Die hoëpriester wat Jesus veroordeel het
IN November 1990 het mans wat omtrent ’n kilometer suid van die Ou Stad van Jerusalem af aan ’n park en ’n pad gewerk het, ’n fassinerende ontdekking gemaak. ’n Trekker het per ongeluk die dak van ’n grot, wat ’n antieke grafkelder was, laat ineenstort. Die omliggende area is tussen die eerste eeu v.G.J. en die eerste eeu G.J. as ’n enorme begraafplaas gebruik. Wat argeoloë binne-in die grafkelder gevind het, was besonder interessant.
In die grot was 12 ossuariums, kiste waarin die beendere van dooies geplaas is nadat hulle omtrent ’n jaar lank in die graf was en hulle vlees al ontbind het. Aan die kant van ’n pragtig gegraveerde ossuarium—een van die bestes wat nog gevind is—was die naam Jehosef bar Kajafa (Josef, die seun van Kajafas) uitgekerf.
Daar is bewyse wat daarop dui dat dit die graf kan wees van die hoëpriester wat toesig gehou het oor die belangrikste verhoor van alle tye—dié van Jesus Christus. Die Joodse geskiedkundige Josefus identifiseer hierdie hoëpriester as “Josef, wat Kajafas genoem is”. In die Skrif word hy eenvoudig Kajafas genoem. Waarom sou ons in hom belangstel? Wat het hom gemotiveer om Jesus te veroordeel?
Familie en agtergrond
Kajafas was getroud met die dogter van Annas, ’n ander hoëpriester (Johannes 18:13). Hierdie huwelik is waarskynlik jare voor die troue gereël, aangesien albei families sou wou verseker dat hulle ’n voordelige bondgenootskap aangaan. Hulle het dus die geslagsregisters noukeurig nagegaan om die suiwerheid van hulle priesterlike geslagslyne te waarborg. Albei families was blykbaar ryk en van die adelstand, en hulle het heel moontlik hulle rykdom van groot eiendomme in die gebied van Jerusalem verkry. Annas wou ongetwyfeld seker maak dat sy toekomstige skoonseun ’n betroubare politieke bondgenoot sou wees. Dit wil voorkom asof Annas sowel as Kajafas aan die invloedryke sekte van die Sadduseërs behoort het.—Handelinge 5:17.
As ’n lid van ’n vername priesterlike familie sou Kajafas ’n opvoeding ontvang het in die Hebreeuse Geskrifte, asook die uitlegging daarvan. Sy tempeldiens sou op 20-jarige ouderdom begin het, maar die ouderdom waarop hy hoëpriester geword het, is onbekend.
Hoëpriesters en hoofpriesters
Die hoëpriesterskap was aanvanklik ’n oorgeërfde en lewenslange aanstelling. Maar in die tweede eeu v.G.J. het die Hasmoneërs die hoëpriesterskap wederregtelik oorgeneem.a Herodes die Grote het hoëpriesters aangestel en van hulle amp onthef, wat dit duidelik gemaak het dat hy die ware mag agter hierdie amp was. Die Romeinse goewerneurs het ’n soortgelyke gebruik gevolg.
Hierdie verwikkelinge het gelei tot die ontstaan van ’n groep waarna die Skrif verwys as “hoofpriesters” (Matteus 26:3, 4). Behalwe Kajafas, het hierdie groep voormalige hoëpriesters ingesluit, soos Annas, wat van sy amp onthef is, maar nog steeds sy titel behou het. Die groep het ook die naaste familie van huidige en voormalige hoëpriesters ingesluit.
Die Romeine het die daaglikse bestuur van Judea aan die Joodse adelstand, met inbegrip van die hoofpriesters, oorgelaat. Dit het Rome die geleentheid gebied om die provinsie te beheer en belastingopbrengste daaruit te kry sonder om baie soldate daarheen te stuur. Rome het verwag dat die Joodse hiërargie die orde moes handhaaf en Romeinse belange moes verdedig. Romeinse goewerneurs het min geneentheid gehad vir Joodse leiers, wat op hulle beurt Romeinse oorheersing gehaat het. Maar dit was in die belang van albei partye om saam te werk sodat hulle ’n stabiele regering kon hê.
