Gee God vir my om?
Algemene antwoorde:
▪ “God is te belangrik om oor my probleme bekommerd te wees.”
▪ “Ek dink nie hy is oor my besorg nie.”
Wat het Jesus gesê?
▪ “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:6, 7). Ja, Jesus het ander geleer dat God vir ons omgee.
▪ “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” (Matteus 6:31, 32). Jesus het geglo dat God weet wat ons persoonlike behoeftes is.
DIE Bybel sê duidelik dat God vir ons omgee (Psalm 55:22; 1 Petrus 5:7). As dit die geval is, waarom ondervind ons dan vandag soveel lyding? As God liefdevol en almagtig is, waarom doen hy nie iets om ’n einde aan lyding te maak nie?
Die antwoord hou verband met ’n feit wat nie algemeen bekend is nie—Satan die Duiwel is die heerser van hierdie goddelose wêreld. Toe Satan Jesus versoek het, het hy hom al die koninkryke van die wêreld aangebied en gesê: “Ek sal jou al hierdie gesag en hulle heerlikheid gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.”—Lukas 4:5-7.
Wie het Satan die heerser van die wêreld gemaak? Toe ons eerste ouers, Adam en Eva, Satan gehoorsaam het en hulle rug op God gedraai het, het hulle Satan in werklikheid as hulle heerser gekies. Sedert daardie opstand het Jehovah God geduldig tyd toegelaat om te toon dat Satan se heerskappy ’n volslae mislukking is. Jehovah het mense nie gedwing om hom te dien nie, maar het dit vir ons moontlik gemaak om tot hom terug te keer.—Romeine 5:10.
Omdat God vir ons omgee, het hy gereël dat Jesus ons van Satan se heerskappy verlos. In die nabye toekoms sal Jesus “die een tot niet . . . maak wat die vermoë het om die dood te veroorsaak, dit is die Duiwel” (Hebreërs 2:14). Deur dit te doen, sal hy “die werke van die Duiwel . . . verbreek”.—1 Johannes 3:8.
Die Paradys op aarde sal herstel word. Dan sal God “elke traan van [mense se] oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge [sal] verbygegaan [het].”—Openbaring 21:4, 5.a
[Voetnoot]
a Vir meer inligting oor waarom God lyding toelaat, sien hoofstuk 11 in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 8]
Die Paradys op aarde sal herstel word