Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 10/1 bl. 22-25
  • Sy het “in haar hart gevolgtrekkings gemaak”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sy het “in haar hart gevolgtrekkings gemaak”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die reis na Betlehem
  • Die geboorte van Christus
  • ’n Bemoedigende besoek
  • Nog woorde om te bewaar
  • Sy het “in haar hart gevolgtrekkings gemaak”
    Volg hulle geloof na
  • Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Kyk! Jehovah se slavin!”
    Volg hulle geloof na
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 10/1 bl. 22-25

Volg hulle geloof na

Sy het “in haar hart gevolgtrekkings gemaak”

MARIA het ongemaklik rondgeskuif op die klein pakdier. Sy was al ure lank op die pad. Voor haar het Josef doelgerig vooruitgestap op die pad na vergeleë Betlehem. Maria het weer die baba in haar voel beweeg.

Maria was hoogswanger; die Bybel gebruik die veelseggende frase “al ver gevorderd in swangerskap” om haar te beskryf (Lukas 2:5). Terwyl die paartjie verby die een landery na die ander gegaan het, het party van die boere dalk opgekyk van hulle ploeg- of saaiwerk en gewonder waarom ’n vrou in haar toestand op reis sou gaan. Waarom was Maria so ver van haar huis in Nasaret af?

Dit het alles maande tevore begin toe hierdie jong Joodse vrou ’n toewysing gekry het wat uniek was in die hele mensegeskiedenis. Sy moes geboorte gee aan die kind wat die Messias, die Seun van God, sou wees! (Lukas 1:35). Toe die tyd om geboorte te gee nader gekom het, moes hulle op hierdie reis gaan. Tydens hierdie reis het Maria voor ’n aantal toetse van haar geloof te staan gekom. Kom ons kyk wat haar gehelp het om geestelik sterk te bly.

Die reis na Betlehem

Josef en Maria was nie die enigstes wat op reis was nie. Keiser Augustus het kort tevore ’n verordening uitgereik dat almal in die land na hulle geboortedorp moes reis om geregistreer te word. Hoe het Josef gereageer? Die verslag sê: “Josef het natuurlik ook van Galilea af opgegaan, uit die stad Nasaret, na Judea, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy ’n lid van die huis en familie van Dawid was.”—Lukas 2:1-4.

Dit was nie toevallig dat die keiser die verordening in hierdie tyd uitgereik het nie. ’n Profesie wat ongeveer sewe eeue tevore neergeskryf is, het voorspel dat die Messias in Betlehem gebore sou word. Toevallig was daar ’n dorpie met die naam Betlehem net 11 kilometer van Nasaret af. Die profesie het egter spesifiek gesê dat die Messias uit “Betlehem Efrata” sou kom (Miga 5:2). Vandag skei ongeveer 150 kilometer van heuwelagtige paaie Nasaret van daardie dorpie in die suide. Dit was die Betlehem waarheen Josef moes gaan, want dit was die voorvaderlike tuiste van die familie van koning Dawid—die familie waaraan beide Josef en sy bruid behoort het.

Sou Maria Josef se besluit om die bevel te gehoorsaam, ondersteun? Die reis sou immers vir haar baie moeilik wees. Dit was waarskynlik in die vroeë herfs, en daarom was daar ’n moontlikheid van ligte reën terwyl die droë seisoen geleidelik tot ’n einde gekom het. Verder is die frase “van Galilea af opgegaan” gepas, want Betlehem was op ’n hoogte van meer as 760 meter geleë—nogal ’n steil klim, en dit aan die einde van ’n reis van etlike dae. Dalk sou dit langer as gewoonlik neem omdat Maria se toestand moontlik sou vereis dat sy dikwels moes rus. Nou, meer as op enige ander tyd, sou ’n jong vrou dalk baie graag naby die huis wou bly waar haar familie en vriende haar kon help wanneer haar geboortepyne begin. Sy moes ongetwyfeld moed hê om hierdie reis te onderneem.

