Sterk ondanks swakhede
JOU swakhede kan jou oorweldig. Dit klou soos klitsgras. Jy dink dalk dat jy dit nooit sal kan te bowe kom nie, of jy voel miskien minderwaardig omdat jy jou met ander vergelyk en besluit dat jy te kort skiet. Of jy ly moontlik aan ’n aftakelende siekte wat jou van jou energie en lewenslus beroof. Wat ook al die oorsaak, dit voel of jy vasgevang is. Jy voel dalk net soos Job, wat aan God gesê het: “Ag, as u my maar in Sjeool wou verberg, as u my maar weggesteek wou hou totdat u toorn bedaar, as u maar vir my ’n tydgrens wou stel en aan my wou dink!”—Job 14:13.
Hoe kan jy so ’n gevoel van wanhoop oorkom? Al is dit hoe moeilik, jy moet vir ’n rukkie van jou probleme vergeet. Jy kan byvoorbeeld nadink oor Jehovah se geïnspireerde vrae aan sy getroue kneg Job: “Waar was jy toe ek die aarde gegrondves het? Vertel my, as jy verstand het. Wie het sy afmetings bepaal, as jy weet, of wie het die meetsnoer oor hom gespan?” (Job 38:4, 5). As ons dink aan die betekenis van hierdie vrae, sal ons waarskynlik beweeg word om Jehovah se verhewe wysheid en mag te erken. Hy het die huidige wêreldsituasie met goeie rede laat voortduur.
“’n Doring in die vlees”
’n Ander getroue kneg het Jehovah gevra om “’n doring in die vlees”, ’n knaende probleem, weg te neem. Die apostel Paulus het God drie keer dringend versoek om van hierdie beproewing bevry te word. Wat dit ook al was, dit kon Paulus, net soos ’n irriterende doring, van sy vreugde in Jehovah se diens beroof het. Paulus het gesê dit is soos om voortdurend geslaan te word. Jehovah se antwoord was: “My onverdiende goedhartigheid is vir jou voldoende; want my krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring.” Jehovah het nie daardie doring in die vlees weggeneem nie. Paulus moes daarmee worstel, maar hy het bygevoeg: “Wanneer ek swak is, dan is ek sterk” (2 Kor. 12:7-10). Wat het hy bedoel?
Paulus se probleem het nie wonderdadig verdwyn nie. Maar dit het hom nie verhinder om merkwaardige dinge in Jehovah se diens te bereik nie. Paulus het op Jehovah vertrou vir ondersteuning en hom aanhoudend vir hulp gevra (Fil. 4:6, 7). Teen die einde van sy aardse lewe kon Paulus sê: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar.”—2 Tim. 4:7.
Jehovah gebruik onvolmaakte mense om sy wil uit te voer ondanks hulle tekortkominge en probleme, en hy verdien tereg die eer daarvoor. Hy kan hulle van leiding en wysheid voorsien om hulle moeilikhede die hoof te bied en om hulle vreugde in sy diens te behou. Ja, hy kan onvolmaakte mense gebruik om groot werke te verrig ondanks hulle swakhede.
Paulus het gesê waarom God nie sy doring in die vlees verwyder het nie: “Sodat ek nie te verhewe sou voel nie” (2 Kor. 12:7). Paulus se “doring” het hom aan sy beperkings herinner en hom gehelp om ’n nederige beskouing van homself te behou. Dit kom ooreen met wat Jesus geleer het: “Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, en elkeen wat hom verneder, sal verhef word” (Matt. 23:12). Beproewinge kan God se knegte nederigheid leer en hulle help om te besef dat hulle op Jehovah moet vertrou as hulle getrou wil volhard. Soos die apostel kan hulle dus “in Jehovah roem”.—1 Kor. 1:31.
