“Wie is wys en verstandig onder julle?”
“Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie gedrag sy werke toon met ’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort.”—JAK. 3:13.
1, 2. Wat kan gesê word oor baie mense wat as wys beskou word?
WIE beskou jy as waarlik wys? Dalk jou ouers, ’n bejaarde man of moontlik ’n universiteitsprofessor? Jou beskouing van wie wys is, word dalk beïnvloed deur jou agtergrond en omstandighede. Maar God se knegte stel hoofsaaklik belang in sy beskouing.
2 Nie almal wat deur die wêreld as wys beskou word, is waarlik wys in God se oë nie. Job het byvoorbeeld gepraat van manne wat gedink het dat hulle wyse woorde spreek, maar hy het tot die slotsom gekom: “Ek [vind] geen wyse onder julle . . . nie” (Job 17:10). Die apostel Paulus het aangaande party wat die kennis van God verwerp het, geskryf: “Hoewel hulle verklaar het dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Rom. 1:22). En deur die profeet Jesaja het Jehovah self reguit gesê: “Wee dié wat in hulle eie oë wys . . . is.”—Jes. 5:21.
3, 4. Wat is nodig vir iemand om waarlik wys te wees?
3 Dit is duidelik dat ons moet bepaal wat iemand waarlik wys maak sodat hy God se goedkeuring kan verkry. Spreuke 9:10 maak hierdie insiggewende stelling: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid, en die kennis van die Allerheiligste is verstand.” ’n Wyse persoon moet gepaste vrees vir God en respek vir sy standaarde hê. Maar dit vereis meer as om God se bestaan en sy weë net verstandelik te aanvaar. Wat die dissipel Jakobus hieroor sê, is gedagteprikkelend. (Lees Jakobus 3:13.) Let op die uitdrukking: “Laat hom uit sy goeie gedrag sy werke toon.” Ware wysheid moet gesien kan word in wat ’n mens daagliks doen en sê.
4 Ware wysheid behels dat ’n mens goeie oordeel aan die dag lê, kennis met welslae toepas en met insig, oftewel verstand, optree. Watter soort gedrag sal toon dat ons sulke wysheid besit? Jakobus noem ’n paar dinge wat gesien sal word in die gedrag van diegene wat wys is.* Wat het hy gesê wat ons kan help om goeie verhoudings met medegelowiges sowel as met mense buite die gemeente te hê?
Dade toon wie waarlik wys is
5. Hoe sal ’n waarlik wyse persoon optree?
5 Die gedagte dat Jakobus wysheid met goeie gedrag verbind, verdien om herhaal te word. Omdat die vrees vir Jehovah die begin van wysheid is, streef ’n wyse persoon daarna om in ooreenstemming met God se weë en standaarde op te tree. Ons word nie gebore met goddelike wysheid nie. Maar ons kan dit verkry deur gereelde Bybelstudie en bepeinsing. Dit sal ons help om te doen wat Efesiërs 5:1 ons aanspoor: “Word . . . navolgers van God.” Hoe meer ons in ooreenstemming met Jehovah se persoonlikheid optree, hoe meer sal wysheid in ons gedrag geopenbaar word. Jehovah se weë is ver verhewe bo dié van mense (Jes. 55:8, 9). Wanneer ons dus dinge op Jehovah se manier doen, sal buitestanders sien dat ons anders is.
6. Waarom is sagmoedigheid ’n bewys van goddelikheid, en wat behels hierdie eienskap?
6 Om “sagmoedigheid [te hê] wat by wysheid behoort”, is volgens Jakobus een manier waarop ons soos Jehovah kan wees. Hoewel sagmoedigheid behels dat ’n Christen saggeaard moet wees, kan hy terselfdertyd sterk van karakter wees, wat hom help om op ’n gebalanseerde wyse op te tree. Hoewel God onbeperkte krag het, is hy sagmoedig, en ons is nie bang om hom te nader nie. God se Seun het sy Vader se sagmoedigheid so goed weerspieël dat hy kon sê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.”—Matt. 11:28, 29; Fil. 2:5-8.