Josef het nietemin gegaan “om geregistreer te word saam met Maria”, skryf Lukas. Hy meld ook dat Maria, “soos beloof is, aan [Josef] in die huwelik gegee is” (Lukas 2:4, 5). Die feit dat Maria Josef se vrou was, het ’n groot invloed op haar besluite gehad. Sy het haar man as haar geestelike hoof beskou en haar godgegewe rol as sy helper vervul deur hom in sy besluite te ondersteun.* Sy het dus hierdie potensiële toets van haar geloof die hoof gebied deur eenvoudig gehoorsaam te wees.

Wat anders kon Maria beweeg het om gehoorsaam te wees? Het sy geweet van die profesie wat sê dat Betlehem die geboorteplek van die Messias sou wees? Die Bybel sê nie. Ons kan nie die moontlikheid buite rekening laat nie, want die feit was blykbaar algemene kennis onder die godsdiensleiers en selfs mense oor die algemeen (Matteus 2:1-7; Johannes 7:40-42). Wanneer dit by die Skrif gekom het, was Maria allesbehalwe oningelig (Lukas 1:46-55). Hoe dit ook al sy, of Maria besluit het om te reis uit gehoorsaamheid aan haar man, ’n regeringsbevel of Jehovah se profesie—of weens ’n kombinasie van faktore—sy het ’n uitstekende voorbeeld gestel. Jehovah stel ’n nederige, gehoorsame gees in mans en vroue hoog op prys. In ons tyd, waarin onderdanigheid blykbaar onder die deugde is waaraan daar dikwels die minste waarde geheg word, is Maria se voorbeeld ’n riglyn vir alle getroue mense.

Die geboorte van Christus

Maria het seker ’n sug van verligting geslaak toe sy Betlehem gesien het. Op hulle reis oor die heuwels en verby olyfboorde—een van die laaste oeste wat ingesamel is—het Maria en Josef heel moontlik gedink aan die geskiedenis van hierdie klein dorpie. Dit was te onbeduidend om onder Juda se stede getel te word, net soos die profeet Miga gesê het; tog was dit, meer as ’n duisend jaar tevore, die geboorteplek van Boas, Naomi en later Dawid.

Toe Maria en Josef daar aankom, het die dorp gewemel van mense. Ander het voor hulle daar aangekom om te registreer, en daarom was daar geen plek vir hulle in die gastekamer nie.* Hulle het geen ander keuse gehad as om die nag in ’n stal deur te bring nie. Ons kan ons net voorstel hoe bekommerd Josef was toe sy vrou ’n skerp pyn ondervind, soos sy nog nooit tevore gehad het nie, wat al hoe erger geword het. Dat haar geboortepyne nou juis hier moes begin.

Vroue in alle wêrelddele kan medelye met Maria hê. Ongeveer 4 000 jaar tevore het Jehovah voorspel dat alle vroue weens oorgeërfde sonde pyn gedurende kindergeboorte sou ervaar (Genesis 3:16). Daar is geen bewyse dat Maria ’n uitsondering was nie. Lukas se verslag hul die toneel in ’n beskeie sluier van privaatheid en sê eenvoudig: “Sy het geboorte gegee aan haar seun, die eersgeborene” (Lukas 2:7). Ja, haar “eersgeborene”—die eerste van Maria se talle kinders, altesaam ten minste sewe—is gebore (Markus 6:3). Hierdie een sou egter altyd anders wees. Hy was nie net haar eersgeborene nie, maar hy was Jehovah se “eersgeborene van die hele skepping”, die enigverwekte Seun van God!—Kolossense 1:15.

Dit is hier waar die verslag ’n bekende besonderheid byvoeg: “Sy het hom met doeke toegedraai en hom in ’n krip neergelê” (Lukas 2:7). Kersspele, -skilderye en -tonele regoor die wêreld beeld hierdie gebeurtenis op ’n oordrewe sentimentele manier uit. Maar dink aan wat werklik gebeur het. ’n Krip is ’n voerbak vir plaasdiere. Die gesin het dus in ’n stal gebly, nie juis ’n plek wat—destyds of vandag—bekend is vir vars lug en goeie higiëne nie. Watter ouers sou so ’n plek kies vir die geboorte van hulle kind as hulle enige ander keuse gehad het? Die meeste ouers wil die beste vir hulle kinders hê. Hoeveel te meer sou Maria en Josef die beste vir die Seun van God wou voorsien!

