Kweek ware nederigheid aan
“U sal die nederige volk red.”—2 SAMUEL 22:28.
1, 2. Wat het baie wêreldheersers met mekaar in gemeen gehad?
DIE piramides van Egipte getuig van die bestaan van manne wat eens op ’n tyd heersers van daardie land was. Ander wat hulle stempel op die geskiedenis afgedruk het, was Sanherib van Assirië, Aleksander die Grote van Griekeland en Julius Caesar van Rome. Al hierdie heersers het een ding in gemeen gehad. Hulle het nie ’n rekord van ware nederigheid nagelaat nie.—Matteus 20:25, 26.
2 Kan jy jou voorstel dat enige van die bogenoemde heersers hulle koninkryk gereeld sou deursoek om onbeduidende onderdane te vind wat vertroosting nodig het? Natuurlik nie! Jy sal jou ook nie kan voorstel dat hulle na die nederige wonings van verbryselde burgers sou gaan om hulle op te beur nie. Hoe verskil hulle gesindheid teenoor onbeduidende menseskepsele tog van dié van die Opperheerser van die heelal, Jehovah God!
Die grootste voorbeeld van nederigheid
3. Hoe behandel die Opperheerser sy menslike onderdane?
3 Jehovah is ondeurgrondelik groot en verhewe, en tog “deurloop [sy oë] die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). En wat doen Jehovah wanneer hy nederige aanbidders vind wat as gevolg van verskeie beproewinge verbryseld van gees is? In sekere sin “woon” hy by hulle deur middel van sy heilige gees “om die gees van die nederiges te laat herlewe en om die hart van die verbryseldes te laat herlewe” (Jesaja 57:15). Sy aanbidders wat so herlewe het, is dan in ’n beter posisie om hom weer met vreugde te dien. Watter nederigheid tog van God se kant!
4, 5. (a) Hoe het die psalmis gevoel oor God se manier van regeer? (b) Wat beteken dit dat God hom ‘neerbuig’ om die “geringe” te help?
4 Niemand anders in die heelal het hom tot dieselfde mate as die Soewereine Heer verneder om sondige mense te help nie. Die psalmis kon skryf: “Jehovah is hoog bo al die nasies; sy heerlikheid is bo die hemele. Wie is soos Jehovah ons God, hy wat sy woonplek in die hoogte maak? Hy buig hom neer om na die hemel en die aarde te kyk, en hy rig die geringe uit die stof op; hy verhef die arme uit die asput.”—Psalm 113:4-7.
5 Let op die woord ‘neerbuig’. Met verwysing na mense kan hierdie woord ’n negatiewe betekenis hê, naamlik ‘om ’n meerderwaardige houding teenoor ’n mindere of minderbevoorregte aan te neem’. So ’n hoogmoedige gesindheid kan nooit toegeskryf word aan Jehovah God, wat suiwer en heilig is en dus geen “hoogmoed” in hom het nie (Markus 7:22, 23). Maar ‘neerbuig’ kan ook beteken om af te daal tot die vlak van iemand van ’n laer stand of om laer as ’n mens se rang of waardigheid te daal om met ’n mindere te handel. Daarom sê party Bybels in Psalm 113:6 dat God hom verneder. Hoe goed beeld dit tog ons nederige God uit, wat liefdevol aandag skenk aan die behoeftes van sy onvolmaakte menslike aanbidders!—2 Samuel 22:36.
Waarom Jesus nederig was
6. Wat was Jehovah se grootste daad van nederigheid?
6 God se grootste daad van nederigheid en liefde was om sy geliefde eersgebore Seun te stuur om as ’n mens op die aarde gebore en grootgemaak te word tot die redding van die mensdom (Johannes 3:16). Jesus het ons die waarheid oor sy hemelse Vader geleer en toe sy volmaakte menselewe opgeoffer om “die sonde van die wêreld” weg te neem (Johannes 1:29; 18:37). Omdat Jesus sy Vader volmaak weerspieël het, insluitende Jehovah se nederigheid, was hy gewillig om te doen wat God van hom gevra het. Dit was die grootste voorbeeld van nederigheid en liefde wat nog ooit deur een van God se skepsele gestel is. Nie almal het waardering getoon vir Jesus se nederigheid nie, en sy vyande het hom selfs as “die geringste van die mensdom” geag (Daniël 4:17). Die apostel Paulus het nietemin besef dat sy medegelowiges Jesus moet navolg en dus nederig moet wees in hulle handelinge met mekaar.—1 Korintiërs 11:1; Filippense 2:3, 4.
