Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 5/15 bl. 3-7
  • Hoe moet ons ander behandel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe moet ons ander behandel?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wees saggeaard
  • Hoe gelukkig is die barmhartiges tog!
  • Waarom “die vredeliewendes” gelukkig is
  • ‘Laat julle lig skyn’
  • ‘Maak vrede met jou broer’
  • Behandel ander altyd met respek
  • Hoe Jesus se woorde geluk bevorder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Gelukkige knegte van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • “Laat julle lig . . . skyn”
    Ons Koninkryksbediening—2001
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 5/15 bl. 3-7

Hoe moet ons ander behandel?

“Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—LUK. 6:31.

1, 2. (a) Wat is die Bergpredikasie? (b) Wat gaan ons in hierdie artikel en die volgende een bespreek?

JESUS CHRISTUS was inderdaad die Groot Leermeester. Toe sy godsdiensvyande manne gestuur het om hom in hegtenis te neem, het die beamptes met leë hande teruggekeer en gesê: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie” (Joh. 7:32, 45, 46). Een van Jesus se meesterlike toesprake was die Bergpredikasie. Dit is opgeteken in hoofstuk 5 tot 7 van Matteus se Evangelie, en Lukas 6:20-49 bevat soortgelyke inligting.a

2 Die bekendste stelling in hierdie toespraak is moontlik die een wat dikwels die Gulde Reël genoem word. Dit het te doen met hoe ons ander behandel. “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen”, het Jesus gesê (Luk. 6:31). En watter goeie dinge het hy tog vir mense gedoen! Jesus het die siekes genees en selfs die dooies opgewek. Maar mense was veral geseënd wanneer hulle die goeie nuus aanvaar het wat hy aan hulle bekend gemaak het. (Lees Lukas 7:20-22.) As Jehovah se Getuies is ons verheug dat ons aan ’n soortgelyke Koninkrykspredikingswerk kan deelneem (Matt. 24:14; 28:19, 20). In hierdie artikel en die volgende een gaan ons Jesus se woorde oor hierdie werk bespreek, sowel as ander gedagtes in die Bergpredikasie wat verband hou met hoe ons ander moet behandel.

Wees saggeaard

3. Hoe sal jy saggeaardheid omskryf?

3 Jesus het gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matt. 5:5). In die Skrif het saggeaardheid niks te doen met swakheid nie. Dit is ’n sagtheid wat ons beoefen in nakoming van God se vereistes. Hierdie gesindheid word in ons gedrag teenoor ander mense weerspieël. Byvoorbeeld, ons ‘vergeld niemand kwaad vir kwaad nie’.—Rom. 12:17-19.

4. Waarom is saggeaardes gelukkig?

4 Die saggeaardes is gelukkig, want “hulle sal die aarde beërf”. Jesus, wat “saggeaard en nederig van hart” was, is “as erfgenaam van alles aangestel” en is dus die Hooferfgenaam van die aarde (Matt. 11:29; Heb. 1:2; Ps. 2:8). Daar is voorspel dat die Messiaanse “seun van die mens” medeheersers in die hemelse Koninkryk sou hê (Dan. 7:13, 14, 21, 22, 27). As “mede-erfgename met Christus” sou 144 000 saggeaarde gesalfdes saam met Jesus die aarde beërf (Rom. 8:16, 17; Op. 14:1). Ander saggeaardes sal geseën word met die ewige lewe in die aardse deel van die Koninkryk.—Ps. 37:11.

5. Hoe strek Christelike sagmoedigheid ons tot voordeel?

5 As ons hardvogtig is, sal ons waarskynlik die geduld van ander op die proef stel en hulle van ons vervreem. Maar as ons Christelike sagmoedigheid het, maak dit ons aangename en geestelik opbouende lede van die gemeente. Sagmoedigheid is deel van die vrug wat God se werkende krag in ons voortbring as ons ‘deur gees lewe en wandel’. (Lees Galasiërs 5:22-25.) Ons wil tog sekerlik onder die saggeaardes tel wat deur Jehovah se heilige gees gelei word!

