Wees toegewend, wees gebalanseerd
“Hou aan om hulle daaraan te herinner . . . om toegewend te wees.”—TIT. 3:1, 2, vtn. in NW.
1, 2. Wat sê die Skrif oor toegewendheid, en waarom is dit gepas?
JEHOVAH, ons liefdevolle hemelse Vader, is oneindig wys. As sy skepsele vertrou ons op hom vir leiding in ons lewe (Ps. 48:14). Die Christendissipel Jakobus sê vir ons: “Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik [“toegewend”, vtn. in NW], bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie.”—Jak. 3:17.
2 “Laat julle redelikheid [“toegewend(heid)”, Kingdom Interlinear] aan alle mense bekend word”, vermaan die apostel Paulus (Fil. 4:5).a Christus Jesus is Here en Hoof van die Christengemeente (Ef. 5:23). Hoe belangrik is dit tog dat elkeen van ons redelikheid aan die dag lê deur ons aan Christus se leiding te onderwerp en toegewend te wees in ons handelinge met ander mense!
3, 4. (a) Lig toe watter voordele dit meebring wanneer ons toegee. (b) Wat gaan ons bespreek?
3 Wanneer ons geneig is om op ’n gebalanseerde wyse toegewend te wees, bring dit voordele mee. Ter toeligting: Nadat ’n vermeende terroristesameswering in Brittanje aan die lig gekom het, was die meeste vliegtuigpassasiers blykbaar bereid om voorskrifte te volg om sekere items wat hulle voorheen by hulle kon hou, nie aan boord te neem nie. Wanneer ons ’n motor bestuur, besef ons dat ons vir ander bestuurders moet toegee, soos by ’n verkeersirkel, sodat niemand seerkry nie en die verkeer glad vloei.
4 Dit is vir baie van ons nie maklik om toegewend te wees nie. Om ons te help, kan ons drie aspekte van toegewendheid bespreek, naamlik ons beweegrede, ons gesindheid teenoor gesag en die mate waarin ons moet toegee.
Waarom moet ons toegewend wees?
5. Wat kon ’n slaaf onder die Mosaïese Wet beweeg om te besluit om by sy heer te bly?
5 ’n Voorbeeld uit voor-Christelike tye vestig die aandag op die regte beweegrede vir toegewendheid. Onder die Mosaïese Wet moes Hebreërs wat slawe geword het, vrygelaat word in die sewende jaar van hulle knegskap of in die Jubeljaar, wat ook al eerste gekom het. Maar ’n slaaf kon besluit om ’n slaaf te bly. (Lees Eksodus 21:5, 6.) Wat het ’n slaaf beweeg om dit te doen? Liefde het die slaaf beweeg om in daardie situasie te bly, onder die gesag van sy bedagsame heer.
6. Hoe help liefde ons om toegewend te wees?
6 So ook beweeg ons liefde vir Jehovah ons om ons lewe aan hom toe te wy en dan ons toewyding na te leef (Rom. 14:7, 8). “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie”, het die apostel Johannes geskryf (1 Joh. 5:3). Hierdie liefde soek nie sy eie belang nie (1 Kor. 13:4, 5). In ons handelinge met ander mense spoor liefde vir ons naaste ons aan om toegewend te wees en hulle eerste te stel. Ons laat nie toe dat selfsug ons oorheers nie, maar neem eerder die belange van ander in ag.—Fil. 2:2, 3.
7. Watter rol speel toegewendheid in ons bediening?
7 Ons moenie ander deur ons woorde of ons dade laat struikel nie (Ef. 4:29). Ja, liefde sal ons aanspoor om niks te doen wat kan verhinder dat mense van verskillende agtergronde en kulture vooruitgang maak en Jehovah dien nie. Dit vereis dikwels dat ons toegewend moet wees. Sendelingsusters wat gewoond is om grimering of sykouse te dra, dring byvoorbeeld nie daarop aan om dit te doen op plekke waar hulle sedes as gevolg daarvan in twyfel getrek kan word en hulle ander kan laat struikel nie.—1 Kor. 10:31-33.
