Water wat opborrel om die ewige lewe te gee
“Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nóóit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee.”—JOHANNES 4:14.
“VAN agter die rand van die maan . . . verskyn daar skielik ’n sprankelende blou en wit juweel, ’n ligte, delikate, hemelblou sfeer versier met wit sluiers wat stadig kolk, en dit styg geleidelik soos ’n klein pêrel in ’n digte see van duisternis.”—Edgar Mitchell, ruimtevaarder, se beskrywing van die aarde vanuit die ruimte gesien.
Wat laat ons planeet so skitter dat die ruimtevaarder skoon poëties geraak het daaroor? Dit is die water wat byna driekwart van die aarde se oppervlak bedek. In werklikheid laat water ons planeet nie net mooi lyk nie; dit help ook om die diere en plante op die aarde aan die lewe te hou. Trouens, ongeveer 65 persent van die menseliggaam bestaan uit water. Die Encyclopædia Britannica sê dus oor water: “Dit is noodsaaklik vir lewe en is betrokke by feitlik elke proses wat in plante en diere plaasvind.”
Danksy ’n doeltreffende herwinningstelsel hoef die aarde se watervoorraad nooit aangevul te word nie. “Byna elke druppel water wat ons gebruik, beland uiteindelik in die oseane”, verduidelik The World Book Encyclopedia. “Daar laat die son dit verdamp. Dan val dit weer terug na die aarde as reën. Water word oor en oor gebruik. Dit word nooit opgebruik nie.” Sowat 3 000 jaar gelede is hierdie merkwaardige proses in die Bybel beskryf: “Al die winterstrome gaan uit na die see; tog is die see nie vol nie. Na die plek waar die winterstrome uitgaan, daarheen keer hulle terug om uit te gaan.” Wat ’n wonder van die skepping is die aarde se waterkringloop tog!—Prediker 1:7.
Met die oog op hoe belangrik water vir lewe is en die wonderlike manier waarop water voorsien word, is dit nie verbasend dat dit meer as 700 keer in die Bybel genoem word nie. Die Bybel gebruik dikwels water se unieke eienskappe—veral die vermoë daarvan om te reinig en lewe te onderhou—om geestelike waardes voor te stel.—Jesaja 58:11; Johannes 4:14.
Die Bybel se vermoë om te reinig
Omdat die Israeliete gereeld met water gebad en gewas het, was hulle uitsonderlik wat fisiese reinheid betref. Dit was gebruiklik om ’n persoon se voete te was wanneer hy in ’n huis ingekom het vir ’n maaltyd (Lukas 7:44). Behalwe dat die Israeliete hulle liggaam en besittings fisies rein gehou het, het hulle ook water gebruik om seremonieel rein te bly. Die priesters wat by die tabernakel gedien het, moes hulleself en hulle klere gereeld was (Eksodus 30:18-21). Later, by die tempel in Jerusalem, het Salomo ’n “gegote see” van koper gemaak wat gewoonlik meer as 44 000 liter water gehou het, genoeg om aan die reinigingsvereistes van God se Wet te voldoen (2 Kronieke 4:2, 6). Watter betekenis het hierdie gebruik van water vandag vir Christene?
Die apostel Paulus het verduidelik dat Jesus die Christengemeente “met die waterbad deur middel van die woord” gereinig het. Soos water, wat fisies reinig, het die waarheid van God se Woord die vermoë om sedelik en geestelik te reinig. Hierdie reiniging laat Christus se dissipels “heilig en sonder smet” (Efesiërs 5:25-27). Almal wat God se guns wil hê, moet hulle dus inspan om hulleself sedelik en geestelik “vlekkeloos en smetloos” te hou (2 Petrus 3:11, 14). Hoe help God se Woord hulle om dit te doen?
Diegene wat Jehovah God graag wil behaag, neem geestelike water in deur die Bybel gereeld te bestudeer. Wanneer die kennis wat hulle opdoen, hulle verstand en hart raak, wek dit by hulle ’n sterk begeerte om te doen wat die Bybel beveel: “Word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”—Romeine 12:2.
Juiste kennis van God se wil stel sulke persone in staat om gebiede te identifiseer waar hulle gedrag en denke bevlek en besmet is. Namate hulle Bybelbeginsels in hulle lewe toepas, sal God se Woord, soos water, hulle help om met verloop van tyd selfs van ernstige sonde “skoon gewas” te word.—1 Korintiërs 6:9-11.
Let op hoe ’n jong man in Spanje hierdie verandering ondergaan het. “Toe ek 18 was, het ek ongelukkig gevoel oor my lewe”, verduidelik Alfonso. Hy was ’n dwelmslaaf en ’n geharde misdadiger. “Ek het vuil gevoel as gevolg van hoe ek my eie liggaam behandel het en hoe ek ander mense behandel het.
“By die skool het ek ’n meisie van my ouderdom opgemerk wat ’n skoon voorkoms en ’n onskuld gehad het wat haar opvallend anders as die ander leerders gemaak het. Haar voorbeeld het die begeerte by my laat ontstaan om, soos sy, ’n rein lewe te lei. Sy het my genooi om ’n vergadering van Jehovah se Getuies by te woon, wat ek toe gedoen het. Ek het weldra die Bybel begin studeer en ’n vriendskap met God opgebou. Binne ’n jaar het ek ’n rein lewe begin lei en ’n gedoopte Getuie geword. Weens hierdie dramatiese verandering het baie ouers in die buurt na my toe gekom en my gevra om hulle tienerkinders te help wat aan dwelms verslaaf geraak het.”
Water wat ewige lewe gee
Jesus het eenkeer vir ’n Samaritaanse vrou wat by Jakob se fontein water gaan haal het, van “lewende water” vertel. Hy het gesê: “Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nóóit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee” (Johannes 4:10, 14). Jesus se woorde dui aan dat “lewende water” ’n simbool is van die voorsienings vir lewe wat van God af kom, soos in sy Woord, die Bybel, verduidelik word. Dit maak dit vir mense moontlik om vir ewig te lewe. ’n Belangrike aspek van hierdie simboliese water is die losprysoffer van Christus Jesus. “God het die wêreld so liefgehad”, het Jesus verduidelik, “dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
Vir Alfonso, wat vroeër gemeld is, is die “lewende water” wat van God af kom, nou baie kosbaar. Met verwysing na dié wat nie hulle lewe van misdaad en dwelms laat vaar het nie, sê hy: “My vleeslike broer is dood, asook al my gewese vriende. Kennis van God se Woord het my van ’n soortgelyke lot gered. Danksy Jehovah se geestelike voorsienings lewe ek nog.” Wat meer is, op grond van wat hy uit God se Woord geleer het, sien Alfonso daarna uit om eindelose lewe in God se beloofde nuwe wêreld te geniet.—2 Petrus 3:13.
’n Uitnodiging aan almal
In die laaste boek van die Bybel vind ons die beskrywing van “’n rivier van water van die lewe . . . , helder soos kristal, wat uit die troon van God en van die Lam uitvloei” (Openbaring 22:1). Die stroom verteenwoordig God se voorsienings wat menselewe uiteindelik weer tot die volmaakte toestand sal herstel wat Adam en Eva aan die begin van die mensegeskiedenis geniet het.
Ná die beskrywing van daardie rivier bevat die verslag hierdie uitnodiging: “Laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Vandag word hierdie uitnodiging aardwyd bekend gemaak. Elke jaar bestee Jehovah se Getuies in oor die 235 lande meer as eenmiljard uur om mense te help om lewegewende Bybelkennis in te neem.
Dors jy na die water van die lewe? Deur die kristalhelder water in te neem, met ander woorde, deur te leer oor die voorsienings van ons Skepper en daarvan gebruik te maak, kan jy ook onder diegene wees wat “vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat . . . bewaar, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry”.—1 Timoteus 6:19.
[Lokteks op bladsy 14]
Soos water, wat fisies reinig, het Bybelwaarheid die vermoë om sedelik en geestelik te reinig
[Venster/Prente op bladsy 15]
WATERVOORRAAD IN BYBELTYE
In Bybeltye het mense baie moeite gedoen om betroubare waterbronne te vind. Abraham en Isak het putte naby Berseba gegrawe om te verseker dat hulle genoeg water vir hulle huishoudings en kuddes sou hê.—Genesis 21:30, 31; 26:18.
Vlak putte het dikwels gedurende die lang, warm somers opgedroog. Om ’n betroubare waterbron te wees, moes putte diep wees (Spreuke 20:5). Een put in Lagis is 44 meter diep. ’n Ander put, wat in Gibeon is, is oor die 25 meter diep en 11 meter wyd. Ongeveer 3 000 ton rots moes verwyder word om daardie put te grawe. Die Samaritaanse vrou wat water uit Jakob se fontein kom skep het, het vir Jesus gesê: “Die put is diep.” Die watervlak daar was moontlik 23 meter onder die grond.—Johannes 4:11.
Reënputte was nog ’n waterbron in die eertydse Midde-Ooste. Reënwater het van Oktober tot April in hierdie on- dergrondse holtes opgedam. Vore is in die heuwelhange uitgekap sodat die water tot in die reënputte sou afloop. Die Israeliete het groot reënputte uitgekap om water te berg.—2 Kronieke 26:10.
Om water uit putte en reënputte te skep, was, en is nog altyd, harde werk. Vroue soos Rebekka en Jetro se dogters het ’n noodsaaklike diens verrig deur elke dag vir hulle gesin en vee water te skep.—Genesis 24:15-20; Eksodus 2:16.
[Prent op bladsy 15]
Alfonso vandag, besig om ander van God se Woord te vertel