Verborge swakhede
Party het swakhede waarvan hulle nie bewus is nie of wat hulle nie graag wil erken nie. Byvoorbeeld, iemand is dalk selfversekerd en vertrou op homself (1 Kor. 10:12). Nog ’n swakheid wat eie is aan onvolmaakte mense, is die begeerte na aansien.
Joab, wat die generaal van koning Dawid se leër geword het, was moedig, ’n man van aksie en vindingryk. Tog was Joab skuldig aan ernstige wangedrag wat gedui het op ’n vermetele, eersugtige gees. Hy het twee generaals wreedaardig vermoor. Eers het hy Abner uit wraak doodgemaak. Later het Joab, onder die voorwendsel dat hy sy neef Amasa groet, Amasa se baard met sy regterhand gegryp asof hy hom wou soen en hom toe met die swaard in sy linkerhand deurboor (2 Sam. 17:25; 20:8-10). Joab is vroeër deur Amasa as generaal van die leër vervang en het hierdie geleentheid gebruik om van sy mededinger ontslae te raak, waarskynlik in die hoop dat hy weer as generaal aangestel sal word. Jy kan sien dat Joab nie sy gees, insluitende sy selfsugtige ambisie, beheers het nie. Hy het genadeloos opgetree, sonder enige teken van berou. Kort voor koning Dawid se dood het hy sy seun Salomo beveel om toe te sien dat Joab vir sy slegte dade boet.—1 Kon. 2:5, 6, 29-35.
Ons moet beslis nie toegee aan ons verkeerde begeertes nie; ons kán die oorhand oor ons swakhede kry. Eers moet ons ons swakhede erken. Dan kan ons stappe doen om dit te bowe te kom. Ons kan gereeld tot Jehovah bid en sy hulp vra om hierdie swakhede te oorwin, en ons kan sy Woord ywerig bestudeer en na maniere soek om teen hierdie neigings te stry (Heb. 4:12). Ons moet ons dalk voortdurend inspan om ons tekortkominge te oorkom sonder om mismoedig te word. Die stryd sal moontlik voortduur so lank as wat ons onvolmaak is. Paulus het erken dat dit met hom die geval was toe hy geskryf het: “Wat ek wil, dit beoefen ek nie; maar wat ek haat, dit doen ek.” Soos jy egter weet, het Paulus hom nie hierin berus asof sy handelinge heeltemal buite sy beheer was nie. Inteendeel, hy het teen sy swakhede bly stry en op God se hulp deur middel van Jesus Christus vertrou (Rom. 7:15-25). Elders het Paulus gesê: “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie.”—1 Kor. 9:27.
Mense is geneig om hulleself te regverdig. Ons kan hierteen stry deur Jehovah se beskouing aan te kweek en te doen wat Paulus Christene gemaan het: “Verafsku wat goddeloos is, hou vas aan wat goed is” (Rom. 12:9). In ons stryd om ons swakhede te bowe te kom, het ons eerlikheid, volharding en selfdissipline nodig. Dawid het Jehovah versoek: “Louter my niere en my hart” (Ps. 26:2). Hy het geweet dat God ons diepste neigings akkuraat kan beoordeel en ons kan help wanneer ons dit nodig het. As ons leiding volg wat Jehovah deur sy Woord en sy heilige gees voorsien, kan ons vooruitgang maak in die stryd om ons tekortkominge te oorwin.
Party word miskien gekwel deur probleme wat hulle voel hulle nie self kan hanteer nie. Die gemeentelike ouer manne kan beslis liefdevolle bystand en aanmoediging verskaf (Jes. 32:1, 2). Maar dit is verstandig om realistiese verwagtinge te hê. Vir sommige probleme is daar nie ’n algehele oplossing in hierdie teenswoordige stelsel van dinge nie. Nietemin het baie geleer om dit te verduur, en dit het hulle in staat gestel om ’n produktiewe lewe te lei.