8. Hoe kan liefde vir God ons help om ons as ‘minderes’ te gedra?
8 Ons liefde vir Jehovah help ons om trots te oorkom. Nadat die dissipels gestry het oor wie die grootste is, het Jesus ’n jong kind tussen hulle laat staan. Hy het verduidelik: “Elkeen wat hierdie jong kind op grond van my naam ontvang, ontvang my ook, en elkeen wat my ontvang, ontvang ook hom wat my uitgestuur het. Want wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, dié is groot” (Luk. 9:48; Mark. 9:36). Dit is dalk vir ons as individue baie moeilik om ons as “’n mindere” te gedra. Oorgeërfde onvolmaaktheid en ’n neiging om trots te wees, beweeg ons miskien om aansien te soek, maar nederigheid sal ons help om toegewend te wees.—Rom. 12:10.
9. Wat moet ons in ag neem as ons toegewend wil wees?
9 As ons toegewend wil wees, moet ons goddelik ingestelde gesag in ag neem. Alle ware Christene erken die belangrike beginsel van hoofskap. Die apostel Paulus het dit duidelik vir die Korintiërs uiteengesit: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus.”—1 Kor. 11:3.
10. Wat toon dit as ons ons aan Jehovah se gesag onderwerp?
10 As ons ons aan God se gesag onderwerp, toon dit dat ons geloof en vertroue in hom stel as ons liefdevolle Vader. Hy is bewus van alles wat gebeur en kan ons dienooreenkomstig beloon. Dit is nuttig om dit in gedagte te hou wanneer ander ons nie met respek behandel nie of wanneer hulle kwaad word en hulle humeur verloor. Paulus het geskryf: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.” Paulus het die aandag op ’n verdere aspek van hierdie raad gevestig met die aansporing: “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’”—Rom. 12:18, 19.
11. Hoe kan ons toon dat ons ons aan Christus se hoofskap onderwerp?
11 Ons moet ons ook in die Christengemeente aan goddelik ingestelde gesag onderwerp. Openbaring hoofstuk 1 beeld Christus Jesus uit met die “sterre” van die gemeente in sy regterhand (Op. 1:16, 20). In algemene sin verteenwoordig hierdie “sterre” die liggame van ouer manne, of opsieners, in die gemeentes. Hierdie aangestelde opsieners onderwerp hulle aan Christus se leierskap en volg die sagmoedige manier na waarop hy ander behandel. Almal in die gemeente onderwerp hulle aan die reëling wat Jesus ingestel het dat “die getroue en verstandige slaaf” geestelike voedsel op die regte tyd voorsien (Matt. 24:45-47). Vandag toon ons gewilligheid om hierdie materiaal te bestudeer en toe te pas dat ons ons persoonlik aan Christus se hoofskap onderwerp, waardeur ons vrede en eenheid bevorder.—Rom. 14:13, 19.
Gee toe—In watter mate?
12. Waarom het toegewendheid perke?
12 Toegewendheid beteken egter nie dat ons ons geloof of ons godvrugtige beginsels prysgee nie. Watter standpunt het die vroeë Christene ingeneem toe die godsdiensleiers beveel het dat hulle moet ophou om in Jesus se naam te leer? Petrus en die ander apostels het moedig gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Hand. 4:18-20; 5:28, 29). Wanneer regeringsowerhede ons vandag probeer dwing om op te hou om die goeie nuus te verkondig, hou ons ook nie op nie, hoewel ons dalk ons metodes aanpas sodat ons die situasie taktvol die hoof kan bied. As daar beperkings op die huis-tot-huis-bediening is, kan ons na ander maniere soek om met huisbewoners in aanraking te kom en ons godgegewe opdrag uit te voer. Wanneer “die hoër owerhede” ons vergaderinge verbied, kom ons eweneens op onopsigtelike wyse in klein groepies bymekaar.—Rom. 13:1; Heb. 10:24, 25.
