Profesieë oor die Messias
DIE Joodse nasie het geweet wat Jesaja en ander profete oor die Messias geskryf het, en daarom het hulle lank na sy koms uitgesien. Trouens, teen Jesus se dag het baie Jode “in afwagting verkeer” van die Messias se naderende verskyning (Lukas 3:15). Dit is betekenisvol dat Bybelprofesieë merkwaardige besonderhede oor die Messias se lewe bevat. ’n Blote mens kon sulke gebeure nie voorspel het of gereël het dat Jesus dit ondervind nie.
Besonderhede aangaande die Messias se geboorte. Jesaja het voorspel dat die Messias, of Christus, uit ’n maagd gebore sou word. Nadat die apostel Matteus die wonderdadige omstandighede van Jesus se geboorte beskryf het, het hy geskryf: “Dit alles het in werklikheid gebeur sodat vervul sou word wat Jehovah deur middel van sy profeet gespreek het toe hy gesê het: ‘Kyk! Die maagd sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun’” (Matteus 1:22, 23; Jesaja 7:14). Jesaja het ook voorspel dat Christus ’n nakomeling van Dawid sou wees en het Isai, Dawid se vader, spesifiek genoem. Jesus het inderdaad direk van Dawid afgestam (Matteus 1:6, 16; Lukas 3:23, 31, 32). Voor Jesus se geboorte het die engel Gabriël dus vir Jesus se moeder, Maria, gesê: “God sal hom die troon van sy vader Dawid gee.”—Lukas 1:32, 33; Jesaja 11:1-5, 10; Romeine 15:12.
Besonderhede oor die Messias se lewe. As volwassene het Jesus in die sinagoge in Nasaret hardop uit Jesaja se profesie gelees, wat hierdie woorde ingesluit het: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak.” Jesus het die profesie op homself toegepas en gesê: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul” (Lukas 4:17-21; Jesaja 61:1, 2). Jesaja het ook die liefdevolle, sagmoedige en nederige manier voorspel waarop Jesus diegene sou behandel wat genesing nodig sou hê. Matteus skryf: “Baie het hom ook gevolg, en hy het hulle almal genees, maar hy het hulle streng gelas om hom nie openbaar te maak nie; sodat vervul sou word wat gespreek is deur middel van die profeet Jesaja . . . ‘Hy sal nie twis of hard uitroep nie . . . ’n Beskadigde riet sal hy nie verbrysel nie.’”—Matteus 8:16, 17; 12:10-21; Jesaja 42:1-4; 53:4, 5.
Besonderhede oor die Messias se lyding. Jesaja het voorspel dat die meeste Israeliete die Messias nie sou aanvaar nie, maar dat hy eerder vir hulle “’n steen van struikeling” sou word (1 Petrus 2:6-8; Jesaja 8:14, 15). En waarlik, ondanks al Jesus se wonderwerke het die mense “nie geloof in hom gestel nie, sodat die woord van die profeet Jesaja vervul is wat hy gespreek het: ‘Jehovah, wie het geloof gestel in wat ons gehoor het?’” (Johannes 12:37, 38; Jesaja 53:1). Die gewilde dog verkeerde opvatting dat die Messias onmiddellik die volk van Romeinse heerskappy sou bevry en ’n onafhanklike Dawidiese koninkryk op die aarde sou herstel, het bygedra tot die Jode se gebrek aan geloof. Omdat Jesus gely en gesterf het, kon die meeste Jode hom eenvoudig nie as die Messias aanvaar nie. Maar Jesaja het in werklikheid voorspel dat die Messias sou ly voordat hy Koning sou word.
In die boek Jesaja sê die Messias profeties: “Ek het my rug gegee vir dié wat slaan . . . My gesig het ek nie vir vernederende dinge en spoeg verberg nie.” Matteus vertel wat met Jesus gebeur het toe hy verhoor is: “Toe het hulle in sy gesig gespoeg en hom met hulle vuiste geslaan. Ander het hom in die gesig geklap” (Jesaja 50:6; Matteus 26:67). “Hy het hom laat teister; tog het hy nie sy mond oopgemaak nie”, het Jesaja geskryf. Toe Pilatus dus vir Jesus oor die Jode se aantygings ondervra het, het Jesus “hom nie geantwoord nie, nee, nie ’n woord nie, sodat die goewerneur baie verwonderd was”.—Jesaja 53:7; Matteus 27:12-14; Handelinge 8:28, 32-35.
Besonderhede oor die Messias se dood. Jesaja se profesie is ook vervul by Jesus se dood en selfs daarna. Jesaja het voorspel: “Hy sal sy graf by die goddeloses maak, en by die ryk klas in sy dood” (Jesaja 53:9). Hoe kon hierdie oënskynlik teenstrydige profesie vervul word? Toe Jesus gesterf het, het hy tussen twee rowers aan die paal gehang (Matteus 27:38). Maar later het die ryk Josef van Arimatea Jesus se lyk in sy eie, pas uitgekerfde gedenkgraf neergelê (Matteus 27:57-60). Laastens het Jesus se dood een van die belangrikste elemente van Jesaja se profesie vervul. Jesaja sê van die Messias: “Die regverdige, my kneg, [sal] baie in ’n regverdige posisie bring; en hulle oortredings sal hy dra.” Ja, Jesus se dood het die losprys voorsien sodat alle getroue mense van die las van sonde bevry kan wees.—Jesaja 53:8, 11; Romeine 4:25.
Profesieë wat beslis vervul gaan word
Die apostels en Jesus het meer dikwels uit die profesie van Jesaja as uit enige ander Bybelboek aangehaal om die identiteit van die Messias volgens die Skrif te bewys. Maar die boek Jesaja is nie die enigste wat die toekoms voorspel het nie. Baie ander profesieë in die Hebreeuse Geskrifte word ook vervul in Jesus, sy Koninkryk en die goeie dinge wat die Koninkryk in die toekoms tot stand sal bring (Handelinge 28:23; Openbaring 19:10).a Hoe seker was dit dat hierdie profesieë vervul sou word? Jesus het vir sy Joodse toehoorders gesê: “Moenie dink dat ek gekom het om die Wet of die Profete [dit wil sê die Hebreeuse Geskrifte] tot niet te maak nie. Ek het gekom, nie om tot niet te maak nie, maar om te vervul; want ek sê voorwaar vir julle dat hemel en aarde eerder sal verbygaan as dat één van die kleinste lettertjies of een deeltjie van ’n letter hoegenaamd uit die Wet sal verbygaan en alles nie plaasvind nie.”—Matteus 5:17, 18.
Jesus het ook die aandag gevestig op die vervulling van Bybelprofesieë in gebeure wat om hom plaasgevind het sowel as in toekomstige gebeure (Daniël 9:27; Matteus 15:7-9; 24:15). Wat meer is, Jesus en sy dissipels het self gebeure voorspel wat ná hulle tyd sou plaasvind, insluitende baie dinge wat ons vandag sien gebeur het. Die volgende artikel sal hierdie en ander toekomstige vervullings van Bybelprofesieë bespreek.
[Voetnoot]
a Vir meer inligting oor die profesieë wat in Jesus vervul is, sien die boek Wat leer die Bybel werklik?, bladsy 200, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 4]
“Die maagd sal . . . geboorte gee aan ’n seun”
[Prent op bladsy 5]
“My gesig het ek nie vir vernederende dinge . . . verberg nie”