Kom nader aan God
’n Vergewensgesinde God
“O JEHOVAH, [u] is goed en vergewensgesind” (Psalm 86:5). Met hierdie hartverblydende woorde verseker die Bybel ons dat Jehovah God vryelik vergewe. ’n Voorval in die lewe van die apostel Petrus toon duidelik dat Jehovah “ryklik” vergewe.—Jesaja 55:7.
Petrus was een van Jesus se intiemste metgeselle. Maar op die laaste aand van Jesus se lewe op aarde het Petrus voor vrees geswig en ’n ernstige sonde gepleeg. In ’n binnehof naby die plek waar Jesus se onwettige verhoor aan die gang was, het Petrus in die openbaar ontken dat hy Jesus ken—nie net een keer nie, maar drie keer. Nadat Petrus dit die derde keer ten sterkste ontken het, het Jesus “omgedraai en Petrus aangekyk” (Lukas 22:55-61). Kan jy jou voorstel hoe Petrus gevoel het toe Jesus na hom gekyk het? Petrus het die erns van sy sonde besef en “begin huil” (Markus 14:72). Die berouvolle apostel het dalk gewonder of sy drievoudige verloëning hom buite die bereik van God se vergifnis geplaas het.
Ná sy opstanding het Jesus ’n gesprek met Petrus gehad wat beslis enige twyfel uit die weg geruim het dat Petrus vergewe is. Jesus het geen harde, veroordelende woorde geuiter nie. Hy het Petrus eerder gevra: “Het jy my lief?” Petrus het geantwoord: “Ja, Here, u weet dat ek geneentheid vir u het.” Jesus het geantwoord: “Voed my lammers.” Jesus het die vraag ’n tweede keer gevra, en Petrus het dieselfde antwoord gegee, dalk met groter klem. Jesus het gesê: “Hou as herder toesig oor my skapies.” Toe het Jesus min of meer dieselfde vraag ’n derde keer gevra: “Het jy geneentheid vir my?” Daarna het ‘Petrus bedroef geword’ en gesê: “Here, u weet alles; u weet dat ek geneentheid vir u het.” Jesus het geantwoord: “Voed my skapies.”—Johannes 21:15-17.
Waarom het Jesus vrae gevra waarop hy reeds die antwoorde gehad het? Jesus kon harte lees, en hy het dus geweet dat Petrus hom liefhet (Markus 2:8). Deur daardie vrae te vra, het Jesus Petrus die geleentheid gegee om sy liefde drie keer te bevestig. Jesus se antwoord: “Voed my lammers. . . . Hou as herder toesig oor my skapies. . . . Voed my skapies”, het die berouvolle apostel verseker dat Jesus hom nog steeds vertrou. Jesus het Petrus immers die opdrag gegee om na ’n uiters kosbare besitting om te sien—Jesus se geliefde skaapgeaarde volgelinge (Johannes 10:14, 15). Petrus moes sekerlik verlig gewees het om te weet dat Jesus hom nog steeds vertrou!
Dit is duidelik dat Jesus sy berouvolle apostel vergewe het. Aangesien Jesus sy Vader se eienskappe en weë volmaak weerspieël, kan ons beslis tot die gevolgtrekking kom dat Jehovah Petrus ook vergewe het (Johannes 5:19). Jehovah is glad nie onwillig om te vergewe nie, maar is ’n barmhartige God wat “vergewensgesind” is teenoor ’n berouvolle sondaar. Is dit nie ’n vertroostende gedagte nie?