Wie het die wette gemaak wat ons heelal beheer?
“VERSTAAN jy die wette van die hemel?” (Job 38:33, The New Jerusalem Bible). Toe God Job hierdie vraag gevra het, het Hy sy moedelose kneg gehelp om te verstaan hoe min die mens eintlik weet in vergelyking met die onbeperkte wysheid van die Skepper. Wat dink jy van dié vergelyking?
Die mens het al baie geleer oor die wette wat die fisiese hemele beheer, maar die meeste wetenskaplikes sal geredelik erken dat daar nog baie is om te leer. Keer op keer het nuwe ontdekkings daartoe gelei dat wetenskaplikes hulle teorieë oor die werking van die heelal heroorweeg. Het nuwe bevindings God se vraag aan Job ongeldig gemaak? Of verskaf vooruitgang op hierdie gebied in werklikheid verdere bewyse dat Jehovah die Outeur van die wette van die hemel is?
Die Bybel bevat fassinerende stellings wat help om hierdie vrae te beantwoord. Toegegee, die Bybel maak nie daarop aanspraak dat dit ’n wetenskaphandboek is nie. Maar wanneer dit praat van die sterrehemel, is dit verbasend akkuraat en dikwels sy tyd ver vooruit.
’n Bietjie geskiedkundige agtergrond
Om ’n bietjie agtergrond te voorsien, laat ons na die vierde eeu VHJ gaan, om en by ’n eeu nadat die Ou Testament—die Hebreeuse deel van die Bybel—voltooi is. In daardie tyd het die Griekse filosoof Aristoteles die vooraanstaande geleerdes van sy dag oor die fisiese hemele geleer. Vandag word hy nog steeds gereken onder die invloedrykste wetenskaplikes wat nog gelewe het. (Sien die venster op bladsy 25.) Volgens die Encyclopædia Britannica “was Aristoteles die eerste ware wetenskaplike in die geskiedenis. . . . Elke wetenskaplike is baie aan hom verskuldig.”
Aristoteles het sorgvuldig ’n model van die kosmos uitgewerk. Hy het met ’n stelsel vorendag gekom waarin die aarde die middelpunt was van ’n heelal wat uit meer as 50 kristalsfere bestaan, die een binne-in die ander. Die sterre was vas aan die buitenste sfeer, en die planete was vas aan die sfere nader aan die aarde. Alles buiten die aarde was ewig, onveranderlik. Daardie idees klink dalk vandag vir ons vergesog, maar dit het manne van die wetenskap ongeveer 2 000 jaar lank beïnvloed.
Maar hoe vergelyk Aristoteles se leringe met dié van die Bybel? Watter leringe het die toets van die tyd deurstaan? Kom ons ondersoek drie vrae oor die wette wat ons heelal beheer. Die antwoorde sal ons help om geloof op te bou in die Outeur van die Bybel, die Wetgewer agter “die insettinge van die hemel”.—Job 38:33.
1. Is die heelal rigied?
Aristoteles het geredeneer dat die hemelsfere rigied is. Die een wat die sterre in posisie gehou het, kon, soos die ander, nie krimp of uitsit nie.
Bevat die Bybel ’n soortgelyke veronderstelling? Nee; dit maak geen dogmatiese stelling oor hierdie punt nie. Maar let op die interessante beeld wat dit skets: “Daar is Een wat bo die kring van die aarde woon—waarvan die bewoners soos sprinkane is—die Een wat die hemel uitspan soos ’n fyn gaas, wat dit uitsprei soos ’n tent om in te woon.”—Jesaja 40:22.a
Watter een van die twee maak vandag meer sin—Aristoteles se model of die Bybel se beeld? Hoe beskou die moderne kosmologie die heelal? In die 20ste eeu was sterrekundiges verbaas om uit te vind dat die heelal allesbehalwe rigied is. Trouens, dit lyk of sterrestelsels vinnig van mekaar af wegbeweeg. Min wetenskaplikes, indien enige, het hulle ooit hierdie uitdying van die heelal voorgestel. Vandag glo kosmoloë oor die algemeen dat die heelal in die begin baie kompak was en sedertdien uitdy. In werklikheid het die wetenskap Aristoteles se model ongeldig gemaak.
Wat van die Bybel se woorde? Dit is nie moeilik om jou voor te stel hoe ’n man soos die profeet Jesaja na die sterrehemel gekyk het wat sierlik in die hemelruim bo hom uitgespan was en gedink het dat die beeld van ’n uitgespreide tent uiters gepas is nie.b Hy het moontlik selfs die ooreenkoms tussen die Melkweg en die voorkoms van “fyn gaas” opgemerk.