Hoe gelukkig is die barmhartiges tog!

6. Watter merkwaardige eienskappe het “die barmhartiges”?

6 Jesus het ook in sy Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matt. 5:7). “Die barmhartiges” het tere medelye en hulle betoon liefdevolle bedagsaamheid, selfs innige jammerte, teenoor die minderbevoorregtes. Jesus het lyding wonderdadig verlig omdat hy “innig jammer gevoel” het vir mense of “beweeg [is] deur innige jammerte” (Matt. 14:14; 20:34). Innige jammerte en bedagsaamheid moet ons dus beweeg om barmhartig te wees.—Jak. 2:13.

7. Wat het innige jammerte Jesus beweeg om te doen?

7 Toe ’n skare Jesus ontmoet het terwyl hy op pad was om te gaan rus, is hy “ontroer deur innige jammerte vir hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder”. Gevolglik “het [hy] hulle baie dinge begin leer” (Mark. 6:34). Watter vreugde smaak ons tog wanneer ons ook die Koninkryksboodskap aan ander bekend maak en vir hulle van God se groot barmhartigheid vertel!

8. Waarom is die barmhartiges gelukkig?

8 Die barmhartiges is gelukkig omdat daar aan hulle “barmhartigheid bewys word”. Wanneer ons mense op ’n barmhartige wyse behandel, reageer hulle gewoonlik deur dieselfde te doen (Luk. 6:38). Wat meer is, Jesus het gesê: “As julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe” (Matt. 6:14). Net die barmhartiges smaak die geluk wat voortspruit uit die vergifnis van sondes en goddelike goedkeuring.

Waarom “die vredeliewendes” gelukkig is

9. Hoe sal ons optree as ons vredeliewend is?

9 Jesus het nog ’n rede vir geluk gemeld en gesê: “Gelukkig is die vredeliewendes, want hulle sal ‘kinders van God’ genoem word” (Matt. 5:9). Die Griekse woord wat hier met “vredeliewendes” weergegee word, beteken letterlik “vredemakers”. As ons vredemakers is, sal ons dinge wat ‘dié kan skei wat vertroulik met mekaar omgaan’, soos lasterpraatjies, glad nie verskoon of daaraan deelneem nie (Spr. 16:28). Ons sal in woord en daad vrede met mense binne en buite die Christengemeente nastreef (Heb. 12:14). Ons sal veral ons bes doen om in vrede met Jehovah God bevind te word.—Lees 1 Petrus 3:10-12.

10. Waarom is “die vredeliewendes” gelukkig?

10 Jesus het gesê dat “die vredeliewendes” gelukkig is, “want hulle sal ‘kinders van God’ genoem word”. Omdat gesalfde Christene geloof beoefen in Jesus as die Messias, word hulle “die reg gegee om God se kinders te word” (Joh. 1:12; 1 Pet. 2:24). Wat van Jesus se vredeliewende “ander skape”? Hulle sal hom as hulle “Ewige Vader” hê gedurende sy Duisendjarige Heerskappy saam met sy hemelse mede-erfgename (Joh. 10:14, 16; Jes. 9:6; Op. 20:6). Aan die einde van sy Duisendjarige Heerskappy sal hierdie vredemakers in die volste sin van die woord aardse kinders van God word.—1 Kor. 15:27, 28.

11. Hoe sal ons ander behandel as ons deur “die wysheid van bo” gelei word?

11 Om ’n intieme verhouding met Jehovah, “die God van vrede”, te geniet, moet ons sy eienskappe, onder andere vredeliewendheid, navolg (Fil. 4:9). As ons ons deur “die wysheid van bo” laat lei, sal ons ander op ’n vredeliewende wyse behandel (Jak. 3:17). Ja, ons sal gelukkige vredemakers wees.

‘Laat julle lig skyn’

12. (a) Wat het Jesus oor geestelike lig gesê? (b) Hoe kan ons ons lig laat skyn?

12 Ons behandel mense op die beste manier moontlik wanneer ons hulle help om geestelike lig van God te ontvang (Ps. 43:3). Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle “die lig van die wêreld” is en het hulle aangespoor om hulle lig te laat skyn sodat mense hulle “goeie werke”, of goeie dade teenoor ander, kan sien. Dit sal lei tot geestelike verligting “voor die mense”, of tot voordeel van die mensdom. (Lees Matteus 5:14-16.) Vandag laat ons ons lig skyn deur goed te doen aan ons naaste en deur deel te neem aan die werk om die goeie nuus te verkondig “in die hele wêreld”, dit wil sê “in al die nasies” (Matt. 26:13; Mark. 13:10). Wat ’n voorreg geniet ons tog!

13. Waarom word ons raakgesien?

13 “’n Stad kan nie weggesteek word wanneer dit op ’n berg geleë is nie”, het Jesus gesê. Enige stad wat op ’n berg geleë is, kan maklik gesien word. Net so word ons raakgesien weens ons goeie werke as Koninkryksverkondigers en weens eienskappe soos matigheid en kuisheid.—Tit. 2:1-14.

14. (a) Hoe sal jy eerste-eeuse lampe beskryf? (b) In watter sin steek ons geestelike lig nie onder ’n “maatemmer” weg nie?

14 Jesus het gesê dat ’n lamp wat opgesteek word, nie onder ’n emmer gesit word nie, maar op ’n lampstaander, sodat dit op almal in die huis sou skyn. ’n Algemene eerste-eeuse lamp was ’n erdehouer met ’n pit wat vloeistof (gewoonlik olyfolie) deur kapillêre werking opgetrek het om ’n vlam te voed. ’n Lamp is dikwels op ’n hout- of metaalstaander gesit, sodat dit ‘op almal in die huis sou skyn’. Mense het nie ’n lamp opgesteek en dit onder ’n “maatemmer”—’n groot houer met ’n inhoudsmaat van omtrent nege liter—gesit nie. Jesus wou nie hê dat sy dissipels hulle geestelike lig onder ’n figuurlike maatemmer moet wegsteek nie. Ons moet dus ons lig laat skyn en nooit toelaat dat teenstand of vervolging veroorsaak dat ons skriftuurlike waarheid wegsteek of vir onsself hou nie.

15. Watter uitwerking het ons “goeie werke” op party mense?

15 Nadat Jesus melding gemaak het van ’n lamp wat skyn, het hy vir sy dissipels gesê: “Laat julle lig net so voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.” Weens ons “goeie werke” gee party “heerlikheid” aan God deur sy knegte te word. Wat ’n aansporing is dit tog vir ons om aan te hou om “as ligte in die wêreld [te] skyn”!—Fil. 2:15.

16. Wat vereis dit van ons om “die lig van die wêreld” te wees?

16 Om “die lig van die wêreld” te wees, vereis dat ons aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem. Maar daar word nog iets van ons vereis. “Gaan voort om as kinders van die lig te wandel”, het die apostel Paulus geskryf, “want die vrug van die lig bestaan uit elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid” (Ef. 5:8, 9). Ons moet ligtende voorbeelde van godvrugtige gedrag wees. Ja, ons moet ag slaan op die apostel Petrus se raad: “Handhaaf goeie gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle praat as kwaaddoeners, as gevolg van julle goeie werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik” (1 Pet. 2:12). Maar wat moet gedoen word as daar gespanne verhoudinge tussen medegelowiges ontstaan?

‘Maak vrede met jou broer’

17-19. (a) Wat was die “gawe” wat in Matteus 5:23, 24 gemeld word? (b) Hoe belangrik is dit om met ’n broer versoen te raak, en hoe het Jesus dit getoon?

17 In sy Bergpredikasie het Jesus sy dissipels gewaarsku om nie toorn en ’n gevoel van minagting teen ’n broer te koester nie. Hulle moes eerder gou wees om vrede na te streef met ’n broer wat aanstoot geneem het. (Lees Matteus 5:21-25.) Let noukeurig op Jesus se raad. Wat moes jy doen as jy jou gawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het? Jy moes jou gawe voor die altaar laat staan terwyl jy vrede met jou broer gaan maak. Nadat jy dit gedoen het, kon jy terugkeer en jou gawe offer.

18 Die “gawe” was dikwels ’n diereoffer wat by Jehovah se tempel aangebied is. Diereoffers was baie belangrik, want God het beveel dat dit as deel van Israel se aanbidding onder die Mosaïese Wet gebring moet word. Maar as jy onthou het dat jou broer iets teen jou het, was dit selfs dringender om die saak op te los as om jou gawe te offer. “Laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg”, het Jesus gesê. “Maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe.” Dit was belangriker om met ’n broer versoen te raak as om ’n verpligting na te kom wat deur die Wet voorgeskryf is.

19 Jesus het nie sy stelling beperk tot spesifieke offers en spesifieke oortredings nie. Enige offer moes dus uitgestel word as ’n persoon onthou het dat sy broer iets teen hom het. As die offer ’n lewende dier was, moes dit “voor die altaar” vir brandoffers in die priesters se voorhof by die tempel gelos word. Nadat die probleem opgelos is, het die oortreder teruggekeer en is die offer gebring.

20. Waarom moet ons gou wees om sake te skik as ons vir ’n broer kwaad is?

20 In God se oë is ons verhouding met ons broers ’n belangrike deel van ware aanbidding. Diereoffers was vir Jehovah betekenisloos as diegene wat dit gebring het, nie hulle medemens reg behandel het nie (Miga 6:6-8). Daarom het Jesus sy dissipels aangespoor: “Wees gou om sake te skik” (Matt. 5:25). Paulus het iets soortgelyks geskryf: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie” (Ef. 4:26, 27). As ons met rede kwaad word, moet ons gou wees om sake te skik sodat ons nie in ’n ergerlike gemoedstemming bly en sodoende die Duiwel toelaat om die oorhand oor ons te kry nie.—Luk. 17:3, 4.

Behandel ander altyd met respek

21, 22. (a) Hoe kan ons Jesus se raad wat ons so pas bespreek het, toepas? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Ons hersiening van sekere stellings wat Jesus in sy Bergpredikasie gemaak het, behoort ons te help om ander vriendelik en met respek te behandel. Hoewel ons almal onvolmaak is, kan ons Jesus se raad toepas, want nie hy of ons hemelse Vader verwag meer van ons as wat ons kan doen nie. Gebed, opregte inspanning en Jehovah God se seën kan ons help om saggeaard, barmhartig en vredeliewend te wees. Ons kan geestelike lig weerspieël wat tot Jehovah se heerlikheid skyn. Verder kan ons vrede met ons broer maak wanneer dit nodig word.

22 Aanneemlike aanbidding van Jehovah sluit in dat ons ons naaste reg behandel (Mark. 12:31). In die volgende artikel sal ons ander stellings in die Bergpredikasie bespreek wat ons behoort te help om aan te hou om goed te doen aan ander. Nadat ons oor die voorgemelde gedagtes in Jesus se ongeëwenaarde toespraak gepeins het, kan ons ons egter afvra: ‘Hoe goed behandel ek ander?’

[Voetnoot]

a In jou persoonlike studie sal jy dit moontlik baie nuttig vind om hierdie gedeeltes te lees voordat jy hierdie artikel en die volgende een bestudeer.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat beteken dit om saggeaard te wees?

• Waarom is “die barmhartiges” gelukkig?

• Hoe kan ons ons lig laat skyn?

• Waarom moet ons gou wees om ‘vrede met ons broer te maak’?

[Prent op bladsy 4]

’n Baie belangrike manier waarop ons ons lig laat skyn, is om die Koninkryksboodskap bekend te maak

[Prent op bladsy 5]

Christene moet voorbeelde van godvrugtige gedrag wees

[Prent op bladsy 6]

Doen jou bes om vrede met jou broer te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2023)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel