Put vreugde uit jou huwelik
“Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word, en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig gevestig word.”—SPR. 24:3.
1. Hoe het God wysheid aan die dag gelê wat die eerste mens betref?
ONS wyse hemelse Vader weet wat goed is vir ons. God het byvoorbeeld besef dat, om Sy voorneme te verwesenlik, dit “nie goed [is] dat die mens alleen bly” in die tuin van Eden nie. ’n Belangrike deel van daardie voorneme was dat egpare kinders moes hê en ‘die aarde moes vul’.—Gen. 1:28; 2:18.
2. Watter reëling het Jehovah tot voordeel van die mensdom ingestel?
2 “Ek gaan vir hom ’n helper maak”, het Jehovah gesê, “as ’n komplement van hom.” God het toe ’n diep slaap op die eerste mens laat val en ’n ribbebeen uit sy volmaakte liggaam geneem en dit tot ’n vrou gebou. Nadat Jehovah hierdie volmaakte vrou, Eva, na Adam toe gebring het, het die man gesê: “Dit is eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal Mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.” Eva was waarlik ’n komplement van Adam. Hulle het elkeen unieke kenmerke en eienskappe gehad, en tog was albei volmaak en na God se beeld geskep. Sodoende het Jehovah die eerste huwelik gereël. Adam en Eva het hierdie goddelike reëling wat wedersydse hulp en ondersteuning sou bied, geredelik aanvaar.—Gen. 1:27; 2:21-23.
3. Hoe beskou baie die gawe van die huwelik, en watter vrae laat dit ontstaan?
3 Ongelukkig heers daar vandag ’n opstandige gees in die wêreld. Die probleme wat dit skep, het nie hulle oorsprong by God nie. Baie mense minag God se gawe van die huwelik en beskou dit as outyds, ’n bron van frustrasie of konflik. Onder baie wat wel trou, is egskeiding iets algemeens. Natuurlike geneentheid word dalk nie aan die kinders betoon nie, en hulle word moontlik as ’n onderhandelingsmiddel in huweliksgeskille gebruik. Baie ouers weier om selfs ter wille van vrede en eenheid toe te gee (2 Tim. 3:3). Hoe kan ’n mens dan in hierdie kritieke tye aanhou om vreugde uit die huwelik te put? Watter rol speel toegewendheid daarin om te keer dat ’n huwelik verbrokkel? Wat kan ons leer uit hedendaagse voorbeelde van diegene wat aanhou om vreugde uit hulle huwelik te put?
Onderwerp jou aan Jehovah se riglyne
4. (a) Watter riglyn het Paulus oor die huwelik gegee? (b) Hoe volg gehoorsame Christene Paulus se riglyn?
4 Die Christenapostel Paulus het aan weduwees die geïnspireerde riglyn gegee dat hulle “net in die Here” moet trou as hulle sou besluit om weer te trou (1 Kor. 7:39). Dit was nie ’n nuwe gedagte vir Christene met ’n Joodse agtergrond nie. God se Wet aan Israel het uitdruklik beveel dat hulle “geen huweliksverbintenis [mag] aangaan” met enigiemand uit die heidense nasies om hulle nie. Jehovah het ’n verduideliking bygevoeg wat die gevaar beklemtoon wat dit inhou om hierdie goddelike standaard te verontagsaam. “Want [’n nie-Israeliet] sal jou seun daarvan afkeer om my te volg, en hulle sal beslis ander gode dien; en Jehovah se toorn sal inderdaad teen julle ontvlam, en hy sal jou beslis gou verdelg” (Deut. 7:3, 4). Watter standpunt verwag Jehovah moet sy hedendaagse knegte in hierdie verband inneem? Dit is duidelik dat ’n kneg van God iemand wat “in die Here” is, ’n toegewyde, gedoopte medeaanbidder, as huweliksmaat moet kies. Dit is verstandig om ons aan Jehovah se riglyn te onderwerp wat hierdie keuse betref.
5. Hoe beskou Jehovah en getroude Christene huweliksgeloftes?
5 Huweliksgeloftes is heilig in God se oë. God se Seun, Jesus, het na die eerste huwelik verwys en gesê: “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:6). Die psalmis herinner ons aan hoe ernstig geloftes is: “Bring danksegging as jou offerande aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste” (Ps. 50:14). Hoewel daar groot vreugde vir ’n egpaar kan voorlê, is die geloftes wat op die troudag afgelê word, ernstig en bring dit verantwoordelikhede mee.—Deut. 23:21.
6. Wat kan ons uit Jefta se voorbeeld leer?
6 Dink byvoorbeeld aan Jefta, wat in die 12de eeu v.G.J. as ’n rigter in Israel gedien het. Hy het hierdie gelofte aan Jehovah gedoen: “As u vir seker die kinders van Ammon in my hand gee, sal die een wat uitkom, wat my uit die deure van my huis tegemoetkom wanneer ek in vrede van die kinders van Ammon af terugkeer, ook aan Jehovah behoort, en ek sal daardie een as ’n brandoffer bring.” Het Jefta na ’n manier gesoek om sy gelofte te verbreek toe hy sien dat dit sy dogter, sy enigste kind, is wat hom tegemoetkom toe hy na sy huis in Mispa terugkeer? Nee. Hy het gesê: “Ek het my mond teenoor Jehovah oopgemaak, en ek kan nie omdraai nie” (Rigt. 11:30, 31, 35). Jefta het sy belofte aan Jehovah nagekom, al het dit beteken dat hy nie ’n nakomeling sou hê wat sy naam sou laat voortbestaan nie. Jefta se gelofte was anders as huweliksgeloftes, maar die feit dat hy dit nagekom het, is ’n goeie voorbeeld vir Christenmans en -vrouens wat hulle geloftes betref.
Wat maak ’n huwelik suksesvol?
7. Watter aanpassings moet pasgetroudes maak?
7 Baie egpare het aangename herinneringe aan hulle hofmakery. Hoe genotvol was dit tog om hulle aanstaande te leer ken! Hoe meer tyd hulle saam deurgebring het, hoe gehegter het hulle geraak. Maar of hulle huwelik op ’n tydperk van hofmakery gevolg het en of dit gereël is, toe hulle uiteindelik man en vrou geword het, was aanpassings noodsaaklik. ’n Man erken: “Die grootste probleem wat ons aan die begin van ons huwelik gehad het, was om te besef dat ons nie meer ongetroud is nie. Dit was vir ons ’n ruk lank moeilik om ons vriendskappe en familiebande op hulle plek te hou.” ’n Ander man, wat al 30 jaar getroud is, het vroeg in sy huwelik besef dat hy twee mense in ag moet neem om gebalanseerd te wees. Voordat hy ’n uitnodiging aanvaar of hom tot iets verbind, raadpleeg hy sy vrou en besluit hy dan terwyl hy hulle albei se belange in gedagte hou. In so ’n situasie help dit om toegewend te wees.—Spr. 13:10.
8, 9. (a) Waarom is goeie kommunikasie belangrik? (b) Op watter gebiede sal buigsaamheid nuttig wees, en waarom?
8 Soms word twee mense met verskillende kulturele agtergronde in die huwelik verbind. Dan is dit veral noodsaaklik om openhartig te kommunikeer. Mense kommunikeer op verskillende maniere. As jy let op hoe jou huweliksmaat met familielede praat, kan dit jou help om hom of haar beter te verstaan. Soms word ’n persoon se innerlike gedagtes nie soseer oorgedra deur wat gesê word nie, maar deur die manier waarop dit gesê word. En baie kan geleer word uit wat nie gesê word nie (Spr. 16:24; Kol. 4:6). Onderskeidingsvermoë is noodsaaklik vir geluk.—Lees Spreuke 24:3.
9 Baie het gevind dat dit belangrik is om buigsaam te wees wat die keuse van stokperdjies en ontspanning betref. Voor julle troue het jou maat dalk tyd aan sport of ander vorme van ontspanning bestee. Sal ’n aanpassing nou gepas wees? (1 Tim. 4:8). Dieselfde kan gevra word oor tyd wat saam met familielede deurgebring word. Dit is verstaanbaar dat ’n egpaar tyd nodig het sodat hulle saam aan geestelike en ander bedrywighede kan deelneem.—Matt. 6:33.
