Sal jy Jehovah se liefdevolle leiding volg?
“Elke valse pad het ek gehaat.”—PS. 119:128.
1, 2. (a) Watter soort waarskuwing sal jy moontlik waardeer wanneer jy aanwysings na ’n bestemming vra, en waarom? (b) Watter soort waarskuwings gee Jehovah aan diegene wat hom dien, en waarom?
STEL jou voor: Jy moet na ’n sekere bestemming reis. Jy vra ’n vriend wat jy vertrou en wat die pad ken vir aanwysings. Terwyl hy vir jou noukeurige aanwysings gee, sê hy dalk: “Pasop vir die volgende draai. Die padteken is misleidend. Baie mense volg dit en verdwaal dan.” Sal jy sy besorgdheid waardeer en ag slaan op die waarskuwing? In sekere opsigte is Jehovah soos hierdie vriend. Hy gee ons duidelike aanwysings oor hoe ons ons bestemming, die ewige lewe, kan bereik, maar hy waarsku ons ook teen slegte invloede wat ons die verkeerde pad kan laat volg.—Deut. 5:32; Jes. 30:21.
2 In hierdie en die volgende artikel sal ons party invloede bespreek waarteen ons Vriend, Jehovah God, ons waarsku. Laat ons in gedagte hou dat Jehovah hierdie waarskuwings uit besorgdheid en liefde gee. Hy wil hê dat ons ons bestemming moet bereik. Dit bedroef hom om te sien hoe mense voor slegte invloede swig en die pad byster raak (Eseg. 33:11). In hierdie artikel sal ons drie negatiewe invloede bespreek. Die eerste is ’n eksterne krag, die tweede ’n interne krag. Die derde is nie eers ’n werklikheid nie; nogtans is dit baie gevaarlik. Ons moet weet wat hierdie invloede is en hoe ons hemelse Vader ons leer om dit te weerstaan. ’n Geïnspireerde psalmis het vir Jehovah gesê: “Elke valse pad het ek gehaat” (Ps. 119:128). Voel jy ook so? Kom ons kyk hoe ons hierdie gevoelens kan versterk en in ooreenstemming daarmee kan optree.
Moenie “die menigte” volg nie
3. (a) Waarom kan dit gevaarlik wees om ander reisigers te volg wanneer ons onseker is oor watter pad om te neem? (b) Watter belangrike beginsel vind ons in Eksodus 23:2?
3 Wat sal jy doen as jy op ’n lang reis gaan en onseker is oor watter pad om te neem? Jy kom dalk in die versoeking om ander reisigers te volg—veral as jy talle dieselfde keuse sien maak. So ’n weg is gevaarlik. Hierdie reisigers is miskien nie eers op pad na jou bestemming nie, of hulle het moontlik ook verdwaal. Beskou in hierdie verband ’n beginsel wat een van die wette wat aan eertydse Israel gegee is, ten grondslag lê. Diegene wat as regters of getuies in regterlike sake gedien het, is gewaarsku teen die gevaar om ‘die menigte te volg’. (Lees Eksodus 23:2.) Dit is ongetwyfeld alte maklik vir onvolmaakte mense om voor portuurdruk te swig en die reg te verdraai. Maar is die beginsel om nie die menigte te volg nie, beperk tot regterlike sake? Glad nie.
4, 5. Hoe is daar druk op Josua en Kaleb uitgeoefen om die menigte te volg, maar wat het hulle in staat gestel om dit te weerstaan?
4 Om die waarheid te sê, ons kan byna enige tyd onder druk geplaas word om ‘die menigte te volg’. Dit kan skielik ontstaan, en dit kan baie moeilik wees om te weerstaan. Dink byvoorbeeld aan die portuurdruk waarvoor Josua en Kaleb eenkeer te staan gekom het. Hulle was deel van ’n groep van 12 manne wat die Beloofde Land gaan verken het. Toe hulle terugkeer, het tien van hierdie manne ’n baie negatiewe en ontmoedigende berig gelewer. Hulle het selfs beweer dat party van die land se inwoners reuse is wat afgestam het van die Nefilim, nakomelinge van opstandige engele en vroue (Gen. 6:4). Dit was natuurlik ’n belaglike bewering. Hierdie goddelose bastergeslag is baie eeue vroeër in die Vloed uitgewis, en nie ’n enkele nakomeling het oorgebly nie. Maar selfs die mees ongegronde idees kan druk uitoefen op dié met swak geloof. Die negatiewe berig van hierdie tien spioene het gou vrees en paniek onder die volk laat versprei. Kort voor lank was die meeste seker dat dit ’n fout sou wees om die Beloofde Land in te gaan soos Jehovah beveel het. Wat het Josua en Kaleb in hierdie plofbare situasie gedoen?—Num. 13:25-33.
