Die sagmoediges sal die aarde beërwe
“Ek dink dat die natuur omskep en herstel sal word. . . . Nie môreoggend nie, maar in ’n era wat ver in die toekoms lê, wanneer daar ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde sal wees.”—Jean-Marie Pelt, Franse omgewingskundige.
BAIE mense wat besorg is oor die omgewings- en maatskaplike toestande op aarde, sal bitter graag wil sien dat ons planeet in ’n paradys omskep word. Hierdie begeerte is egter nie net ’n droom van die 21ste eeu nie. Die Bybel het lank gelede belowe dat die Paradys op aarde herstel sal word. Jesus se verklarings “die sagmoediges . . . sal die aarde beërwe” en “laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”, is van die bekendste Skrifgedeeltes (Matteus 5:5; 6:10, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Maar vandag glo min mense dat die sagmoediges ’n aardse paradys sal bewoon. Vir die meeste wat beweer dat hulle Christene is, is die Paradys verlore.
Die Franse weekblad La Vie verduidelik waarom daar, ten minste in die Katolieke Kerk, nie meer geloof in ’n paradys—hetsy op aarde of in die hemel—bestaan nie: “Nadat [die idee van ’n] paradys die Katolieke pastorale leer ten minste 19 eeue lank oorheers het, het dit verdwyn uit tye vir geestelike afsondering, Sondagpreke, teologiese kursusse en katkisasieklasse.” Die woord self is glo in ’n “digte mis” van “verborgenheid en verwarring” gehul. Sommige leraars vermy dit doelbewus omdat dit “te veel beelde van aardse geluk oordra”.
Vir Frédéric Lenoir, ’n sosioloog wat godsdiens bestudeer, het idees van ’n paradys “stereotipe beelde” geword. Jean Delumeau, geskiedkundige en skrywer van talle boeke oor die onderwerp, dink ook dat die vervulling van Bybelbeloftes hoofsaaklik simbolies is. Hy skryf: “Op die vraag: ‘Wat is oor van die Paradys?’ antwoord die Christelike godsdiens steeds: Danksy die opstanding van die Redder, sal ons almal eendag hande vat en sal ons oë geluk aanskou.”
Is die boodskap van ’n aardse paradys nog van belang? Presies wat hou die toekoms vir ons planeet in? Is die toekomsbeeld vaag, of kan dit in fokus gebring word? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
VOORBLAD: Emma Lee/Life File/Getty Images