Jehovah is ons Herder
“Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.”—PSALM 23:1.
1-3. Waarom is dit nie verbasend dat Dawid Jehovah met ’n herder vergelyk het nie?
WAT sal jy sê as iemand jou vra om die manier te beskryf waarop Jehovah vir sy volk sorg? Watter vergelyking kan jy tref wat die gedagte sal oordra van die tere sorg waarmee hy na sy getroue knegte omsien? Meer as 3 000 jaar gelede het die koninklike psalmis Dawid ’n pragtige beskrywing van Jehovah opgeteken deur ’n analogie te gebruik wat geneem is uit die werk wat Dawid in sy jeugjare gedoen het.
2 As jong man was Dawid ’n herder, en daarom het hy geweet wat dit behels om skape op te pas. Hy het alte goed geweet dat skape maklik verlore raak en die slagoffer van diewe of wilde diere word as hulle nie opgepas word nie (1 Samuel 17:34-36). Sonder ’n liefdevolle herder sal hulle moontlik nie hulle weiplek en hulle voedsel vind nie. In sy latere jare het Dawid ongetwyfeld aangename herinneringe gehad van al die ure waartydens hy skape gelei, beskerm en laat wei het.
3 Dit is nie verbasend dat Dawid aan ’n herder se werk gedink het toe hy geïnspireer is om ’n beskrywing te gee van die sorg waarmee Jehovah na sy volk omsien nie. Die 23ste Psalm, wat deur Dawid geskryf is, begin met die woorde: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.” Kom ons kyk waarom dit ’n gepaste stelling is. Dan sal ons met behulp van Psalm 23 sien op watter maniere Jehovah vir sy aanbidders sorg soos ’n herder vir sy skape sorg.—1 Petrus 2:25.
’n Gepaste vergelyking
4, 5. Hoe beskryf die Bybel die eienskappe van skape?
4 Jehovah het baie titels in die Skrif, maar “Herder” is een van dié wat die grootste teerheid oordra (Psalm 80:1). Om beter te verstaan waarom Jehovah gepas ’n Herder genoem word, is dit vir ons nuttig om twee dinge te weet: eerstens, die geaardheid van skape en tweedens, die pligte en eienskappe van ’n goeie herder.
5 Die Bybel verwys dikwels na die eienskappe van skape en beskryf hulle as diere wat geredelik op ’n herder se liefde reageer (2 Samuel 12:3), nie aggressief is nie (Jesaja 53:7) en weerloos is (Miga 5:8). Een skrywer wat jare lank met skape geboer het, het gesê: “Party mense dink dalk dat skape as ’t ware ‘hulleself oppas’, maar dit is nie so nie. Hulle het eindelose aandag en noukeurige sorg nodig, meer as enige ander vee.” Hierdie hulpelose diere het ’n liefdevolle herder nodig om aan die lewe te bly.—Esegiël 34:5.
6. Hoe beskryf een Bybelwoordeboek ’n tipiese dag in die lewe van ’n herder van die ou tyd?
6 Waaruit het ’n tipiese dag vir die herder van die ou tyd bestaan? Een Bybelwoordeboek verduidelik: “Soggens vroeg het hy die kudde uit die kraal gelei en voor hulle uit geloop na die plek waar hulle moes wei. Hier het hy hulle heeldag lank opgepas, terwyl hy gesorg het dat nie een van die skape wegdwaal nie, en as enigeen van hulle tydelik sy waaksame oë ontglip het en van die res weggedwaal het, het hy naarstig daarna gesoek totdat hy dit gevind en teruggebring het. . . . Saans het hy die kudde teruggebring kraal toe, waar hy hulle getel het terwyl hulle by die hek onder die staf deurloop, om seker te maak dat almal daar is. . . . Hy moes die kudde dikwels gedurende die nag beskerm teen die aanvalle van wilde diere of die slinkse pogings van die sluipdief.”a
7. Waarom moes ’n herder soms ekstra geduld en teerheid betoon?
7 Daar was tye wanneer skape, veral die dragtige ooie en die lammers, ekstra geduld en teerheid geverg het (Genesis 33:13). Een Bybelnaslaanwerk sê: “Die geboorte van lammers in ’n kudde vind dikwels ver weg teen die berghang plaas. Die herder hou besorgd wag oor die moeder gedurende haar hulpelose oomblikke en tel die lammetjie op en dra dit kraal toe. Gedurende die paar dae totdat dit kan loop, dra hy dit moontlik in sy arms of in die los voue van sy kleed” (Jesaja 40:10, 11). Dit is duidelik dat ’n goeie herder ’n kombinasie van sterk en teer eienskappe moes hê.
