Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 11/1 bl. 4-7
  • Kan enigiemand die wêreld werklik verander?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan enigiemand die wêreld werklik verander?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pogings om veranderinge teweeg te bring
  • Hindernisse in die weg van verandering
  • Waarom is dit toegelaat?
  • Jesus Christus sal ’n blywende verandering teweegbring
  • ‘Moet nie vergeet om goed te doen nie’
  • Iemand gee werklik om
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Wat is God se voorneme met die aarde?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die einde van armoede kom nader
    Ontwaak!—1998
  • Volg Jesus se voorbeeld en toon besorgdheid oor die armes
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 11/1 bl. 4-7

Kan enigiemand die wêreld werklik verander?

“Arm mense sê vir ons dat hulle allereers vrede en veiligheid wil hê —en dan geleenthede om hulle lewe te verbeter. Hulle wil regverdige nasionale en internasionale stelsels hê sodat hulle pogings nie in die wiele gery word deur die oorheersende mag van ryk lande en ryk maatskappye nie.”

DIT is hoe die direktrise van ’n internasionale noodlenigingsagentskap die verwagtinge en begeertes van arm mense beskryf het. Trouens, haar woorde is moontlik ’n gepaste beskrywing van wat alle slagoffers van die wêreld se tragedies en onregte begeer. Hulle almal smag na ’n wêreld van ware vrede en veiligheid. Sal so ’n wêreld ooit ’n werklikheid word? Het enigiemand werklik die mag en vermoë om ’n wêreld te verander wat in wese onregverdig is?

Pogings om veranderinge teweeg te bring

Baie mense het al probeer. Florence Nightingale, ’n 19de-eeuse Engelse vrou, het byvoorbeeld haar lewe daaraan gewy om higiëniese, simpatieke verpleging vir die siekes te voorsien. In haar dag—voor ontsmettingsmiddels en antibiotika—was hospitaalsorg nie wat ons vandag verwag dit moet wees nie. “Verpleegsters”, sê een verslag, was “ongeletterd, vuil en berug vir hulle dronkenskap en onsedelikheid”. Was Florence Nightingale enigsins suksesvol in haar pogings om die wêreld van verpleging te verander? Sy was. Net so het tallose besorgde, onbaatsugtige mense buitengewone sukses behaal op baie lewensterreine—geletterdheid, opvoeding, die geneeskunde, behuising, voedingsprogramme, om maar net ’n paar te noem. As gevolg hiervan is die lewensgehalte van miljoene minderbevoorregte mense grootliks verbeter.

Nietemin kan ons hierdie harde werklikheid nie ignoreer nie: Honderdmiljoene mense se lewens word nog steeds deur oorlog, misdaad, siekte, hongersnood en ander rampspoedige gebeure versuur. “Armoede”, sê die Ierse noodlenigingsagentskap Concern, “veroorsaak dat 30 000 mense elke dag sterf.” Selfs slawerny, iets wat soveel hervormers hulle oor die eeue heen beywer het om uit te wis, bestaan nog steeds. “Daar is vandag meer slawe as wat daar gedurende die hele tydperk van die transatlantiese slawehandel uit Afrika gesteel is”, sê Disposable People—New Slavery in the Global Economy.

Wat het mense se pogings verydel om ’n algehele, blywende verandering teweeg te bring? Is dit bloot die oorheersende mag van die rykes en die invloedrykes, of is daar meer by betrokke?

Hindernisse in die weg van verandering

Volgens God se Woord is Satan die Duiwel dié oorheersende hindernis in die weg van enige mensepogings om ’n waarlik regverdige wêreld tot stand te bring. Die apostel Johannes sê vir ons: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Trouens, Satan is op die oomblik besig om “die hele bewoonde aarde [te] mislei” (Openbaring 12:9). Totdat sy verderflike invloed verwyder word, sal daar slagoffers van boosheid en ongeregtigheid wees. Wat het tot hierdie droewige situasie aanleiding gegee?

