Jehovah se “stralende oë” ondersoek almal
“[Jehovah se] stralende oë ondersoek die mensekinders.”—PS. 11:4.
1. Tot watter soort mense voel ons aangetrokke?
HOE voel jy oor mense wat opregte belangstelling in jou toon? Hulle gee hulle eerlike mening wanneer jy hulle daarvoor vra. Wanneer jy hulp nodig het, voorsien hulle dit ruimhartig. Wanneer jy raad nodig het, gee hulle dit op liefdevolle wyse (Ps. 141:5; Gal. 6:1). Voel jy nie aangetrokke tot sulke mense nie? Wel, dit is presies hoe Jehovah en sy Seun is. Trouens, hulle belangstelling in jou oortref dié van enige mens, en hulle beweegrede is heeltemal onselfsugtig; hulle wil jou help om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry”.—1 Tim. 6:19; Op. 3:19.
2. In watter mate stel Jehovah belang in sy knegte?
2 Die psalmis Dawid het gewys op Jehovah se intense belangstelling in ons toe hy gesê het: “[Jehovah se] oë sien, sy stralende oë ondersoek die mensekinders” (Ps. 11:4). Ja, God kyk nie net na ons nie; hy ondersoek ons. Dawid het ook geskryf: “U het my hart ondersoek, u het in die nag inspeksie gehou . . . U sal ontdek dat ek nie agteraf planne beraam het nie” (Ps. 17:3). Dit is duidelik dat Dawid bewus was van Jehovah se intense belangstelling in hom. Hy het geweet dat hy Jehovah sou seermaak en hom Sy misnoeë op die hals sou haal as hy sondige gedagtes koester of ’n onderduimse hart ontwikkel. Is Jehovah vir jou net so werklik soos hy vir Dawid was?
Jehovah sien die hart
3. Hoe openbaar Jehovah ’n gebalanseerde gesindheid teenoor ons onvolmaakthede?
3 Jehovah stel hoofsaaklik belang in die innerlike persoon—wat ons werklik in ons hart is (Ps. 19:14; 26:2). Uit liefde konsentreer hy nie op geringe tekortkominge nie. Byvoorbeeld, toe Sara, die vrou van Abraham, nie die volle waarheid vir ’n gematerialiseerde engel vertel het nie, het die engel blykbaar gesien dat sy bang en verleë is, en daarom het hy haar net lig bestraf (Gen. 18:12-15). Toe die aartsvader Job “eerder sy eie siel regverdig verklaar het as God”, het Jehovah nie ’n seën van hom weerhou nie, want Hy het geweet dat Job vreeslik gely het deur Satan se toedoen (Job 32:2; 42:12). Ook het Jehovah nie aanstoot geneem aan die weduwee van Sarfat se reguit woorde aan die profeet Elia nie. God het verstaan dat sy bedroef was oor die dood van haar enigste kind.—1 Kon. 17:8-24.
4, 5. Hoe het Jehovah op goedgunstige wyse met Abimeleg gehandel?
4 Omdat Jehovah die hart ondersoek, het hy selfs teenoor ongelowiges bedagsaamheid getoon. Beskou sy handelinge met Abimeleg, die koning van die Filistynse stad Gerar. Abimeleg, wat nie besef het dat Abraham en Sara getroud is nie, het Sara geneem om sy vrou te word. Maar voordat Abimeleg enigsins verder kon gaan, het Jehovah in ’n droom vir hom gesê: “Ek het ook geweet dat jy dit in die opregtheid van jou hart gedoen het, en ek het jou ook daarvan teruggehou om teen my te sondig. Daarom het ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie. Maar gee nou die man se vrou terug, want hy is ’n profeet, en hy sal smeekbedes vir jou doen. Bly sodoende lewe.”—Gen. 20:1-7.
5 Jehovah kon ongetwyfeld streng opgetree het teen Abimeleg, ’n aanbidder van valse gode. Maar God het gesien dat die man by hierdie geleentheid eerlik gehandel het. Jehovah het dit goedgunstiglik erken en vir die koning gesê hoe hy vergifnis kon verkry en kon ‘bly lewe’. Is dit nie die soort God wat jy wil aanbid nie?