7. Waarom is Moses vir ons ’n goeie voorbeeld van sagmoedigheid?
7 Die Bybel vertel ons van ander wat besonder sagmoedig was. Moses was een van hulle. Hy het groot verantwoordelikhede gehad, en tog word hy beskryf as “verreweg die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aarde was” (Num. 11:29; 12:3). Dink aan die krag wat Jehovah Moses gegee het om Sy wil uit te voer. Dit het Jehovah behaag om sagmoedige persone te gebruik om sy voorneme te vervul.
8. Hoe kan onvolmaakte mense die “sagmoedigheid wat by wysheid behoort”, aan die dag lê?
8 Dit ís dus vir onvolmaakte mense moontlik om “sagmoedigheid wat by wysheid behoort”, aan die dag te lê. Wat van ons? Hoe kan ons hierdie eienskap in groter mate openbaar? Sagmoedigheid is deel van die vrug van Jehovah se heilige gees (Gal. 5:22, 23). Ons kan bid vir sy gees en ons doelbewus inspan om die vrug daarvan aan die dag te lê, met die vertroue dat God ons sal help om sagmoedigheid in groter mate te openbaar. Ons vind kragtige motivering hiervoor in die psalmis se versekering: “[God] sal die sagmoediges sy weg leer.”—Ps. 25:9.
9, 10. Watter inspanning verg dit om goddelike sagmoedigheid aan die dag te lê, en waarom?
9 Dit kan nietemin groot inspanning verg om op hierdie gebied te verbeter. Weens ons agtergrond is party van ons dalk nie geneig om sagmoedig te wees nie. Daarbenewens bevorder mense om ons moontlik die teenoorgestelde gesindheid deur te sê dat ’n mens “vuur met vuur moet bestry”. Maar is dit waarlik wys? Gestel ’n klein brand breek uit in jou huis. Sal jy olie daarop gooi of koue water? As jy olie op die vuur gooi, sal dit dinge vererger, maar as jy koue water daarop gooi, sal dit heel waarskynlik die gewenste resultaat hê. So ook maan die Bybel ons: “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spr. 15:1, 18). Kan ons, wanneer daar weer irritasies ontstaan, hetsy dit binne of buite die gemeente is, ware wysheid openbaar deur op sagmoedige wyse te reageer?—2 Tim. 2:24.
10 Soos bo getoon is, is baie mense wat deur die gees van die wêreld beïnvloed word, allesbehalwe sagmoedig, vreedsaam en kalm. Ons vind eerder dat baie mense hardvogtig en verwaand is. Jakobus was bewus hiervan, en hy het waarskuwings gegee sodat persone in die gemeente nie deur so ’n gees verderf sou word nie. Wat kan ons nog leer uit die raad wat hy gegee het?
Karaktertrekke van onwyse persone
11. Watter karaktertrekke is in stryd met goddelike wysheid?
11 Jakobus het, sonder om doekies om te draai, geskryf oor karaktertrekke wat lynreg in stryd is met goddelike wysheid. (Lees Jakobus 3:14.) Jaloesie en twisgierigheid is vleeslike eienskappe, nie geestelike eienskappe nie. Kyk wat gebeur wanneer vleeslike denke oorheersend is. Ses “Christelike” groepe beheer dele van die Heilige Grafkerk in Jerusalem, wat na bewering gebou is op die plek waar Jesus doodgemaak en begrawe is. Hulle is in voortdurende konflik met mekaar. In 2006 het die tydskrif Time vertel dat monnike daar eenkeer “ure lank baklei het, . . . en mekaar met reusekandelare bygedam het”. Hulle is so agterdogtig teenoor mekaar dat hulle die sleutel van die kerk aan ’n Moslem toevertrou het.
12. Wat kan gebeur wanneer wysheid ontbreek?
12 Sulke uiters twisgierige gedrag hoort beslis nie in die ware Christengemeente nie. Onvolmaakthede het nietemin al soms veroorsaak dat party hardkoppig vasgehou het aan hulle eie menings. Dit kan tot stryery en onenigheid lei. Die apostel Paulus het dit in die gemeente in Korinte opgemerk, en daarom het hy geskryf: “Is julle nie vleeslik en wandel julle nie soos mense, aangesien daar jaloesie en twis onder julle is nie?” (1 Kor. 3:3). Daardie jammerlike situasie het wel ’n tyd lank in hierdie gemeente in die eerste eeu bestaan. Daarom moet ons vandag op ons hoede wees dat so ’n gees nie ’n gemeente binnedring nie.