8. Watter redes noem Dawid vir sy vertroue op Jehovah?
8 “Jehovah is my Herder”—is dit nie ’n gepaste beskrywing van ons hemelse Vader nie? Wanneer ons Psalm 23 ondersoek, sal ons sien hoe God met die sterkte en teerheid van ’n herder vir ons sorg. In Ps 23 vers 1 spreek Dawid sy vertroue uit dat God al die nodige voorsienings vir Sy skape sal maak sodat ‘niks hulle sal ontbreek nie’. In die daaropvolgende verse noem Dawid drie redes vir hierdie vertroue: Jehovah lei, beskerm en voed Sy skape. Kom ons bespreek hierdie punte een vir een.
“Hy lei my”
9. Watter vreedsame toneel beskryf Dawid, en hoe sal skape by so ’n plek uitkom?
9 Eerstens, Jehovah lei sy volk. Dawid skryf: “In grasryke weivelde laat hy my neerlê; by waterryke rusplekke bring hy my. My siel verkwik hy. Hy lei my in die spore van regverdigheid ter wille van sy naam” (Psalm 23:2, 3). ’n Kudde wat rustig te midde van ’n oorvloed lê—Dawid skilder hier ’n prentjie van tevredenheid, verkwikking en veiligheid. Die Hebreeuse woord wat met “weivelde” vertaal word, kan “aangename plek” beteken. Op hulle eie sal die skape waarskynlik nie ’n verkwikkende plek vind om in vrede te gaan lê nie. Hulle herder moet hulle na so ’n “aangename plek” lei.
10. Hoe toon God sy vertroue in ons?
10 Hoe lei Jehovah ons vandag? Een manier waarop hy dit doen, is deur sy voorbeeld. Sy Woord spoor ons aan om “navolgers van God” te word (Efesiërs 5:1). Die konteks van hierdie woorde meld medelye, vergifnis en liefde (Efesiërs 4:32; 5:2). Jehovah stel beslis die beste voorbeeld in die betoning van hierdie innemende eienskappe. Is dit onrealisties van hom om ons te vra om hom na te volg? Nee. Hierdie geïnspireerde raad is in werklikheid ’n wonderlike blyk van sy vertroue in ons. Hoe so? Ons is na God se beeld gemaak, wat beteken dat ons met sedelike eienskappe en ’n sin vir geestelikheid begaaf is (Genesis 1:26). Gevolglik weet Jehovah dat ons, ondanks ons onvolmaakthede, die potensiaal het om dieselfde eienskappe aan te kweek wat hy verpersoonlik. Dink net—ons liefdevolle God is vol vertroue dat ons soos hy kan wees. As ons sy voorbeeld volg, sal hy ons as ’t ware na ’n aangename ‘rusplek’ lei. Te midde van hierdie gewelddadige wêreld sal ons “in veiligheid woon” en die vrede geniet wat voortspruit uit die wete dat ons God se goedkeuring het.—Psalm 4:8; 29:11.
11. Wat neem Jehovah in ag terwyl hy sy skape lei, en hoe word dit weerspieël in wat hy van ons vra?
11 Jehovah is teer en geduldig terwyl hy ons lei. ’n Herder neem die beperkings van sy skape in ag, en daarom lei hy “volgens die pas van die vee” (Genesis 33:14). Jehovah lei eweneens “volgens die pas van” sy skape. Hy neem ons vermoëns en omstandighede in ag. Hy wysig as ’t ware die pas en vra nooit meer as wat ons kan gee nie. Wat hy wel vra, is dat ons hom met ons hele siel moet dien, oftewel heelhartig moet wees (Kolossense 3:23). Maar sê nou jy is bejaard en kan nie doen wat jy vroeër gedoen het nie? Of sê nou jy het ’n ernstige siekte wat jou beperk? Dit is waarom die vereiste dat ons heelhartig moet wees, so wonderlik is. Daar is nie twee persone wat presies dieselfde is nie. Om heelhartige diens te verrig, beteken dat jy, sover dit vir jou moontlik is, al jou krag en energie in God se diens gebruik. Ondanks die swakhede wat ons pas kan beïnvloed, waardeer Jehovah ons heelhartige aanbidding.—Markus 12:29, 30.
12. Watter voorbeeld uit die Mosaïese Wet lig toe dat Jehovah “volgens die pas van” sy skape lei?
12 Ter toeligting van die feit dat Jehovah “volgens die pas van” sy skape lei: Dink aan wat in die Mosaïese Wet oor sekere skuldoffers gesê word. Jehovah wou goeie offers hê wat uit dankbare harte gebring is. Terselfdertyd is die offers geklassifiseer volgens die vermoë van die een wat dit gebring het. Die Wet het gesê: “As hy . . . nie ’n skaap kan bekostig nie, dan moet hy . . . twee tortelduiwe of twee jong duiwe . . . bring.” En as hy selfs nie twee duiwe kon bekostig nie? Dan kon hy “fynmeel” bring (Levitikus 5:7, 11). Dit toon dat God nie meer vereis het as wat iemand as ’n offer kon bring nie. Aangesien God nie verander nie, kan ons troos put uit die wete dat hy nooit meer vra as wat ons kan gee nie; hy skep eerder behae daarin om te aanvaar wat ons kan gee (Maleagi 3:6). Wat ’n vreugde is dit tog om deur so ’n simpatieke Herder gelei te word!
