Ons lesers vra
Glo Jehovah se Getuies dat hulle die enigstes is wat gered sal word?
Jehovah se Getuies meen dat hulle die ware godsdiens gevind het. As dit nie die geval was nie, sou hulle hulle opvattings verander het. Soos die lidmate van baie godsdienste hoop Jehovah se Getuies om gered te word. Maar hulle glo ook dat dit nie hulle verantwoordelikheid is om te beslis wie gered sal word nie. God is uiteindelik die Regter. Hy besluit.—Jesaja 33:22.
Volgens God se Woord moet diegene wat gered sal word, nie net die begeerte hê om gered te word nie, maar hulle moet ook met die Redder saamwerk. Ter toeligting: Gestel ’n voetslaner verdwaal in ’n wildernis. Hy wil bitter graag die pad daaruit vind. Sal hy omkom of sal hy aan die lewe bly? Die uiteinde hang af van hoe hy op hulp reageer. Uit trots wys hy dalk die hulp van ’n redder van die hand. Aan die ander kant kan hy nederig hulp aanvaar en veiligheid bereik.
Redding behoort eweneens aan diegene wat met die mensdom se Redder, Jehovah God, saamwerk. Redding is ’n gawe van God, maar nie almal sal dit ontvang nie. God se Seun, Jesus, het gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”—Matteus 7:21.
Jehovah se Getuies glo dat God slegs diegene red wat geloof in Jesus se losprysoffer beoefen en Jesus se leringe noukeurig volg (Handelinge 4:10-12). Kyk na drie belangrike vereistes vir redding wat in God se Woord gevind word.
(1) “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het”, het Jesus vir sy metgeselle gesê (Johannes 13:35). Jesus se eie voorbeeld om sy lewe vir ander te gee, het die belangrikheid van liefde beklemtoon. Dié wat ander liefhet, openbaar ’n eienskap wat noodsaaklik is vir redding.
(2) “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak”, het Jesus in gebed tot sy Vader gesê (Johannes 17:26). Jesus het geweet hoe belangrik God se persoonlike naam, Jehovah, vir sy Vader is. Jesus het gebid dat sy Vader se naam “geheilig word” (Matteus 6:9). Om God se naam te heilig, sluit in dat ’n mens hierdie naam ken en dit as belangrik en heilig beskou. Soos Jesus, moet diegene wat gered wil word, God se naam gebruik. Hulle moet ook ander van God se naam en eienskappe leer (Matteus 28:19,20). Trouens, net diegene wat God se naam aanroep, sal gered word.—Romeine 10:13.
(3) “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”, het Jesus vir Pontius Pilatus gesê (Johannes 18:36). Deesdae beoefen min mense geloof in God se Koninkryk, of regering, waarvan Jesus die Koning is. Hulle stel hulle vertroue eerder in mensgemaakte instellings. In teenstelling hiermee gee dié wat gered sal word, lojale ondersteuning aan God se Koninkryk en leer hulle ander hoe dit alle getroue mense sal bevry.—Matteus 4:17.
Nadat hulle ’n paar van die vereistes vir redding geleer het, het Jesus se dissipels gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het geantwoord: “Die dinge wat onmoontlik is by mense, is moontlik by God” (Lukas 18:18-30). Jehovah se Getuies probeer hierdie vereistes vir redding nougeset nakom. Hulle span hulle ook in om ander te help om gered te word.