4 Ruim twyfel uit die weg
“Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”—Matteus 14:31.
WAT IS DIE UITDAGING? Selfs Jesus se dissipels het soms getwyfel (Matteus 14:30; Lukas 24:36-39; Johannes 20:24, 25). Die Bybel beskryf ’n gebrek aan geloof dan ook as “die sonde wat ons maklik verstrik” (Hebreërs 12:1). Die apostel Paulus het geskryf: “Geloof is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Dit is nie dat party nie in staat is om hierdie eienskap aan die dag te lê nie. Baie spits hulle net nie daarop toe om dit aan te kweek nie. God sal die pogings seën van diegene wat dit wel doen.
HOE KAN JY DIE UITDAGING OORKOM? Identifiseer wat dit is wat jou laat twyfel. Die dissipel Tomas het byvoorbeeld getwyfel of Jesus opgewek is, al het ander dissipels gesê dat hulle hom gesien het. Tomas wou bewyse hê. Die gevolg? Jesus het vir hom die bewyse gegee wat hy nodig gehad het om sterk geloof te hê.—Johannes 20:24-29.
Deur middel van die Bybel voorsien Jehovah God die antwoorde wat ons nodig het om ons twyfelgedagtes uit die weg te ruim. Baie mense verloor byvoorbeeld geloof in God omdat hulle hom direk of indirek blameer vir die oorloë, geweld en ellende wat die mensdom teister. Wat sê die Bybel hieroor?
God heers nie deur middel van menseregerings nie. Jesus het na die onsigbare geespersoon genaamd Satan verwys as “die heerser van die wêreld” (Johannes 14:30). Satan het vir Jesus gesag oor al die koninkryke van die aarde aangebied in ruil vir een daad van aanbidding deur te sê: “Ek sal jou al hierdie gesag en hulle heerlikheid gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.” Jesus het nie ontken dat Satan hierdie gesag het nie. Hy het eerder gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig’” (Lukas 4:5-8). Dit is Satan en menseregerings wat te blameer is vir die wêreld se lyding, nie God nie.—Openbaring 12:9, 12.
Jehovah God sal binnekort alle oorsake van lyding verwyder. Hy het reeds reëlings getref vir ’n Koninkryk, of regering, onder sy Seun, Christus Jesus, om oor die mensdom te regeer (Matteus 6:9, 10; 1 Korintiërs 15:20-28). Ter vervulling van Bybelprofesie word die goeie nuus oor hierdie Koninkryk nou regoor die aarde verkondig (Matteus 24:14). Hierdie Koninkryk sal binnekort almal wat dit teëstaan sowel as die oorsake van menselyding uit die weg ruim.—Daniël 2:44; Matteus 25:31-33, 46; Openbaring 21:3, 4.
WAT IS DIE BELONING? Diegene wat aan twyfel toegee, is soos golwe wat deur “elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense” rondgeslinger word (Efesiërs 4:14; 2 Petrus 2:1). In teenstelling hiermee kan diegene wat bevredigende antwoorde op hulle vrae vind, ‘vasstaan in die geloof’.—1 Korintiërs 16:13.
Jehovah se Getuies, die uitgewers van hierdie tydskrif, wil jou graag help om antwoorde te vind op vrae wat dit vir jou moeilik maak om geloof te hê. Hulle nooi jou om met hulle te assosieer en self hulle leringe te ondersoek. Dit sal jou geloof in God grootliks versterk.
Vir verdere inligting, sien hoofstuk 8, “Wat is God se Koninkryk?” en hoofstuk 11, “Waarom laat God lyding toe?” in die boek Wat leer die Bybel werklik?*
[Voetnoot]
Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 9]
Diegene wat bevredigende antwoorde op hulle vrae vind, het ’n vaste grondslag vir hulle geloof