‘Ek vrees niks slegs nie, want u is met my’
13. Hoe praat Dawid in Psalm 23:4 op ’n intiemer wyse, en waarom is dit nie verbasend nie?
13 Dawid gee ’n tweede rede vir sy vertroue: Jehovah beskerm sy skape. Ons lees: “Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u is met my; u stok en u staf dié vertroos my” (Psalm 23:4). Dawid praat nou op ’n intiemer wyse en spreek Jehovah met die persoonlike voornaamwoord “u” aan. Dit is nie verbasend nie, want Dawid praat oor hoe God hom gehelp het om teëspoed te verduur. Dawid is deur talle donker valleie—tye toe selfs sy lewe in gevaar was. Maar hy het nie toegelaat dat vrees hom oorheers nie, want hy het besef dat God—met Sy “stok” en “staf” gereed vir aksie—met hom was. Hierdie bewustheid dat hy beskerm sou word, het Dawid vertroos en hom ongetwyfeld nader aan Jehovah laat kom.b
14. Watter versekering gee die Bybel ons omtrent Jehovah se beskerming, maar wat beteken dit nie?
14 Hoe beskerm Jehovah vandag sy skape? Die Bybel verseker ons dat geen teenstander—demoon of mens—ooit daarin sal slaag om sy skape van die aarde af uit te wis nie. Jehovah sal dit nooit toelaat nie (Jesaja 54:17; 2 Petrus 2:9). Maar dit beteken nie dat ons Herder ons teen alle rampspoed sal beskerm nie. Ons ondervind die beproewinge wat eie is aan mense, en ons het te kampe met die teenstand wat alle ware Christene ervaar (2 Timoteus 3:12; Jakobus 1:2). Daar is moontlik tye wanneer ons as ’t ware ‘in die vallei van diep skaduwee wandel’. Byvoorbeeld, ons staar miskien die dood in die gesig weens vervolging of die een of ander gesondheidskrisis. Of ’n geliefde draai dalk by die dood om of sterf selfs. Ons Herder is met ons in wat na die donkerste oomblikke lyk, en hy sal ons bewaar. Hoe?
15, 16. (a) Op watter maniere help Jehovah ons om die struikelblokke wat ons teëkom, die hoof te bied? (b) Vertel ’n ondervinding om te toon hoe Jehovah ons tydens beproewinge help.
15 Jehovah belowe nie dat hy wonderdadig sal ingryp nie.c Maar ons kan hiervan seker wees: Jehovah sal ons help om enige struikelblokke wat ons teëkom, die hoof te bied. Hy kan ons die wysheid gee om “allerhande beproewinge” te verduur (Jakobus 1:2-5). ’n Herder gebruik sy stok of staf nie net om roofdiere af te weer nie, maar ook om die skape in die regte rigting te stuur. Jehovah kan ons “stuur”, miskien deur middel van ’n medeaanbidder, om Bybelraad toe te pas wat ’n groot verskil in ons situasie kan maak. Daarbenewens kan Jehovah ons die krag gee om te volhard (Filippense 4:13). Deur middel van sy heilige gees kan hy ons voorsien van “krag wat bo die normale is” (2 Korintiërs 4:7). God se gees kan ons in staat stel om enige toets te verduur wat Satan oor ons bring (1 Korintiërs 10:13). Is dit nie vertroostend om te weet dat Jehovah altyd gereed is om ons te help nie?
16 Ja, ongeag in watter donker vallei ons ons bevind, ons hoef nie alleen daardeur te loop nie. Ons Herder is met ons en help ons op maniere wat ons miskien aanvanklik nie ten volle onderskei nie. Beskou die ondervinding van ’n Christen- ouer man by wie ’n kwaadaardige breingewas gediagnoseer is. “Ek moet erken dat ek aanvanklik gewonder het of Jehovah vir my kwaad is en of hy selfs vir my lief is. Maar ek was vasbeslote om my nie van Jehovah terug te trek nie. Ek het eerder vir hom van my kwellinge vertel. En Jehovah het my gehelp en my dikwels deur middel van my broers en susters vertroos. Baie het insiggewende punte gemeld op grond van hulle eie ondervinding oor hoe om ’n ernstige siekte te verduur. Hulle gebalanseerde kommentare het my daaraan herinner dat ek niks buitengewoons ervaar nie. Praktiese hulp, met inbegrip van ’n paar roerende blyke van goedhartigheid, het my verseker dat Jehovah nie vir my kwaad is nie. Ek moet natuurlik steeds teen my siekte stry, en ek weet nie wat die uiteinde sal wees nie. Maar ek is daarvan oortuig dat Jehovah met my is en dat hy sal voortgaan om my deur hierdie beproewing te help.”
