Is alle vorme van aanbidding vir God aanneemlik?
Algemene antwoorde:
▪ “Alle godsdienste is paaie wat na God lei.”
▪ “Dit maak nie saak wat jy glo nie, solank jy opreg is.”
Wat het Jesus gesê?
▪ “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). Jesus het nie geglo dat alle paaie na God lei nie.
▪ “Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid” (Matteus 7:22, 23). Jesus aanvaar nie almal wat sê dat hulle hom volg nie.
TALLE godsdienstige mense heg groot waarde aan hulle oortuigings en tradisies. Maar wat gebeur as hierdie leringe nie ooreenstem met wat in God se Woord, die Bybel, gevind word nie? Jesus het getoon hoe gevaarlik dit is om mensgemaakte tradisies te volg toe hy vir die godsdiensleiers van sy dag gesê het: “Julle [het] die woord van God kragteloos gemaak weens julle oorlewering.” Toe het hy hierdie woorde van God aangehaal: “Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my verwyderd. Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings.”—Matteus 15:1-9; Jesaja 29:13.
Gedrag is ook belangrik, nie net oortuigings nie. Die Bybel sê die volgende van party wat beweer dat hulle God aanbid: “Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke” (Titus 1:16). Trouens, die Bybel sê van diegene wat in ons tyd lewe: “In plaas daarvan dat hulle God liefhet, sal hulle genot liefhê. Hoewel hulle ’n vertoon van hulle godsdienstigheid sal maak, sal hulle godsdiens bloot ’n skyn wees. Moet niks met sulke mense te doen hê nie.”—2 Timoteus 3:4, 5, Contemporary English Version.
Opregtheid word wel vereis, maar meer is nodig. Waarom? Omdat ’n persoon opreg en terselfdertyd verkeerd kan wees. Juiste kennis oor God is dus noodsaaklik (Romeine 10:2, 3). As ons hierdie kennis inneem en dan optree in ooreenstemming met wat die Bybel sê, sal dit ons in staat stel om God te behaag (Matteus 7:21). Die ware godsdiens vereis dus die regte beweegrede, die regte opvattings en die regte optrede. En die regte optrede beteken dat ons elke dag God se wil doen!—1 Johannes 2:17.
As jy graag meer wil weet omtrent wat die Bybel vir ons oor God sê, kan jy met Jehovah se Getuies in verbinding tree vir ’n gratis tuisbybelstudie.
[Lokteks op bladsy 9]
Die ware godsdiens vereis die regte beweegrede, die regte opvattings en die regte optrede