7, 8. (a) Hoe het Jesus geleer om nederig te wees? (b) Watter beroep doen Jesus op potensiële dissipels?
7 Paulus het die aandag gevestig op Jesus se uitstekende voorbeeld en geskryf: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was, wat, hoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg het nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword. Wat meer is, toe hy hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.”—Filippense 2:5-8.
8 Party wonder dalk: ‘Hoe het Jesus geleer om nederig te wees?’ Dit was een van die wonderlike voordele van die noue omgang wat hy eeue lank met sy hemelse Vader geniet het, toe hy tydens die skepping van alle dinge as God se “meesterwerker” gedien het (Spreuke 8:30). Ná die opstand in Eden kon God se Eersgeborene sien hoe sy Vader op nederige wyse met menslike sondaars handel. Gevolglik het Jesus, toe hy op die aarde was, sy Vader se nederigheid weerspieël en die beroep gedoen: “Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.”—Matteus 11:29; Johannes 14:9.
9. (a) Waarom het Jesus soveel van kinders gehou? (b) Watter les het Jesus met behulp van ’n kind oorgedra?
9 Omdat Jesus waarlik nederig was, was kindertjies nie vir hom bang nie. Hulle het eerder tot hom aangetrokke gevoel. Hy het op sy beurt liefde vir kinders getoon en aandag aan hulle gegee (Markus 10:13-16). Waarom het Jesus soveel van kinders gehou? Hulle het beslis wenslike eienskappe gehad wat party van sy volwasse dissipels nie altyd aan die dag gelê het nie. Dit is ’n eenvoudige feit dat kindertjies volwassenes as hulle meerderes beskou. Jy kan dit sien aan die baie vrae wat hulle vra. Ja, in vergelyking met baie volwassenes is kinders gewilliger om te leer en nie so geneig om trots te wees nie. By een geleentheid het Jesus ’n jong kind uitgesonder en vir Sy volgelinge gesê: “Tensy julle omdraai en soos jong kinders word, sal julle hoegenaamd nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie.” Hy het verder gesê: “Elkeen dan wat hom soos hierdie jong kind sal verneder, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele” (Matteus 18:3, 4). Jesus het die reël neergelê: “Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, en hy wat hom verneder, sal verhef word.”—Lukas 14:11; 18:14; Matteus 23:12.
10. Watter vrae sal ons bespreek?
10 Hierdie waarheid laat belangrike vrae ontstaan. Ons vooruitsig om die ewige lewe te kry, hang deels daarvan af dat ons ware nederigheid aankweek, maar waarom vind Christene dit soms moeilik om nederig te wees? Waarom is dit vir ons moeilik om as ’t ware ons trots te sluk en met nederigheid op beproewinge te reageer? En wat sal ons help om ware nederigheid met welslae aan te kweek?—Jakobus 4:6, 10.
Waarom dit moeilik is om nederig te wees
11. Waarom is dit nie verbasend dat ons sukkel om nederig te wees nie?
11 As jy vind dat jy sukkel om nederig te wees, is jy nie alleen nie. Destyds, in 1920, het hierdie tydskrif die Bybel se raad oor die belangrikheid van nederigheid bespreek en gesê: “Aangesien ons dus sien watter groot waarde die Here aan nederigheid heg, moet dit alle ware dissipels aanspoor om hierdie eienskap daagliks aan te kweek.” Toe het hierdie openhartige erkenning gevolg: “Ten spyte van al hierdie vermanings in die Skrif wil dit voorkom of die menslike natuur so verdorwe is dat diegene wat die Here se knegte word en besluit om hierdie weg te bewandel, blykbaar in hierdie opsig meer sukkel, ’n groter stryd voer, as in enige ander opsig.” Dit beklemtoon een rede waarom ware Christene sukkel om nederig te wees—ons sondige menslike natuur begeer ongepaste heerlikheid. Dit is omdat ons die nakomelinge is van ’n sondige egpaar, Adam en Eva, wat voor selfsugtige begeertes geswig het.—Romeine 5:12.
12, 13. (a) Hoe maak die wêreld dit moeilik om Christelike nederigheid aan te kweek? (b) Wie maak ons stryd om nederigheid aan te kweek, selfs moeiliker?
