Jesus Christus—Sy boodskap en jy
“Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed kan hê.”—JOHANNES 10:10.
JESUS CHRISTUS het na die aarde toe gekom hoofsaaklik om te gee, nie om te ontvang nie. Deur middel van sy bediening het hy ’n geskenk van onskatbare waarde aan die mensdom gegee—’n boodskap wat die waarheid omtrent God en Sy wil geopenbaar het. Diegene wat gunstig op hierdie boodskap reageer, kan nou ’n beter lewe geniet—iets waarvan miljoene ware Christene kan getuig.a Maar die kern van die boodskap wat Jesus verkondig het, is die heel kosbaarste geskenk—die volmaakte lewe wat hy ten behoewe van ons gegee het. Ons ewige welstand hang af van hoe ons op hierdie belangrike aspek van sy boodskap reageer.
Wat God en Christus gegee het Jesus het geweet dat hy ’n pynlike dood deur die toedoen van sy vyande sou sterf (Matteus 20:17-19). Tog het hy in sy welbekende woorde in Johannes 3:16 gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Jesus het ook gesê dat hy gekom het “om sy siel [of, lewe] te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Waarom het hy gesê dat sy lewe gegee eerder as geneem sou word?
God is deur ongeëwenaarde liefde beweeg om voorsiening te maak sodat mense gered kan word van oorgeërfde sonde en die gevolge daarvan—onvolmaaktheid en die dood. God het dit gedoen deur sy enigverwekte Seun aarde toe te stuur om ’n offerdood te sterf. Jesus het gewillig ingestem en sy volmaakte menselewe ten behoewe van ons gegee. Hierdie voorsiening, wat die losprys genoem word, is God se grootste geskenk aan die mensdom.b Dit is ’n geskenk wat tot die ewige lewe kan lei.
Wat jy moet doen Is die losprys ’n persoonlike geskenk aan jou? Dit hang van jou af. Ter toeligting: Stel jou voor dat iemand ’n geskenkpakkie na jou uithou. Dit word nie werklik jou geskenk totdat jy jou hand uitsteek en dit aanvaar nie. Net so bied Jehovah jou die losprys aan, maar hierdie geskenk word nie joune totdat jy toon dat jy dit aanvaar nie. Hoe doen jy dit?
Jesus het gesê dat dié wat “geloof in hom beoefen”, die ewige lewe sal ontvang. Geloof behels die manier waarop jy jou lewe lei (Jakobus 2:26). Om geloof in Jesus te beoefen, beteken dat jy jou lewe in ooreenstemming moet bring met die dinge wat hy gesê en gedoen het. Om dit te kan doen, moet jy Jesus en sy Vader goed ken. “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Ongeveer 2 000 jaar gelede het Jesus Christus ’n boodskap verkondig wat die lewens van miljoene mense regoor die wêreld verander het. Sal jy graag meer wil leer oor hierdie boodskap en hoe jy en jou geliefdes daarby kan baat vind, nie net nou nie, maar vir ewig? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help.
Die volgende artikels sal jou meer leer omtrent Jesus Christus, die man wat ’n boodskap verkondig het wat jou lewe vir ewig kan verander.
[Voetnote]
a Nie elkeen wat beweer dat hy ’n Christen is, is ’n ware volgeling van Christus nie. Jesus se ware volgelinge is diegene wat lewe in ooreenstemming met die waarhede wat Jesus oor God en Sy wil geleer het.—Matteus 7:21-23.
b Vir meer inligting oor die skriftuurlike lering van die losprys, sien hoofstuk 5, “Die losprys—God se grootste geskenk”, van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.