13. Wat het Jesus gesê oor toegewendheid teenoor mense in gesagsposisies?
13 Jesus het in sy Bergpredikasie gemeld dat dit belangrik is om ons aan gesag te onderwerp: “As iemand met jou hof toe wil gaan en jou onderkleed in besit wil kry, laat hom ook jou bokleed kry; en as iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom” (Matt. 5:40, 41).b Bedagsaamheid teenoor ander en ’n begeerte om hulle te help, beweeg ons ook om as ’t ware die tweede myl te loop.—1 Kor. 13:5; Tit. 3:1, 2.
14. Waarom moet ons nooit aan afvalligheid toegee nie?
14 Maar ons begeerte om toegewend te wees, moet nooit daartoe lei dat ons ’n vergelyk tref met afvalliges nie. Ons moet ’n duidelike en sterk standpunt hieroor inneem om die reinheid van die waarheid en die eenheid van die gemeente te bewaar. Paulus het aangaande “valse broers” geskryf: “Aan hulle het ons nie in onderdanigheid toegegee nie, nee, nie eens ’n uur nie, sodat die waarheid van die goeie nuus by julle sou bly” (Gal. 2:4, 5). In die seldsame geval waar afvalligheid wel kop uitsteek, sal toegewyde Christene vasstaan vir wat reg is.
Opsieners moet toegewend wees
15. Hoe kan Christen- ouer manne toegewend wees wanneer hulle vergader?
15 Een van die vereistes vir diegene wat aangestel word om as opsieners te dien, behels toegewendheid. Paulus het geskryf: “Die opsiener moet dan . . . redelik [“toegewend”, vtn. in NW]” wees (1 Tim. 3:2, 3). Dit is veral noodsaaklik wanneer aangestelde manne vergader om gemeentelike sake te bespreek. Voordat ’n besluit geneem word, kan elkeen wat teenwoordig is, sy gedagtes duidelik uitspreek, maar elke ouer man hoef nie noodwendig iets te sê nie. Tydens ’n bespreking kan iemand se mening verander wanneer ander die aandag vestig op Bybelbeginsels wat van toepassing is. ’n Volwasse ouer man sal nie daarteen skop en aan sy beskouing vasklou nie, maar hy sal eerder toegewend wees. Aanvanklik was daar moontlik uiteenlopende menings, maar wanneer daar biddend oor die saak nagedink word, bevorder dit eenheid onder beskeie en toegewende ouer manne.—1 Kor. 1:10; lees Efesiërs 4:1-3.
16. Watter gees moet ’n Christenopsiener aan die dag lê?
16 ’n Christen- ouer man moet daarna streef om teokratiese orde in al sy bedrywighede te ondersteun. Hy behoort hierdie gees ook aan die dag te lê wanneer hy as herder oor die kudde toesig hou, en dit sal hom help om bedagsaam en sagmoedig teenoor ander te wees. “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is”, het Petrus geskryf, “nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig.”—1 Pet. 5:2.
17. Hoe kan almal in die gemeente ’n toegewende gesindheid aan die dag lê in hulle handelinge met ander?
17 Bejaarde gemeentelede waardeer die nuttige hulp van die jongeres en behandel hulle met waardigheid. En jongmense betoon eerbied aan bejaardes wat jare se ondervinding in Jehovah se diens het (1 Tim. 5:1, 2). Christen- ouer manne soek bekwame manne aan wie hulle sekere verantwoordelikhede kan delegeer en lei hulle op om na God se kudde te help omsien (2 Tim. 2:1, 2). Elke Christen behoort Paulus se geïnspireerde raad ter harte te neem: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig [“gee toe onder”, vtn. in NW], want hulle waak oor julle siel as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees.”—Heb. 13:17.
Wees toegewend as gesinslede
18. Waarom is ’n toegewende gesindheid gepas in die gesin?
18 ’n Toegewende gesindheid is ook in die gesinsreëling belangrik. (Lees Kolossense 3:18-21.) Die Bybel beskryf wat die onderskeie rolle van elkeen in ’n Christengesin is. Die vader is die hoof van sy vrou sowel as die een wat die vernaamste verantwoordelikheid het om leiding aan die kinders te gee. Die vrou moet haar man se gesag erken, en die kinders moet daarna streef om gehoorsaam te wees, ’n weg wat vir die Here welbehaaglik is. Elke gesinslid kan tot die eenheid en vrede van die huisgesin bydra deur op ’n gepaste en gebalanseerde manier toegewend te wees. Daar is voorbeelde in die Bybel wat help om die punt toe te lig.
