Watter uitwerking het die waarheid omtrent die hel op jou?
DIEGENE wat verkondig dat die hel ’n plek van foltering is, bevorder ’n flagrante wanvoorstelling van Jehovah God en sy eienskappe. Die Bybel sê weliswaar dat God die goddeloses sal vernietig (2 Tessalonisense 1:6-9). Maar regverdige woede is nie God se oorheersende eienskap nie.
God is nie kwaadwillig of wraaksugtig nie. Hy vra selfs: “Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose?” (Esegiël 18:23, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). As God geen behae het in die dood van die goddeloses nie, hoe kan hy dan tot in alle ewigheid daarin behae skep om te sien hoe hulle gefolter word?
God se oorheersende eienskap is liefde (1 Johannes 4:8). Ja, “die HERE is goed vir almal; hy het medelye met almal wat hy gemaak het” (Psalm 145:9, The Holy Bible—New International Version). God wil hê dat ons op ons beurt hartgrondige liefde vir hom moet aankweek.—Matteus 22:35-38.
Vrees vir die hel of liefde vir God —Waardeur word jy beweeg?
Die leerstelling dat siele in die hel ly, bevorder ’n morbiede vrees vir God. In teenstelling hiermee sal iemand wat die waarheid omtrent God leer en hom liefkry, ’n heilsame vrees vir hom aankweek. “Die vrees van die HERE is die begin van wysheid; verstandig is almal wat daarvolgens lewe”, verduidelik Psalm 111:10 (The New American Bible). Hierdie vrees van God is nie ’n sieklike angs nie, maar ontsag en diepe eerbied vir die Skepper. Dit wek in ons ’n heilsame vrees om hom te mishaag.
Kyk watter uitwerking die waarheid omtrent die hel op die 32-jarige Kathleen, ’n voormalige dwelmgebruiker, gehad het. Haar lewe was gevul met partytjies, geweld, selfhaat en onsedelikheid. Sy het erken: “Ek het na my eenjarige dogtertjie gekyk en gedink: ‘Kyk wat doen ek aan haar. Hiervoor gaan ek in die hel brand.’” Kathleen het dwelms probeer opgee, maar niks het gewerk nie. “Ek wou goed wees”, het sy gesê, “maar alles in my lewe en in die wêreld was so pateties. Dit het nie gelyk of daar enige rede is om goed te wees nie.”
Toe het Kathleen Jehovah se Getuies ontmoet. “Ek het geleer dat daar nie ’n brandende hel is nie. Die skriftuurlike bewyse het heeltemal sin gemaak”, het Kathleen gesê. “Dit was vir my ’n baie groot verligting om te weet dat ek nie in ’n hel gaan brand nie.” Maar sy het ook geleer van God se belofte dat mense vir ewig kan lewe op ’n aarde wat van goddeloosheid gereinig is (Psalm 37:10, 11, 29; Lukas 23:43). “Nou het ek ware hoop—om vir ewig in die Paradys te lewe!” het sy uitgeroep.
Sou Kathleen kon ophou om dwelms te gebruik noudat sy nie meer vrees vir ’n brandende hel gehad het nie? Sy het vertel: “Wanneer die drang na dwelms groot was, het ek gebid en Jehovah God om hulp gesmeek. Ek het gedink aan hoe hy sulke verontreinigende gewoontes beskou en ek wou hom nie teleurstel nie. Hy het my gebede verhoor” (2 Korintiërs 7:1). Hierdie vrees om God te mishaag, het Kathleen in staat gestel om haar verslawing te bowe te kom.
Ja, as ons liefde vir God en ’n heilsame vrees vir hom aankweek—nie vrees vir foltering in ’n hel nie—kan dit ons beweeg om God se wil te doen sodat ons blywende geluk sal kan smaak. Die psalmis het geskryf: “Geseënd is elkeen wat Jehovah vrees, wat in sy weë wandel.”—Psalm 128:1, American Standard Version.
[Venster/Prente op bladsy 9]
WIE SAL UIT DIE HEL BEVRY WORD?
Party Bybelvertalings veroorsaak verwarring deur twee verskillende Griekse woorde—Geʹen·na en Haiʹdes—met net die een woord, “hel”, te vertaal. In die Bybel verwys die woord Geʹen·na na algehele vernietiging, sonder die hoop op ’n opstanding. In teenstelling hiermee het diegene in Haiʹdes, of Hades, wel die hoop om opgewek te word.
Nadat Jesus gesterf het en opgewek is, het die apostel Petrus dus sy gehoor verseker dat Jesus “nie in die hel gelaat is nie” (Handelinge 2:27, 31, 32; Psalm 16:10; King James Version). Die woord wat in hierdie vers met “hel” vertaal word, is die Griekse woord Haiʹdes. Jesus het nie na ’n brandende plek gegaan nie. Hades, of “die hel”, was die graf. Maar Jesus is nie die enigste persoon wat deur God uit Hades bevry word nie.
Die Bybel sê in verband met die opstanding: “Die dood en die hel het die dooies gegee wat daarin was” (Openbaring 20:13, 14, KJ). Die feit dat “die hel” leeggemaak gaan word, beteken dat almal wat God waardig ag om ’n opstanding te kry, lewend gemaak sal word (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Wat ’n wonderlike hoop vir die toekoms—om te sien hoe ons afgestorwe geliefdes uit die graf teruggebring word! Jehovah, die God van oneindige liefde, sal dit doen.