6. Hoe het Jesus sy Vader nagevolg?
6 Jesus het sy Vader volmaak nagevolg deur op die goeie in sy dissipels te konsentreer en hulle foute geredelik te vergewe (Mark. 10:35-45; 14:66-72; Luk. 22:31, 32; Joh. 15:15). Jesus se gesindheid het ooreengestem met sy woorde in Johannes 3:17: “God het sy Seun in die wêreld uitgestuur, nie sodat hy die wêreld moet oordeel nie, maar sodat die wêreld deur middel van hom gered kan word.” Ja, die liefde wat Jehovah en Jesus vir ons het, is innig en bestendig. Dit word gesien in hulle begeerte dat ons die lewe verkry (Job 14:15). Hierdie liefde verklaar waarom Jehovah ons ondersoek, hoe hy ons beskou en hoe hy reageer op wat hy sien.—Lees 1 Johannes 4:8, 19.
Deur liefdevolle oë ondersoek
7. Met watter beweegrede ondersoek Jehovah ons?
7 Hoe verkeerd is dit dan tog om aan Jehovah te dink as ’n hemelse polisieman wat ons van bo af dophou om ons op heterdaad te betrap wanneer ons sondig! Dit is Satan wat ’n siniese, beskuldigende oog het (Op. 12:10). Hy skryf selfs slegte beweegredes toe aan persone wat dit nie het nie! (Job 1:9-11; 2:4, 5). Die psalmis het aangaande God geskryf: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Ps. 130:3). Die geïmpliseerde antwoord is: Niemand nie! (Pred. 7:20). Jehovah kyk eerder na ons met die barmhartige, goedhartige oë van ’n besorgde ouer wat sy geliefde kinders teen leed wil beskerm. Hy maak ons dikwels bewus van ons onvolmaakthede en swakhede sodat ons ons nie leed aandoen nie.—Ps. 103:10-14; Matt. 26:41.
8. Hoe onderrig en dissiplineer Jehovah sy knegte?
8 God se liefde word betoon deur die onderrigting en dissipline wat voorsien word in die Skrif sowel as in die geestelike voedsel wat deur “die getroue en verstandige slaaf” verskaf word (Matt. 24:45; Heb. 12:5, 6). Jehovah verleen ook hulp deur middel van die Christengemeente en die “gawes in die vorm van mense” daarin (Ef. 4:8). Wat meer is, Jehovah kyk hoe ons op sy vaderlike opleiding reageer en hy probeer ons nog verder help. Psalm 32:8 sê: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.” Hoe belangrik is dit dan tog dat ons altyd na Jehovah luister! Ons moet sorg dat ons nederig bly voor hom, in die besef dat hy ons liefdevolle Onderrigter en Vader is.—Lees Matteus 18:4.
9. Watter neigings moet ons vermy, en waarom?
9 Mag ons daarenteen nooit verhard word deur trots, deur ’n gebrek aan geloof of deur “die bedrieglike krag van die sonde” nie (Heb. 3:13; Jak. 4:6). Hierdie neigings ontstaan dikwels wanneer ’n persoon onheilsame gedagtes of begeertes koester. Hy kan selfs die punt bereik waar hy gepaste skriftuurlike raad verwerp. Nog erger, hy kan so verstok raak in sy slegte gesindheid of weë dat hy hom ’n vyand van God maak—waarlik ’n vreeswekkende situasie! (Spr. 1:22-31). Beskou die voorbeeld van Kain, die eersgeborene van Adam en Eva.
Jehovah sien alles en tree dienooreenkomstig op
10. Waarom het Jehovah Kain se offer afgekeur, en hoe het Kain gereageer?
10 Toe Kain en Abel albei ’n offer aan Jehovah gebring het, het Hy nie net in hulle gawe belanggestel nie, maar ook in hulle beweegrede. Gevolglik het God Abel se offer goedgekeur, wat in geloof gebring is, maar Kain s’n afgekeur, wat op die een of ander manier ’n gebrek aan geloof weerspieël het (Gen. 4:4, 5; Heb. 11:4). In plaas van uit die voorval te leer en sy gesindheid te verander, is Kain verteer deur woede teenoor sy broer.—Gen. 4:6.
