2 Verkry juiste kennis van God
“Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God.”—Johannes 17:3.
WAT IS DIE UITDAGING? Party sê dat God nie werklik bestaan nie. Ander meen dat God ’n ontsaglike, onpersoonlike krag is. Diegene wat glo dat hy ’n werklike persoon is, verkondig teenstrydige leerstellings oor wie hy is en oor die eienskappe wat hy openbaar.
HOE KAN JY DIE UITDAGING OORKOM? Een manier om kennis van God te verkry, is om te kyk na die dinge wat hy gemaak het. Die apostel Paulus het gesê: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Deur die sigbare wêreld noukeurig te bestudeer, kan jy baie oor die wysheid en krag van ons Skepper leer.—Psalm 104:24; Jesaja 40:26.
Maar om juiste kennis van God se persoonlikheid te verkry, moet elke individu God se Woord, die Bybel, oopmaak en dit self ondersoek. Moenie willoos toelaat dat ander jou denke vorm nie. Volg eerder die Bybel se raad: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Beskou byvoorbeeld die volgende feite wat die Bybel oor God openbaar.
God het ’n persoonlike naam. God se persoonlike naam het oorspronklik duisende kere dwarsdeur die Bybel voorgekom. Baie vertalings bevat dit in Psalm 83:18, wat sê: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam alleen Jehovah is, die allerhoogste oor die hele aarde is.”—King James Version.
Jehovah God het gevoelens wat deur die dade van mense geraak word. Nadat Jehovah die volk Israel uit slawerny in Egipte bevry het, het hulle by tye sy wyse raad geïgnoreer. Hulle opstandige weg het hom “gekrenk”. Hulle dade “het die Heilige van Israel bedroef”.—Psalm 78:40, 41.
Jehovah gee om vir ons as individue. Jesus het met sy dissipels gepraat en gesê: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”—Matteus 10:29-31.
God begunstig nie een ras of kultuur bo ’n ander nie. Die apostel Paulus het vir Grieke in Atene gesê dat God “uit een mens elke nasie van die mense gemaak [het] om op die hele oppervlak van die aarde te woon”. Hy het ook gesê dat God “nie ver van elkeen van ons af is nie” (Handelinge 17:26, 27). Die apostel Petrus het gesê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.
WAT IS DIE BELONING? Party het “’n ywer vir God . . . ; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). As jy weet wat die Bybel werklik oor God leer, sal jy nie mislei word nie en sal jy ‘nader aan God kan kom’.—Jakobus 4:8.
Vir verdere inligting, sien hoofstuk 1, “Wat is die waarheid omtrent God?” in die boek Wat leer die Bybel werklik?a
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 6]
Een manier om kennis van God te verkry, is om te kyk na die dinge wat hy gemaak het