10. Hoe sal toegewendheid bydra tot ’n goeie verhouding tussen ouers en hulle getroude kinders?
10 Wanneer ’n man trou, verlaat hy sy vader en sy moeder, en dieselfde kan van ’n vrou gesê word. (Lees Genesis 2:24.) Maar die goddelike riglyn om jou vader en moeder te eer, is altyd van toepassing. Gevolglik sal ’n paartjie selfs ná hulle troue waarskynlik tyd saam met hulle ouers en skoonouers deurbring. ’n Man wat al 25 jaar getroud is, sê: “Soms is dit moeilik om die onderskeie wense en behoeftes van jou maat in ewewig te hou met dié van jou ouers, broers, susters en skoonfamilie. Genesis 2:24 het my gehelp om te besluit wat die beste is om te doen. ’n Mens moet lojaal wees teenoor ander familielede en jy het verantwoordelikhede teenoor hulle, maar hierdie vers het vir my getoon dat lojaliteit teenoor my huweliksmaat voorkeur moet geniet.” Gevolglik sal Christenouers wat toegewend is, die feit respekteer dat hulle getroude kinders nou in ’n gesinseenheid is waarin die man allereers die verantwoordelikheid het om daardie gesin te lei.
11, 12. Waarom is gesinstudie en gebed vir egpare belangrik?
11 ’n Goeie roetine van gesinstudie is noodsaaklik. Die ondervinding van baie Christengesinne bevestig dit. Dit is dalk nie maklik om so ’n studie aan die gang te kry of daarmee vol te hou nie. ’n Gesinshoof erken: “As ons kon teruggaan en iets kon verander, sou ons seker maak dat ons van die begin van ons huwelik af by ’n goeie roetine van gesinstudie bly.” Hy voeg by: “Dit is so ’n wonderlike gawe om te sien hoe vreugdevol my vrou is wanneer haar hart geraak word deur die een of ander geestelike juweel wat ons saam in ons studie gevind het.”
12 Dit is ook nuttig om saam te bid (Rom. 12:12). Wanneer ’n man en vrou in die aanbidding van Jehovah verenig is, kan hulle hegte verhouding met God hulle huweliksband versterk (Jak. 4:8). ’n Christenman verduidelik: “As ’n mens gou verskoning vra vir foute en die foute meld wanneer julle saam bid, toon dit opregte spyt oor selfs ’n geringe saak wat ontsteltenis veroorsaak.”—Ef. 6:18.
Wees toegewend in die huwelik
13. Watter raad het Paulus oor geslagsgemeenskap in die huwelik gegee?
13 Getroude Christene moet gebruike vermy wat geslagsgemeenskap in die huwelik verlaag, soos dié wat in vandag se seksmal wêreld so algemeen is. Paulus het die volgende raad oor hierdie onderwerp gegee: “Laat die man sy vrou gee wat haar toekom; maar laat die vrou ook dieselfde teenoor haar man doen. Die vrou oefen nie gesag oor haar eie liggaam uit nie, maar wel haar man; net so ook oefen die man nie gesag oor sy eie liggaam uit nie, maar wel sy vrou.” Toe het Paulus hierdie duidelike riglyn gegee: “Moenie mekaar dit ontsê nie, behalwe met wedersydse instemming vir ’n vasgestelde tyd.” Waarom? “Dat julle tyd aan gebed kan wy en weer bymekaar kan kom, sodat Satan julle nie weens julle gebrek aan selfbeheersing bly versoek nie” (1 Kor. 7:3-5). Deur gebed te meld, toon Paulus wat vir ’n Christen die belangrikste is. Maar hy het dit ook duidelik gestel dat elke getroude Christen die fisiese en emosionele behoeftes van sy of haar maat in ag moet neem.