5 Hulle het nie die menigte gevolg nie. Hoewel die skare dit glad nie wou hoor nie, het hierdie twee manne die waarheid vertel en daarby gebly—selfs toe die volk gedreig het om hulle te stenig! Waar het hulle die moed gekry? Dit het ongetwyfeld grootliks uit hulle geloof voortgespruit. Mense met geloof sien duidelik die verskil tussen die ongegronde bewerings van mense en die heilige beloftes van Jehovah God. Albei manne het later gesê hoe hulle gevoel het oor die feit dat Jehovah elkeen van sy beloftes vervul het. (Lees Josua 14:6, 8; 23:2, 14.) Josua en Kaleb was geheg aan hulle getroue God, en dit was vir hulle ondenkbaar om hom seer te maak deur ’n ontroue skare te volg. Hulle het dus vasgestaan en vir ons ’n voortreflike voorbeeld gestel.—Num. 14:1-10.
6. In watter opsigte voel ons dalk dat ons onder druk verkeer om die menigte te volg?
6 Voel jy ooit dat jy onder druk verkeer om die menigte te volg? Mense wat van Jehovah vervreemd is en wat sy sedelike standaarde minag, is beslis vandag ’n groot menigte. Wanneer dit by vermaak en ontspanning kom, bevorder hierdie menigte dikwels ongegronde idees. Hulle hou moontlik vol dat die onsedelikheid, geweld en spiritisme wat so algemeen is in televisieprogramme, rolprente en videospeletjies, onskadelik is (2 Tim. 3:1-5). Laat jy toe dat die lakse gewete van ander jou besluite beïnvloed en jou gewete vorm wanneer jy vermaak en ontspanning vir jou of jou gesin kies? Sou dít nie in werklikheid daarop neerkom dat jy die menigte volg nie?
7, 8. (a) Hoe word ons “waarnemingsvermoëns” geoefen, en waarom is hierdie oefening nuttiger as om ’n klomp onbuigsame reëls te volg? (b) Waarom vind jy die voorbeeld van talle jong Christene hartverblydend?
7 Jehovah het ons ’n kosbare gawe gegee om ons te help om besluite te neem—ons “waarnemingsvermoëns”. Hierdie vermoëns moet egter “deur gebruik” geoefen word (Heb. 5:14). Om die menigte te volg, sal nie ons waarnemingsvermoëns oefen nie; maar ’n klomp onbuigsame reëls ten opsigte van gewetensake sal dit ook nie doen nie. Daarom word Jehovah se volk byvoorbeeld nie ’n lys rolprente, boeke en Internetwebwerwe gegee om te vermy nie. Omdat hierdie wêreld so vinnig verander, sal so ’n lys verouderd wees kort nadat dit opgestel is (1 Kor. 7:31). Nog erger, dit sal ons beroof van die lewensbelangrike taak om Bybelbeginsels noukeurig en biddend te oorweeg en dan besluite op grond van hierdie beginsels te neem.—Ef. 5:10.
8 Ons Bybelse besluite maak ons natuurlik soms ongewild. Jong Christene op skool kom dalk te staan voor groot druk van die menigte om te kyk waarna al die ander kyk en te doen wat al die ander doen (1 Pet. 4:4). Dit is derhalwe pragtig om te sien hoe Christene, jonk en oud, die geloof van Josua en Kaleb navolg en weier om die menigte te volg.
Moenie “julle hart en julle oë” volg nie
9. (a) Waarom kan dit gevaarlik wees om op ’n reis eenvoudig ons ingewings te volg? (b) Waarom was die wet in Numeri 15:37-39 belangrik vir God se eertydse volk?