11. Hoe het Kain ’n verraderlike hart geopenbaar, en wat is die les vir ons?
11 Jehovah het hierdie gevaarlike verwikkeling gesien en uit bedagsaamheid met Kain gepraat en hom daarop gewys dat dit vir hom tot ’n verheffing sal lei as hy goed doen. Ongelukkig het Kain sy Skepper se raad geïgnoreer en sy broer vermoor. Kain se slegte hart kan ook gesien word in sy astrante reaksie op God se vraag: “Waar is jou broer Abel?” Kain het geantwoord: “Ek weet nie. Is ek my broer se oppasser?” (Gen. 4:7-9). Hoe verraderlik kan die hart tog wees—dit kan selfs raad wat regstreeks van God kom, verontagsaam! (Jer. 17:9). Laat ons derhalwe uit sulke verslae leer en gou wees om verkeerde gedagtes en begeertes te verwerp. (Lees Jakobus 1:14, 15.) As ons skriftuurlike raad ontvang, moet ons dit waardeer en dit as ’n blyk van Jehovah se liefde beskou.
Geen sonde is verborge nie
12. Hoe reageer Jehovah op oortreding?
12 Party mense meen miskien dat hulle met oortredings sal wegkom as niemand hulle sien nie (Ps. 19:12). In sekere sin is daar nie iets soos ’n verborge sonde nie. “Alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Heb. 4:13). Jehovah is ’n Regter wat ons diepste beweegredes ondersoek, en die manier waarop hy op oortreding reageer, weerspieël volmaakte geregtigheid. Hy is “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid”. Maar wat die onberouvolles betref, hy sal “geensins vrystelling van straf gee” wanneer hulle “moedswillig sonde beoefen” of ’n bedrieglike, onderduimse gesindheid openbaar nie (Eks. 34:6, 7; Heb. 10:26). Hierdie feit kom duidelik na vore in Jehovah se handelinge met Agan en met Ananias en Saffira.
13. Hoe het verkeerde denke klaarblyklik tot Agan se slegte gedrag bygedra?
13 Agan het reëlreg in stryd met God se gebod buit uit die stad Jerigo geneem en dit in sy tent weggesteek, waarskynlik met die medewete van sy gesin. Toe sy sonde blootgelê is, het Agan getoon dat hy die erns besef het van wat hy gedoen het, want hy het gesê: “Ek het . . . gesondig teen Jehovah” (Jos. 7:20). Soos Kain, het Agan ’n slegte hart ontwikkel. In Agan se geval was gierigheid ’n vername faktor, en dit het daartoe bygedra dat hy bedrieglik opgetree het. Aangesien die buit van Jerigo aan Jehovah behoort het, het Agan in werklikheid van God gesteel, en dit het hom en sy gesin duur te staan gekom.—Jos. 7:25.
14, 15. Waarom het Ananias en Saffira God se misnoeë verdien, en wat leer ons hieruit?
14 Ananias en sy vrou, Saffira, was lede van die vroeë Christengemeente in Jerusalem. Ná Pinkster 33 G.J. is ’n gemeenskaplike fonds gestig om te voorsien in die fisiese behoeftes van nuwe gelowiges uit verre lande wat in Jerusalem agtergebly het. Die fonds is deur vrywillige bydraes ondersteun. Ananias het ’n stuk grond verkoop en ’n deel van die geld tot die fonds bygedra. Maar hy het, met sy vrou se volle medewete, voorgegee dat hy die volle bedrag bygedra het. Hierdie egpaar wou ongetwyfeld spesiale eer in die gemeente ontvang. Maar hulle het bedrieglik opgetree. Jehovah het die bedrog op wonderdadige wyse aan die apostel Petrus geopenbaar, wat Ananias met sy oortreding gekonfronteer het. Daarop het Ananias neergeval en gesterf. Kort daarna het Saffira ook gesterf.—Hand. 5:1-11.
15 Ananias en Saffira het nie in ’n oomblik van swakheid geswig nie. Hulle het agteraf planne beraam en gelieg in ’n poging om die apostels te bedrieg. Nog erger, hulle het ‘oneerlik opgetree teenoor die heilige gees en teenoor God’. Jehovah se reaksie toon baie duidelik dat hy gereed is om die gemeente teen huigelaars te beskerm. Ja, “dit is iets vreesliks om in die hande van die lewende God te val”!—Heb. 10:31.