Verseker van Jehovah se steun
Ongeag watter probleme ons in hierdie moeilike tye ervaar, ons kan verseker wees dat Jehovah ons sal lei en sal onderskraag. Die Bybel spoor ons aan: “Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy sorg vir julle.”—1 Pet. 5:6, 7.
Toe Kathy, wat al baie jare lank by Bethel dien, besef het dat haar man Alzheimer se siekte het, het sy nie opgewasse gevoel teen die uitdagings wat voorgelê het nie. Sy moes elke dag tot Jehovah bid vir wysheid en emosionele krag. Toe haar man se toestand geleidelik versleg het, het liefdevolle broers die tyd geneem om meer te leer oor die versorging van iemand met hierdie siekte, en besorgde susters het haar emosioneel ondersteun. Hierdie Christene was deel van die versterkende steun wat Jehovah gegee het, en Kathy kon tot haar man se dood, omtrent 11 jaar later, vir hom sorg. Sy sê: “Ek het Jehovah met trane vurig bedank vir al sy hulp; dit het my aan die gang gehou. Ek het nie geweet dat dit moontlik is om so lank vol te hou terwyl ’n mens so swak van uitputting is nie!”
Hulp om verborge swakhede te bowe te kom
Wanneer mense onwaardig voel, dink hulle moontlik dat Jehovah nie na hulle hulpgeroep in hulle tyd van benoudheid sal luister nie. Veral dan is dit goed om na te dink oor wat Dawid gesê het toe hy berou gehad het oor sy ernstige sonde met Batseba: “’n Gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie” (Ps. 51:17). Dawid was opreg berouvol en het geweet dat hy God kon nader en op sy barmhartigheid kon staatmaak. Jesus weerspieël Jehovah se liefdevolle gees. Die Evangelieskrywer Matteus het die woorde van Jesaja op Jesus toegepas: “’n Beskadigde riet sal hy nie verbrysel nie, en ’n smeulende vlaspit sal hy nie uitdoof nie” (Matt. 12:20; Jes. 42:3). Terwyl Jesus op aarde was, het hy medelye teenoor die geringes en die onderdruktes betoon. Hy het nie as ’t ware die laaste sprankie lewe uitgedoof van iemand wat soos ’n olielamp se vlaspit is wat op die punt staan om uit te gaan nie. Hy het eerder dié wat gely het, met teerheid gehelp om die lewensvlam in hulle te herstel. Dit is hoe hy was toe hy op die aarde gewandel het. Glo jy nie dat Jesus nog steeds dieselfde is en dat hy met jou swakhede kan simpatiseer nie? Let daarop dat Hebreërs 4:15 toon dat hy wel “met ons swakhede kan simpatiseer”.
Toe Paulus oor sy “doring in die vlees” geskryf het, het hy gesê dat die krag van die Christus “soos ’n tent” oor hom was (2 Kor. 12:7-9). Hy het God se beskerming deur Christus gevoel, net soos iemand in ’n tent beskerm voel teen die elemente. Soos Paulus hoef ons nie toe te gee aan ons swakhede en probleme nie. Om geestelik sterk te bly, kan ons gebruik maak van al die voorsienings wat Jehovah deur sy aardse gemeente vir ons beskikbaar stel. Ons kan alles in ons vermoë doen en dan op Jehovah staatmaak in die volle vertroue dat hy ons voetstappe sal rig. Wanneer ons ondervind hoe God se krag vir ons swakhede vergoed, sal ons net soos Paulus kan sê: “Wanneer ek swak is, dan is ek sterk.”—2 Kor. 12:10.
[Prent op bladsy 3]
Paulus het voortdurend tot Jehovah gebid om hom te lei terwyl hy sy bediening uitvoer
[Prent op bladsy 5]
Koning Dawid het Joab oor die leër aangestel
[Prent op bladsy 5]
Joab het ’n mededinger, Amasa, doodgemaak
[Prent op bladsy 6]
Ouer manne gee liefdevolle skriftuurlike raad wat ons kan help om ons probleme die hoof te bied