“U berei voor my ’n tafel”
17. Hoe beskryf Dawid Jehovah in Psalm 23:5, en waarom bots dit nie met die illustrasie van ’n herder nie?
17 Dawid noem nou ’n derde rede vir sy vertroue op sy Herder: Jehovah voed sy skape, en hy doen dit op oorvloedige wyse. Dawid skryf: “U berei voor my ’n tafel ten aanskoue van dié wat my vyandiggesind is. Met olie het u my kop gesalf; my beker is heeltemal vol” (Psalm 23:5). In hierdie vers beskryf Dawid sy Herder as ’n vrygewige gasheer wat ’n oorvloed voedsel en drank voorsien. Die twee illustrasies—’n liefdevolle herder en ’n vrygewige gasheer—bots nie met mekaar nie. ’n Goeie herder moet immers weet waar om geil weiveld en genoeg drinkwater te vind sodat sy kudde ‘niks sal ontbreek nie’.—Psalm 23:1, 2.
18. Wat toon dat Jehovah ’n vrygewige gasheer is?
18 Is ons Herder ook ’n vrygewige gasheer? Daar bestaan geen twyfel daaroor nie! Dink net aan die gehalte, hoeveelheid en verskeidenheid van die geestelike voedsel wat ons nou geniet. Deur “die getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien Jehovah aan ons nuttige publikasies en leersame programme by vergaderinge en byeenkomste—wat alles ons geestelike behoeftes bevredig (Matteus 24:45-47). Daar is beslis geen tekort aan geestelike voedsel nie. “Die getroue en verstandige slaaf” het al miljoene Bybels en Bybelstudiehulpe uitgegee, en hierdie publikasies is nou beskikbaar in 413 tale. Jehovah het ’n groot verskeidenheid van hierdie geestelike voedsel voorsien—van “melk”, basiese Bybelleerstellings, tot “vaste voedsel”, dieper geestelike inligting (Hebreërs 5:11-14). Gevolglik kan ons, wanneer ons voor probleme of besluite te staan kom, gewoonlik presies vind wat ons nodig het. Waar sou ons sonder hierdie geestelike voedsel gewees het? Ons Herder is werklik ’n baie vrygewige voorsiener!—Jesaja 25:6; 65:13.
“Ek sal in die huis van Jehovah woon”
19, 20. (a) Watter vertroue spreek Dawid in Psalm 23:6 uit, en hoe kan ons ook daardie vertroue hê? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Nadat hy die weë van sy Herder en Voorsiener bespreek het, sluit Dawid af: “Waarlik, goedheid en liefderyke goedhartigheid sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van Jehovah woon tot in lengte van dae” (Psalm 23:6). Dawid se woorde kom uit ’n hart vol dankbaarheid en geloof—dankbaarheid wanneer hy aan die verlede terugdink en geloof wanneer hy vorentoe kyk na die toekoms. Hierdie voormalige herder voel veilig, wetende dat hy, solank hy na aan sy hemelse Herder bly, asof hy in Sy huis woon, altyd die voorwerp van Jehovah se liefdevolle sorg sal wees.
20 Hoe dankbaar is ons tog vir die pragtige woorde wat in die 23ste Psalm opgeteken is! Dawid kon nouliks ’n gepaster manier gevind het om te beskryf hoe Jehovah sy skape lei, beskerm en voed. Dawid se hartlike woorde is bewaar om ons die vertroue te gee dat ons ook op Jehovah as ons Herder kan staatmaak. Ja, solank ons na aan Jehovah bly, sal hy as ’n liefdevolle Herder “tot in lengte van dae”, ja, tot in alle ewigheid, vir ons sorg. Maar as sy skape is dit ons verantwoordelikheid om met ons groot Herder, Jehovah, te wandel. Wat dit behels, sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
b Dawid het ’n aantal psalms geskryf waarin hy Jehovah geloof het omdat Hy hom uit gevaar verlos het.—Sien byvoorbeeld die opskrifte van Psalms 18, 34, 56, 57, 59 en 63.
c Sien die artikel “Goddelike ingryping—Wat kan ons verwag?” in Die Wagtoring van 1 Oktober 2003.
Onthou jy?
• Waarom is dit gepas dat Dawid Jehovah met ’n herder vergelyk het?
• Hoe lei Jehovah ons met begrip?
• Op watter maniere help Jehovah ons om beproewinge te verduur?
• Wat toon dat Jehovah ’n vrygewige gasheer is?
[Prent op bladsy 18]
Soos ’n herder in Israel, lei Jehovah Sy skape