Het jy geweet?
Waarom het Pontius Pilatus bevrees geword toe hy die beskuldiging hoor dat Jesus “homself God se seun gemaak het”?—Johannes 19:7.
Die Romeinse Senaat het Julius Caesar ná sy dood vergoddelik. Sy aangenome seun en troonopvolger, Oktavianus, is dus daarna verklaar tot divi filius, dit wil sê “Seun van ’n Goddelike Wese”, of “Seun van God”. Hierdie Latynse benaming het ’n amptelike titel van die keisers geword. Dit word bevestig deur talle inskripsies op Romeinse altare, tempels, standbeelde en muntstukke. Toe die Jode Jesus daarvan beskuldig het dat hy homself “God se seun” gemaak het, het hulle in werklikheid gesê dat hy hom ’n amptelike titel toegeëien het, wat neergekom het op hoogverraad.
Toe Jesus verhoor is, het Tiberius die titel divi filius gehad. Hierdie keiser het die skrikwekkende reputasie gehad dat hy enigiemand wat hy as sy vyand beskou het, doodgemaak het. Toe die Jode dus te kenne gegee het dat Pilatus dislojaal teenoor die keiser sou wees as hy Jesus nie veroordeel nie, het die Romeinse goewerneur “meer bevrees” geword. Uiteindelik het hy voor die druk geswig en beveel dat Jesus tereggestel word.—Johannes 19:8, 12-16.
Waarom het Sagaria die vernietiging van Tirus voorspel lank nadat dit deur die Babiloniërs vernietig is?
Eertydse Tirus, wat aan die Mediterreense kus geleë was, het in werklikheid uit twee dele bestaan. Een was op die vasteland, en die ander was op ’n eiland geleë.
Daar was ’n tyd toe die inwoners van Tirus die Israeliete goedgesind was. Maar later het Tirus welvarend geword en het hulle teen Jehovah God gedraai, dermate dat hulle die goud en silwer uit sy tempel gesteel en party onder sy volk as slawe verkoop het (Joël 3:4-6). As gevolg daarvan het Jehovah hulle veroordeel. Deur sy profete het Jehovah voorspel dat Tirus verower sou word deur die Babiloniese koning Nebukadnesar, wat met sy magte teen Tirus opgetrek het nadat hy Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig het.—Jesaja 23:13, 14; Jeremia 27:2-7; Esegiël 28:1-19.
Toe die inwoners van Tirus besef dat hulle verower sou word, het hulle met hulle besittings na die eilandstad gevlug. Die Babiloniërs het die stad op die vasteland heeltemal verwoes. Byna 100 jaar later het Jehovah sy profeet Sagaria geïnspireer om Sy oordeel teen Tirus bekend te maak: “Kyk! Jehovah sal hom uit sy besitting verdryf, en in die see sal Hy beslis sy krygsmag neerwerp; en met vuur sal hy verteer word.”—Sagaria 9:3, 4.
In 332 v.G.J. is die eilandstad deur Aleksander die Grote vernietig, ter vervulling van Sagaria se profesie. Om dit te kon doen, het Aleksander die hout en klip van die ruïnes van die ou Tirus gebruik om ’n verhoogde pad van omtrent 800 meter tussen die vasteland en die eiland te bou. Ook dít is deur Esegiël voorspel.—Esegiël 26:4, 12.
[Prent op bladsy 27]
“Die beleg van Tirus”
[Erkenning]
Drawing by Andre Castaigne (1898-1899)