’n Soeke na foute het tot die waarheid gelei
Soos vertel deur R. Stuart Marshall
“Ons praat nie met Jehovah se Getuies nie”, het die Jesuïetepriester gesê. “Hulle gebruik die Bybel.” Sy antwoord het my verbaas omdat ek hom so pas gevra het om my vrou te help deur ’n paar teenstrydighede in die leringe van Jehovah se Getuies aan haar uit te wys. Ek het besluit dat ek die Bybel self saam met die Getuies sal moet studeer sodat ék dit aan haar kan uitwys.
DIT was op hierdie stadium dat ek, op die ouderdom van 43, my voorgeneem het om die leringe van Jehovah se Getuies te weerlê deur my kennis van logika en teologie te gebruik. Ek het was van laerskool af tot op universiteit in Katolieke inrigtings. Hoewel ek in 1969 ’n B.A.-graad in ekonomie verwerf het en die voorgeskrewe kursusse in filosofie en teologie gedoen het, het geen deel van my Katolieke opvoeding ’n studie van die Bybel ingesluit nie.
Ná universiteit het ek met Patricia McGinn, ’n mede-Katoliek, getrou. Daarna het albei van ons ’n doktorsgraad aan die Stanford-universiteit verwerf. Ons seun, Stuart, is in 1977 gebore, en ons het uiteindelik in Sacramento, Kalifornië, VSA, gaan woon. Ek het die volgende 23 jaar vir die staat Kalifornië in die Ontledingskantoor vir die Wetgewer gewerk en die finansiële impak van staatsonderwysbegrotings ontleed. Ek het hard gewerk en ’n goeie lewe geniet. Dit was vir my ’n vreugde om ’n pa vir ons seun te wees terwyl hy grootgeword het. My geliefde vrou was my grootste ondersteuner, en ek het haar ook ondersteun.
’n Antwoord vir 25 sent
Toe ons seun twee jaar oud was, het Patricia ’n Bybel by Jehovah se Getuies gekry en dit saam met hulle begin studeer. Sy is drie jaar later gedoop. Ek het gedink dat Jehovah se Getuies ’n eng beskouing van vakansiedae en bloedoortappings het, maar tog ek het hulle redenasies oor sekere onderwerpe oortuigend gevind. Tot my verbasing het ek my mening op ’n dag in 1987 in die openbaar uitgespreek toe ek gevra is om by ’n gesamentlike sitting van die senaat en die wetgewende vergadering se onderwyskomitees te getuig oor ’n aanbeveling wat ek aan die staat se wetgewer gedoen het.
Die Universiteit van Kalifornië wou fondse hê sodat dit met ander state kon meeding om ’n federale projek van sesmiljard dollar. Die projek was om ’n supergeleidende deeltjieversneller te bou waarmee navorsing oor subatomiese deeltjies gedoen kon word. My aanbeveling was dat die fondse nie toegestaan word nie omdat dit op die lange duur min vir die staat se ekonomie sou doen. Die universiteit het hierop gereageer deur twee Nobelpryswenners op die gebied van fisika in te roep om voor die wetgewer te getuig. Elkeen van hulle het beskryf watter kennis die projek kon voorsien. Een het gesê dat dit antwoorde kon voorsien op vrae oor die oorsprong van die heelal. Die ander het gesê dat dit lig kon werp op hoe lewe op ons planeet begin het.
Die voorsitter van die komitee het na my gekyk.
“Dink jy sesmiljard dollar is te veel om vir antwoorde op hierdie vrae te betaal?” het hy gevra.
“Ek stem saam dat hierdie vrae belangrik is”, het ek geantwoord. “Maar Jehovah se Getuies kom Saterdagoggende na my huis toe en bied ’n tydskrif aan teen ’n bydrae van 25 sent wat dieselfde vrae sal beantwoord. En ek is nie seker of hulle antwoord vir 25 sent nie dalk beter is as die antwoorde vir sesmiljard dollar wat ons moontlik uit hierdie projek sal kry nie.”
Almal in die kamer het geskater van die lag, insluitende die Nobelpryswenners. En al het die wetgewer die fondse toegestaan om met die projek voort te gaan, het niemand my punt betwis nie.
