Die uitvoering van God se wil—my lewenslange vreugde
Soos vertel deur Bill Yaremchuk
In Maart 1947, net ’n paar weke nadat ek as ’n sendeling gegradueer het aan die agtste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead, wat destyds in South Lansing, New York, VSA, gehou is, was ek op pad na my buitelandse toewysing—verafgeleë Singapoer.
DAVE FARMER, ook ’n Kanadees, wat aan Gilead se sewende klas gegradueer het, sou saam met my werk. Ons het aan boord van die Marine Adder, ’n gewese troepeskip, uit San Francisco, Kalifornië, vertrek.
Die eerste hawe wat ons in die Ooste aangedoen het, was Hongkong. Wat ons daar gesien het, was absoluut skokkend. Die skade wat die Tweede Wêreldoorlog aangerig het, was oral sigbaar—mense het op die sypaadjies gelê, uitgehonger en skynbaar sterwend. Ons was kort voor lank terug op die skip en op pad na Manila, die hoofstad van die Filippyne.
Ook daar het ons die verskriklike nasleep van die oorlog gesien. Die hawe was vol maste van skepe wat deur Geallieerde bomwerpers gekelder is, en daar was armoede oral om ons. Ons het ’n handjie vol Jehovah se Getuies ontmoet, wat ons na hulle Koninkryksaal geneem het. Hulle was opgeruimd ten spyte van hulle probleme.
Die volgende hawe wat ons aangedoen het, was Batavia (nou Djakarta) in Indonesië. ’n Burgeroorlog was aan die gang en gevegte het daar naby gewoed; gevolglik is ons nie toegelaat om die skip te verlaat nie. Op pad na Singapoer het ek begin wonder wat daar op ons wag. Was dit al wat oor was van die eksotiese Ooste waarvan ons in reisbrosjures gelees het?
Binne ’n paar dae het al my bedenkinge verdwyn. ’n Drama het ontvou wat bo alle twyfel bewys het dat ek en Dave op ’n sending was wat God se goedkeuring geniet het.
Hoe ons toegelaat is om te bly
Omtrent ’n maand nadat ons skip San Francisco verlaat het, het ons eindelik by St. John’s-eiland aangekom, wat die kwarantyngebied vir Singapoer was. Immigrasiebeamptes het aan boord gekom om al die formaliteite vir die passasiers af te handel, en ons paspoorte is gestempel met “In land toegelaat”. Die volgende oggend het die skip langs die kaai vasgemeer. Nadat ons dokumente deur ’n skeepsoffisier nagegaan is, het ons aan land gegaan.
Die volgende dag het ons na die dokke teruggegaan om afskeid te neem van ons medesendelinge wat saam met ons gereis het. Hulle was op pad na hulle toewysings in Indië en Ceylon (nou Sri Lanka). Toe die skeepskaptein ons sien, het hy na die kaai toe afgestap en ons gekonfronteer. Hy was woedend en het geskreeu dat ons nie van die skip af mag wees nie. Vroeër, terwyl ons nog op see was, het mnr. Haxworth, die immigrasiekontroleur, hom opdrag gegee om ons nie toe te laat om van die skip af te klim wanneer dit vasmeer nie. Ons was nie bewus van die opdrag nie, en so ook nie die offisier wat ons toegelaat het om van die skip af te klim nie.
Ons is na ’n briesende mnr. Haxworth geneem. Hy het op ons geskreeu en gesê dat ons verbied was om Singapoer binne te gaan. Aangesien ons nie daarvan bewus was dat toegang geweier is nie, het ons vir hom ons paspoorte gewys met die amptelike stempel “In land toegelaat”. Hy het die paspoorte woedend uit ons hande geruk en daardie woorde doodgetrek. Maar helaas, die skip het reeds vertrek! Mnr. Haxworth het ons paspoorte ’n hele jaar lank gehou en dit uiteindelik teruggestuur met die stempel “In land toegelaat”.
’n Produktiewe bediening in Singapoer
Toe ons in April 1947 in Singapoer aangekom het, was ’n man met die naam Joshua die enigste Getuie daar. Hy het tot sy dood in die vroeë 1970’s as ’n voltydse bedienaar, of pionier, gedien. Kort voor lank het sommige wat Bybelwaarhede geleer het, ander daarvan begin vertel. Ons gebede vir nog werkers in die geestelike oes is beantwoord.—Matteus 9:37, 38.
