Ons lesers vra . . .
Hoe beskou Jehovah se Getuies geloofsvermenging?
▪ Volgens die World Christian Encyclopedia is daar sowat “10 000 verskillende godsdienste regoor die wêreld”. Omdat konflik onder hulle al ongekende hartseer meegebring het, bring die konsep van geloofsvermenging vir baie aanbidders hoop. Hulle glo dat dit vrede en eenheid in ’n verdeelde wêreld kan meebring.
Die Bybel bevorder eenheid. Die apostel Paulus het die Christengemeente vergelyk met ’n menslike liggaam, waarvan al die dele “harmonies saamgeheg is en tot samewerking gebring word” (Efesiërs 4:16). Die apostel Petrus het sy medegelowiges eweneens aangespoor: “Julle [moet] almal eensgesind wees.”—1 Petrus 3:8.
Die vroeë Christene het in ’n wêreld gelewe waar daar baie verskillende kulture en godsdienste was. Tog het Paulus, toe hy oor die vermenging van verskillende godsdienste geskryf het, gevra: “Watter aandeel het ’n getroue met ’n ongelowige?” Toe het hy Christene vermaan om ‘onder hulle uit te gaan’ (2 Korintiërs 6:15, 17). Dit is duidelik dat Paulus hom teen geloofsvermenging uitgespreek het. Waarom?
Die apostel het verduidelik dat geestelike omgang tussen iemand wat ’n ware Christen is en iemand wat dit nie is nie, ’n ongelyke juk sal vorm, dat dit onvanpas sal wees (2 Korintiërs 6:14). Dit kan die Christen se geloof net skade berokken. Paulus se besorgdheid was soos dié van ’n vader wat weet dat sommige kinders in sy buurt hulle swak gedra. As ’n besorgde ouer, besluit hy wyslik met wie sy kind mag speel. Sy beperkings maak hom dalk ongewild. Maar onder die omstandighede sal dit sy kind teen slegte invloede beskerm as hy van die ander af wegbly. Net so het Paulus geweet dat dit Christene teen die skadelike gebruike van ander godsdienste sal beskerm as hulle daarvan afgesonderd bly.
Deur daardie standpunt in te neem, het Paulus Jesus nagevolg. Hoewel Jesus die beste voorbeeld gestel het in die bevordering van vrede onder mense, het hy nie geloofsvermenging beoefen nie. Daar was talle godsdiensgroepe, soos die Fariseërs en Sadduseërs, wat gedurende Jesus se aardse bediening bedrywig was. Trouens, hierdie godsdiensfaksies het saamgespan om Jesus teë te staan en het selfs planne beraam om hom te laat doodmaak. Aan die ander kant het Jesus vir sy volgelinge gesê dat hulle “op hulle hoede moet wees . . . vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs”.—Matteus 16:12.
Wat van vandag? Is die Bybel se waarskuwing teen geloofsvermenging nog van toepassing? Ja, dit is. Dit is omdat verskillende godsdiensopvattings nie deur middel van godsdiensvermenging met mekaar verenig kan word nie, net soos olie en water nie gemeng kan word deur dit eenvoudig saam in ’n pot te gooi nie. Watter God word byvoorbeeld aangeroep wanneer mense van verskillende godsdienste saamkom om vir vrede te bid? Die Christendom se Drie-enige God? Hindoeïsme se Brahma? Die Boeddha? Of iemand anders?
Die profeet Miga het voorspel dat mense van alle nasies “aan die einde van die dae” sou sê: “Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah en na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel” (Miga 4:1-4). Die gevolg sal vrede en eenheid op ’n wêreldwye skaal wees, nie omdat alle gelowe op die een of ander wyse saamgesmelt het nie, maar omdat alle mense die een ware geloof aanvaar.
[Prent op bladsy 27]
Lede van die wêreld se vernaamste godsdienste by ’n interkerklike konferensie, 2008
[Erkenning]
REUTERS/Andreas Manolis