Kom nader aan God
’n Skepper wat ons lof waardig is
HET jy al ooit gewonder: ‘Wat is die doel van die lewe?’ Diegene wat glo dat lewe bloot die gevolg van blinde evolusie is, soek tevergeefs na die antwoord. Dit is nie die geval met dié wat die goed bevestigde waarheid aanvaar dat Jehovah God die Bron van die lewe is nie (Psalm 36:9). Hulle weet dat hy ons met ’n doel geskep het. Daardie doel word in Openbaring 4:11 uiteengesit. Kom ons kyk hoe hierdie woorde, wat deur die apostel Johannes neergeskryf is, verduidelik waarom ons hier is.
Johannes beskryf ’n hemelse koor wat God loof: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Net Jehovah is waardig, of verdien, om hierdie eer te ontvang. Waarom? Omdat hy “alles geskep” het. Wat moet sy intelligente skepsele dan beweeg word om te doen?
Die teks sê dat Jehovah waardig is om heerlikheid, eer en mag te “ontvang”. Hy is sonder twyfel die glorierykste, eerbaarste en magtigste Persoon in die heelal. Die grootste deel van die mensdom gee egter nie werklik erkenning aan die feit dat hy die Skepper is nie. Nogtans is daar diegene wat God se “onsigbare eienskappe” duidelik sien in die dinge wat hy gemaak het (Romeine 1:20). Hulle het harte vol waardering en word beweeg om heerlikheid en eer aan Jehovah te gee. Hulle verkondig aan almal wat wil hoor, die indrukwekkende getuienis dat Jehovah die een is wat alle dinge wonderbaarlik gemaak het en dat hy dus ons eerbiedige ontsag verdien.—Psalm 19:1, 2; 139:14.
Hoe ontvang Jehovah egter krag van sy aanbidders? Natuurlik kan geen skepsel aan die almagtige Skepper krag gee nie (Jesaja 40:25, 26). Maar omdat ons na God se beeld geskep is, weerspieël ons in ’n mate God se eienskappe, waarvan een krag is (Genesis 1:27). As ons werklik waardeer wat ons Skepper vir ons gedoen het, sal ons beweeg word om ons krag en energie te gebruik om hom te eer en te verheerlik. Ons bestee nie al ons energie aan die bevordering van ons eie belange nie, maar ons voel dat Jehovah God waardig is om al ons krag te ontvang terwyl ons hom dien.—Markus 12:30.
Waarom is ons dan hier? Die laaste deel van Openbaring 4:11 gee die antwoord: “Weens u wil het hulle [alles wat geskep is] bestaan en is hulle geskep.” Ons het nie weens ons eie wil in aansyn gekom nie. Ons bestaan weens God se wil. Om hierdie rede is ’n lewe wat net om eiebelang draai, leeg en sinloos. Om innerlike vrede, vreugde, tevredenheid en vervulling te vind, moet ons leer wat God se wil is en ons lewe dan in ooreenstemming daarmee bring. Slegs as ons dít doen, sal ons verstaan met watter doel ons geskep is en waarom ons bestaan.—Psalm 40:8.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
NASA, ESA, and A. Nota (STScI)