Met verloop van tyd het ek begin voel dat ek aandag moes gee aan ’n situasie wat by die huis ontwikkel het. Nadat ons al ses jaar lank besprekings oor die Bybel en Jehovah se Getuies gehad het, was ek teleurgesteld toe Patricia meer tyd aan die bediening wou bestee. Dit sou beteken dat sy minder werk by die universiteit sou doen. Dit het my gefrustreer dat ’n persoon wat andersins logies dink, so ’n doelwit kon hê, en dit het gelyk asof ek niks kon sê of doen om haar van plan te laat verander nie.
Ek wou die hulp van ’n deskundige inroep, iemand wat meer Bybelkennis as ek gehad het en wat ek gedink het maklik die teenstrydighede tussen die leringe van Jehovah se Getuies en die Bybel sou kon uitwys. As net een van hulle leringe verkeerd bewys kon word, sou dit twyfel laat ontstaan oor die res. Dit was al wat ek moes doen om tot my vrou se wiskundige verstand deur te dring. Ek het in aanraking gekom met die Jesuïetepriester van die kerk waarheen ek en Patricia voorheen gegaan het. Ons ontmoeting het afgesluit met die gesprek wat aan die begin van hierdie artikel beskryf word. Toe die priester weier om met my vrou te praat, het ek besef dat ek die foute self sou moes soek en aan Patricia sou moes uitwys, al sou dit my ’n bietjie langer neem.
My soeke na foute
Terwyl ek die Bybel saam met die Getuies gestudeer het, het Bybelprofesieë my die meeste beïndruk. Ek het in die boek Jesaja besonderhede oor Babilon se val gelees wat byna 200 jaar voor die gebeurtenis neergeskryf is en wat selfs die veroweraar, Kores, by name noem en die strategie beskryf om die waters van die Eufraatrivier weg te keer sodat Babilon verower kon word (Jesaja 44:27–45:4). Jare tevore het ek die val van Babilon in ’n klas oor militêre strategie bestudeer. Ek het ook uitgevind dat die profeet Daniël meer as 200 jaar vooruit besonderhede voorspel het oor ’n magtige koning van Griekeland wie se koninkryk ná sy dood in vier minder magtige koninkryke verdeel sou word (Daniël 8:21, 22). Ek het daardie feit oor Aleksander die Grote uit my studie van antieke geskiedenis onthou. Deur persoonlike navorsing in naslaanwerke te doen, het ek self gesien dat hierdie Bybelboeke werklik geskryf is voor die gebeurtenisse wat hulle voorspel het.
Hoe meer ek saam met die Getuies gestudeer het, hoe meer oortuig het ek geraak dat die Bybel God se Woord is, iets wat jare se studie van Katolieke teologie nie vir my gedoen het nie. Wat sou ek met hierdie kennis doen? Ek het besluit om my lewe aan Jehovah toe te wy en een van sy Getuies te word (Jesaja 43:10). Ek is in 1991 gedoop, net twee jaar ná daardie gesprek met die priester. Ons seun is die daaropvolgende jaar gedoop.
Ons nuwe uitkyk op die lewe het ons beweeg om ons gesinsdoelwitte te verander. Een van die eerste dinge wat ek ná my doop gedoen het, was om ’n plan uit te werk sodat my vrou binne vyf jaar, teen die ouderdom van 50, kon ophou om by die universiteit klas te gee. Sy wou ’n pionierbedienaar wees, wat destyds behels het dat ’n mens 1 000 uur per jaar, of omtrent 83 uur per maand, daaraan bestee om ander te help om Bybelwaarhede te leer. Teen 1994 het sy haar werklas in so ’n mate verminder dat sy as ’n pionier kon begin dien. My aanvanklike doelwitte was onder andere om my bediening te verbeter, in die gemeente te help waar ek kon en my dienste aan te bied om die rekenkundige werk in verband met die bou van Koninkryksale in die omgewing te doen.
