Vrae van lesers
Het die slang wat met Eva gepraat het, bene gehad?
In Genesis 3:14 het Jehovah God die slang aangespreek wat Eva in die tuin van Eden bedrieg het. God het gesê: “Omdat jy hierdie ding gedoen het, is jy die vervloekte onder al die mak diere en onder al die wilde diere van die veld. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet al die dae van jou lewe.” Die Bybel sê nie spesifiek dat die dier wat gebruik is om Eva te versoek, voorheen bene gehad het maar dit toe verloor het nie. Hoewel die bewoording van Genesis 3:14 sommige mense so kan laat dink, moet ons nie noodwendig tot die slotsom kom dat slange voor hierdie vloek bene gehad het nie. Waarom nie?
Hoofsaaklik omdat Satan—die onsigbare gees wat daardie eenvoudige dier misbruik het—die eintlike voorwerp van Jehovah se oordeel was. Die Bybel beskryf Satan as “die vader van die leuen” en “die oorspronklike slang”. Albei hierdie uitdrukkings verwys klaarblyklik na die feit dat Satan ’n sigbare dier, ’n slang, as sy mondstuk gebruik het om Eva oor te haal om God se bevel te verontagsaam.—Johannes 8:44; Openbaring 20:2.
God het slange geskep, en Adam het klaarblyklik voor Satan se bedrieglike daad aan slange hulle naam gegee. Die redelose slang wat met Eva gepraat het, was nie te blameer nie. Hy was nie daarvan bewus dat Satan hom gebruik nie, en hy kon nie die oordeel verstaan wat God oor die ongehoorsame partye uitgespreek het nie.
Waarom het God dan van die slang se fisiese verlaging gepraat? Die gedrag van ’n slang in sy natuurlike omgewing, naamlik dat hy op sy buik seil en sy tong flits asof hy die stof wil oplek, het gepas Satan se verlaagde toestand gesimboliseer. Hoewel hy voorheen ’n verhewe posisie as een van God se engele geniet het, is hy verneder tot die lae toestand wat in die Bybel Tartarus genoem word.—2 Petrus 2:4.
En soos ’n letterlike slang ’n man aan die hakskeen kan byt, sou Satan in sy verlaagde toestand die “saad” van God “in die hakskeen wond” (Genesis 3:15). Die primêre deel van hierdie saad was Jesus Christus, wat tydelik gely het deur die toedoen van Satan se agente. Maar die kop van die simboliese slang sal uiteindelik permanent verbrysel word deur Christus en sy verrese gesalfde Christenmetgeselle (Romeine 16:20). Die feit dat God sy vloek tot die sigbare slang gerig het, was dus ’n gepaste afbeelding van die verlaging en uiteindelike vernietiging van die onsigbare “oorspronklike slang”, Satan die Duiwel.