13, 14. Gee voorbeelde van hoe ’n vleeslike gees geopenbaar kan word.
13 Hoe kan so ’n gees ontstaan? Dit kan by iets kleins begin. Byvoorbeeld, wanneer ’n Koninkryksaal gebou word, kan meningsverskille ontstaan oor hoe dinge gedoen moet word. Een broer kan twisgierig raak as sy voorstel nie aanvaar word nie, en hy spreek dalk openlik sy kritiek uit oor besluite wat geneem is. Hy weier dalk selfs om enigsins verder aan die projek te werk! Iemand wat so optree, vergeet dat die sukses van ’n taak waarby die gemeente betrokke is, gewoonlik meer afhang van die vreedsame gees van die gemeente as van die spesifieke metode wat gebruik word. Jehovah seën ’n sagmoedige gees, nie twisgierigheid nie.—1 Tim. 6:4, 5.
14 Nog ’n voorbeeld is dalk wanneer ouer manne in ’n gemeente opmerk dat een ouer man, hoewel hy al jare lank dien, blykbaar nou nie meer aan die skriftuurlike kwalifikasies voldoen nie. Omdat die broer voorheen spesifieke raad ontvang het maar nie verbeteringe aangebring het nie, stem die besoekende kringopsiener saam met die aanbeveling dat hy as ouer man verwyder word. Hoe sal hy dit beskou? Sal hy die ouer manne se eenparige besluit en skriftuurlike raad in ’n gees van nederigheid en sagmoedigheid aanvaar en vasbeslote wees om aan die skriftuurlike kwalifikasies te voldoen sodat hy weer kan dien? Of sal hy ’n wrok en jaloesie koester omdat hy nie meer die voorreg het wat hy voorheen gehad het nie? Waarom sou ’n broer voorgee dat hy as ’n ouer man kwalifiseer as hy in werklikheid nie kwalifiseer nie? Hoeveel wyser sal dit tog wees as hy nederigheid aan die dag lê en verstandig optree!
15. Waarom dink jy is die geïnspireerde raad in Jakobus 3:15, 16 so belangrik?
15 Daar is weliswaar ander maniere waarop ’n soortgelyke gesindheid geopenbaar kan word. Maar wat die situasie ook al is, ons moet ons inspan om sulke karaktertrekke te vermy. (Lees Jakobus 3:15, 16.) Die dissipel Jakobus het sulke gesindhede ‘aards’ genoem omdat hulle vleeslik is, sonder enige geestelikheid. Hulle is ‘dierlik’ in die sin dat hulle die produk van vleeslike neigings is, soortgelyk aan karaktertrekke van redelose diere. Sulke gesindhede is ‘demonies’ omdat hulle die gesindheid weerspieël van God se vyande in die geesteryk. Hoe ongepas is dit tog vir ’n Christen om sulke karaktertrekke te openbaar!
16. Watter aanpassings moet ons dalk maak, en hoe kan ons dit suksesvol doen?
16 Dit sal goed wees as elke lid van die gemeente selfondersoek doen en daaraan werk om ontslae te raak van sulke karaktertrekke. As onderrigters in die gemeente moet opsieners besef hoe belangrik dit is om self van negatiewe gesindhede ontslae te raak. Weens ons onvolmaaktheid en die invloed van hierdie wêreld is dit nie maklik om dit te doen nie. Dit kan vergelyk word met die inspanning wat dit verg om ’n modderige, glyerige steilte uit te klim. As ons nie iets het waaraan ons kan vashou nie, sal ons eenvoudig teruggly. As ons eweneens stewig vashou aan die raad wat in die Bybel gevind word, sowel as die hulp wat deur God se aardwye gemeente gebied word, kan ons vooruitbeweeg.—Ps. 73:23, 24.
Eienskappe wat wyse persone aan die dag probeer lê
17. Hoe reageer wyse persone gewoonlik wanneer hulle met goddelose dinge te kampe kry?
17 Lees Jakobus 3:17. Ons kan baat vind by ’n bespreking van party van die eienskappe wat ons openbaar wanneer ons “die wysheid van bo” aan die dag lê. Om kuis te wees, behels dat ons rein en onbesmet in ons gedrag en beweegredes moet wees. Ons moet goddelose dinge onmiddellik verwerp. Dit moet ’n outomatiese reaksie wees. Dalk het ’n dokter al met ’n reflekshamer op die sening net onder jou knie getik. Jou been skiet as ’n refleks reguit. Dit is outomaties; jy hoef nie daaroor te dink nie. Ons moet ook so reageer wanneer ons in die versoeking kom om goddelose dinge te doen. Ons kuisheid en Bybelopgeleide gewete moet ons beweeg om outomaties te verwerp wat sleg is (Rom. 12:9). Die Bybel voorsien voorbeelde van persone wat op dié manier gereageer het, soos Josef en Jesus.—Gen. 39:7-9; Matt. 4:8-10.
18. Wat beteken dit (a) om vredeliewend te wees? (b) om ’n vredemaker te wees?
18 Goddelike wysheid vereis dat ons ook vredeliewend moet wees. Dit behels dat ons aggressiwiteit, ’n strydlustige gesindheid of gedrag vermy wat die vrede versteur. Jakobus wei hieroor uit en sê: “Die saad van die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir diegene wat vrede maak” (Jak. 3:18). Let op die uitdrukking “vrede maak”. Word ons in die gemeente geken as persone wat vrede maak of as dié wat die vrede versteur? Het ons dikwels meningsverskille met ander, of neem of gee ons maklik aanstoot? Dring ons daarop aan dat ander ons moet aanvaar soos ons is, of span ons ons nederig in om ontslae te raak van karaktertrekke wat ander tereg aanstootlik vind? Is ons daarvoor bekend dat ons alles in ons vermoë doen om vrede te bevorder, dat ons ander maklik vergewe en hulle foute nie teen hulle hou nie? Eerlike selfondersoek kan ons help om te sien op watter van dié gebiede ons goddelike wysheid in groter mate moet openbaar.
19. Hoe word iemand bekend as ’n redelike persoon?
19 Jakobus het redelikheid ingesluit in sy beskrywing van die wysheid van bo. Is ons daarvoor bekend dat ons geredelik toegee wanneer geen skriftuurlike beginsel betrokke is nie en dat ons nie gou daarop aandring dat ons persoonlike standaarde gevolg word nie? Het ons ’n reputasie as iemand wat sagmoedig is en maklik is om mee te praat? Dit is bewyse dat ons geleer het om redelik te wees.
20. Wat sal die resultaat wees as ons die goddelike eienskappe openbaar wat ons nou bespreek het?
20 Watter aangename toestande heers daar tog in ’n gemeente waar broers en susters hulle inspan om in groter mate die goddelike eienskappe te openbaar waaroor Jakobus geskryf het! (Ps. 133:1-3). As ons sagmoedig, vredeliewend en redelik met mekaar is, sal dit beslis tot beter verhoudings lei en sal dit bewys dat ons “die wysheid van bo” het. Ons sal vervolgens kyk hoe ons in dié opsig gehelp kan word deur te leer hoe ons ander kan beskou soos Jehovah hulle beskou.
[Voetnoot]
Die konteks toon dat Jakobus eerstens die ouer manne, of “onderrigters”, in die gemeente in gedagte gehad het (Jak. 3:1). Hierdie manne moet beslis die voorbeeld daarin stel om goddelike wysheid te openbaar, maar ons almal kan iets uit sy raad leer.
Kan jy verduidelik?
• Wat maak ’n Christen waarlik wys?
• Hoe kan ons goddelike wysheid in groter mate openbaar?
• Watter karaktertrekke word gesien in diegene wat nie “die wysheid van bo” openbaar nie?
• Watter eienskappe is jy vasbeslote om selfs in groter mate aan te kweek?
[Prent op bladsy 23]
Hoe kan onenigheid vandag ontstaan?
[Prent op bladsy 24]
Is dit jou outomatiese reaksie om goddelose dinge te verwerp?