‘Die liefde van elkeen van julle neem toe’
IN 2004 is Japan deur verskeie natuurrampe getref. Dit het tifone, oorstromings en aardbewings ingesluit. Hierdie rampe het ’n verreikende uitwerking gehad op die lewe van baie mense, waaronder Jehovah se Getuies (Prediker 9:11). Maar hierdie teëspoed het Getuies geleenthede gegee om broederlike geneentheid aan mekaar te betoon.—1 Petrus 1:22.
Byvoorbeeld, weens swaar reëns in Julie het ’n rivier in die sentrale deel van Japan sy walle oorstroom. Meer as 20 huise van Jehovah se Getuies is deur vloedwater beskadig. In een Koninkryksaal het die water tot sowat ’n meter bo die vloer gestyg. Getuies van naburige gemeentes het onmiddellik kom help. Honderde vrywilligers het die modderbesmeerde huise skoongemaak. Die Koninkryksaal is binne net twee weke heeltemal skoongemaak en herstel.
Op 23 Oktober het ’n aardbewing wat 6,8 op die Richterskaal geregistreer het, dieselfde gebied getref. Ten minste 40 mense het gesterf, en oor die 100 000 mense moes uit hulle huise na veiligheid gebring word. Water, gas en elektrisiteit was afgesny. Hoewel die episentrum van die aardbewing net 50 kilometer daarvandaan was, is die herstelde Koninkryksaal nie beskadig nie. Dit is dadelik as ’n tydelike noodlenigingsentrum gebruik. Christenopsieners het sonder versuim probeer uitvind of hulle medegelowiges veilig is en was verlig toe hulle hoor dat nie een seergekry of omgekom het nie. Vroeg die volgende oggend het ses Getuies wat slagoffers van die oorstroming in Julie was, gretig aangebied om kos en water na die rampgebied te neem. Binne ure ná die aardbewing was noodlenigingsvoorrade beskikbaar.
“Diegene wat slagoffers van die oorstromings was, het die noodlenigingswerk ten behoewe van dié wat deur die aardbewing geraak is, beskou as ’n geleentheid om hulle waardering te toon vir die hulp wat hulle ontvang het”, vertel een opsiener. “Hulle het van soggens vroeg tot saans laat hard gewerk. En hulle gesigte het werklik gestraal van geluk!”
Nie oorstromings of aardbewings hou ’n bedreiging in vir die band van liefde wat die Christenbroederskap van Jehovah se Getuies saambind nie. Inteendeel, wanneer Christene deur sulke rampe getref word, ondervind hulle wat die apostel Paulus vir medegelowiges in Tessalonika gesê het: “Die liefde van elkeen van julle [neem toe] teenoor mekaar.”—2 Tessalonisense 1:3.