Verder moedig Jesaja se woorde ons aan om beelde in ons gedagtes te vorm. Ons sien dalk ’n tent van Bybeltye in ons geestesoog; moontlik stel ons ons ’n redelike klein bondel sterk materiaal voor wat oopgemaak, oopgevou en uitgesprei word voordat dit oor pale gespan word en as ’n tuiste kan dien. Ons kan ons ook ’n handelaar voorstel wat ’n bondeltjie fyn gaas optel en uitsprei sodat ’n klant dit kan inspekteer. In albei gevalle word iets wat redelik kompak is, uitgesprei sodat dit vir ons lyk asof dit groter word.
Ons sê natuurlik nie dat die Bybel se poëtiese beeld van ’n tent en fyn gaas veronderstel is om na die uitdying van die fisiese heelal te verwys nie. Maar is dit nie fassinerend dat die Bybel die heelal op ’n manier beskryf wat so goed met die moderne wetenskap strook nie? Jesaja het meer as drie eeue voor Aristoteles se dag gelewe asook duisende jare voordat die wetenskap oortuigende bewyse in verband met hierdie onderwerp voorsien het. Tog hoef die beskrywing wat deur hierdie nederige Hebreeuse profeet opgeteken is, nie hersien te word soos in die geval van Aristoteles se vindingryke model nie.
2. Wat hou die hemelliggame in posisie?
Volgens Aristoteles was die heelal volgepak. Hy het gereken dat die aarde en sy atmosfeer uit vier elemente bestaan—aarde, water, lug en vuur. Die res van die heelal was gevul met kristalsfere, wat almal bestaan uit ’n ewige stof wat hy eter genoem het. Die hemelliggame was vas aan die onsigbare sfere. Aristoteles se idee het lank byval gevind by die meeste wetenskaplikes, want dit het blykbaar gestrook met ’n basiese veronderstelling: ’n Voorwerp moet op iets rus of daaraan vas wees, anders sal dit val.
Wat van die Bybel? Dit bevat die verslag van die woorde van ’n getroue man genaamd Job, wat van Jehovah gesê het: “Hy . . . hang die aarde op aan niks” (Job 26:7). So ’n idee sou beslis vir Aristoteles belaglik geklink het.
In die 17de eeu HJ, ongeveer 3 000 jaar ná Job se dag, het die heersende wetenskaplike teorie aangevoer dat die heelal gevul is, nie met kristalsfere nie, maar met ’n soort vloeistof. Laat in daardie eeu het die fisikus sir Isaac Newton egter met ’n heeltemal verskillende idee vorendag gekom. Gravitasie, het hy gesê, veroorsaak ’n aantrekking tussen die hemelliggame. Newton het een tree nader gekom aan die begrip dat die aarde en ander hemelliggame inderdaad in die leë ruimte hang, wat vir mense lyk soos “niks”.
Newton se gravitasieteorie is hewig teëgestaan. Dit was vir talle wetenskaplik ingestelde mense nog steeds moeilik om hulle voor te stel dat sterre en ander hemelliggame nie deur iets tasbaars in posisie gehou word nie. Hoe is dit moontlik dat ons ontsaglike aarde of die hemelliggame eenvoudig in die ruimte hang? Die idee het vir party bonatuurlik geklink. Sedert Aristoteles se dag het die meeste manne van die wetenskap geglo dat die ruimte met iets gevul moet wees.
Job het natuurlik niks geweet van die onsigbare krag waardeur die aarde in ’n vaste wentelbaan om die son gehou word nie. Hoe is dit dan dat hy gesê het dat ons planeet “aan niks” hang nie?
Wat meer is, die idee dat die aarde op niks rus nie, laat nog ’n vraag ontstaan: Wat hou dit en ander hemelliggame op koers? Let op die fassinerende woorde wat God eenkeer tot Job gerig het: “Kan jy die bande van die Kima-sterrebeeld vasbind, of kan jy die toue van die Kesil-sterrebeeld losmaak?” (Job 38:31). Nag ná nag van sy lang lewe het Job daardie bekende sterreformasies sien opkom en ondergaan.c Maar waarom het hulle jaar ná jaar, dekade ná dekade dieselfde gelyk? Watter bande het daardie sterre, sowel as al die ander hemelliggame, in hulle relatiewe posisies gehou? Hierdie gedagte het ongetwyfeld by Job ontsag gewek.