9 Die tweede gevaarlike invloed wat ons sal bespreek, is ’n interne krag. Ons kan dit soos volg toelig: Gestel jy is op reis na ’n spesifieke bestemming; kan jy jou voorstel dat jy jou padkaart sal neersit en eenvoudig op die ingewing van die oomblik sal handel—deur miskien af te draai op elke pad wat lyk of dit ’n mooi uitsig sal hê? Om sulke ingewings te volg, sal natuurlik verhinder dat jy jou doelwit bereik. Beskou in hierdie verband nog een van Jehovah se wette aan eertydse Israel. Vir baie mense van vandag sal dit dalk moeilik wees om ’n wet te verstaan wat vereis dat hulle fraiingrande en blou toutjies aan hulle klere moet aanbring. (Lees Numeri 15:37-39.) Maar sien jy waarom dit belangrik was? Gehoorsaamheid aan hierdie wet het God se volk gehelp om verskillend en afgeskeie van die heidense nasies om hulle te bly. Dit was noodsaaklik as hulle Jehovah se goedkeuring wou verkry en behou (Lev. 18:24, 25). Maar hierdie wet openbaar ook dat daar ’n gevaarlike interne krag is wat ons kan weglei van ons bestemming, die ewige lewe. Hoe so?
10. Hoe het Jehovah insig in die menslike natuur getoon?
10 Let op wat Jehovah vir sy volk gesê het die rede vir hierdie wet was: “Julle mag nie julle hart en julle oë volg, wat julle in onsedelike gemeenskap volg nie.” Jehovah het diep insig in die menslike natuur. Hy weet goed hoe maklik ons hart, of innerlike mens, verlei word deur wat ons deur ons oë inneem. Die Bybel waarsku ons dus: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?” (Jer. 17:9). Sien jy dan hoe uiters gepas Jehovah se waarskuwing aan die Israeliete was? Hy het goed geweet dat hulle geneig sou wees om na die heidense nasies om hulle te kyk en verlei te word deur wat hulle sien. Hulle sou miskien in die versoeking kom om soos daardie ongelowiges te lyk en dan soos hulle te dink, te voel en op te tree.—Spr. 13:20.
11. Hoe kan ons deur ons fisiese sinne verlei word?
11 In ons dag is dit selfs makliker vir ons verraderlike hart om deur ons fisiese sinne verlei te word. Ons lewe in ’n wêreld wat daarop ingestel is om vleeslike neigings te wek. Hoe kan ons dan die beginsel agter Numeri 15:39 toepas? Dink hieraan: Gestel die kleredrag van diegene om jou by die skool, by die werk of in jou gemeenskap word al hoe uitlokkender. Sal dit jou beïnvloed? Sal jy in die versoeking kom om ‘jou hart en oë te volg’ en verlei te word deur wat jy sien? Sal jy dan in die versoeking kom om jou standaarde te verlaag deur op ’n soortgelyke manier aan te trek?—Rom. 12:1, 2.
12, 13. (a) Wat moet ons doen as ons oë geneig is om te dwaal waar dit nie moet nie? (b) Wat kan ons beweeg om nie vir ander ’n bron van versoeking te word nie?
12 Dit is dringend noodsaaklik dat ons selfbeheersing aankweek. As ons oë geneig is om te dwaal waar dit nie moet nie, moet ons dink aan die vaste voorneme van die getroue Job, wat ’n formele ooreenkoms met sy oë aangegaan het—’n vaste besluit om nie romantiese aandag te gee aan ’n vrou wat nie sy vrou is nie (Job 31:1). Koning Dawid het hom eweneens voorgeneem: “Ek sal geen waardelose ding voor my oë stel nie” (Ps. 101:3). Enigiets wat ons skoon gewete en ons verhouding met Jehovah kan skaad, is vir ons ’n “waardelose ding”. Dit sal enige versoeking insluit wat vir ons oë aantreklik is en wat ons hart kan verlei om te oortree.
13 Daarenteen wil ons beslis nooit as ’t ware ’n “waardelose ding” vir ander word deur hulle in die versoeking te bring om te oortree nie. Ons neem dus die Bybel se geïnspireerde raad om goed versorgde en beskeie klere te dra, ernstig op (1 Tim. 2:9). Beskeidenheid is nie iets wat ons eenvoudig kan definieer op ’n manier wat ons pas nie. Ons moet die gewete en gevoelens van diegene om ons in ag neem en hulle gemoedsrus en welsyn bo ons voorkeure stel (Rom. 15:1, 2). Die Christengemeente is geseën met derduisende jongmense wat ’n voortreflike voorbeeld in hierdie opsig stel. Hoe trots maak hulle ons tog wanneer hulle weier om ‘hulle hart en hulle oë te volg’ en eerder kies om Jehovah te behaag in alles wat hulle doen—selfs in hoe hulle aantrek!
