Veroordeel die Bybel dobbelary?
IN ROLPRENTE en televisieprogramme word dobbelary—veral by casino’s—dikwels uitgebeeld as die tydverdryf van beeldskone, ryk en gesofistikeerde mense. Die meeste kykers besef natuurlik dat hierdie uitbeelding blote fiksie of fantasie is.
Maar in die werklikheid ding loterykaartjies, sportweddery en aanlyn dobbelary met casino’s mee vir die dobbelaar se aandag. Dobbelary is “’n byna universele ondeug waarvan die aantrekkingskrag soos ’n veldbrand versprei het”, sê die boek Internet Gambling. Poker word byvoorbeeld nou as ’n sport op die televisie en die Internet aangebied. Volgens een koerant skat deskundiges dat die aantal pokerspelers in die Verenigde State gedurende ’n onlangse tydperk van 18 maande verdubbel het.
Dobbelary is omskryf as die verwedding van geld op ’n onvoorspelbare uitkoms. Baie redeneer dat daar niks met dobbelary verkeerd is nie, solank die geld aan die dobbelaar behoort en hy nie ’n verslawing ontwikkel nie. Trouens, die New Catholic Encyclopedia sê dat dobbelary “nie as ’n sonde beskou word nie tensy dit inbreuk maak op die uitvoering van ’n mens se pligte”. Maar geen Bybelverse word aangehaal om hierdie gevolgtrekking te steun nie. Hoe moet ’n Christen dan hierdie saak beskou? Word dobbelary deur die Bybel veroordeel of goedgekeur?
Die Heilige Skrif bevat wel geen direkte verwysing na dobbelary nie. Maar dit beteken nie dat ons geen riglyne in hierdie verband het nie. Die Bybel voorsien nie reëls in verband met elke bedrywigheid of situasie nie, maar spoor ons eerder aan: “Gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is” (Efesiërs 5:17). Die Griekse woord wat met “begryp” vertaal word, beteken volgens die Bybelgeleerde E.W. Bullinger dat ’n mens die aspekte van ’n onderwerp met mekaar verbind deur “verstandelike inspanning, deur middel van kennis wat deur bepeinsing verkry is”. ’n Christen kan dus God se wil in hierdie saak begryp deur Bybelbeginsels wat op dobbelary van toepassing is, met mekaar te verbind en daaroor te peins. Terwyl jy die verse in die volgende bespreking lees, kan jy jou afvra: ‘Is dobbelary met hierdie vers versoenbaar? Wat toon God se Woord in verband met sy wil in hierdie saak?’
Die aantrekkingskrag van geluk
Aangesien dobbelary behels dat geld op onsekerhede gewed word, speel geloof in geluk—’n raaiselagtige krag wat glo willekeurige gebeurtenisse beheer—’n groot rol, veral wanneer geld op die spel is. Byvoorbeeld, gelukkige nommers word vir loterykaartjies gekies; sekere woorde is onder bygelowige mahjong-spelers verbode; en spelers blaas op dobbelstene voordat hulle dit gooi. Waarom? Dobbelaars glo dikwels dat geluk die uitkoms sal, of ten minste kan, beïnvloed.
Is dit bloot ’n onskadelike speletjie om jou vertroue in geluk te stel? Party in eertydse Israel het so gedink. Hulle het geglo dat geluk vir hulle voorspoed kan meebring. Hoe het Jehovah God oor die saak gevoel? God het vir hulle deur sy profeet Jesaja gesê: “Julle is dié wat Jehovah verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ’n tafel vir die Geluksgod dek en wat gemengde wyn vir die god van die Noodlot skink” (Jesaja 65:11). In God se oë is die geloof in geluk ’n vorm van afgodediens en dus nie verenigbaar met ware aanbidding nie. Dit weerspieël vertroue in ’n denkbeeldige krag eerder as in die ware God. Daar is geen rede om te glo dat God die saak nou anders beskou nie.
Hoe die pryse gewen word
Hetsy mense aanlyn dobbel, ’n loterykaartjie koop, op ’n sportwedstryd wed of in ’n casino dobbel, hulle vergeet dikwels wat die bron is van die prys wat hulle probeer wen. Dobbelary verskil van ’n wettige transaksie of aankope omdat die speler geld wil wen wat ander spelers verloor.a “Vir elkeen wat deur ’n lotery ’n miljoenêr word”, sê Kanada se Sentrum vir Verslawing en Geestesgesondheid, “is daar miljoene ander wat hulle geld verloor het!” Watter Bybelbeginsels kan ’n Christen help om te verstaan hoe God hieroor voel?
Die laaste van die Tien Gebooie wat aan Israel gegee is, sê: “Jy mag nie jou medemens se vrou begeer nie, en ook nie sy slaaf of sy slavin of sy bul of sy esel of enigiets wat aan jou medemens behoort nie” (Eksodus 20:17). Om ’n medemens se eiendom—sy materiële besittings, rykdom en geld—te begeer, is gelys saam met ander ernstige sondes, soos om sy vrou te begeer. Eeue later het die apostel Paulus die opdrag herhaal en vir Christene gesê: “Jy mag nie hebsugtig begeer nie” (Romeine 7:7). Maak ’n Christen wat probeer wen wat ’n ander verloor, hom dalk aan hebsug skuldig?
“Hetsy hulle [die meeste dobbelaars] dit erken of nie”, skryf die rubriekskrywer J. Phillip Vogel, “hulle droom al voor die spel dat hulle met die geld wat hulle wed—al is dit net ’n paar dollar—’n groot gelukskoot sal hê.” Hierdie dobbelaars droom dat hulle met een maklike probeerslag groot rykdom sal verwerf. Dit is duidelik dat dit in stryd is met die Bybel se raad dat ’n Christen “hard [moet] werk deur met sy hande goeie werk te doen, sodat hy iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Efesiërs 4:28). En die apostel Paulus het uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, laat hom dan ook nie eet nie.” Hy het bygevoeg dat hulle “voedsel moet eet wat hulle self verdien” (2 Tessalonisense 3:10, 12). Maar kan dobbelary as aanvaarbare werk beskou word?
Hoewel dobbelary ’n intense spel kan wees, is enige geld wat ontvang word, gewen, nie verdien of verkry in ruil vir werk wat gedoen is of dienste wat gelewer is nie. Dobbelary beteken dat geld gewed word op ’n onwaarskynlike uitkoms wat grotendeels van die toeval afhang, en dit is gebaseer op die hoop dat sake vroeër of later ’n gunstige uitkoms sal hê. Kortom, ’n dobbelaar probeer iets kry vir niks. Ware Christene, daarenteen, word vermaan om geld deur eerlike werk te verdien. “Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk”, het die wyse koning Salomo geskryf. Toe het hy bygevoeg: “Dit [is] uit die hand van die ware God” (Prediker 2:24). Ja, knegte van God stel nie hulle hoop op fantasie nie en soek nie na kortpaaie nie, maar vertrou op God vir geluk en seëninge.
“’n Strik” wat vermy moet word
Al sou ’n speler teen alle waarskynlikheid wen, sal dit goed wees as hy nie op die oombliklike opwinding fokus nie, maar op die langtermyngevolge van dobbelary. “’n Erfenis word aanvanklik deur gierigheid verkry,” sê Spreuke 20:21, “maar die toekoms daarvan sal nie geseënd wees nie.” Baie loterywenners en ander dobbelaars het tot hulle spyt en hartseer geleer dat die rykdom wat hulle gewen het, nie vir hulle geluk meegebring het nie. Hoeveel beter is dit tog om ag te slaan op die Bybel se raad om ons “hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf”.—1 Timoteus 6:17.
Dobbelary het ’n veel donkerder sy, buiten om te wen of te verloor. “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort”, sê God se Woord (1 Timoteus 6:9). ’n Strik is ontwerp om ’n slagoffer vas te vang. Tallose mense wat vasbeslote was om slegs ’n klein bedrag te wed of om net ’n paar keer te dobbel, is al vasgevang in die greep van dobbelverslawing. Dit het al loopbane vernietig, geliefdes seergemaak en gesinne uitmekaargeskeur.
Begryp jy, noudat jy die talle tekste in verband met dobbelary ondersoek het, wat God se wil in hierdie saak is? Die apostel Paulus het sy mede-Christene aangespoor: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Dit is God se wil, nie die gewilde beskouing nie, wat ’n Christen se lewe moet rig. As “die gelukkige God” wil Jehovah hê dat ons die lewe moet geniet en nie die wrange vrugte van dobbelary moet pluk nie.—1 Timoteus 1:11.
[Voetnoot]
a Die Ontwaak! van 8 Oktober 2000, uitgegee deur Jehovah se Getuies, verduidelik op bladsye 25 tot 27 hoe beleggings in aandele op die effektebeurs van dobbelary verskil.
[Lokteks op bladsy 14]
God se knegte verdien geld deur eerlike werk te doen
[Venster op bladsy 13]
Die opwinding daarvan om te wen
Is dobbelary gewoontevormend en lei dit maklik tot verslawing? Ná ’n studie van dobbelaars se reaksie wanneer hulle wen of verloor, het dr. Hans Breiter gesê: “In ’n eksperiment waarin dobbelary gesimuleer is, het ’n geldelike beloning baie soortgelyke breinaktiwiteit voortgebring as wat gesien word wanneer ’n kokaïenverslaafde ’n dosis kokaïen inkry.”
[Prent op bladsy 13]
Wie se geld hoop dobbelaars om te wen?