In 1949, terwyl mnr. Haxworth met langverlof in Engeland was, het ses sendelinge wat aan die 11de klas van Gilead gegradueer het, in Singapoer aangekom. Intussen moes Dave, wat ’n paar jaar lank my sendelingmaat was, Singapoer weens swak gesondheid verlaat. Hy het na Australië geïmmigreer, waar hy tot sy dood in 1973 getrou gedien het. Onder die ses nuwelinge was Aileen Franks, met wie ek in 1956 getrou het.
Deur die jare heen het ons die Bybel met baie gestudeer wat saam met hulle kinders Getuies geword het. Party van hulle dien vandag nog voltyds in buitelandse toewysings. ’n Aanmoedigende ondervinding is dié van Lester en Joanie Haynes, ’n Amerikaanse egpaar wat in Singapoer gewoon het. Ons het in die 1950’s ’n Bybelstudie met hulle begin. Hulle het vinnig geestelike vooruitgang gemaak en is gedoop nadat hulle na die Verenigde State teruggekeer het. Later het Lester en Joanie ’n produktiewe bediening geniet. Hulle het baie gehelp om Getuies te word, hulle drie kinders inkluis.
Joanie het geskryf: “Wanneer ek terugdink aan daardie jaar in Singapoer, besef ek dat dit ons lewe werklik in ’n nuwe rigting gestuur het. As julle ons nie ‘aangeneem’ het nie, sou ons waarskynlik nou nog in die wêreld rondgeswerf het. Ek is bly dat jy die een was wat Les die waarheid geleer het, want van die begin af het hy ’n onderrigter gehad wat liefde vir Jehovah en vir ons Christenbroers by hom ingeboesem het. Hy het dit nog nooit verloor nie.”
Ons dien as ’n gesin in Singapoer
In 1962 het iets onverwags gebeur wat ons toewysing nuwe lewe gegee het. Ons huisdokter het vir Aileen gesê dat sy swanger is. Ons wou in die sendingwerk aanbly; maar hoe kon ons dit doen terwyl ons ’n kind grootmaak? Nathan H. Knorr, wat destyds toesig oor die werk van Jehovah se Getuies regoor die wêreld gehad het, het aan ons geskryf en my aangespoor om sekulêre werk te kry sodat ons in Singapoer kan aanbly. Dit was vir ons ’n baie groot uitdaging.
Die meeste buitelanders het hoë poste in buitelandse maatskappye gehad. Ek het geen ondervinding in die sakewêreld gehad nie omdat ek 23 jaar tevore, onmiddellik ná skool, die voltydse bediening betree het. Ek het dus ’n personeelagentskap in Londen betaal om ’n CV vir my op te stel oor my werk as ’n godsdiensbedienaar in ’n vreemde land, en hulle het dit na ’n hele paar multinasionale maatskappye in Singapoer gestuur.
Ek het elke keer hierdie antwoord gekry: “Ons kan ongelukkig nie ’n pos vind vir iemand met u kwalifikasies nie.” Hulle het my as oorgekwalifiseerd beskou! Maande het verbygegaan, en ons baba, Judy, is gebore. Broer Knorr was op daardie stadium in Singapoer, en hy het vir Judy en haar ma in die hospitaal gaan kuier. Hy het ons gerusgestel: “Julle kan solank as wat dit nodig is in die sendinghuis aanbly, totdat Bill ’n werk kry.”
’n Paar maande later het ek werk gekry as ’n verkoopsverteenwoordiger by ’n internasionale lugredery. Die salaris was skaars genoeg om van te leef. Twee jaar later het ek by ’n Amerikaanse lugredery begin werk, en my salaris is verdubbel. Uiteindelik het ek gevestig geraak in die toeristebedryf, en ek kon meer tyd saam met my gesin en in die Christelike bediening bestee.
Ons het ons lewe om Jehovah se diens gebou en geestelike belange eerste gestel. Gevolglik kon ek baie voorregte in die organisasie geniet. Aileen het weer die voltydse bediening betree. Intussen het die Koninkrykspredikingswerk in Singapoer gefloreer. In die middel-1960’s het ons ’n pragtige tweeverdiepinggebou in die middestad gekoop wat as ’n Koninkryksaal gedien het. Vier gemeentes het daarin vergader.