12 Nog ’n rede waarom ons dit miskien moeilik vind om nederigheid aan die dag te lê, is omdat ons omring is deur ’n wêreld wat mense aanspoor om beter as ander te probeer wees. ’n Algemene strewe van hierdie wêreld is die bevrediging van “die begeerte van die [sondige] vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” (1 Johannes 2:16). Jesus se dissipels moet hulle nie deur sulke wêreldse begeertes laat oorheers nie, maar moet eerder hulle oog eenvoudig hou en hulle daarop toespits om God se wil te doen.—Matteus 6:22-24, 31-33; 1 Johannes 2:17.
13 ’n Derde rede waarom dit moeilik is om nederigheid aan te kweek en aan die dag te lê, is omdat die een by wie hoogmoed sy oorsprong gehad het, Satan die Duiwel, oor hierdie wêreld heers (2 Korintiërs 4:4; 1 Timoteus 3:6). Satan bevorder sy goddelose eienskappe. Hy wou byvoorbeeld hê dat Jesus hom aanbid, in ruil vir “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid”. Jesus was, soos altyd, nederig en het die Duiwel se aanbod summier verwerp (Matteus 4:8, 10). Net so bring Satan Christene in die versoeking om heerlikheid vir hulleself te probeer verkry. Nederige Christene streef eerder daarna om Jesus se voorbeeld te volg deur die lof en eer aan God te gee.—Markus 10:17, 18.
Kweek ware nederigheid aan en lê dit aan die dag
14. Wat is “skynnederigheid”?
14 In sy brief aan die Kolossense het die apostel Paulus gewaarsku teen ’n uiterlike vertoon van nederigheid om mense te beïndruk. Paulus het dit “skynnederigheid” genoem. Diegene wat bloot voorgee dat hulle nederig is, is nie geestelike mense nie. Hulle toon eerder dat hulle eintlik “opgeblase is” van trots (Kolossense 2:18, 23). Jesus het voorbeelde van sulke geveinsde nederigheid uitgewys. Hy het die Fariseërs veroordeel vir hulle vertonerige gebede en vir die manier waarop hulle met droewige en vertrekte gesigte gevas het om deur mense gesien te word. Daarenteen moet ons private gebede in nederigheid gedoen word om waarde in God se oë te hê.—Matteus 6:5, 6, 16.
15. (a) Wat kan ons doen om ootmoedig te bly? (b) Watter goeie voorbeelde van nederigheid is daar?
15 As Christene hulle oë gevestig hou op die beste voorbeelde van nederigheid, Jehovah God en Jesus Christus, help dit hulle om waarlik ootmoedig te bly. Dit behels ’n gereelde studie van die Bybel en Bybelstudiehulpe wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45). So ’n studie is noodsaaklik vir Christenopsieners, ‘sodat hulle hart hulle nie bo hulle broers verhef nie’ (Deuteronomium 17:19, 20; 1 Petrus 5:1-3). Peins oor die talle voorbeelde van mense wat geseën is vir hulle nederige gesindheid, soos Rut, Hanna, Elisabet en baie ander (Rut 1:16, 17; 1 Samuel 1:11, 20; Lukas 1:41-43). Dink ook aan die talle goeie voorbeelde van vername manne wat nederig gebly het in Jehovah se diens, soos Dawid, Josia, Johannes die Doper en die apostel Paulus (2 Kronieke 34:1, 2, 19, 26-28; Psalm 131:1; Johannes 1:26, 27; 3:26-30; Handelinge 21:20-26; 1 Korintiërs 15:9). En wat van die talle hedendaagse voorbeelde van nederigheid wat ons in die Christengemeente vind? As ware Christene oor hierdie voorbeelde peins, sal dit hulle help om “ootmoed teenoor mekaar” te hê.—1 Petrus 5:5.
16. Hoe help die Christelike bediening ons om nederig te wees?
16 ’n Gereelde deelname aan die Christelike bediening kan ons ook help om nederig te wees. Ootmoed kan ons in staat stel om vreemdelinge wat ons van huis tot huis en op ander plekke teëkom, op doeltreffende wyse te nader. Dit is veral waar wanneer huisbewoners aanvanklik onverskillig of onbeskof reageer op die Koninkryksboodskap. Ons opvattings word dikwels bevraagteken, en nederigheid kan die Christen help om vrae altyd “met sagmoedigheid en diep respek” te beantwoord (1 Petrus 3:15). Nederige knegte van God het na nuwe gebiede getrek en mense met ander kulture en lewenspeile gehelp. Sulke bedienaars moet hulle dalk nederig toelê op die moeilike taak om ’n nuwe taal te leer sodat hulle diegene aan wie hulle die goeie nuus wil verkondig, beter kan help. Hoe prysenswaardig tog!—Matteus 28:19, 20.
17. Watter Christelike verantwoordelikhede verg nederigheid?
17 Baie het hulle Christelike pligte nederig uitgevoer en die belange van ander bo hulle eie gestel. Dit verg byvoorbeeld nederigheid van ’n Christenvader om van sy eie strewes opsy te skuif sodat hy tyd kan inruim om vir ’n doeltreffende Bybelstudie met sy kinders voor te berei en dit te hou. Nederigheid help kinders ook om hulle ouers, wat onvolmaak is, te eer en te gehoorsaam (Efesiërs 6:1-4). Vrouens met ongelowige mans kom dikwels voor situasies te staan wat nederigheid verg terwyl hulle hulle mans deur middel van “kuis gedrag tesame met diep respek” probeer wen (1 Petrus 3:1, 2). Nederigheid en selfopofferende liefde is ook voordelig wanneer ons liefdevol na die behoeftes van siek en bejaarde ouers omsien.—1 Timoteus 5:4.
Nederigheid los probleme op
18. Hoe kan nederigheid ons help om probleme op te los?
18 Al God se menslike knegte is onvolmaak (Jakobus 3:2). Soms kan meningsverskille of misverstande tussen twee Christene ontstaan. Die een het dalk ’n geldige rede tot klagte teen die ander. Gewoonlik kan sulke situasies opgelos word deur hierdie raad toe te pas: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Dit is weliswaar nie maklik om hierdie raad te volg nie, maar nederigheid sal ’n mens help om dit toe te pas.
19. Wat moet ons onthou wanneer ons met iemand praat wat ons ontstel het?
19 Soms kan ’n Christen voel dat ’n geldige rede tot klagte te ernstig is om te ignoreer. Dan sal nederigheid hom help om die vermeende oortreder te nader met die doel om die vrede te herstel (Matteus 18:15). Een rede waarom probleme tussen Christene soms voortduur, is omdat een of dalk albei partye te trots is om te erken dat die fout by hulle lê. Of die een wat die inisiatief neem om die ander te nader, doen dit dalk op ’n selfvoldane, kritiese manier. Daarteenoor sal ’n gesindheid wat van ware nederigheid spreek, grootliks help om baie meningsverskille op te los.
20, 21. Wat is een van die grootste hulpmiddels om nederig te wees?
20 ’n Belangrike stap om nederigheid aan te kweek, is om vir God se hulp en gees te bid. Maar onthou: “God . . . gee onverdiende goedhartigheid [asook sy heilige gees] aan die nederiges” (Jakobus 4:6). As jy dus ’n meningsverskil met ’n medegelowige het, moet jy tot Jehovah bid om jou te help om enige skuld aan jou kant, hetsy klein of groot, nederig te erken. As jy seergemaak is, en die oortreder sê opreg: “Ek is jammer”, moet jy hom nederig vergewe. As dit moeilik is, moet jy tot Jehovah bid om jou te help om ontslae te raak van enige hoogmoed wat nog in jou hart is.
21 As ons besef hoeveel voordele nederigheid bring, moet dit ons beweeg om hierdie kosbare eienskap aan te kweek en te behou. Watter wonderlike voorbeelde het ons tog in hierdie verband in Jehovah God en Jesus Christus! Moet nooit die goddelike versekering vergeet nie: “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe.”—Spreuke 22:4.
Punte om oor te peins
• Wie is die beste voorbeelde van nederigheid?
• Waarom is dit moeilik om nederigheid aan te kweek?
• Wat kan ons help om nederig te wees?
• Waarom is dit so belangrik om nederig te bly?
[Prent op bladsy 26]
Jesus het ware nederigheid aan die dag gelê
[Prent op bladsy 28]
Die wêreld spoor mense aan om beter as ander te probeer wees
[Erkenning]
WHO photo by L. Almasi/K. Hemzǒ
[Prent op bladsy 29]
Nederigheid help ons om vreemdelinge in ons bediening te nader
[Prente op bladsy 30]
Meningsverskille kan dikwels opgelos word as ons die saak nederig met liefde bedek
[Prente op bladsy 31]
Daar is baie maniere waarop Christene nederigheid aan die dag lê