Maar hulle het nie toegelaat dat hulle beperkings hulle verbitterd maak nie; hulle het eenvoudig hulle bes gedoen met wat hulle gehad het. Let byvoorbeeld op dat Maria self vir die baba gesorg het deur hom in doeke toe te draai en hom in die krip neer te lê om te slaap, sodat hy verseker warm en veilig sou wees. Maria was nie van plan om toe te laat dat angstigheid oor haar huidige omstandighede haar aandag daarvan aftrek om na die beste van haar vermoë vir hom te sorg nie. Sy en Josef het ook albei geweet dat die belangrikste ding wat hulle vir hierdie kind kon doen, sou wees om na sy geestelikheid om te sien (Deuteronomium 6:6-8). Vandag stel wyse ouers soortgelyke prioriteite terwyl hulle hulle kinders in hierdie geestelik verarmde wêreld grootmaak.

’n Bemoedigende besoek

’n Onverwagse besoek het die vreedsame toneel versteur. Herders het by die stal ingestorm, gretig om die gesin, maar veral die kind, te sien. Hierdie manne het oorgeloop van opgewondenheid en hulle gesigte het gestraal van vreugde. Hulle het haastig van die heuwels af gekom, waar hulle saam met hulle kuddes gebly het.* Hulle het die verbaasde ouers vertel van die wonderlike ondervinding wat hulle so pas gehad het. Daar op die heuwel het ’n engel skielik gedurende die nagwaak aan hulle verskyn. Jehovah se heerlikheid het oral om hulle geskyn, en die engel het hulle vertel dat die Christus, of Messias, kort tevore in Betlehem gebore is. Hulle sou die kind vind waar hy in ’n krip lê, toegedraai in doeke. Toe het iets selfs skouspelagtiger gebeur—’n magtige engelekoor het verskyn en Jehovah se heerlikheid besing!

Geen wonder dat hierdie nederige manne hulle na Betlehem gehaas het nie! Hulle moes verheug gewees het om ’n pasgebore baba daar te sien lê, net soos die engel gesê het. Hulle het nie hierdie goeie nuus vir hulleself gehou nie. “Hulle [het] die woord bekend gemaak . . . En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is” (Lukas 2:17, 18). Die godsdiensleiers van daardie tyd het blykbaar neergesien op die herders. Dit is egter duidelik dat Jehovah hierdie nederige, getroue manne waardeer het. Maar hoe het hierdie besoek Maria geraak?

Maria was ongetwyfeld uitgeput weens die bevalling, tog het sy aandagtig na elke woord geluister. En sy het selfs meer gedoen: “Maria het al hierdie woorde begin bewaar, terwyl sy in haar hart gevolgtrekkings gemaak het” (Lukas 2:19). Hierdie jong vrou was werklik ’n denker. Sy het geweet dat hierdie engeleboodskap baie belangrik was. Haar God, Jehovah, wou hê dat sy moes weet wie haar seun in werklikheid is en dat sy moes besef hoe belangrik hy is. Sy het dus nie net geluister nie. Sy het die woorde in haar hart bewaar sodat sy in die maande en jare vorentoe oor en oor daaroor kon peins. Hier is ’n baie belangrike rede vir die geloof wat Maria deur haar hele lewe heen geopenbaar het.

Sal jy Maria se voorbeeld volg? Jehovah het sy Woord gevul met lewensbelangrike geestelike waarhede. Maar tensy ons aandag skenk aan daardie waarhede, sal ons nie juis daarby baat vind nie. Ons doen dit deur die Bybel gereeld te lees—nie net as ’n letterkundige werk nie, maar as die geïnspireerde Woord van God (2 Timoteus 3:16). Dan moet ons, soos Maria, geestelike woorde in ons hart bewaar en gevolgtrekkings maak. As ons peins oor wat ons in die Bybel lees en aan maniere dink hoe ons Jehovah se raad in groter mate kan toepas, sal ons ons geloof voldoende voed sodat dit kan groei.