19, 20. (a) Vergelyk die voorbeeld van Eli en van Jehovah wat toegewendheid betref. (b) Watter lesse kan ouers uit hierdie voorbeelde leer?
19 Toe Samuel nog maar ’n seun was, het Eli as hoëpriester in Israel gedien. Maar Eli se seuns, Hofni en Pinehas, was “deugniete” wat “Jehovah nie erken” het nie. Eli het slegte berigte oor hulle gehoor, onder andere dat hulle hoerery gepleeg het met die vroue wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het. Hoe het hy gereageer? Eli het vir hulle gesê dat daar niemand is om vir hulle te bid as hulle teen Jehovah gesondig het nie. Maar hy het hulle nie tereggewys en gedissiplineer nie. Gevolglik het Eli se seuns aangehou om hulle slegte weg te volg. Uiteindelik het Jehovah tereg beslis dat hulle die doodstraf verdien. Toe die nuus oor hulle dood Eli bereik, het hy ook gesterf. Hoe hartseer tog! Dit is duidelik dat dit nie reg van Eli was om op so ’n ongepaste wyse toe te gee aan hulle goddelose dade deur toe te laat dat hulle daarmee aanhou nie.—1 Sam. 2:12-17, 22-25, 34, 35; 4:17, 18.
20 In teenstelling hiermee kan ons kyk na God se handelinge met sy engeleseuns. Die profeet Migaja het ’n merkwaardige visioen gehad van ’n vergadering van Jehovah en Sy engele. Jehovah het gevra watter engel koning Agab van Israel kon mislei om die ondergang van die goddelose koning teweeg te bring. Jehovah het na die voorstelle van verskillende geesseuns geluister. Toe het een engel gesê dat hy dit sal doen. Jehovah het hom gevra hoe. Jehovah was tevrede met die voorstel en het die engel opdrag gegee om die taak uit te voer (1 Kon. 22:19-23). Kan gesinslede op die aarde lesse oor toegewendheid uit hierdie verslag leer? Dit sal goed wees as ’n Christenman en -vader die idees en voorstelle van sy vrou en kinders in ag neem. Aan die ander kant moet vrouens en kinders besef dat hulle, as hulle hulle mening gelug het of gesê het wat hulle verkies, dalk sal moet toegee uit respek vir die leiding van die een wat volgens die Skrif die reg gegee is om die besluit te neem.
21. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
21 Hoe dankbaar is ons tog vir Jehovah se liefdevolle en wyse herinneringe om toegewend te wees! (Ps. 119:99). Ons volgende artikel sal bespreek hoe dit tot huweliksgeluk bydra wanneer egpare op ’n gebalanseerde manier toegewend is.
[Voetnote]
a Die apostel Paulus het ’n woord gebruik wat moeilik is om met ’n enkele Afrikaanse woord weer te gee. ’n Naslaanwerk sê: “Dit behels gewilligheid om ’n mens se persoonlike regte prys te gee en om bedagsaam en sagmoedig teenoor ander te wees.” Die woord beteken dus om toegewend en redelik te wees en nie aan te dring op die toepassing van die letter van die wet of op jou regte nie.
b Sien die artikel “As jy gekommandeer word” in Die Wagtoring van 15 Februarie 2005, bladsye 23-6.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter goeie gevolge kan toegewendheid hê?
• Hoe kan opsieners ’n toegewende gesindheid aan die dag lê?
• Waarom is ’n toegewende gesindheid in die gesinslewe belangrik?
[Prent op bladsy 4]
Ouer manne volg Christus na deur ander met goedhartigheid te behandel
[Prent op bladsy 6]
Wanneer gemeentelike ouer manne vergader, bevorder dit eenheid as hulle biddend oor die saak nadink en toegewend is