14. Hoe is Bybelbeginsels van toepassing op geslagsgemeenskap in die huwelik?
14 Die man en vrou moet openhartig teenoor mekaar wees en besef dat ’n gebrek aan teerheid wanneer dit by geslagsgemeenskap kom, tot probleme kan lei. (Lees Filippense 2:3, 4; vergelyk Matteus 7:12.) Dit het al in party godsdienstig verdeelde gesinne gebeur. Selfs as daar geskille is, kan die Christen die situasie gewoonlik verbeter deur goeie gedrag, goedhartigheid en samewerking. (Lees 1 Petrus 3:1, 2.) Liefde vir Jehovah en vir jou maat, tesame met ’n toegewende gesindheid, sal in hierdie aspek van die huwelik nuttig wees.
15. Watter rol speel respek in ’n gelukkige huwelik?
15 ’n Goedhartige man sal sy vrou ook in ander opsigte met respek behandel. Hy sal byvoorbeeld selfs in klein dingetjies haar gevoelens in ag neem. ’n Man wat al 47 jaar getroud is, erken: “Ek leer nog steeds in hierdie opsig.” Christenvrouens word vermaan om diep respek vir hulle man te hê (Ef. 5:33). As hulle negatiewe dinge oor hulle man sê en sy tekortkominge voor ander beklemtoon, toon hulle nie juis respek nie. Spreuke 14:1 herinner ons: “Die vrou wat waarlik wys is, het haar huis opgebou, maar die dwase breek dit met haar eie hande af.”
Moenie toegee aan die Duiwel nie
16. Hoe kan egpare Efesiërs 4:26, 27 in hulle huwelik toepas?
16 “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie” (Ef. 4:26, 27). Wanneer ons hierdie woorde toepas, kan dit ons help om onenigheid in die huwelik uit die weg te ruim of te vermy. “Ek kan nie onthou dat ek en my man al ooit ’n meningsverskil gehad het wat ons nie bespreek het nie, al het dit beteken dat ons ure daaraan moes bestee om die saak op te los”, vertel ’n suster. Toe sy en haar man getroud is, het hulle besluit dat hulle voor die einde van die dag hulle geskille uit die weg sou ruim. “Ons het besluit om, ongeag wat die probleem was, te vergewe en te vergeet en elke dag nuut te begin.” Sodoende het hulle geweier om ‘plek toe te laat vir die Duiwel’.
17. Wat kan huweliksmaats help, al lyk dit moontlik of hulle nie bymekaar pas nie?
17 Maar sê nou jy het ’n onverstandige keuse gemaak toe jy getrou het? Miskien is jy nou in ’n verhouding wat moontlik nie so romanties lyk soos dié wat ander geniet nie. As jy egter die Skepper se beskouing van die huweliksband in gedagte hou, sal dit jou help. Paulus het Christene onder inspirasie vermaan: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Heb. 13:4). Moet ook nie die volgende woorde oor die hoof sien nie: “’n Driedubbele tou kan nie gou in twee gebreek word nie” (Pred. 4:12). Wanneer die man sowel as die vrou diep besorg is oor die heiliging van Jehovah se naam, is hulle aan mekaar sowel as aan God verbind. Hulle moet daaraan werk om hulle huwelik suksesvol te maak, met die wete dat dit Jehovah, die Insteller van die huwelik, tot eer sal strek.—1 Pet. 3:11.
18. Waarvan kan jy seker wees wat die huwelik betref?
18 Dit is beslis vir Christene moontlik om vreugde uit die huwelik te put. Dit vereis dat hulle hulle inspan en Christelike eienskappe aan die dag lê, waarvan toegewendheid een is. Vandag is daar in die gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld tallose egpare wat bewys dat dit gedoen kan word.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom is dit nie onrealisties om te dink dat ’n mens vreugde uit die huwelik kan put nie?
• Wat kan help om ’n huwelik suksesvol te maak?
• Watter eienskappe moet huweliksmaats aankweek?
[Prent op bladsy 9]
Dit is verstandig van egpare om te kommunikeer voordat hulle ’n uitnodiging aanvaar of ’n afspraak maak
[Prent op bladsy 10]
Probeer om meningsverskille dieselfde dag uit die weg te ruim en nie ‘plek toe te laat vir die Duiwel’ nie