Ons lesers vra . . .
Beoefen Jehovah se Getuies geloofsgenesing?
▪ Jehovah se Getuies het nog nooit geloofsgenesing beoefen nie. Soos Jesus, glo hulle dat die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk hulle vernaamste werk is. Hulle glo ook dat ware Christene nie deur geloofsgenesing geïdentifiseer word nie, maar deur iets baie belangrikers.
Jesus Christus se medelydende genesing van die siekes in die eerste eeu HJ is beslis vir ons almal baie betekenisvol. Daardeur het hy ’n waarborg voorsien dat “geen inwoner” onder sy heerskappy as Koning van God se Koninkryk sal sê: “Ek is siek” nie.—Jesaja 33:24.
Maar wat van vandag? Geloofsgenesers in die Christendom sowel as in party nie-Christelike godsdienste beweer dat hulle wonderdadige genesings verrig. Tog het Jesus self ernstig gewaarsku teen persone wat sou beweer dat hulle in sy naam “baie wonderwerke verrig het”. Hy sou vir hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle kwaaddoeners!” (Matteus 7:22, 23, International Standard Version). Is die sogenaamde wonderwerke van hedendaagse geloofsgenesers werklik ’n aanduiding van God se goedkeuring of seën?
Kyk na wat die Bybel sê oor die genesings wat Jesus verrig het. As ons daardie skriftuurlike verslag vergelyk met die metodes van geloofsgenesers van vandag, kan ons maklik vasstel of hedendaagse geloofsgenesing van God af kom.
Jesus het genesing nooit gebruik as ’n manier om volgelinge of groot gehore te lok nie. Inteendeel, hy het ’n aantal genesings uit die openbare oog verrig. Hy het baie keer vir diegene wat hy genees het, gesê om die wonderwerk aan niemand bekend te maak nie.—Lukas 5:13, 14.
Jesus het nooit geld vir sy wonderwerke gevra nie (Matteus 10:8). Hy was ook sonder uitsondering suksesvol. Al die siekes wat na hom toe gekom het, is volkome genees, en die genesing het nie van die persoon se geloof afgehang nie (Lukas 6:19; Johannes 5:5-9, 13). Jesus het selfs die dooies opgewek!—Lukas 7:11-17; 8:40-56; Johannes 11:38-44.
Hoewel Jesus dié wonderwerke verrig het, was sy bediening nie daarop gemik om bekeerlinge deur middel van emosionele sessies van wonderdadige genesing te wen nie. Sy vernaamste werk was eerder om die goeie nuus van God se Koninkryk bekend te maak. Jesus het sy volgelinge georganiseer om dissipelmakers te word, wat ander sou leer van die hoop om volmaakte gesondheid onder God se Koninkryk te verkry.—Matteus 28:19, 20.
Party van Jesus se eerste-eeuse volgelinge het weliswaar spesiale gawes van genesing gehad, maar dit sou ophou (1 Korintiërs 12:29, 30; 13:8, 13). Vandag word ware Christene nie deur genesingsdade geïdentifiseer nie, maar deur die band van selfopofferende liefde (Johannes 13:35). Hedendaagse geloofsgenesing het nie ’n ware familie van Christene van alle rasse en agtergronde voortgebring wat deur sulke liefde verenig word nie.
Daar is egter ’n groep Christene wat verenig word deur ’n band van liefde wat so sterk is dat hulle weier om mekaar—of enigiemand anders—leed aan te doen, selfs gedurende die hewigste menslike konflikte. Wie is dit? Jehovah se Getuies. Hulle is wêreldwyd daarvoor bekend dat hulle Christelike liefde betoon. Die vereniging van mense van verskillende rasse, nasionaliteite, kulture en etniese agtergronde is as ’t ware ’n wonderwerk en word slegs moontlik gemaak deur God se heilige gees. Woon gerus een van hulle vergaderinge by en sien dit self.
[Prent op bladsy 13]
Het hedendaagse geloofsgenesers (regs) werklik God se steun?