Ons werk word verbied!
Mettertyd het donker wolke van teenstand begin saampak. Op 14 Januarie 1972 het ons soos gewoonlik vir ons vergadering na die Koninkryksaal gegaan. Maar die hek was met ’n ketting en ’n slot toegesluit. ’n Kennisgewing op die hek het gesê dat die registrasie van die Singapoer-gemeente van Jehovah se Getuies ingetrek is. Ons organisasie is verbied!a
Die feit dat die Koninkryksaal gesluit is, het nie beteken dat ons opgehou het om Jehovah te aanbid nie, maar die vraag wat in my kop gemaal het, was: ‘Wat is God se wil vir my gesin?’ As ons gedeporteer sou word, het ek geredeneer, sou ons nooit kon terugkeer om ons vriende in Singapoer te besoek nie. Ek het dus die bestuurder van die maatskappy gevra of ek in Koeala Loempoer, Maleisië, kon werk. Dan sou ons gesin moontlik sonder enige probleme heen en weer kon reis. Tot my verbasing het hy my ’n werk as bestuurder van die kantoor in Koeala Loempoer aangebied, wat my salaris sou verdubbel en ander voordele sou hê.
Ek het toe gewonder: ‘Is dit God se wil dat ons Singapoer en ons broers verlaat?’ As ’n gesin het ons tot Jehovah hieroor gebid. Ons het tot die slotsom gekom dat dit Jehovah is wat ons hierheen gebring het. Ek het dus die finale besluit gemaak—ons bly. My bestuurder was verstom dat ek sy winsgewende aanbod van die hand gewys het.
Die lewe en werk tydens die verbod was baie stresvol, omdat ons enige tyd in hegtenis geneem of in die tronk gegooi kon word. Daar was tye dat ons werklik die woorde van Psalm 34:7 waardeer het: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle.”
’n Nuwe toewysing
Uiteindelik is ons in 1993, nadat ons meer as 46 jaar in Singapoer gedien het, gevra om na Nieu-Seeland te verhuis, waar ons minder stres en angs in ons diens sou ervaar. Ons was natuurlik baie hartseer om afskeid te neem van ons dierbare vriende in Singapoer, vir wie ons so lief geword het. Maar ons was bly om te weet dat hulle geloof met vuurvaste materiaal op ’n stewige fondament gebou is. Dit het hulle in staat gestel om vas te staan tydens die toetse wat hulle nog steeds verduur.—1 Korintiërs 3:12-14.
Nou, ná meer as 14 jaar in Nieu-Seeland, geniet ek en Aileen nog steeds ons bediening as spesiale pioniers, al is ons al bejaard. Twee van my broers—Mike, 94, en Peter, 90—lewe nog en dien Jehovah getrou in Kanada.
In 1998 het ons dogter, Judy, teruggegaan na die Ooste toe en ’n hele paar jaar daar gedien. In een van haar briewe aan ons het sy geskryf: “Hoe dankbaar is ek tog elke dag teenoor Jehovah vir die wonderlike voorreg om hier te kan dien! Dankie ook aan julle albei vir die liefdevolle opleiding en al die opofferings wat julle gemaak het en nog steeds maak sodat ek dit kan doen.” In 2003 het sy teruggetrek Nieu-Seeland toe om vir my en Aileen te help.b
Ons is dankbaar teenoor Jehovah dat ons omstandighede ons toegelaat het om gehoor te gee aan die Heer se oproep om meer oeswerkers. Dit het vir ons onbeskryflike vreugde gebring. En wanneer ‘die wêreld verbygaan’, soos die Bybel sê gaan gebeur, sal ons die vervulling van God se wonderlike belofte ervaar: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1972, bladsye 367-73.
b My liewe vrou, Aileen, is op 24 Januarie 2008 oorlede, terwyl hierdie artikel gefinaliseer is.
[Prent op bladsy 29]
Joshua was die enigste Getuie in Singapoer toe ons in 1947 daar aangekom het
[Prent op bladsy 29]
Saam met Dave Farmer in Hongkong, op pad na Singapoer, 1947
[Prent op bladsy 29]
Saam met Aileen, 1958
[Prent op bladsy 31]
Saam met ons dogter, Judy
[Erkenning]
Kimroy Photography
[Foto-erkenning op bladsy 28]
Kimroy Photography