’n Hedendaagse “Israelitiese meisie”
IN 2006, twee weke voor die Herdenking van Jesus se dood, het elke lid van die Sales-gesin in Praia Grande, Brasilië, ’n lys gemaak van diegene wat hulle sou nooi. Die sesjarige Abigayl het ’n uitnodiging gekry en is gevra vir wie sy dit wou gee.
“Die man wat altyd vir my glimlag”, het sy geantwoord.
“Wie is hy?” het haar ouers gevra.
“Die man in die rolstoel”, het sy gesê.
Vier dae later het Abigayl vir haar ouers gewys wie die man is. Die man, Walter, het net ’n blok van die Koninkryksaal af gewoon. Meer as 15 jaar gelede, toe hy 28 was, was hy in ’n motorongeluk en is hy in die onderlyf verlam. Aangesien hy welaf is, het hy twee lyfwagte gehad. Nadat Abigayl toestemming gekry het om met Walter te praat, het haar ouers aan hom verduidelik dat hulle dogter vir hom ’n uitnodiging wou gee.
Aan die einde van haar aanbieding het Abigayl gesê: “Al die ander in ons Koninkryksaal het baie uitnodigings, maar ek het net een. So Oom is die enigste een wat ek nooi. As Oom nie kom nie, sal ek niemand hê nie. Maar as Oom kom, sal ek baie bly wees, en Jehovah sal selfs blyer wees.”
Op die dag van die Gedenkmaal het die Getuies, insluitende Abigayl, die Koninkryksaal skoongemaak ter voorbereiding vir die Gedenkmaalprogram daardie aand. Daardie middag het Walter verbygery, en toe hy vir Abigayl sien, het hy vir sy bestuurder gesê om stil te hou. ’n Venster het oopgegaan, en hy het vir Abigayl gevra wat sy doen. Sy het vir hom gesê dat hulle die saal skoonmaak sodat dit mooi sou lyk vir hom.
Daardie aand was Abigayl baie opgewonde. Die toespraak het begin, en sy het die hele tyd rondgekyk om te sien of Walter gekom het. Skielik het hy en sy lyfwagte daar aangekom. Sy het van oor tot oor geglimlag. Ná die toespraak het Walter erken dat hy op pad was na ’n ander stad, maar toe van plan verander het en na die Gedenkmaal gekom het, net vir haar. Toe het hy bygevoeg: “Die toespraak is wat ek nodig gehad het.” Hy het vir ’n Bybel gevra en het begin studeer en vergaderinge bywoon.
Intussen het Walter se suster gesê dat sy hierdie Abigayl, van wie haar broer so dikwels praat, wou ontmoet. Toe hulle ontmoet, was sy baie bly om te sien wat ’n lieflike meisie Abigayl is. “Nou weet ek waarom my broer so gelukkig is”, het sy gesê.
Walter studeer nog steeds en woon die vergaderinge by. Hy lewer selfs kommentaar en vertel ander van die dinge wat hy leer. Klein Abigayl herinner ons beslis aan die Israelitiese meisie wat Naäman gehelp het om die ware God, Jehovah, te leer ken.—2 Konings 5:2-14.