Ons eerste ouers, Adam en Eva, is op ’n aarde geplaas wat bedoel was om ’n volmaakte paradystuiste vir die hele mensegesin te wees—’n wêreld wat “baie goed” was (Genesis 1:31). Wat het sake laat verander? Satan. Hy het God se reg bevraagteken om die reëls te maak waarvolgens mans en vroue moet lewe. Hy het geïnsinueer dat God se manier van regeer onregverdig is. Hy het Adam en Eva oorgehaal om ’n onafhanklike weg in te slaan sodat hulle self kon besluit wat goed en wat kwaad is (Genesis 3:1-6). Dit het gelei tot ’n tweede hindernis in die weg van mense se pogings om ’n regverdige wêreld tot stand te bring—sonde en onvolmaaktheid.—Romeine 5:12.

Waarom is dit toegelaat?

‘Maar waarom het God toegelaat dat sonde en onvolmaaktheid voortduur?’ vra party miskien. ‘Waarom het hy nie sy onbeperkte mag gebruik om van die opstandelinge ontslae te raak en weer oor te begin nie?’ Dit klink na ’n eenvoudige oplossing. Maar wanneer mag gebruik word, ontstaan ernstige vrae. Is dit nie so dat die misbruik van mag een van die vernaamste griewe van die armes en onderdruktes van die wêreld is nie? Laat dit nie vrae by regskapenes opkom wanneer die een of ander despoot sy mag gebruik om van enigiemand ontslae te raak wat nie met sy beleid saamstem nie?

Om opregtes van hart te verseker dat Hy nie Sy mag op tirannieke wyse misbruik nie, het God besluit om Satan en die opstandige mense toe te laat om onafhanklik van goddelike wette en beginsels op te tree—slegs vir ’n beperkte tydperk. Die tyd sou bewys dat God se manier van regeer die enigste regte manier is. Dit sou wys dat enige beperkings wat hy aan ons oplê, tot ons beswil is. Trouens, die tragiese gevolge van opstand teen God se heerskappy het alreeds getoon dat dit die geval is. En dit het bewys dat God ten volle geregverdig is om sy groot mag te gebruik om alle goddeloosheid uit die weg te ruim wanneer hy dit goeddink. Dit sal binnekort gebeur.—Genesis 18:23-32; Deuteronomium 32:4; Psalm 37:9, 10, 38.

Totdat God optree, is ons vasgevang in ’n onregverdige stelsel, waarin ons “saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). Wat ons ook al doen om dinge te verander, ons kan nie van Satan ontslae raak nie, en ons kan ook nie die grondliggende onvolmaaktheid wat die oorsaak is van al ons lyding, heeltemal uitwis nie. Ons is eenvoudig nie in staat om die gevolge van die sonde wat ons van Adam geërf het, ongedaan te maak nie.—Psalm 49:7-9.

Jesus Christus sal ’n blywende verandering teweegbring

Beteken dit dat die situasie heeltemal hopeloos is? Beslis nie. Iemand wat baie magtiger is as blote sterflike mense, is die taak opgelê om ’n permanente verandering teweeg te bring. Wie is dit? Jesus Christus. Hy word in die Bybel beskryf as God se Hoofbewerker van redding vir die mensegesin.—Handelinge 5:31.

Hy wag nou op God se “vasgestelde tyd” om op te tree (Openbaring 11:18). Presies wat sal hy doen? Hy sal “die herstel van alles waarvan God deur die mond van sy heilige profete van die ou tyd gespreek het”, tot stand bring (Handelinge 3:21). Jesus sal byvoorbeeld “die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. . . . Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos” (Psalm 72:12-16). God beloof om deur middel van Jesus Christus “oorloë [te laat] ophou tot aan die einde van die aarde” (Psalm 46:9). “Geen inwoner [van sy gereinigde aarde] sal sê: ‘Ek is siek’ nie”, beloof hy. Die blindes, die dowes, die kreupeles—almal wat deur kwale en siektes geteister word—sal tot volmaakte gesondheid herstel word (Jesaja 33:24; 35:5, 6; Openbaring 21:3, 4). Selfs dié wat in vorige eeue gesterf het, sal hierby baat vind. Hy beloof om slagoffers van ongeregtigheid en onderdrukking uit die dood op te wek.—Johannes 5:28, 29.

Jesus Christus sal nie ’n gedeeltelike, tydelike verandering teweegbring nie. Hy sal alle hindernisse in die weg van ’n waarlik regverdige wêreld heeltemal uitwis. Hy sal sonde en onvolmaaktheid verwyder en Satan die Duiwel en almal wat sy opstandige weg volg, vernietig (Openbaring 19:19, 20; 20:1-3, 10). Die benoudheid en lyding wat God tydelik toegelaat het, “sal nie ’n tweede keer opkom nie” (Nahum 1:9). Dit is wat Jesus in gedagte gehad het toe hy ons leer bid het vir God se Koninkryk om te kom en vir God se wil om te geskied, “soos in die hemel, so ook op die aarde”.—Matteus 6:10.

‘Maar het Jesus nie self gesê dat ons “die armes altyd by ons sal hê nie”?’ maak jy dalk beswaar. ‘Beteken dit nie dat daar altyd ongeregtigheid en armoede sal wees nie?’ (Matteus 26:11). Ja, Jesus het wel gesê dat daar altyd arm mense sal wees. Maar die konteks van sy woorde tesame met die beloftes in God se Woord toon dat hy bedoel het dat daar altyd arm mense sal wees solank as wat hierdie stelsel van dinge bestaan. Hy het geweet dat geen mens ooit in staat sal wees om die wêreld van armoede en ongeregtigheid te bevry nie. Hy het ook geweet dat hy dit alles sal verander. Hy sal binnekort ’n heeltemal nuwe stelsel van dinge tot stand bring—“nuwe hemele en ’n nuwe aarde” waarin pyn, siekte, armoede en die dood nie meer sal bestaan nie.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1.

‘Moet nie vergeet om goed te doen nie’

Beteken dit dat dit tevergeefs is om te doen wat ons kan om ander mense te help? Glad nie. Die Bybel spoor ons aan om ander te help wanneer hulle voor beproewinge en moeilike omstandighede te staan kom. “Moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie”, skryf die eertydse koning Salomo (Spreuke 3:27). “Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie”, maan die apostel Paulus.—Hebreërs 13:16.

Jesus Christus self het ons aangespoor om te doen wat ons kan om ander te help. Hy het die illustrasie vertel van ’n Samaritaan wat ’n man teëgekom het wat geslaan en beroof is. Die Samaritaanse man, het Jesus gesê, is “ontroer deur innige jammerte” sodat hy sy eie middele gebruik het om die wonde van die beseerde man te verbind en hom te help om van die aanval te herstel (Lukas 10:29-37). Daardie barmhartige Samaritaan het nie die wêreld verander nie, maar hy het wel ’n groot verskil gemaak in ’n ander man se lewe. Ons kan dieselfde doen.

Jesus Christus kan egter meer doen as om net individue te help. Hy kan werklik ’n verandering teweegbring, en hy sal dit binnekort doen. Wanneer hy dit doen, sal slagoffers van vandag se onregverdige toestande hulle lewe kan verbeter en ware vrede en veiligheid kan geniet.—Psalm 4:8; 37:10, 11.

Terwyl ons wag dat dit gebeur, moet ons nooit aarsel om enigiets te doen wat ons kan nie, op geestelike sowel as materiële gebied, om ‘goed te doen’ aan almal wat slagoffers is van ’n onregverdige wêreld.—Galasiërs 6:10.

[Prente op bladsy 5]

Florence Nightingale het wesenlike veranderinge aangebring in die wêreld van verpleging

[Erkenning]

Courtesy National Library of Medicine

[Prente op bladsy 7]

Christus se volgelinge doen goed aan ander

[Foto-erkenning op bladsy 4]

The Star, Johannesburg, S.A.

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel