdopers” beteken.
Iemand wat hom tot die Anabaptiste gewend het in sy soeke na die waarheid, was Menno Simons, ’n Katolieke priester in die dorp Witmarsum in die noorde van Nederland. Teen 1536 het hy alle bande met die kerk verbreek en het hy ’n voortvlugtige geword. In 1542 het die Heilige Romeinse Keiser Karel V 100 gulde as beloning vir Menno se inhegtenisname uitgeloof. Nietemin het Menno party van die Anabaptiste in gemeentes saamgebring. Hy en sy volgelinge is kort voor lank Mennoniete genoem.
Hedendaagse Mennoniete
Met verloop van tyd het vervolging duisende Mennoniete uit Wes-Europa na Noord-Amerika gedryf. Daar het hulle die geleentheid gehad om hulle soeke na die waarheid voort te sit en om hulle boodskap aan baie ander bekend te maak. Maar hulle voorvaders se vurige ywer vir progressiewe Bybelstudie en openbare predikingswerk het in groot mate verdwyn. Die meeste het vasgehou aan sekere onskriftuurlike leerstellings, soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die mensesiel en die helse vuur (Prediker 9:5; Esegiël 18:4; Markus 12:29). Vandag is die Mennoniete se sendingwerk meer toegespits op mediese en maatskaplike dienste as op evangelisasie.
Na raming is daar nou omtrent 1 300 000 Mennoniete in 65 lande. Maar hedendaagse Mennoniete betreur hulle gebrek aan eenheid, net soos Menno Simons eeue gelede gedoen het. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het meningsverskille oor die wêreld se konflikte groot skeurings veroorsaak. Baie in Noord-Amerika het om skriftuurlike redes geweier om militêre diens te doen. Maar An Introduction to Mennonite History sê: “Teen 1914 was nieverset grootliks ’n geskiedkundige herinnering vir die Mennonitiese kerke in Wes-Europa.” Vandag het party Mennonitiese groepe moderne gebruike in mindere of meerdere mate aangeneem. Ander maak nog steeds hulle klere eerder met hakies en ogies vas as met knope en glo dat mans nie hulle baard moet skeer nie.
Party Mennonitiese groepe wat vasbeslote is om afgeskeie te bly van die moderne wêreld, het hulle gemeenskappe verskuif na plekke waar plaaslike regerings hulle toelaat om sonder inmenging te woon. Byvoorbeeld, in Bolivia woon omtrent 38 000 Mennoniete in ’n menigte afgeleë gemeenskappe, wat elkeen sy eie gedragsreëls het. Party gemeenskappe verbied motorvoertuie en laat net perdekarre toe. Sekere gemeenskappe verbied radio’s, TV’s en musiek. Party verbied selfs die mense daarin om die taal te leer van die land waarin hulle woon. “Die predikers laat ons nie Spaans leer nie, sodat hulle beheer oor ons kan behou”, het een van die lede van die gemeenskap gesê. Baie voel dat hulle onderdruk word en lewe in vrees dat hulle uit die gemeenskap gesit sal word—’n verskriklike vooruitsig vir iemand wat nog nooit buite die gemeenskap gelewe het nie.
Hoe ’n saadjie van waarheid gesaai is
Dit was onder hierdie omstandighede dat ’n Mennonieteboer met die naam Johann ’n eksemplaar van Die Wagtoring in sy buurman se huis gesien het. Johann se familie het uit Kanada na Mexiko en later na Bolivia geïmmigreer. Maar Johann het altyd gesmag na hulp in sy soeke na Bybelwaarheid. Hy het gevra of hy die tydskrif mag leen.
Later, terwyl hy in die stad was om sy plaasprodukte te verkoop, het Johann na ’n Getuie toe gegaan wat Die Wagtoring by die mark aangebied het. Sy het hom na ’n Duitssprekende sendeling verwys, en kort daarna het Johann Die Wagtoring in Duits per pos begin ontvang. Elke nommer is noukeurig bestudeer en van gesin tot gesin in sy gemeenskap aangestuur totdat die tydskrif verslete was. Soms het gesinne bymekaargekom en ’n Wagtoring tot middernag bestudeer, terwyl hulle die teksverwysings nageslaan het. Johann was oortuig dat Jehovah se Getuies die mense moet wees wat God se wil wêreldwyd eensgesind doen. Voor sy dood het Johann vir sy vrou en kinders gesê: “Julle moet altyd Die Wagtoring lees. Dit sal julle help om die Bybel te verstaan.”
Party van Johann se familielede het met hulle bure begin praat oor die dinge wat hulle uit die Bybel leer. “Die aarde gaan nie vernietig word nie. God gaan dit eerder ’n paradys maak”, het hulle gesê. “En God folter mense nie in die hel nie.” Nuus van hierdie gesprekke het gou die kerkpredikers bereik, wat Johann se familie met uitsetting gedreig het as hulle nie daarmee ophou nie. Later het ’n jong man gedurende ’n familiebespreking sy mening gelug oor die druk wat die Mennonieteouderlinge op hulle plaas. “Ek weet nie waarom ons oor ons kerkouderlinge kla nie”, het hy gesê. “Ons almal weet wat die ware godsdiens is, en ons het niks daaromtrent gedoen nie.” Hierdie woorde het die hart van die jong man se vader geraak. Kort daarna het tien van die familie op ’n geheime reis vertrek om Jehovah se Getuies te gaan soek en by die huis van die sendelinge uitgekom, soos aan die begin gemeld is.
Die volgende dag het die sendelinge hulle nuwe vriende in die gemeenskap gaan besoek. Die sendelinge se motor was die enigste een op die pad. Terwyl hulle stadig by perdekarre verbygery het, het hulle en die plaaslike inwoners mekaar met ewe veel belangstelling aangekyk. Weldra het hulle by ’n tafel gesit saam met tien Mennoniete, wat twee families verteenwoordig het.
Daardie dag het dit vier uur geneem om hoofstuk 1 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe leia te studeer. Vir elke paragraaf het die boere bykomende Bybeltekste gevind en wou hulle weet of hulle die tekste reg toepas. Ná elke studievraag was daar ’n pouse van etlike minute terwyl die boere mekaar in Nederduits geraadpleeg het voordat ’n woordvoerder uiteindelik namens die groep in Spaans geantwoord het. Dit was ’n onvergeetlike dag, maar moeilike tye het voorgelê. Hulle sou weldra voor beproewinge te staan kom, net soos Menno Simons toe hy byna vyf eeue gelede met sy soeke na Bybelwaarheid begin het.
Beproewinge weens die waarheid
’n Paar dae later het die kerkouderlinge na die huis van Johann se familie gekom en ’n ultimatum aan die belangstellendes gestel: “Ons het gehoor dat Jehovah se Getuies julle besoek het. Julle moet hulle verbied om weer te kom, en tensy julle hulle lektuur oorhandig sodat dit verbrand kan word, sal julle uitgesit word.” Hulle het net een Bybelstudie saam met die Getuies gehad; dit was dus ’n baie groot toets.
“Ons kan nie doen wat julle vra nie”, het een van die gesinshoofde geantwoord. “Daardie mense het gekom om ons die Bybel te leer.” Hoe het die ouderlinge gereageer? Hulle het hulle uitgesit omdat hulle die Bybel gestudeer het! Dit was inderdaad ’n wrede slag. Die perdekar van die gemeenskap se kaasfabriek het by die huis van een gesin verbygery sonder om hulle melk op te laai, wat hulle hulle enigste bron van inkomste ontneem het. Een gesinshoof is uit sy werk ontslaan. ’n Ander is nie toegelaat om voorrade by die gemeenskap se winkel te koop nie, en sy tienjarige dogtertjie is uit die skool gesit. Bure het een huis omsingel om die vrou van een van die jong mans weg te neem, omdat sy volgens hulle nie saam met haar uitgesette man kon lewe nie. Ondanks al hierdie dinge het die families wat die Bybel gestudeer het, nie hulle soeke na die waarheid gestaak nie.
Die sendelinge het voortgegaan om die lang weeklikse rit af te lê om die Bybelstudie te hou. Hoe versterkend was daardie studies tog vir die families! Party familielede het twee uur met ’n perdekar gery om dit by te woon. Dit was ’n roerende geleentheid toe die families vir die eerste keer een van die sendelinge gevra het om te bid. In hierdie gemeenskappe bid Mennoniete nooit hardop nie, en gevolglik het hulle nog nooit tevore iemand namens hulle hoor bid nie. Die mans het trane in hulle oë gehad. En kan jy jou voorstel hoe nuuskierig hulle was toe die sendelinge met ’n bandopnemer daar opdaag? Musiek was nooit in hulle gemeenskap toegelaat nie. Hulle het die pragtige Kingdom Melodies so geniet dat hulle besluit het om ná elke studie Koninkryksliedere te sing! Maar die vraag was nog steeds: Hoe sou hulle in hulle nuwe omstandighede die mas opkom?
’n Liefdevolle broederskap
Omdat die families afgesny was van hulle gemeenskap, het hulle hulle eie kaas begin maak. Die sendelinge het hulle gehelp om kopers te vind. ’n Getuie in Noord-Amerika wat Jehovah al lank dien en in ’n Suid-Amerikaanse Mennonitiese gemeenskap grootgeword het, het van die families se verknorsing gehoor. Hy wou baie graag help. Binne ’n week het hy na Bolivia gevlieg om hulle te besoek. Hy het die families nie net geestelik baie aangemoedig nie, maar het hulle boonop gehelp om hulle eie bakkie te koop sodat hulle die vergaderinge by die Koninkryksaal kon bywoon en ook hulle plaasprodukte by die mark kon kry.
“Dit was moeilik nadat ons uit die gemeenskap gesit is. Ons het met droewige gesigte na die Koninkryksaal gery”, sê een familielid, “maar ons het vol vreugde teruggekom.” Ja, die plaaslike Getuies het ingespring en ondersteuning gebied. Party het Duits geleer, en etlike Duitssprekende Getuies het van Europa af na Bolivia gekom om Christelike vergaderinge in Duits te help hou. Kort voor lank het 14 uit die Mennonitiese gemeenskap die goeie nuus van die Koninkryk aan ander verkondig.
Op 12 Oktober 2001, minder as ’n jaar ná daardie eerste besoek aan die sendinghuis, is 11 van hierdie voormalige Anabaptiste weer gedoop, hierdie keer om hulle toewyding aan Jehovah te simboliseer. Sedertdien het nog ander hierdie stap gedoen. Een het later gesê: “Vandat ons die waarheid uit die Bybel geleer het, voel ons soos slawe wat vrygestel is.” ’n Ander het gesê: “Baie Mennoniete kla oor ’n gebrek aan liefde in hulle gemeenskap. Maar Jehovah se Getuies toon belangstelling in mekaar. Ek voel veilig onder hulle.” As jy soek na ’n beter begrip van Bybelwaarheid, sal jy dalk ook probleme ondervind. Maar as jy, soos hierdie families, Jehovah se hulp soek en geloof en moed aan die dag lê, sal jy ook suksesvol wees en geluk vind.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 25]
Vreugdevolle ontvangs van Bybellektuur in Duits
[Prent op bladsy 26]
Hoewel musiek nog altyd verbode was, sing hulle nou ná elke Bybelstudie