Teen Kajafas se tyd was die hoëpriester die Joodse politieke leier. Annas is in 6 of 7 G.J. tot hierdie amp benoem deur Quirinius, die Romeinse goewerneur van Sirië. Rabbynse tradisie toon dat gierigheid, nepotisme, onderdrukking en geweld kenmerkend was van die vooraanstaande Joodse adellike families. Een skrywer reken dat Annas as hoëpriester dit so sou bewerk het dat sy skoonseun “gou in die tempelhiërargie bevorder is; hoe hoër Kajafas se rang was, hoe nuttiger sou hy immers vir Annas wees”.
Valerius Gratus, goewerneur van Judea, het Annas omstreeks 15 G.J. van sy amp onthef. Drie ander, waaronder een van Annas se seuns, het die amp van hoëpriester kort op mekaar beklee. Kajafas het in ongeveer 18 G.J. hoëpriester geword. Pontius Pilatus, wat in 26 G.J. as goewerneur van Judea aangestel is, het Kajafas in sy amp behou gedurende Pilatus se tien jaar van goewerneurskap. Kajafas se ampstermyn het die tyd van Jesus se bediening ingesluit sowel as die vroeë dae van sy dissipels se predikingswerk. Maar Kajafas was vyandiggesind teenoor die Christelike boodskap.
Vrees vir Jesus, vrees vir Rome
Kajafas het Jesus as ’n gevaarlike opsweper beskou. Jesus het die hiërargie se uitlegging van die Sabbatswette betwis en het die handelaars en geldwisselaars uit die tempel uitgedryf, met die woorde dat hulle dit “’n rowerspelonk” gemaak het (Lukas 19:45, 46). Party geskiedkundiges glo dat daardie tempelmarkte deur die huis van Annas besit is—moontlik nog ’n rede waarom Kajafas Jesus probeer stilmaak het. Toe die hoofpriesters beamptes gestuur het om Jesus in hegtenis te neem, was hulle so verstom deur sy woorde dat hulle met leë hande teruggekeer het.—Johannes 2:13-17; 5:1-16; 7:14-49.
Dink aan wat gebeur het toe die Joodse hiërargie gehoor het dat Jesus vir Lasarus opgewek het. Johannes se Evangelie sê: “Die hoofpriesters en die Fariseërs het die Sanhedrin bymekaargeroep en begin sê: ‘Wat moet ons doen, want hierdie man doen baie tekens? As ons hom so laat begaan, sal hulle almal geloof in hom stel, en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem’” (Johannes 11:47, 48). Die Sanhedrin het Jesus beskou as ’n bedreiging vir die gesag van die godsdienstige hiërargie en vir die openbare orde, iets waarvoor Pilatus hulle aanspreeklik gehou het. Enige volksbeweging wat die Romeine as opruiend kon beskou, kon daartoe lei dat hulle in Joodse sake inmeng—iets wat die Sanhedrin ten alle koste wou vermy.
Hoewel Kajafas nie kon ontken dat Jesus kragtige werke verrig het nie, het hy nie geloof in Jesus beoefen nie, maar het hy eerder sy eie aansien en gesag probeer behou. Hoe kon hy erken dat Lasarus opgewek is? As ’n Sadduseër het Kajafas nie in die opstanding geglo nie!—Handelinge 23:8.
Kajafas se goddeloosheid het aan die lig gekom toe hy vir medeheersers gesê het: “Julle dink nie daaraan dat dit tot julle voordeel is dat een mens vir die volk sterf en nie die hele nasie vernietig word nie.” Die verslag gaan voort: “Dit het hy egter nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus bestem was om vir die nasie te sterf, en nie net vir die nasie nie, maar sodat hy ook die kinders van God wat verstrooi is, tot een bymekaar sou bring. Daarom het hulle van daardie dag af beraadslaag om [Jesus] dood te maak.”—Johannes 11:49-53.
Kajafas was onbewus van hoe veelseggend sy woorde eintlik was. Op grond van sy amp as hoëpriester, het hy inderdaad geprofeteer.b Jesus se dood sou van nut wees—maar nie net vir die Jode nie. Deur middel van sy losprysoffer sou die hele mensdom van slawerny aan sonde en die dood bevry word.
’n Moorddadige sameswering
Joodse hoofpriesters en ouer manne het by Kajafas se huis vergader om te bespreek hoe om Jesus gevange te neem en dood te maak. Die hoëpriester het waarskynlik ’n rol daarin gespeel om met Judas Iskariot te onderhandel oor die prys waarvoor hy Jesus sou verraai (Matteus 26:3, 4, 14, 15). Een moord was egter nie genoeg om Kajafas se bose doelwitte te bereik nie. “Die hoofpriesters het toe beraadslaag om ook Lasarus dood te maak, want weens hom het baie van die Jode . . . geloof in Jesus gestel.”—Johannes 12:10, 11.
