Slagoffers van geweld behaal ’n oorwinning
OP 3 Mei 2007 het die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg, Frankryk, ’n eenparige beslissing ten gunste van Jehovah se Getuies in die Republiek van Georgië gelewer. Die Hof het bevind dat die Getuies daar aan onmenslike behandeling onderwerp is en dat hulle reg tot godsdiensvryheid geskend is. Die Hof het ook die voormalige regering van Georgië bestraf omdat dit nie die persone vervolg het wat hierdie misdaad gepleeg het nie. Wat het tot hierdie beslissing aanleiding gegee?
Op 17 Oktober 1999 het 120 lede van die Gldani-gemeente van Jehovah se Getuies in Tbilisi, die hoofstad, vreedsaam vir aanbidding vergader. Skielik het ’n oproerige skare wat gelei is deur Wasili Mkalawisjwili, ’n Ortodokse priester wat vroeër van sy amp onthef is, die vergaderplek binnegestorm. Die skare, wat gewapen was met houtknuppels en ysterkruise, het dié wat daar teenwoordig was, aangerand en ’n hele paar van hulle baie ernstig beseer. Een vrou is so erg geslaan dat haar oog permanent beskadig is. Ten minste 16 persone moes mediese behandeling ontvang. Toe van die Getuies by die polisiestasie hulp gaan soek het, het die polisiehoof vir hulle gesê dat hy hulle selfs erger sou behandel het! Die aanval is deur ’n lid van die oproerige skare verfilm en is later deur nasionale televisiestasies uitgesaai, en daar kon duidelik gesien word wie die aanvallers was.a
Die Getuies wat aangerand is, het kriminele aanklagte ingedien, maar daar is glad nie teen die aanvallers opgetree nie. ’n Polisiespeurder wat die saak moes ondersoek, het gesê dat hy aan die Ortodokse Kerk behoort en nie onpartydig in die saak kan wees nie. Die feit dat die burgerlike owerheid niks daaromtrent gedoen het nie, het die godsdiensekstremiste in hulle kwaad gesterk sodat hulle meer as honderd soortgelyke aanvalle gedoen het.
Op 29 Junie 2001 het Jehovah se Getuies dus ’n aansoek by die Europese Hof van Menseregte ingedien.b Die Hof het die finale uitspraak op 3 Mei 2007 gelewer, waarin dit die aanval duidelik beskryf het en die Staatsowerheid se versuim om in te gryp, veroordeel het. Die Hof het gesê: “Die owerheid . . . het ’n verpligting gehad om onmiddellik op te tree om die inligting [omtrent die aanval] te bevestig.” “Die feit dat die owerheid sulke dade duld”, het die beslissing gelui, “ondermyn beslis openbare vertroue in die beginsel van geregtigheid en in die Staat se handhawing van regsorde.”
Die Hof het afgesluit: “Aangesien die aanval op die aansoekers op 17 Oktober 1999 die eerste daad van grootskaalse aggressie teen Jehovah se Getuies was, het die owerheid se versuim daartoe gelei dat dieselfde groep aanvallers godsdiensgeweld dwarsdeur Georgië gepleeg het.”
Die slagoffers van die gewelddadige aanval het dus ’n oorwinning behaal, en die regering van Georgië is gelas om aan lede van die Gldani-gemeente skadevergoeding en die regskoste te betaal. Terwyl Jehovah se Getuies in Georgië bly is dat die geweld en wreedheid grootliks afgeneem het, is hulle verheug dat die Hof se beslissing hulle reg om vreedsaam vir aanbidding te vergader, bevestig het. Hulle is werklik dankbaar hiervoor teenoor hulle hemelse Vader, Jehovah God, van wie se leiding en beskerming hulle deurgaans bewus was.—Psalm 23:4.
[Voetnote]
a Vir besonderhede, sien die Ontwaak! van 22 Januarie 2002, bladsye 18-24, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Die Europese Hof van Menseregte is ’n instelling verbonde aan die Europese Raad en lewer uitspraak oor beweerde skendings van die Europese Konvensie vir die Beskerming van Menseregte en Basiese Vryhede. Georgië het die konvensie op 20 Mei 1999 onderteken en hom dus verbind om die artikels daarvan te handhaaf.