Soms het ek die geleentheid gehad om by die werk oor die Bybel te praat. Ek het uitgevind dat ’n nuwe begrotingsanalis by die Ontledingskantoor vir die Wetgewer ’n Getuie is wat opgehou het om haar geloof te beoefen. Twyfelgedagtes oor die Bybel het haar geloof verswak. Ek het die vreugde gesmaak om haar geestelik te help. Sy het na haar tuisstaat teruggekeer en as ’n pionier begin dien.
In 1995 het ek ’n spesiale gesamentlike sitting van die senaat en die wetgewende vergadering se onderwyskomitees in verband met federale navorsing bygewoon. Die voorsitter van die komitee het die federale verteenwoordiger gevra wat geword het van die projek om die supergeleidende deeltjieversneller te bou. Die federale amptenaar het in antwoord hierop gesê dat die projek aan die staat Texas toegeken is, maar dat dit om drie redes nooit voltooi is nie. Eerstens, die koste van die projek het van sesmiljard tot negemiljard dollar gestyg voordat daarmee begin is. Tweedens, die federale regering wou hê dat die fondse elders gebruik moes word, veral vir die Irak-oorlog van 1991. Derdens, hulle het uitgevind dat hulle die antwoorde op die lewe se vrae vir 25 sent by Jehovah se Getuies kon kry! Dit wil voorkom asof hierdie opmerking ’n hele paar keer oorvertel is en sy pad uiteindelik weer teruggevind het na waar hy ontstaan het.
Terwyl almal gelag het, het party komiteelede na my gekyk. Om almal teenwoordig op hoogte te bring, het ek vir hulle gesê: “Julle kan die antwoorde nou kosteloos kry as julle net die lektuur lees.”
’n Ryk en betekenisvolle lewe
Nadat my vrou afgetree het, het ons vir my ’n vyfjaarplan uitgewerk. Sonder om aandag te trek, het ek by ander instellings navraag gedoen oor deeltydse werk omdat ek meer tyd daaraan wou bestee om Bybelwaarhede aan ander te leer. Die Ontledingskantoor vir die Wetgewer het my onverwags die geleentheid gebied om minder ure te werk. In 1998 het ek dus ook ’n pionierbedienaar geword.
Toe ek en my vrou een oggend reggemaak het om in die bediening uit te gaan, het ek ’n oproep van die Verenigde State se takkantoor van Jehovah Getuies in Brooklyn, New York, ontvang. Die persoon het na aanleiding van ’n vorige opname gevra of ek belangstel om aan ’n projek in Brooklyn te werk. Ek het met ’n besliste ja geantwoord. Dit het daartoe gelei dat ons 18 maande lank by die wêreldhoofkwartier gewerk het. Op die ou end het ek vroeg afgetree uit my pos by die staat Kalifornië om die projek te voltooi. Daarna het ons ons dienste aangebied om te help met die bou van die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Fairfield, Kalifornië. Ons het ons huis in Sacramento verkoop en na ’n klein woonstel in Palo Alto getrek. My vroeë aftrede het die weg gebaan vir verdere seëninge. Sedertdien het ons aan projekte by die takkantore van Jehovah se Getuies in Nigerië, Suid-Afrika, Kanada, Brittanje en Duitsland gewerk.
Soos die Getuies wat ons gehelp het, ondervind ek en my vrou nou die vreugde om ander te help om Bybelwaarhede te leer. Ek dink werklik dat die opvoeding wat ek van Jehovah ontvang het, lonender is as al die hoër onderwys wat ek ontvang het. Dit is omvangryker en deegliker as enige ander opvoedingsprogram op aarde. Jehovah het sy Getuies opgelei om Bybelwaarheid op ’n manier oor te dra wat die verstand sowel as die hart bereik. Dit is wat my aanspoor om aan te hou leer. Ek en my vrou is dankbaar vir die lewe wat ons nou geniet en vir die voorreg om ons opvoeding te gebruik in die diens van die Soewerein van die heelal, Jehovah God.
[Lokteks op bladsy 27]
Terwyl ek die Bybel saam met die Getuies gestudeer het, het Bybelprofesieë my die meeste beïndruk
[Prent op bladsy 27]
Saam met Patricia op ons troudag
[Prent op bladsy 29]
Ons geniet dit om ander te help om Bybelwaarhede te leer