Malgus, een van Kajafas se slawe, was in die groep wat gestuur is om Jesus in hegtenis te neem. Die gevangene is eers na Annas gelei vir ondervraging en toe na Kajafas, wat reeds die Joodse ouer manne byeengeroep het vir ’n onwettige nagverhoor.—Matteus 26:57; Johannes 18:10, 13, 19-24.
Kajafas het hom nie daardeur laat stuit toe valse getuies se verklarings teen Jesus nie ooreengekom het nie. Die hoëpriester het geweet wat sy medesamesweerders van enige selfverklaarde Messias gedink het. Daarom het hy daarop aangedring om te weet of Jesus beweer dat daardie titel hom toekom. Jesus het geantwoord deur te sê dat sy beskuldigers hom “aan die regterhand van krag [sou] sien sit en op die wolke van die hemel [sou] sien kom”. In ’n vertoon van vroomheid “het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: ‘Hy het gelaster! Waarvoor het ons nog getuies nodig?’” Die Sanhedrin het eenparig besluit dat Jesus die dood verdien.—Matteus 26:64-66.
Teregstellings moes deur die Romeine goedgekeur word. As bemiddelaar tussen hulle en die Jode, was Kajafas waarskynlik die een wat die saak aan Pilatus voorgelê het. Toe Pilatus Jesus probeer vrylaat het, was Kajafas heel moontlik onder die hoofpriesters wat geskreeu het: “Hang hom aan die paal! Hang hom aan die paal!” (Johannes 19:4-6). Kajafas het waarskynlik die skare aangehits om aan te dring op die vrylating van ’n moordenaar in plaas van Jesus, en hy was ook onder die hoofpriesters wat skynheilig verklaar het: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”—Johannes 19:15; Markus 15:7-11.
Kajafas het bewyse van Jesus se opstanding verwerp. Hy het Petrus en Johannes en later ook Stefanus teëgestaan. Kajafas het Saulus ook gemagtig om enige Christen wat hy in Damaskus vind, in hegtenis te neem (Matteus 28:11-13; Handelinge 4:1-17; 6:8–7:60; 9:1, 2). Maar in ongeveer 36 G.J. is Kajafas deur Vitellius, die Romeinse gesant van Sirië, van sy amp onthef.
Joodse geskrifte stel Kajafas se familie in ’n ongunstige lig. Die Babiloniese Talmoed sê byvoorbeeld: “Wee my weens die huis van Hanin [Annas], wee my weens hulle fluisteringe”, oftewel “lasteringe”. Hierdie klagte verwys vermoedelik na “geheime vergaderinge om onderdrukkende planne te beraam”.
’n Les wat ons by Kajafas kan leer
Een geleerde het die hoëpriesters beskryf as manne wat “taai, uitgeslape en bedrewe—en heel waarskynlik hoogmoedig” was. Hoogmoed het Kajafas daarvan weerhou om die Messias te aanvaar. Daarom moet dit ons nie ontstel wanneer mense vandag die Bybel se boodskap verwerp nie. Party stel nie genoeg belang in Bybelwaarhede om gekoesterde opvattings te laat vaar nie. Ander voel dalk dat dit benede hulle waardigheid is om nederige verkondigers van die goeie nuus te word. En Christelike standaarde stoot diegene af wat oneerlik of gierig is.
As hoëpriester kon Kajafas mede-Jode gehelp het om die Messias te aanvaar, maar sy magsug het gemaak dat hy Jesus veroordeel het. Daardie teenstand het waarskynlik voortgeduur totdat Kajafas in sy graf gelê is. Die verslag van sy handelinge toon dat ons nie net ons beendere agtergelaat wanneer ons sterf nie. Deur ons dade bou ons ’n blywende reputasie by God op—hetsy goed of sleg.
[Voetnote]
a Vir ’n bespreking van die geskiedenis van die Hasmoneërs, sien asseblief Die Wagtoring van 15 Junie 2001, bladsye 27-30.
b Jehovah het die goddelose Bileam vroeër gebruik om ware profesieë aangaande die Israeliete te uiter.—Numeri 23:1–24:24.
[Prent op bladsy 10]
Josef, die seun van Kajafas
[Prent op bladsy 10]
Die ossuarium wat onlangs ontdek is
[Foto-erkennings op bladsy 10]
Ossuarium, inskripsie en grot in die agtergrond: Courtesy of Israel Antiquities Authority