As die sterre eenvoudig aan hemelsfere vas was, sou daar geen behoefte aan sulke bande gewees het nie. Eers duisende jare later het wetenskaplikes meer geleer van die onsigbare “bande” of “toue” wat die hemelliggame in hulle lang, stadige dans deur die donker hemelruim aanmekaarhou. Isaac Newton en later Albert Einstein het beroemd geword vir hulle ontdekkings in hierdie veld. Job het natuurlik niks geweet van die kragte wat God gebruik om die hemelliggame aanmekaar te bind nie. Maar die geïnspireerde woorde in die boek Job het die toets van die tyd baie beter deurstaan as die idees van die geleerde Aristoteles. Wie anders as die Wetgewer kon sulke insig hê?
3. Ewig of onderhewig aan verval?
Aristoteles het geglo dat daar ’n ontsaglike onderskeid is tussen die hemel en die aarde. Die aarde, het hy gesê, is onderhewig aan verandering, verval en agteruitgang, terwyl die eter waaruit die sterrehemel bestaan, geheel en al onveranderlik, ewig is. Aristoteles se kristalsfere en die hemelliggame wat daaraan vas is, kon nooit verander, verslyt of vergaan nie.
Is dit wat die Bybel leer? Psalm 102:25-27 sê: “Lank gelede het u die fondamente van die aarde gelê, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar u sal bly bestaan; en net soos ’n kleed sal hulle almal verslyt. Net soos klere sal u hulle vervang, en hulle beurt sal tot ’n einde kom. Maar u is dieselfde, en u jare sal nie tot ’n einde kom nie.”
Let daarop dat hierdie psalmis, wat moontlik twee eeue voor Aristoteles se tyd geskryf het, nie die aarde teenoor die sterrehemel stel, asof die aarde aan verval onderhewig is terwyl die sterre ewig is nie. Hy stel eerder die hemel en die aarde teenoor God, die magtige Gees wat die skepping daarvan gerig het.d Hierdie psalm gee te kenne dat die sterre ewe veel aan verval onderhewig is as enigiets op die aarde. En wat was die bevindings van die moderne wetenskap?
Die geologie ondersteun die Bybel sowel as Aristoteles se beskouing dat die aarde aan verval onderhewig is. Trouens, die gesteentes van ons aarde word voortdurend afgebreek deur erosie en aangevul deur vulkaniese en ander geologiese aktiwiteit.
Maar wat van die sterre? Is hulle van nature onderhewig aan verval, soos die Bybel te kenne gee, of is hulle inherent ewig, soos Aristoteles geleer het? Europese sterrekundiges het Aristoteles se idee van ewige sterre in die 16de eeu HJ in twyfel begin trek toe hulle vir die eerste keer ’n supernova, die skouspelagtige ontploffing van ’n ster, waargeneem het. Wetenskaplikes het sedertdien waargeneem dat sterre skielik in sulke ontploffings kan sterf of stadig kan uitbrand of selfs ineen kan stort. Maar sterrekundiges het ook waargeneem hoe nuwe sterre in ‘sterbroeikaste’ ontstaan, gaswolke wat verryk is deur ou sterre wat ontplof het. Gevolglik is die Bybelskrywer se beeld van klere wat verslyt en vervang word, heel gepas.e Hoe merkwaardig is dit tog dat hierdie psalmis van die ou tyd woorde geskryf het wat so goed strook met hedendaagse ontdekkings!
Nogtans wonder jy dalk: ‘Leer die Bybel dat die aarde of die sterrehemel in sy geheel eendag tot ’n einde sal kom of vervang sal moet word?’ Nee, die Bybel belowe dat dit vir ewig sal bestaan (Psalm 104:5; 119:90). Maar dit is nie omdat hierdie skeppingswerke inherent ewig is nie; dit is eerder omdat die God wat dit geskep het, belowe om dit in stand te hou (Psalm 148:4-6). Hy sê nie hoe hy dit gaan doen nie, maar is dit nie redelik om te dink dat die Een wat die heelal geskep het ook die krag het om dit in stand te hou nie? Dit is soos ’n meesterbouer wat ’n huis vir homself en sy gesin bou en dit dan met sorg in stand hou.
Wie moet die heerlikheid en die eer ontvang?
As ’n mens nadink oor ’n paar van die wette van die hemel, gee dit ’n baie duidelike antwoord op hierdie vraag. Word ons nie met ontsag vervul wanneer ons dink aan wie die ontelbare sterre oor die eindelose ruimte uitgespan het, wie hulle met die bande van gravitasie in posisie hou en wie hulle deur hulle eindelose siklusse heen in stand hou nie?
Die redes waarom ons met ontsag vervul word, word dalk die beste uitgedruk in Jesaja 40:26: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem.” Die sterre word heel gepas met ’n leër vergelyk, wat uit ’n ontsaglike aantal individuele soldate kan bestaan. Sonder instruksies van ’n bevelvoerder sou daardie leër niks meer as ’n chaotiese skare wees nie. Sonder wette van Jehovah sou die planete, sterre en sterrestelsels nie ordelike bane gevolg het nie; dit sou heeltemal chaoties wees. Aan die ander kant, stel jou ’n leër voor wat uit miljarde soldate bestaan met ’n Aanvoerder wat nie net die beweging van sy troepe bepaal nie, maar ook deeglik bewus is van elke soldaat se naam, posisie en toestand!
Die wette van die hemel gee ons ’n kykie in die grenslose verstand van hierdie Aanvoerder. Wie anders sou hierdie wette kon uitdink en manne kon inspireer om akkuraat oor hierdie onderwerpe te skryf, honderde en selfs duisende jare voor wetenskaplikes dit verstaan het? Ons het dus ongetwyfeld oorvloedige redes om Jehovah “die heerlikheid en die eer” te gee.—Openbaring 4:11.
[Voetnote]
a Dit is merkwaardig dat die Bybel van die aarde praat as ’n kring, of ’n sfeer, soos die Hebreeuse woord ook vertaal kan word. Aristoteles en ander Grieke van antieke tye het geteoretiseer dat die aarde sfeervormig is, maar daar is nog duisende jare later oor hierdie vraag gedebatteer.
b Hierdie metafoor word herhaaldelik in die Bybel gebruik.—Job 9:8; Psalm 104:2; Jesaja 42:5; 44:24; 51:13; Sagaria 12:1.
c Die “Kima-sterrebeeld” het moontlik na die Pleiades-sterregroep verwys. Die “Kesil-sterrebeeld” het waarskynlik na die Orion-sterrebeeld verwys. Dit neem tienduisende jare voordat sulke sterreformasies merkbaar verander.
d Omdat Jehovah sy enigverwekte geesseun as die “meesterwerker” gebruik het om alles in aansyn te bring, kan die woorde van hierdie Skrifgedeelte ook op die Seun toegepas word.—Spreuke 8:30, 31; Kolossense 1:15-17; Hebreërs 1:10.
e In die 19de eeu het die wetenskaplike William Thomson, wat ook as lord Kelvin bekend staan, die tweede wet van termodinamika ontdek, wat verduidelik waarom natuurlike stelsels met verloop van tyd geneig is om te verval en agteruit te gaan. Een faktor wat hom gehelp het om tot daardie gevolgtrekking te kom, was ’n noukeurige studie van Psalm 102:25-27.
[Venster/Prente op bladsye 24, 25]
’n Groot invloed
“Aristoteles was die grootste filosoof en wetenskaplike van die antieke wêreld.” Dit is wat die boek The 100—A Ranking of the Most Influential Persons in History sê. Dit is nie moeilik om te verstaan waarom sulke stellings oor hierdie buitengewone man gemaak word nie. Aristoteles (384-322 VHJ) was ’n student van die beroemde filosoof Plato en was later die leermeester van die prins wat Aleksander die Grote geword het. Volgens ou lyste het die ontsaglike aantal werke wat Aristoteles voortgebring het, ongeveer 170 boeke ingesluit, waarvan 47 nog bestaan. Hy het uitvoerig oor die sterrekunde, biologie, chemie, dierkunde, fisika, geologie en sielkunde geskryf. Party van die fyn besonderhede wat hy in verband met lewende dinge opgeteken het, is eers eeue later weer waargeneem en bestudeer. “Aristoteles se invloed op alle Westerse denke van latere tye is ontsaglik”, sê The 100. Maar dit voeg by: “Bewondering vir Aristoteles het so gegroei dat dit in die laat Middeleeue aan afgodediens gegrens het.”
[Erkennings]
Royal Astronomical Society / Photo Researchers, Inc.
From the book A General History for Colleges and High Schools, 1900
[Prent op bladsye 26, 27]
Gravitasie hou hemelliggame in posisie
[Erkenning]
NASA and The Hubble Heritage Team (AURA/STScl)
[Prent op bladsye 26, 27]
Pleiades-sterswerm
[Prent op bladsy 28]
Party sterre vergaan in ’n supernova
[Erkenning]
ESA/Hubble
[Prent op bladsy 28]
Nuwe sterre ontstaan in ’n “sterbroeikas”
[Erkenning]
J. Hester and P. Scowen (AZ State Univ.), NASA
[Foto-erkenning op bladsy 24]
© Peter Arnold, Inc./Alamy