Handhaaf onkreukbaarheid te alle tye
16. (a) Hoe probeer Satan God se knegte verderf? (b) Watter metodes gebruik die Duiwel om mense in julle omgewing te verderf?
16 Satan doen alles in sy vermoë om ons te verderf en om ons Jehovah se goedkeuring te laat verloor (Op. 12:12, 17). Die Duiwel se bose oogmerke word duidelik in die wêreld gesien, wat behep is met geslagsonsedelikheid en geweld. Dit is vandag maklik om toegang tot pornografie te verkry deur middel van rekenaars of ander elektroniese toestelle. Mag ons nooit voor Satan se aanvalle swig nie. Mag ons eerder soos die psalmis Dawid voel, wat geskryf het: “Ek sal op ’n onberispelike wyse oordeelkundig handel. . . . Ek sal in my huis in die onkreukbaarheid van my hart wandel.”—Ps. 101:2.
17. (a) Waarom bring Jehovah verborge sondes uiteindelik aan die lig? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
17 Vandag lê Jehovah nie growwe sonde en bedrieglike gedrag op wonderdadige wyse bloot soos hy soms in die verlede gedoen het nie. Nietemin sien hy alles en bring hy verborge dinge op sy tyd en manier aan die lig. Paulus het gesê: “Die sondes van party mense is algemeen bekend en lei regstreeks tot ’n oordeel, maar wat ander mense betref, hulle sondes word ook later bekend” (1 Tim. 5:24). Jehovah se vernaamste beweegrede om slegte dade openbaar te maak, is liefde. Hy het die gemeente lief en wil die reinheid daarvan beskerm. Verder bewys hy barmhartigheid aan diegene wat deur sonde oorval is, maar wat nou opreg berouvol is (Spr. 28:13). Laat ons dus daarna streef om ’n volkome hart teenoor God te behou en alle verderflike invloede te verwerp.
Behou ’n volkome hart
18. Hoe wou koning Dawid hê dat sy seun teenoor God moet voel?
18 Koning Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Ken die God van jou vader en dien hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel; want Jehovah deursoek alle harte, en hy onderskei elke neiging van die gedagtes” (1 Kron. 28:9). Dawid wou hê dat sy seun meer moet doen as om bloot in God te glo. Hy wou hê dat Salomo moet besef hoe intens Jehovah in Sy knegte belangstel. Waardeer jy hierdie aspek van Jehovah se persoonlikheid?
19, 20. Wat het Dawid volgens Psalm 19:7-11 gehelp om nader aan God te kom, en hoe kan ons Dawid navolg?
19 Jehovah weet dat mense met die regte gesindheid tot hom aangetrokke sal voel en dat kennis van sy pragtige eienskappe hulle hart sal verbly. Daarom wil Jehovah hê dat ons hom moet leer ken en vertroud moet raak met sy wonderlike persoonlikheid. Hoe doen ons dit? Deur sy Woord te bestudeer en sy seën in ons lewe te ervaar.—Spr. 10:22; Joh. 14:9.
20 Lees jy God se Woord elke dag met ’n waarderende, biddende gesindheid? Sien jy die waarde daarvan om volgens Bybelbeginsels te lewe? (Lees Psalm 19:7-11.) Indien wel, sal jou geloof in Jehovah en jou liefde vir hom bly toeneem. En hy sal op sy beurt steeds nader aan jou kom, as ’t ware hand aan hand met jou wandel (Jes. 42:6; Jak. 4:8). Ja, Jehovah sal sy liefde vir jou bewys deur jou te seën en jou geestelik te beskerm terwyl jy op die smal pad na die lewe wandel.—Ps. 91:1, 2; Matt. 7:13, 14.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom ondersoek Jehovah ons?
• Wat het sekere persone vyande van God laat word?
• Hoe kan ons toon dat Jehovah vir ons werklik is?
• Hoe kan ons ’n volkome hart teenoor God behou?
[Prent op bladsy 4]
In watter opsig hou Jehovah sy oë op ons soos ’n besorgde ouer?
[Prent op bladsy 5]
Watter les leer ons uit die voorbeeld van Ananias?
[Prent op bladsy 6]
Wat sal ons help om Jehovah met ’n volkome hart te bly dien?