Moenie “onwerklikhede” volg nie
14. Watter waarskuwing oor die najaging van “onwerklikhede” het Samuel gegee?
14 Stel jou voor dat jy op jou reis deur ’n uitgestrekte woestyn moet gaan. Wat sou gebeur as jy die pad verlaat om ’n lugspieëling te volg? As jy hierdie illusie volg, kan dit jou jou lewe kos! Jehovah is deeglik bewus van hierdie gevaar. Beskou ’n voorbeeld. Die Israeliete wou soos die nasies om hulle wees, wat deur mensekonings regeer is. Hierdie begeerte was in werklikheid ’n ernstige sonde omdat dit daarop neergekom het dat hulle Jehovah as hulle Koning verwerp. Hoewel Jehovah hulle toegelaat het om ’n mensekoning te hê, het hy hulle deur sy profeet Samuel uitdruklik gewaarsku om nie “onwerklikhede” na te jaag nie.—Lees 1 Samuel 12:21.
15. Op watter maniere het die Israeliete onwerklikhede nagejaag?
15 Het hierdie volk gedink dat ’n mensekoning op die een of ander manier werkliker, betroubaarder, as Jehovah sou wees? Indien wel, het hulle waarlik ’n onwerklikheid nagejaag! En die gevaar het bestaan dat hulle baie ander sataniese illusies sou najaag. Mensekonings sou hulle maklik in afgodediens inlei. Afgodedienaars maak die fout om te dink dat fisiese voorwerpe—gode van hout of klip—op die een of ander manier werkliker, betroubaarder is as die onsigbare God, Jehovah, wat alles geskep het. Maar soos die apostel Paulus gesê het, is afgode “niks” (1 Kor. 8:4). Hulle kan nie sien, hoor, praat of enigiets doen nie. Jy kan hulle dalk sien en aan hulle raak, maar as jy een aanbid, sal jy inderdaad ’n onwerklikheid najaag—’n leë illusie wat net tot rampspoed sal lei.—Ps. 115:4-8.
16. (a) Hoe verlei Satan baie vandag om onwerklikhede na te jaag? (b) Waarom kan ons sê dat materiële dinge onwerklikhede is, veral in vergelyking met Jehovah God?
16 Satan is nog steeds bedrewe daarin om mense te oorreed om onwerklikhede na te jaag. Hy het byvoorbeeld al tallose mense verlei om op materiële dinge te vertrou vir veiligheid. Geld, besittings en goed besoldigde betrekkings hou miskien op die oog af voordele in. Maar van watter nut is materiële dinge wanneer ’n persoon se gesondheid ingee, wanneer die ekonomie in duie stort of wanneer ’n natuurramp plaasvind? Van watter nut is dit wanneer mense innerlik leeg voel, wanneer hulle ’n behoefte het aan ’n doel, leiding en antwoorde op die lewe se dieper vrae? Watter verligting kan dit bied wanneer iemand die dood in die gesig staar? As ons op materiële dinge vertrou om geestelike behoeftes te bevredig, sal ons teleurgestel word. Materiële dinge bring nie verlossing nie; dit is onwerklikhede. Dit kan op die lange duur nie eers fisiese veiligheid bied nie, want dit het geen blywende uitwerking op die huidige kortstondigheid van die mens se lewe of die moontlikheid van siekte en die dood nie (Spr. 23:4, 5). Hoeveel werkliker is ons God, Jehovah, dan tog nie! Ons kan ware veiligheid geniet slegs wanneer ons ’n hegte verhouding met hom het. Wat ’n kosbare seën is dit tog! Laat ons hom nooit versaak deur onwerklikhede na te jaag nie.
17. Wat is jou voorneme in verband met die negatiewe invloede wat ons bespreek het?
17 Is ons nie geseën om Jehovah as ons Vriend en Gids op ons lewensreis te hê nie? As ons voortgaan om ag te slaan op sy liefdevolle waarskuwings teen drie slegte invloede—die menigte, ons eie harte en onwerklikhede—is die moontlikheid baie groter dat ons ons bestemming, die ewige lewe, sal bereik. In die volgende artikel sal ons nog drie waarskuwings bespreek wat Jehovah voorsien om ons te help om die valse paaie wat so baie mense laat afdwaal, te haat en te vermy.—Ps. 119:128.
Wat dink jy?
Hoe kan jy die beginsels in die volgende tekste toepas?
[Prent op bladsy 11]
Kom jy ooit in die versoeking om die menigte te volg?
[Prent op bladsy 13]
Waarom is dit gevaarlik om ’n ingewing te volg?
[Prent op bladsy 14]
Jaag jy enige onwerklikhede na?