Nog woorde om te bewaar

Toe die baba agt dae oud was, het Maria en Josef hom laat besny soos die Mosaïese Wet vereis het en hom volgens die opdrag wat ontvang is, Jesus genoem (Lukas 1:31). Later, op die 40ste dag, het hulle hom van Betlehem na die tempel in Jerusalem geneem, ’n paar kilometer daarvandaan, en die reinigingsoffers gebring wat die Wet arm mense toegelaat het om te bring—twee tortelduiwe of twee jong duiwe. As hulle skaam gevoel het om minder te offer as die ram en een tortelduif wat ander ouers kon bekostig, het hulle sulke gevoelens opsygeskuif. Hoe dit ook al sy, hulle het kragtige aanmoediging ontvang terwyl hulle daar was.—Lukas 2:21-24.

’n Bejaarde man genaamd Simeon het hulle genader en Maria nog meer woorde gegee om in haar hart te bewaar. Hy het die belofte ontvang dat hy die Messias sou sien voor hy doodgaan, en Jehovah se heilige gees het aan hom geopenbaar dat klein Jesus die voorspelde Redder is. Simeon het ook vir Maria gewaarsku oor die pyn wat sy eendag sou moes verduur. Hy het gesê dat dit sou voel asof sy met ’n lang swaard deurboor word (Lukas 2:25-35). Selfs daardie vreeswekkende woorde het Maria moontlik gehelp om te volhard toe daardie moeilike tyd meer as drie dekades later aangebreek het. Ná Simeon het ’n profetes genaamd Anna klein Jesus gesien en met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het, oor hom gepraat.—Lukas 2:36-38.

Wat ’n goeie besluit was dit tog van Josef en Maria om hulle baba na Jehovah se tempel in Jerusalem te bring! Sodoende het hulle hulle seun op ’n lewensweg geplaas waarvolgens hy getrou by Jehovah se tempel aanwesig was. Terwyl hulle daar was, het hulle van hulleself gegee volgens hulle vermoë en het hulle woorde van onderrigting en aanmoediging ontvang. Toe Maria die tempel daardie dag verlaat het, het sy ongetwyfeld sterker geloof gehad en ’n hart vol geestelike woorde om oor te peins en ander van te vertel.

Dit is wonderlik om te sien dat ouers vandag daardie voorbeeld volg. Jehovah se Getuies bring getrou hulle kinders na die Christelike vergaderinge. Sulke ouers gee wat hulle kan terwyl hulle hulle medegelowiges aanmoedig. Na die tyd is hulle sterker, gelukkiger en vol goeie dinge om aan ander mee te deel. Jy word hartlik uitgenooi om saam met hulle te vergader. As jy dit doen, sal jy vind dat jou geloof, soos Maria s’n, al hoe sterker sal word.

[Voetnote]

Let op die verskil tussen hierdie gedeelte en die beskrywing van ’n vorige reis: “Maria [het] opgestaan en . . . gegaan” om vir Elisabet te gaan kuier (Lukas 1:39). Op daardie stadium, as ’n verloofde maar ongetroude vrou, het Maria dalk opgetree sonder om Josef te raadpleeg. Ná die paartjie getroud is, word die feit dat hulle die reis saam onderneem het, aan Josef toegeskryf, nie aan Maria nie.

Dit was destyds die gebruik dat dorpe ’n gemeenskaplike vertrek voorsien om reisigers en verbygaande karavane te huisves.

Die feit dat hierdie herders gedurende daardie tyd buite saam met hulle kuddes gebly het, bevestig wat Bybelchronologie aandui: Die geboorte van Christus het nie in Desember plaasgevind wanneer die kuddes op ’n beskutte plek nader aan die huis gehou sou word nie, maar eerder vroeg in Oktober.

[Prent op bladsy 25]

Simeon is geseën met die voorreg om die voorspelde Redder te sien

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel