Wat Jesus ander oor God geleer het
“Die enigste een wat die Vader werklik ken, is die Seun. Maar die Seun wil ander van die Vader vertel sodat hulle hom ook kan ken.”—LUKAS 10:22, CONTEMPORARY ENGLISH VERSION.
GEDURENDE sy voormenslike bestaan het God se eersgebore Seun ontelbare eeue lank intiem met sy Vader omgegaan (Kolossense 1:15). So het die Seun sy Vader se denke, gevoelens en weë leer ken. Toe hierdie Seun later aarde toe gekom het as die mens Jesus, was hy gretig om ander die waarheid omtrent sy Vader te leer. Ons kan baie oor God leer deur te luister na wat hierdie Seun te sê gehad het.
God se naam Die goddelike naam, Jehovah, was vir Jesus van uiterste belang. Hierdie geliefde Seun wou hê dat ander sy Vader se naam moet ken en gebruik. Jesus se eie naam beteken “Jehovah is Redding”. Op die aand voor Jesus se dood kon hy in gebed tot Jehovah sê: “Ek het u naam . . . bekend gemaak” (Johannes 17:26). Dit is nie verbasend dat Jesus God se naam gebruik het en dit aan ander bekend gemaak het nie. Hoe sou Jesus se toehoorders immers die waarheid omtrent Jehovah kon verstaan as hulle nie eers weet wat Sy naam is en waarvoor dit staan nie?a
God se groot liefde Jesus het eenkeer in gebed tot God gesê: “Vader, . . . u [het] my voor die grondlegging van die wêreld liefgehad” (Johannes 17:24). Omdat Jesus God se liefde in die hemel ondervind het, wou hy daardie liefde in al sy pragtige fasette openbaar toe hy op die aarde was.
Jesus het getoon dat Jehovah se liefde ruim is. Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die Griekse woord wat as “wêreld” weergegee word, beteken nie “die aarde” nie. Soos dit hier gebruik word, verwys dit na mense—in werklikheid na die hele mensdom. God se liefde vir die mensdom is so groot dat hy sy kosbaarste Seun gegee het sodat getroue mense uit die greep van sonde en die dood bevry kon word en die vooruitsig op die ewige lewe kan hê. Ons kan nie eers begin om die breedte of diepte van so ’n groot liefde te bepaal nie.—Romeine 8:38, 39.
Jesus het ’n baie gerusstellende waarheid bevestig: Jehovah het sy aanbidders as individue innig lief. Jesus het ander geleer dat Jehovah soos ’n herder is vir wie elkeen van sy skape uniek en kosbaar is (Matteus 18:12-14). Hy het gesê dat nie ’n enkele mossie op die grond kan val sonder dat Jehovah daarvan weet nie. Jesus het bygevoeg: “Selfs die hare op julle kop is almal getel” (Matteus 10:29-31). As Jehovah kan sien dat een mossie uit ’n spesifieke nes weg is, hoeveel te meer sien hy nie elkeen van sy menslike aanbidders raak en gee hy nie vir hulle om nie? As elke haar op ons kop deur Jehovah getel en gesien kan word, is daar dan enige besonderheid oor ons lewe—ons behoeftes, ons probleme en ons sorge—waarvan hy nie weet nie?
Hemelse Vader Soos ons in die vorige artikel gesien het, is Jesus God se enigverwekte Seun. Dit verbaas ons nie dat hierdie geliefde Seun Jehovah meestal aangespreek het en na Hom verwys het as sy “Vader” nie. Trouens, in die eerste opgetekende woorde van Jesus, wat hy in die tempel gesê het toe hy net 12 jaar oud was, het hy Jehovah “my Vader” genoem (Lukas 2:49). Die woord “Vader” verskyn bykans 190 keer in die Evangelies. Jesus het onderskeidelik van Jehovah as “julle Vader”, “ons Vader” en “my Vader” gepraat (Matteus 5:16; 6:9; 7:21). Deur hierdie benaming so vryelik te gebruik, het Jesus te kenne gegee dat ’n hegte verhouding met Jehovah wat op vertroue gegrond is, binne die bereik van sondige en onvolmaakte mense is.
Barmhartig en bereid om te vergewe Jesus het geweet dat onvolmaakte mense Jehovah se oorvloedige barmhartigheid nodig het. In Jesus se gelykenis van die verlore seun het hy Jehovah vergelyk met ’n medelydende, vergewensgesinde vader wat sy arms oopmaak om ’n berouvolle seun terug te ontvang (Lukas 15:11-32). Jesus se woorde verseker ons dus dat Jehovah op die uitkyk is na enige verandering in die gesindheid van ’n sondige mens wat ’n grondslag sal bied sodat Hy barmhartigheid kan bewys. Jehovah is gretig om ’n berouvolle sondaar te vergewe. “Ek sê vir julle”, het Jesus verduidelik, “dat daar net so in die hemel meer vreugde sal wees oor een sondaar wat berou het as oor nege-en-negentig regverdiges wat geen berou nodig het nie” (Lukas 15:7). Wie sal nie tot so ’n barmhartige God aangetrokke voel nie?
Die Hoorder van gebede In die hemel voordat hy aarde toe gekom het, het Jesus eerstehands gesien dat Jehovah die “Hoorder van die gebed” is en dat Hy behae skep in die gebede van sy getroue aanbidders (Psalm 65:2). Gedurende sy bediening het Jesus sy toehoorders dus geleer hoe om te bid en waarvoor om te bid. ‘Moenie dieselfde dinge oor en oor sê nie’, het hy gemaan. Hy het sy toehoorders aangespoor om te bid dat God se wil “geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”. Ons kan ook bid vir ons daaglikse voedsel, vir vergifnis van ons sondes en vir die krag om versoeking te weerstaan (Matteus 6:5-13). Jesus het ander geleer dat Jehovah op ’n vaderlike manier op die gebede van Sy knegte reageer en hulle opregte versoeke wat in geloof gedoen word, toestaan.—Matteus 7:7-11.
Jesus het beslis probeer om mense die waarheid te leer oor Jehovah en die soort God wat hy is. Maar daar was nog iets omtrent Jehovah waarvan Jesus ander graag wou vertel—die middel waardeur Jehovah regoor die wêreld veranderinge gaan meebring om Sy voorneme vir hierdie aarde en die mense daarop te vervul. Trouens, hierdie aspek van Jesus se boodskap was die tema van sy predikingswerk.
[Voetnoot]
a Die naam Jehovah verskyn ongeveer 7 000 keer in die oorspronklike teks van die Bybel. Die betekenis wat met hierdie naam verbind word, is: “Ek sal word wat ek sal word” (Eksodus 3:14). God kan word wat hy ook al dink nodig is, om sy voorneme te volbring. Hierdie naam waarborg dus dat God altyd getrou aan homself sal wees en dat al sy beloftes vervul sal word.